Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 100

JESAJA 36–39, MATTEUS 8–9

Bybelteks(te)

Die bedreiging van Jerusalem deur Sanherib

(Vgl. 2 Kon. 18:13 – 19:37; 2 Kron. 32:1-19)

1In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië al die vestingstede in Juda aangeval en verower. 2Daarna het die koning van Assirië sy hoofadjudant met 'n groot leër uit Lakis na koning Hiskia toe in Jerusalem gestuur. Hulle het posisie ingeneem langs die kanaal van die boonste dam, langs die pad na die Bleikveld toe.

3Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het toe na die hoofadjudant van Assirië toe gegaan.

4Toe sê hy vir hulle: “Sê vir Hiskia: So sê die groot koning, die koning van Assirië: Waarop berus hierdie vertroue van jou? 5Jy dink woorde alleen is genoeg vir strategie en militêre mag. Op wie vertrou jy dat jy in opstand is teen my? 6Jy vertrou op Egipte, op 'n versplinterde riet wat jou in die hand steek en jou seermaak as jy op hom leun. Dit is wat die farao, die koning van Egipte, beteken vir almal wat op hom vertrou.

7“En as jy vir my wil sê julle vertrou op die Here julle God, dit is mos Hy wie se hoogtes en altare Hiskia laat verwoes het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet net by die altaar in Jerusalem aanbid.’

8“Wil jy 'n ooreenkoms aangaan met my koning, die koning van Assirië? Ek gee jou twee duisend perde: sal jy die ruiters vir hulle kan voorsien? 9Hoe sal jy weerstand kan bied teen één goewerneur, één van my koning se onbelangrikste amptenare? En dan vertrou jy op Egipte vir strydwaens en perde!

10“Buitendien, ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie land om dit te verwoes nie; die Here het vir my gesê: Trek op teen daardie land en verwoes dit.”

11Toe sê Eljakim, Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Praat tog asseblief Aramees met ons, ons verstaan dit, maar moenie Judees met ons praat dat die manskappe op die muur dit kan verstaan nie.”

12Maar die hoofadjudant antwoord: “Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie ontlasting moet eet en hulle eie urine moet drink, net soos julle!”

13Toe gaan staan die hoofadjudant en skree hard in Judees: “Luister wat sê die groot koning, die koning van Assirië! 14So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie red nie.

15“En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hiskia sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’ 16Moenie na Hiskia luister nie, want so sê die koning van Assirië: ‘Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en van sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink 17tot ek kom en julle wegvat na 'n land toe net soos julle land. Dit is 'n land met koring en wyn, 'n land met kos en wingerde.’ 18Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy sê: ‘Die Here sal ons red.’ Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië?

19“Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim? Kon hulle Samaria bevry uit my mag? 20Wie van al die gode van die ander lande kon sy land red uit my mag? Dan sal die Here mos nie Jerusalem kan red uit my mag nie!”

21Die manskappe het stilgebly en nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om nie te antwoord nie.

22Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna, en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het hulle klere geskeur en is terug na Hiskia toe om hom te vertel wat die hoofadjudant gesê het.

1Toe koning Hiskia dit hoor, het hy ook sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en is na die huis van die Here toe. 2Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leiers van die priesters, almal in rouklere, na die profeet Jesaja seun van Amos toe. 3Hulle het vir Jesaja gesê: “So sê Hiskia: Dit is 'n dag van rou. Ons is in die moeilikheid en ons is verneder. Ons is soos vrouens wat in die kraam is maar nie die krag daarvoor het nie. 4Miskien sal die Here u God let op die woorde van die hoofadjudant wat deur die Assiriese koning gestuur is om die lewende God te smaad, en miskien sal die Here u God hulle straf oor wat Hy moes aanhoor. Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is.”

5Toe koning Hiskia se amptenare by Jesaja kom, 6sê hy vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê: So sê die Here: Moenie bang wees oor wat jy gehoor het, hoe die amptenare van die koning van Assirië My gelaster het nie. 7Ek gaan hom onrustig maak sodat hy na sy land toe terug sal gaan wanneer hy 'n berig daarvandaan kry. Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.”

8Toe die hoofadjudant hoor dat die koning van Assirië weg is van Lakis af, het hy teruggegaan. Hy het die koning aangetref waar hy met 'n aanval op Libna besig was. 9Daar het die koning berig gekry dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. Toe die koning van Assirië dit hoor, het hy gesante na Hiskia toe gestuur met die boodskap: 10“Sê vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie. 11Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom? 12Kon die gode van die nasies wat deur my voorgangers uitgedelg is, hulle red: Gosan, Haran, Resef, die mense van Eden in Telassar? 13Waar is die konings van Hamat en Arpad, die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?” 14Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe in die teenwoordigheid van die Here oopgesprei.

15Toe het hy tot die Here gebid:

16“Here, Almagtige, God van Israel,

U wat oor die gerubs troon,

U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde,

U het die hemel en die aarde gemaak.

17Hoor tog, Here, luister,

kyk tog, Here, let tog op!

“Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap gesmaad! 18Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes 19en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig. 20Here ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat net U, Here, God is.”

21Jesaja seun van Amos het vir Hiskia 'n boodskap gestuur: “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië verhoor.

22“Dit is wat die Here oor Sanherib sê:

Sion verag jou en lag jou uit,

Jerusalem kyk jou met minagting agterna.

23Vir wie het jy gesmaad en belaster?

Vir wie het jy geskreeu en uitgedaag?

Die Heilige van Israel!

24Deur jou amptenare het jy die Here geminag

toe jy gesê het:

‘Ek het met my baie strydwaens teen die hoogste berge opgery,

na die toppe van die Libanon toe;

ek het sy hoogste seders afgekap, sy mooiste sipresse.

Ek het sy hoogste skuilhoeke binnegedring, sy digste bosse.

25Ek het na water gegrawe en dit gedrink,

met my voetsole die opgedamde riviere laat opdroog.’

26So sê die Here vir jou, Sanherib:

Het jy dan nie gehoor nie:

Ék het dit bewerk, lank gelede al,

van die vroegste tye af het Ek dit voorberei

en Ek het dit nou laat gebeur:

jy moes vestingstede verwoes

en puinhope van hulle maak.

27Hulle inwoners was magteloos,

verskrik en sonder raad,

soos veldplante, soos groen gras,

soos gras op 'n huis se dak:

dit verskroei voor dit behoorlik staan.

28Of jy sit of gaan of kom, Ek weet dit,

Ek weet hoe jy teen My te kere gegaan het.

29Omdat jy dit gedoen het,

omdat Ek jou verwaande woorde moes aanhoor,

sit Ek 'n haak deur jou neus

en 'n stang tussen jou tande

en lei Ek jou terug op die pad

waarmee jy gekom het.

30“Vir jou, Hiskia, gee Ek die volgende teken: vanjaar sal julle die opslag eet en volgende jaar wat dan opslaan, maar in die jaar daarna sal julle saai en oes, wingerde plant en druiwe eet. 31Dié van Juda wat die beleg oorleef het en oorgebly het, sal weer soos plante wortel skiet en vrugte dra. 32Daar sal mense oorbly en uit Jerusalem kom, daar sal mense vry van Sionsberg af uitgaan. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg. 33Daarom, so sê die Here oor die koning van Assirië, sal hy nie in dié stad inkom nie, hy sal nie 'n pyl hier afskiet nie, nie 'n skild teen die stad optel nie, nie 'n beleëringswal daarteen opgooi nie. 34Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan en hy sal nie weer by dié stad kom nie. Dit is wat die Here sê. 35Ek sal dié stad beskut en hom red, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”

36Die engel van die Here het gegaan en honderd vyf en tagtig duisend man in die Assiriese kamp doodgemaak. Toe die Assiriërs die môre vroeg opstaan, lê die lyke almal daar. 37Koning Sanherib van Assirië het toe kamp afgeslaan en hy is terug Nineve toe en het daar gebly. 38Terwyl hy op 'n dag in die tempel van sy god Nisrok aanbid het, het sy seuns Adrammelek en Sar-Eser hom met swaarde doodgesteek. Hulle het na Ararat toe gevlug, en Sanherib se seun Esarhaddon het hom as koning opgevolg.

Die siekte en herstel van Hiskia

(Vgl. 2 Kon. 20:1-11; 2 Kron. 32:24-26)

1In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie.”

2Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: 3“Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.”

Hiskia het bitterlik gehuil.

4Die Here het toe vir Jesaja gesê: 5“Gaan sê vir Hiskia: So sê die Here die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng 6en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm. 7Ek, die Here, gee vir jou die volgende teken dat Ek sal doen wat Ek gesê het: 8Ek sal die skaduwee wat reeds teen die trap van Agas se sonwyser afgesak het, tien trappe laat terugskuif.”

En die son het tien trappe teruggeskuif op die trappe waarop dit reeds afgesak het.

Hiskia se lied

9Na die siekte en herstel van koning Hiskia van Juda het hy geskryf:

10Ek het gedink:

in die fleur van my lewe sal ek sterf,

op vroeë leeftyd sal ek aan die doderyk oorgegee word.

11Ek het gedink ek sal die Here nie meer sien nie,

die Here in die land van die lewendes,

ek sal geen mens meer sien nie,

by dié wat op die aarde woon, nie meer wees nie.

12My woonplek is afgebreek,

opgerol soos 'n skaapwagter se tent.

My lewe is verby, afgebreek soos 'n weefdraad.

U het aangehou om my te straf.

13Ek het die hele nag stilgebly,

maar soos 'n leeu het U my bene verbreek,

U het aangehou om my te straf.

14Ek het gekerm soos 'n voël wat kerm,

ek het gekla soos 'n duif.

My oë het moeg geword van opkyk na die hemel toe.

Here, red my uit my ellende.

15Wat kan ek sê?

Die Here het met my gepraat,

Hy het gedoen wat Hy gesê het.

Ek sal my hele lewe lank swaar loop

oor wat ek moes verduur.

16Mense leef ten spyte hiervan, Here,

en ek sal daarmee saam kan leef,

maar maak my tog gesond, herstel my!

17Dit was vir my goed om soveel te ly;

U het my lief, U het my uit die dood gered;

U het al my sondes vergewe.

18In die doderyk kan niemand U loof nie,

geeneen wat dood is, kan U prys nie;

niemand in die graf dink aan u trou nie!

19Net hulle wat nog lewe, kan U loof,

so doen ek dit vandag.

Vaders sal hulle kinders van u trou vertel.

20Here, U het my gered.

Ons sal op ons liere speel

al die dae van ons lewe,

in die huis van die Here.

21Jesaja het toe opdrag gegee dat hulle 'n vyekoek moet bring en op die sweer moet sit, en die koning het beter geword. 22Toe vra Hiskia: “Wat is die teken dat ek weer na die huis van die Here toe sal gaan?”

Die gesante uit Babel

(Vgl. 2 Kon. 20:12-19)

1Dié tyd het koning Merodak-Baladan van Babel, seun van Baladan, briewe en geskenke na Hiskia toe gestuur omdat hy gehoor het van Hiskia se siekte en genesing. 2Hiskia was bly oor die gesante en hy het hulle sy skatkamers gewys met die silwer, die goud, die kruie en die geurige olie, sy wapenkamer en alles wat in sy voorraadkamers was. Daar was niks in sy paleis en in sy koninkryk wat Hiskia die gesante nie laat sien het nie.

3Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en sê vir hom: “Wat het daardie mense gesê en waarvandaan kom hulle?”

Hiskia het geantwoord: “Hulle het uit 'n ver land na my toe gekom, uit Babel.”

4“Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja.

En Hiskia antwoord: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Daar is niks van my skatte wat hulle nie gesien het nie.”

5Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Luister wat sê die Here die Almagtige: 6Daar kom 'n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy tot nou toe versamel het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here.

7“Van jou eie seuns wat uit jou gebore is, sal gevat word, en hulle sal diens doen in die paleis van die koning van Babel.”

8Hiskia het vir Jesaja gesê: “Die woord van die Here wat jy aan my oorgedra het, is goed.” Hiskia het bygevoeg: “As daar maar net in my tyd vrede en veiligheid is!”

Die genesing van 'n melaatse

(Mark. 1:40-45; Luk. 5:12-16)

1Jesus het afgekom van die berg af, en 'n groot menigte mense het saam met Hom gegaan. 2'n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”

3Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg. 4Jesus sê toe vir hom: “Jy moet dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offer wat Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

Die genesing van die offisier se slaaf

(Luk. 7:1-10; vgl. Joh. 4:43-54)

5Nadat Jesus in Kapernaum aangekom het, het 'n offisier by Hom hulp kom vra 6en gesê: “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.”

7En Jesus antwoord hom: “Ek sal hom kom gesond maak.”

8Maar die offisier sê: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf sal gesond word. 9Ek is ook 'n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”

10Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie. 11Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. 12Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.”

13Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.”

En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword.

Die genesing van Petrus se skoonmoeder

(Mark. 1:29-34; Luk. 4:38-41)

14Toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy Petrus se skoonmoeder siek lê met 'n hoë koors. 15Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien.

16Toe dit aand word, het hulle baie wat in die mag van bose geeste was, vir Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf en al die siekes gesond gemaak. 17So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is:

“Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.”

Hoe Jesus gevolg moet word

(Luk. 9:57-62)

18Toe Jesus die menigte mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee om na die oorkant toe te vertrek. 19'n Skrifgeleerde kom toe nader en sê vir Hom: “Meneer, ek sal u volg waar u ook al gaan.”

20Jesus sê vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”

21Iemand anders, een van sy dissipels, sê vir Hom: “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.”

22Maar Jesus antwoord hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.”

Jesus maak die storm stil

(Mark. 4:35-41; Luk. 8:22-25)

23Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. 24Skielik het daar 'n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap.

25Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!”

26Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”

Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword. 27Die mense het hulle verwonder en gesê: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?”

Die genesing van die besetenes in Gadara

(Mark. 5:1-20; Luk. 8:26-39)

28Toe Jesus aan die oorkant in die land van die Gadareners kom, het twee mense wat in die mag van bose geeste was, Hom van die grafte af tegemoet gekom. Hulle was baie gevaarlik, sodat niemand dit langs daardie pad kon waag nie. 29Skielik het hulle begin skreeu: “Wat het U met ons te doen, Seun van God? Het U hierheen gekom om ons voor die tyd te pynig?”

30'n Hele ent van hulle af het 'n groot trop varke geloop. 31Die bose geeste het Hom gesoebat: “As U ons uitdryf, stuur ons tog in die trop varke in.”

32“Gaan!” het Hy vir hulle gesê.

Hulle is toe uit die mense uit en het in die varke ingevaar. Die hele trop het meteens op loop gesit teen die hang af, die see in, en het in die water versuip. 33Die wagters het weggehardloop dorp toe en alles daar gaan vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. 34Die hele dorp het Jesus tegemoet gegaan, en toe hulle Hom sien, het hulle Hom ernstig versoek om hulle gebied te verlaat.

Die genesing van 'n verlamde man

(Mark. 2:1-12; Luk. 5:17-26)

1Jesus het toe in die skuit geklim, die see oorgesteek en in sy eie dorp aangekom. 2Daar het hulle 'n verlamde man wat bedlêend was, na Hom toe gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.”

3Party van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: “Hy praat godslasterlik.”

4Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy sê vir hulle: “Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte? 5Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? 6Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.”

Hy sê toe vir die verlamde man: “Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”

7Hy het opgestaan en huis toe gegaan; 8en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys.

Die roeping van Matteus

(Mark. 2:13-17; Luk. 5:27-32)

9Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy 'n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My!”

Hy het toe opgestaan en Hom gevolg.

10Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet. 11Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?”

12Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. 13Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”

Die vastyd

(Mark. 2:18-22; Luk. 5:33-39)

14In dié tyd het die volgelinge van Johannes na Jesus toe gekom en gevra: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas glad nie?”

15Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan treur solank die bruidegom nog by hulle is? Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas.

16“Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want die nuwe lap skeur die klere nog verder, en die gat word net groter.

17“'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy altwee.”

Die dogtertjie van die Joodse raadslid. Die vrou met bloedvloeiing

(Mark. 5:21-43; Luk. 8:40-56)

18Jesus was nog besig om dit vir die mense te sê toe daar 'n raadslid van die sinagoge voor Hom kom kniel en sê: “My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.”

19Jesus het opgestaan, en Hy en sy dissipels het saam met die man gegaan.

20'n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak. 21Sy het vir haarself gesê: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.”

22Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.”

Van daardie oomblik af was die vrou gesond.

23Daarna het Jesus by die huis van die raadslid gekom. Toe Hy die fluitspelers sien en die klomp mense wat te kere gaan, 24sê Hy: “Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.”

Maar hulle het Hom uitgelag. 25Nadat die mense uitgejaag was, het Hy in die huis ingegaan, die dogtertjie se hand gevat en sy is uit die dood opgewek.

26Berigte hieroor het deur daardie hele omgewing versprei.

Die genesing van twee blindes

(Vgl. Matt. 20:29-34)

27Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg. Hulle het aanhoudend geskreeu: “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!”

28Jesus het in die huis ingegaan, en die blindes het daar na Hom toe gekom. Hy vra toe vir hulle: “Glo julle dat Ek dit kan doen?”

“Ja, Here,” antwoord hulle Hom.

29Toe raak Hy aan hulle oë en sê: “Wat julle glo, sal gebeur.”

30Hulle kon toe sien, maar Jesus het hulle baie streng beveel: “Hiervan moet niemand hoor nie.”

31Maar toe hulle daar weg is, het hulle in daardie hele omgewing van Hom vertel.

Die genesing van 'n stom man

32Nadat die twee blindes die huis verlaat het, het die mense 'n man na Hom toe gebring wat stom was omdat hy in die mag van 'n bose gees was. 33Nadat die bose gees uitgedryf is, het die stom man begin praat. Die menigte het hulle verwonder en gesê: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie.”

34Maar die Fariseërs het gesê: “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy die bose geeste uitdryf.”

Die groot oes

35Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak.

36Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie. 37Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. 38Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS