Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 15

Nader tot God in vreesagtige situasies (getuienis)

Bybelteks(te)

19Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.

11Hy sal sy engele opdrag gee

om jou te beskerm waar jy ook al gaan.

PSALMS 91:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

15Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy 'n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?”

16Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.”

17Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.”

Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.

2 KONINGS 6:15-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Was jy al in ʼn vreesagtige situasie waar slegs God jou kon help? Hier is ʼn getuienis deur die skrywer Carina Stander oor ʼn belewenis wat sy en haar man ʼn paar jaar gelede gehad het:

Carina: “Kort na my en Gerrit se troue het ons een oggend ongeveer 03:00 in ons kothuis in Houtbaai wakker geskrik. Daar was ʼn geraas by ons voordeur. Gerrit het opgestaan om te gaan kyk. Toe ek ʼn gestoei by die voordeur hoor, het ek onmiddellik geweet dat dit inbrekers was. Ek het by ons oop kamervenster uitgespring en na die landheer se huis ʼn entjie weg gehardloop om te gaan hulp soek.

Terwyl ek aan die landheer se voordeur hamer, het ek meteens bewus geword van aankomende gevaar. Min het ek geweet dat die inbrekers Gerrit met skerp voorwerpe gesteek het en hom in die kothuis gelos het voordat hulle my agtervolg het. Ek het omgeswaai. Een van die inbrekers was skaars ʼn meter van my af weg. Hy wou my duidelik met sy lang ysterstaaf in die hand steek. Vir jare voor hierdie oomblik het ek gereeld geoefen om my outoriteit in die Naam van Jesus Christus toe te pas sou so iets gebeur.

Tydens daardie oomblik het ek die krag en teenwoordigheid van God ervaar en met ʼn uitgestrekte vinger myself hoor sê: ‘In the Name of Jesus Christ, you will not touch me!’ Met ʼn uitdrukking van totale skok, het die man die wapen laat sak. Gou was nog twee inbrekers langs die eerste en weer het ek dieselfde na hulle geskree. Ook dié twee mans het, met uitdrukkings van skok, in hulle spore gevries asof hulle iets gesien het wat ek nie gesien het nie. Die volgende oomblik het die mans omgedraai en weggehardloop.

Ons het Gerrit dadelik hospitaal toe geneem sodat sy wonde verbind kon word. Gelukkig was geen wond te ernstig nie. Groot was ons verbasing egter toe ʼn vriend uit Pretoria, wat nie geweet het wat die vorige nag gebeur het nie, ons later die dag bel om te hoor of alles reg is by ons. Hy het vertel dat hy daardie nag ʼn ontstellende droom van ons gehad het. In die droom het ek en Gerrit deur ʼn oop stuk veld gestap toe drie bosvarke vanuit nêrens op ons afstorm. Hulle was op die punt om ons te oorval toe hy wakker skrik en vurig vir ons veiligheid begin bid. Dit was presies 03:00 die oggend – dieselfde tyd as die aanval. Die polisie het later die aanvallers vasgetrek en uitgevind dat die aanval bendeverwant was en dat die mans gekom het om my te verkrag. God het my egter beskerm. Alle eer kom Hom toe!”

Carina is reg. Deur Jesus Christus se kruisdood het Hy aan ons die outoriteit gegee om te heers oor die bose. In Lukas 10:19 sê Hy immers: “… Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.” Wanneer ons dus “in die Naam van Jesus Christus” bid of die bose beveg, is dit asof Jesus dit self doen. Ook in Psalm 91:11 lees ons: “Hy (God) sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.” En in 2 Konings 6:15-17 lees ons van ʼn groot weermag wat die profeet Elisa en sy slaaf wou oorrompel. Die slaaf was vreesbevange, maar Elisa het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” Hierna het Elisa gebid dat God sy slaaf se oë sou oopmaak om te sien dat die berge rondom hulle vol perde en strydwaens van vuur was. God se weermag het hulle beskerm – en Hy doen dieselfde vandag nog vir ons.

Ek sal nie verbaas wees as die drie aanvallers daardie nag in Houtbaai engele langs Carina gesien het nie – en ek wonder hoe dit hulle lewens verander het. Kom ons nader tot God in vreesagtige situasies met ʼn besef van ons outoriteit in Jesus Christus. Onthou, God beskerm ons steeds met ʼn weermag van vuur en sy engele is reg rondom ons. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS