Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 13

Nader tot God te midde van ʼn versoeking

Bybelteks(te)

7Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.

18Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

HEBREËRS 2:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

13en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

MATTEUS 6:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

9Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

1 JOHANNES 1:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Piep, piep …” Kan jy die muis in jou verbeelding hoor? Jy sit regop, spits jou ore om weer te luister en meteens steier jy terug … jou hart mis ʼn slag en jou nekhare staan penorent, want die piepgeluid het in ʼn oorverdowende gebrul verander. Die muis het ʼn draak geword, wat reg is om jou te verslind.

Dít is die pad van sonde in ons lewens. Aanvanklik dink ons ons het beheer oor die kyk van pornografie, daardie dobbellus of die hoeveelheid drank wat ons per dag drink. Net so glo ons ons is in beheer van daardie “verbode vriendskap” met iemand buite ons huwelik, daardie vurige humeur of liefde vir skinder. “Piep, piep …” – en voor ons ons oë uitvee sit ons in die kloue van die draak wat alle lewe uit ons wil pers.

Die vyand kom om te steel, slag en verwoes (Johannes 10:10). Hy ken die swakpunte in ons lewens en sal aanhou om ons te versoek en te verlei as ons niks daaraan doen nie. In Hooglied 2:15 lees ons dat dit soms die “onskadelike” jakkalsies is wat die grootste skade in die wingerd kan berokken as hulle nie betyds uitgeroei word nie. Waaroor praat die Heilige Gees vandag met jou in jou lewe?

Hoe om versoeking te weerstaan:

1)    Erken jou swakpunte: “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug” (Jakobus 4:7). Wanneer ons eerlik met God gesels oor die areas in ons lewens waarmee ons sukkel, neem ons die eerste stap. Vra Hom om jou deur sy Heilige Gees in jou swakheid te help om die versoeking te weerstaan. In Hebreërs 2:18 lees ons immers: “… deurdat Hy (Jesus) self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.”

2)    Bid vir beskerming: In Matteus 6:13 leer Jesus die dissipels bid en sê dat ons, onder andere, daagliks moet bid: “… laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.” Daar is krag in ons gebede.

3)    Vlug weg: Josef het doelgerig van Potifar se vrou weggevlug toe sy hom probeer verlei het (Genesis 39). Jy kan en behoort dieselfde te doen. Sit byvoorbeeld die selfoon neer en gaan stap ʼn draai as jy weer ʼn behoefte kry om ʼn WhatsApp-boodskap met verkeerde intensies aan daardie persoon buite jou huwelik te stuur. Sê doelbewus iets goeds van ʼn persoon wanneer jy ʼn begeerte het om ʼn skinderstorie oor hom of haar te vertel. En gooi die drank uit die huis as jy weet dat jy voor die versoeking mag swig om dit te drink sodra die son sak.

Is daar genade as jy voor die versoeking geswig het? In 1 Johannes 1:9 lees ons: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” As jy waarlik berou het en jou rug op die sonde keer, is daar genade uit God se hand.

Kom ons nader tot God te midde van versoekings en kom ons vra Hom om ons te versterk deur Jesus se voorbeeld te volg en met die Woord die vyand te weerstaan. Só sal ons beleef hoe ons nie net uit die draak se kloue loskom nie, maar ook hoe die vyand van ons af wegvlug. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS