Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 99

JESAJA 33–35, MATTEUS 5–7

Bybelteks(te)

Hy sal sorg dat daar in Sion reg geskied

1Ellende wag vir jou,

jy wat verwoes het

en self nie verwoes is nie,

jy wat ontrou was

hoewel niemand aan jou ontrou was nie.

Wanneer jy klaar verwoes het,

sal jy verwoes word.

Wanneer daar 'n end kom aan jou ontrou,

sal ander ontrou wees aan jou.

2Wees ons genadig, Here,

ons vestig ons hoop op U.

Wees elke nuwe dag ons krag,

ons redding in tyd van nood.

3Wanneer U u stem laat hoor, vlug volke,

wanneer U te voorskyn kom, spat nasies uitmekaar.

4Wat julle vir julleself gebuit het,

sal weggeraap word asof sprinkane daarop toegesak het;

mense sal soos 'n swerm sprinkane daarop afstorm.

5Die Here is hoog verhewe, Hy woon in die hoogte;

Hy sal sorg dat daar in Sion reg geskied

en reg gedoen word.

6Hy is die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou.

Die kosbare besitting wat werklik kan help,

is wysheid en kennis;

die rykdom waarop Sion hom kan verlaat,

is die diens van die Here.

Die land treur

7Die inwoners van Jerusalem roep om hulp daarbuite,

dié wat die boodskap bring dat daar vrede is,

huil onbedaarlik.

8Die paaie lê verlate,

niemand kom met die pad verby nie.

Die verdrag is verbreek,

stede is met minagting behandel,

geen mens is ontsien nie.

9Die land treur, hy is verdor;

die Libanon het verwelk, hy is vol insekte;

die Saron lyk soos 'n woestynvlakte;

op Basan en Karmel staan die bome kaal.

Ek gaan nou ingryp, sê die Here

10Ek gaan nou ingryp, sê die Here,

Ek gaan optree, Ek gaan my mag laat geld.

11Al wat julle voortbring, is strooi,

al wat julle oplewer, is kaf,

en julle asem is die vuur waardeur julle verteer sal word.

12Die volke gaan 'n kalkbrandery word,

hulle gaan aan die brand gesteek word soos afgekapte doringbosse.

13Julle daar ver, hoor wat Ek gedoen het,

julle hier naby, erken my mag.

14Die sondaars staan verskrik in Sion,

die godloses is angsbevange:

wie van ons kan dit by 'n verterende vuur uithou,

wie van ons kan dit uithou

by 'n vuur wat brand sonder ophou?

15Net dié mens wat reg bly doen

en opreg is in wat hy sê,

wat weier om wins te maak

deur mense uit te buit,

wat omkoopgeld weier,

nie na moordplanne luister nie

en nie geleentheid soek om misdade te pleeg nie.

16So 'n mens sal sy woonplek in die hoë berge hê,

sy skuilplek sal 'n rotsvesting wees.

Kos sal hy kry

en sy drinkwater sal nie opraak nie.

Hy sal ons red

17Jou eie oë sal 'n koning sien in al sy prag

en 'n land wat wyd lê.

18Jy sal terugdink aan die vrees wat jy gehad het:

“Waar is die een wat ons goed moes opskryf,

waar is die een wat dit moes afweeg,

waar is die een wat moes opskryf

watter torings afgebreek moes word?”

19Jy sal daardie vermetele mense nie weer sien nie,

daardie volk met sy onverstaanbare, moeilike taal

wat jy nie begryp nie.

20Kyk na Sion, die stad waar ons ons feeste vier:

jou eie oë sal Jerusalem sien, 'n veilige woonplek

waar jou tent nie versit hoef te word nie,

sy tentpenne nooit uitgetrek hoef te word nie,

sy toue nooit meer breek nie.

21Daar sal die Here vir ons die magtige God wees,

daar waar die strome, die riviere, breed sal vloei

sonder dat die vyand se roeibote daarop vaar,

die oorlogskepe daar verbykom.

22Die Here is ons Regter,

die Here is ons Leidsman,

die Here is ons Koning,

Hy sal ons red.

23Die toue van die vyand se skepe hang slap,

hulle hou nie die maste regop nie,

en die seile kan nie gespan word nie.

Daar word buit in oorvloed verdeel,

selfs lammes vat wat hulle wil.

24Niemand in die stad sal meer sê: “Ek is siek” nie;

die sonde van die volk wat in Sion woon, is vergewe.

Die toorn van die Here is teen al die nasies gerig

1Kom nader, nasies, luister!

Gee aandag, volke!

Die aarde met alles daarop moet hoor,

die wêreld en alles wat hy voortbring.

2Die toorn van die Here is teen al die nasies gerig,

sy woede teen al hulle leërmagte.

Hy gaan hulle heeltemal uitroei,

hulle prysgee om doodgemaak te word.

3Hulle dooies sal net so bly lê,

hulle lyke sal stink,

en die berge sal van hulle bloed deurdrenk word.

4Al die hemelliggame sal wegsmelt;

die hemel sal soos 'n boekrol toegerol word

en al die sterre sal hulle glans verloor

soos die blare van 'n wingerdstok

of van 'n vyeboom wat verdroog.

Die straf op Edom

5Wanneer my swaard so uit die hemel uit

die bloed van die nasies laat vloei het,

sal hy afkom op Edom,

op die volk wat Ek heeltemal wil uitroei

wanneer Ek hom straf.

6Die swaard van die Here is vol bloed

en drup van die vet:

die bloed van lammers en bokramme,

die niervet van skaapramme.

Die Here hou 'n offerfees in Bosra,

Hy rig 'n groot slagting aan in Edom.

7Die buffels val saam met die mense,

die bulkalwers saam met die bulle.

Hulle land is deurdrenk van die bloed,

die grond is deurweek van die vet.

8Die dag van die wraak van die Here het gekom,

die jaar van vergelding ter wille van Sion se saak.

9Die riviere van Edom sal in teer verander,

sy grond in swael:

sy land word een stuk brandende teer.

10Dit sal bly brand, dag en nag;

die rook sal aanhou opstyg.

Geslagte lank sal die land in puin lê;

tot in die verre toekoms sal niemand ooit weer daar rondtrek nie.

11Uile en kraaie sal hom in besit neem

en hulle daar tuismaak.

Die Here sal sy maatlyn span en sy skietlood aanlê

en bepaal dat die land onbewoonbaar en leeg moet word.

12Vir dié wat in Edom gesag uitgeoefen het,

sal daar nie meer 'n koninkryk wees nie,

al sy leiers sal daarmee heen wees.

13Dorings sal in sy paleise opkom,

brandnetels en dissels in sy vestings,

hy sal 'n lêplek vir jakkalse, 'n tuiste vir volstruise wees.

14Wildehonde en hiënas sal mekaar daar kry,

veldgode sal na mekaar roep

en die naggees sal daar bly en 'n woonplek vind.

15Uile sal daar nes maak en eiers lê,

hulle sal op die eiers sit en dit uitbroei.

Die aasvoëls sal daar vergader, elkeen met sy wyfie.

16Kyk gerus in die boek van die Here en lees:

nie een van dié diere sal daar ontbreek nie,

nie een sal sonder 'n wyfie wees nie.

Die Here het die bevel gegee

en sy Gees laat hulle daar bymekaarkom.

17Hy het self die land deur loting onder hulle verdeel.

Hulle besit dit vir altyd,

hulle sal daar woon deur geslagte heen.

God kom julle red

1Die woestyn, die dor land,

sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille;

2hy sal in volle bloei staan,

hy sal juig en sing,

hy sal die prag van die Libanon hê,

die skoonheid van Karmel en Saron.

Israel sal die mag van die Here sien,

die koninklike mag van ons God.

3Bemoedig dié wie se hande slap hang,

help dié wie se knieë knik,

4sê vir dié wat moed verloor het:

“Wees sterk, moenie bang wees nie,

julle God is hier, Hy kom om wraak te neem,

om julle vyande te straf; God kom julle red!”

5Blindes sal kan sien,

dowes sal kan hoor,

6lammes sal kan rondspring soos takbokke,

stommes sal kan sing.

Strome water sal uit die woestyn uit bars;

daar sal riviere loop in die droë wêreld.

7Die verskroeide aarde sal 'n moeras word,

dorsland waterryke wêreld.

Waar daar nou net vir jakkalse lêplekke is,

sal gras en riet en biesies groei.

8Daar sal 'n grootpad deur die woestyn loop

en dit sal bekend staan as die gewyde pad.

Onrein mense sal nie daarop loop nie,

dit sal net wees vir mense wat reg lewe;

dwase sal nie meer op die pad kom nie.

9Daar sal nie leeus op die pad wees nie,

daar sal nie roofdiere op loop nie,

hulle sal glad nie daar kom nie.

Net die mense wat deur die Here gered is,

sal die pad gebruik.

10Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer,

hulle sal juigend in Sion aankom,

hulle sal altyd straal van blydskap,

hulle sal vol vreugde en blydskap wees;

ellende en smart sal verdwyn.

Die bergrede

(Matt. 5 – 7)

1Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, 2en Hy het hulle geleer en gesê:

Die werklik gelukkiges

(Luk. 6:20-23)

3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

4Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.

5Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

6Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.

7Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

8Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

9Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

10Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

11“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

Die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld

(Mark. 9:50; Luk. 14:34-35)

13“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.

14“Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Die vervulling van die wet

17“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.

19“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. 20Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

Versoening

21“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur.

23“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, 24laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

25“As iemand 'n regsaak teen jou begin, kom betyds tot 'n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. 26Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”

Kuisheid

27“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.

29“As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”

Egskeiding

(Matt. 19:9; Mark. 10:11-12; Luk. 16:18)

31“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee.’ 32Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Die aflê van 'n eed

33“Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en 'n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ 34Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; 35nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. 36Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. 37Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

Vergelding

38“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand.’ 39Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. 40As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. 42Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

Liefde vir die vyand

(Luk. 6:27-28,32-36)

43“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ 44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. 46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? 47En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

48“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

As julle armes help

1“Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.

2“As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 3Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, 4sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

As julle bid

(Luk. 11:2-4)

5“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 6Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.

7“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. 8Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.

9“So moet julle bid:

“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

10laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

11Gee ons vandag ons daaglikse brood;

12en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

13en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

14“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

As julle vas

16“As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 17Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig 18sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

Skatte in die hemel

(Luk. 12:33-34)

19“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. 20Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. 21Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Die lig van die liggaam

(Luk. 11:34-36)

22“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. 23Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”

God en Mammon

(Luk. 16:13)

24“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Die sorge van die lewe

(Luk. 12:22-34)

25“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

34“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Moenie oor ander oordeel nie

(Luk. 6:37-38,41-42)

1“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; 2met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

3“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog? 5Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

6“Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”

Gebedsverhoring

(Luk. 11:9-13)

7“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, 8want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

9“Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, 10of 'n slang as hy vis vra? 11As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

12“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

Twee paaie

(Luk. 13:24)

13“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. 14Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

Vals profete

(Luk. 6:43-44)

15“Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. 16Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry 'n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? 17Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 18'n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom nie goeie vrugte nie. 19Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.”

Hoor en doen

(Luk. 13:25-27)

21“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ 23Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”

Die twee fondamente

(Luk. 6:47-49)

24“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 25Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. 26En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. 27Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

28Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, 29want Hy het hulle geleer soos 'n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS