Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 12

Nader tot God in jou bekommernis oor jou geliefdes

Bybelteks(te)

7Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

1 PETRUS 5:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

4Die dag as ek bang word,

vertrou ek net op U.

5Laat jou lewe aan die Here oor

en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

[Ek besef heelwat lesers sukkel met vrees en bekommernis oor hul geliefdes se welstand. Ek wil graag met jou ʼn ervaring deel wat ek etlike jare gelede gehad het.]

Aan die begin van 2015 besluit ons om ons dogtertjie, Joalé, weens logistieke redes na ʼn nuwe skooltjie te stuur. Soos vir die meeste kinders wat by ʼn nuwe skooltjie aansluit, is daar met die eerste dag trane. Dié tranedal met die aflaaislag het egter voortgeduur.

Ná bykans twee weke se huilery wanneer ek Joalé in die oggend aflaai, wat natuurlik veroorsaak dat ʼn mens met ʼn swaar hart gaan werk en heeldag vir jou kind bid, het ek ernstig begin wonder of ons nie dalk ʼn fout gemaak het om haar na die nuwe skool te skuif nie. Een oggend, nadat sy weer in trane by die skool afgeklim het, het ek ernstig tot God gebid en Hom gevra vir wysheid rondom die saak. Dáár in die motor op pad werk toe, het ek meteens ervaar hoe Hy duidelik deur sy Heilige Gees in my hart praat: “Benescke, besef jy dat Joalé se beste belange vir My selfs nog belangriker is as wat dit vir jou is?”

In daardie oomblik het ek duidelikheid gekry en het dit gevoel asof ʼn berg van my skouers afval. Ek het besef dat, net so belangrik as wat dit vir ons as ouers is dat ons kinders die beste opvoeding en geleenthede kry, dit vir God – hulle Skepper – selfs nog belangriker is omdat Hy elkeen van ons kinders se toekoms ken en weet waar en hoe Hy hulle wil gebruik as sy instrumente. Ek het besluit om die situasie volkome aan God oor te gee terwyl ek Hom begin dank het dat Hy Joalé in sy hand vashou. Dít was die laaste oggend wat sy met die aflaaislag gehuil het.

Wat is jou bekommernis vandag wat soos ʼn berg op jou skouers rus? Is jy bang dat jou kinders met verkeerde vriende by die skool deurmekaar sal raak? Wonder jy of jou hoërskoolkind die regte vakkeuses gemaak het en of jou studentekind die regte kursus studeer? Is jy bekommerd oor die veiligheid van jou ouers of jou kinders wat ver van jou af weg is? Of is jy dalk bekommerd dat die drome in jou hart nooit ʼn werklikheid sal word nie?

Hoewel daar nêrens in die Bybel direk staan dat bekommernis sonde is nie, kom dit tog daarop neer dat ons God nie volkome in daardie bepaalde area van ons lewens vertrou nie. In stede van bekommerd wees, kom ons doen wat Paulus in 1 Petrus 5:7 skryf: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” In Psalm 56:4 skryf die psalmdigter: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U.” En in Psalm 37:5 lees ons: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

As iets vir jou belangrik is, is dit vir God belangrik. Net soos Hy jou kan help om jou drome op die regte tyd te verwesenlik, kan Hy jou kinders en ouers beskerm en ons elkeen lei om die regte besluite vir ons lewens te neem omdat Hy ons toekoms ken. Onthou, God dra jou en jou geliefdes se beste belange op die hart. Kom ons nader tot Hom in geloof en begin Hom solank dank eerder as wat ons bekommernis ʼn houvas op ons lewens gee. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS