Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 11

Nader tot God in jou vrees

Bybelteks(te)

17Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val,

sal iets uitrig nie;

elkeen wat vals teen jou getuig,

sal gestraf word.

Dit is hoe Ek, die Here,

vir my dienaars sorg.

Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.

JESAJA 54:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

5Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag

of vir aanvalle oordag,

7Al val daar duisende langs jou,

tienduisende by jou,

vir jou sal niks tref nie.

11Hy sal sy engele opdrag gee

om jou te beskerm waar jy ook al gaan.

PSALMS 91:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

8Kom tog, Here,

help my, my God!

U het nog altyd my vyande se mag verbreek,

U het die aanval van die goddeloses afgeslaan.

[ʼn Leser skryf etlike jare gelede ʼn e-pos met die woorde: “Ek is in Januarie vanjaar in my huis met ʼn tuinvurk aangeval en vir dood agtergelaat. Die Here het egter my lewe gespaar. Tans leef ek in vrees dat die aanvaller mag terugkom. Ek is selfs te bang om uit my huis te gaan. My wonde is besig om mooi te genees, maar snags spits ek steeds my ore vir die geringste geluid. Help asseblief!”]

Het jy ook vrees in jou lewe wat jou verlam? Vrees jy vir die toekoms van ons land, dat jy nooit ʼn huweliksmaat sal vind nie, dat jy of ʼn geliefde met ʼn gevreesde siekte gediagnoseer gaan word, dat iets met jou kinders mag gebeur of dat jou huweliksmaat ontrou aan jou gaan wees? Of vrees jy dat jy jou werk gaan verloor en nie vir jou gesin sal kan voorsien nie?

Vrees is een van die effektiefste instrumente wat die vyand gebruik om ons as gelowiges te verlam. Dit laat my kompleet dink aan ʼn houer met swart, warm teer wat oor ʼn persoon uitgegiet word. Sodra die taai teer droog word, veroorsaak dit dat ʼn persoon versteen. Net so maak vrees ons passief. Dit beroof ons van ons lewensvreugde en vrede in ons harte en dit veroorsaak ook dat ons ons van ander en ook van God isoleer. Dit is dus belangrik dat ons nie net ons vrese sal los nie, maar doelbewus begin om iets daaraan te doen.

Hoekom moet ons ons vrese identifiseer? In 1 Petrus 5:8 lees ons dat die vyand soos ʼn brullende leeu rondloop en soek na maniere om ons aan te val. Job was ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Satan wou hom verwoes, maar geen van Satan se planne het geslaag nie omdat God ʼn muur van beskerming rondom Job, sy familie en ook sy besittings geplaas het (Job 1:10).

Job het egter een swak punt gehad: vrees dat sy familie of besittings iets sou oorkom. Satan het dit gesien en toe hy ʼn geleentheid kry om Job se geloof te toets, het hy geweet waar dit hom die seerste sou maak (Job 3:25).

In stede daarvan om heeldag oor jou vrese te tob en dit met almal om jou te bespreek, begin om jou gedagtes te vernuwe en jou vrese doelbewus na God te neem. Vra Hom om jou spesifiek in daardie opsig te versterk. Begin ook om God se beloftes oor die saak te memoriseer en uit te spreek wanneer vrees jou wil oorweldig. Dit is ons ammunisie teen die vyand.

Wat sê die Woord van God oor vreesagtige situasies? Wanneer vrees ons oorweldig, kan ons die vyand herinner aan wat God oor ʼn bepaalde saak sê. In Jesaja 54:17 sê Hy byvoorbeeld: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie … Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg …” In Psalm 91:5,7,11 staan geskryf: “Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag … Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref [nie] … Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.” En as jy soos die leser wat die e-pos gestuur het ook vrees om in die nag te gaan slaap, kan jy jouself aan die woorde in Psalm 3:8 herinner: “As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.” God waak oor ons as ons slaap. Hy beskerm ons omdat Hy nooit sluimer of slaap nie (Psalm 121).

Alhoewel vrees dalk nie eensklaps gaan verdwyn nie, kan ek jou waarborg dat wanneer jy jou gedagtes hernu en begin om te praat oor ʼn saak soos God daaroor praat, sal jy beleef hoe vrees kleiner word en jou geloof sterker en hoe vrees mettertyd totaal sy houvas op jou verloor. Kom ons nader tot God met die wete dat Hy nie net sy engele uitstuur om ons te beskerm nie; Hy plaas ook ʼn muur van vuur reg rondom ons, ons geliefdes en ons besittings. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS