Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 98

JESAJA 29–32, MATTEUS 4

Bybelteks(te)

Straf vir Jerusalem en vir sy vyande

1Ellende wag vir Ariël, Ariël, die stad

wat deur Dawid beleër is.

Laat die jare maar op mekaar volg,

laat die feestye hulle verloop neem,

2Ek sal Ariël beleër

en daar sal ellende op ellende in hom wees,

hy sal vir My 'n vuurmaakplek wees.

3Ek sal jou van alle kante af beleër,

Ek sal wagposte inrig rondom jou

en beleëringswalle teen jou opgooi.

4Jy sal val, jy sal uit die grond uit praat,

jou woorde sal dof uit die stof uit opklink,

jou stem sal uit die grond uit kom

soos dié van 'n spook,

jy sal uit die stof uit mompel.

5Maar die hordes vyande wat jy het, sal word soos fyn stof,

dié wrede hordes sal soos kaf weggewaai word.

Skielik, in 'n oogwink,

6sal die Here die Almagtige Hom oor jou ontferm

met donderslae en aardbewings, met 'n magtige dreuning,

met storms en orkane, met verterende vuur.

7Dit sal met al dié nasies gaan soos in 'n slegte droom,

dié hordes wat teen Ariël oorlog maak,

almal wat hom en sy vestings aanval

en hom beleër:

8dit sal met hulle gaan soos wanneer iemand wat honger is

en droom hy eet, nog honger is as hy wakker word;

soos wanneer iemand wat dors is

en droom hy drink water, nog kragteloos is,

nog versmag van dors as hy wakker word.

So sal dit gaan met al dié nasies,

dié hordes wat oorlog maak teen Sionsberg.

Hulle hart is nie by My nie

9Nou staan julle verdwaas en verstom;

julle sien niks, julle oë is toe;

julle is dronk maar nie van wyn nie,

julle waggel sonder dat julle iets gedrink het,

10want die Here het julle in 'n diep slaap laat wegsak:

die profete moes julle oë wees

en die sieners julle koppe,

maar julle oë is nou toe

en daar is 'n doek oor julle koppe.

11Elke openbaring is nou vir julle

soos die woorde in 'n verseëlde boek:

jy gee dit vir iemand wat kan lees

en jy vra: “Lees dit asseblief vir my,”

en hy sê: “Ek kan nie, die boek is verseël.”

12Of jy gee die boek vir iemand wat nie kan lees nie

en jy vra: “Lees dit asseblief vir my,”

en hy sê: “Ek kan nie lees nie.”

13Die Here het gesê:

Hierdie volk is naby My met die mond,

hulle eer My met wat hulle sê,

maar hulle hart is ver van My af,

hulle dien My soos mense dit wil hê,

nie soos Ek wil nie.

14Daarom gaan Ek nog ongehoorder dinge doen met hierdie volk:

die een ongehoorde ding na die ander,

sodat die wysheid van sy wyse manne sal verdwyn,

die verstand van sy verstandige mense tot niet sal gaan.

15Ellende wag vir dié wat dink

hulle kan hulle planne diep wegsteek vir die Here,

hulle wat besig is om dinge in die donker te doen

en dink: wie sien ons? Wie weet van ons?

16Julle is agterstevoor met alles,

asof die pottebakker die klei is.

Die maaksel kan mos nie van sy maker sê:

“Hy het my nie gemaak nie”;

die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê:

“Hy weet nie wat hy doen nie.”

Dié wat gedwaal het, sal insig kry

17Nog net 'n baie kort tydjie,

dan verander die Libanon in 'n vrugteboord

en word die vrugteboord so dig

dat dit vir 'n bos aangesien word.

18Daardie dag sal die dowes kan hoor

wat daar in die boek staan,

en sal die blindes weer kan sien

uit die donker, uit die duisternis uit.

19Die mense in nood sal weer bly wees oor die Here,

die arm mense sal juig oor die heilige God van Israel.

20Daar sal nie meer wreedaards wees nie;

dit sal klaar wees met die ligsinniges,

elkeen wat altyd gereed was om onreg te doen,

sal uitgeroei word,

21ook dié wat sommer mense tot oortreders verklaar het,

strikke gespan het vir dié wat reg wou laat geskied,

en onskuldige mense hulle reg ontneem het

deur vals getuienis.

22So sê die Here, Hy wat vir Abraham verlos het,

Hy sê oor Jakob:

Die nageslag van Jakob sal hulle nie meer hoef te skaam nie,

hulle sal nie meer bleek van verleentheid hoef te word nie,

23want wanneer hulle die kinders sien wat Ek aan hulle gee,

sal hulle my heilige Naam eer;

hulle sal die heilige God van Jakob eer,

hulle sal ontsag hê vir die God van Israel.

24Dan sal dié wat gedwaal het, insig kry,

en dié wat gedurig foutgevind het, sal hulle laat leer.

Beskerming deur Egipte sal nie baat nie

1Ellende wag vir die rebelse mense

wat planne uitvoer wat nie van My af kom nie, sê die Here,

dié wat verdrae sluit wat nie volgens my wil is nie

en so sonde op sonde stapel.

2Hulle gaan af na Egipte toe

sonder om My te raadpleeg,

hulle gaan soek steun by die mag van die farao,

hulle wil beskerming by Egipte hê,

3maar hulle sal teleurgestel staan met die farao se mag en al,

die beskerming deur Egipte sal hulle niks baat nie.

4Die leiers van Juda is al in Soan,

sy boodskappers het al in Ganes aangekom,

5maar hulle sal almal teleurgestel word

deur dié volk wat nie kan help nie,

wat nie hulp en bystand kan verleen nie

maar wat skande en vernedering bring.

6'n Uitspraak van die Here oor die diere in die Suidland:

Die gesante van Juda bring hulle ryk geskenke, hulle skatte,

op die rûe van hulle donkies en hulle kamele;

hulle bring dit deur 'n gebied vol gevaar en angs

waar leeus en slange boer en waar drake rondvlieg,

hulle bring dit na 'n volk toe wat nie kan help nie.

7Egipte is niks, sy hulp beteken niks!

Ek noem hom Rahab, die een wat niks kan doen nie.

Julle krag lê in stil wees

8Gaan skryf dit nou op waar Juda by is,

teken dit aan dat dit altyd teen hulle kan getuig

in die dae wat kom.

9Hulle is 'n weerbarstige volk,

hulle is mense wat lieg

en wat weier om te luister

na wat die Here wil.

10Hulle sê vir die sieners:

“Moenie gesigte sien nie!”

Hulle sê vir dié wat gesigte sien:

“Moenie gesigte sien oor wat ons moet doen nie,

vlei ons liewer,

sien liewer dinge wat ons mislei!

11Gee pad voor ons, moenie voor ons kom staan nie;

laat die Heilige van Israel

uit ons teenwoordigheid verdwyn!”

12So sê die Heilige van Israel:

Julle het my waarskuwing verwerp,

julle het julle vertroue gestel in geweld en bedrog

en daarop gesteun.

13Daarom word hierdie sonde vir julle

'n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val

en dan skielik, onverwags inmekaarstort

14en in stukke spat soos 'n groot kleipot

wat meedoënloos fyn geslaan word

sodat daar onder al sy skerwe nie een oor is

om mee kole uit 'n vuurmaakplek te krap

of water uit 'n opgaarput te skep nie.

15So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê:

As julle julle bekeer en tot rus kom,

sal julle gered word.

Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.

Maar dit wou julle nie; 16julle het gesê:

“Nee, ons sal op perde wegjaag,

ons sal vinnige perde ry.”

Dan sál julle vlug,

maar julle agtervolgers sal vinniger wees.

17Duisend van julle sal vlug as één julle bedreig,

en as vyf julle bedreig, sal julle aanhou vlug

totdat die paar wat van julle oorbly,

soos 'n eensame vlagpaal op 'n berg,

soos 'n enkele vaandel op 'n heuwel sal wees.

18Tog is die Here gretig om julle genadig te wees

en wil Hy Hom oor julle ontferm:

Die Here is 'n God wat reg laat geskied,

en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.

Die Here sal jou gebed verhoor

19Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon,

jy hoef nie meer te huil nie.

Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp,

Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.

20Die Here het jou honger en dors laat ly,

maar Hy wou jou leer,

en Hy sal Hom nou nie meer afsydig hou van jou nie;

jy sal self sien dat Hy die Een is wat jou leer.

21Wanneer jy die regte koers verlaat,

sal jy agter jou 'n stem hoor sê:

“Hier is die pad, loop hierlangs.”

22Dan sal jy besef dat jou afgode, jou beelde

wat jy met silwer en goud oorgetrek het, onrein goed is,

en jy sal hulle weggooi soos 'n mens 'n smerige lap weggooi;

jy sal sê: “Weg met hulle!”

23Dan sal die Here reën gee op die saad

wat jy in die land gesaai het,

en sal jou grond kos vir jou lewer

wat ryk en voedsaam sal wees.

Jou kleinvee sal wei in uitgestrekte grasveld.

24Die beeste en die donkies waarmee jy die grond bewerk,

sal kragvoer kry om te vreet

wat met graaf en gaffel gemeng is.

25Dié dag wanneer die vyand by die duisend sal sneuwel

en wanneer die torings omval,

sal daar op elke hoë berg, elke hoë heuwel,

spruite vol water wees.

26Dié dag wanneer die Here die wonde van sy volk verbind

en die seerplekke genees waar Hy hulle geslaan het,

sal die maan so helder skyn as die son

en die son sewe maal so helder as die lig van sewe dae saam.

Die Here sal self teen Assirië veg

27Die Here verskyn uit die verte;

sy toorn breek los, onweer dreig;

as Hy praat, is dit vol gramskap,

sy woorde is vlamme van vuur.

28Sy asem is 'n siedende stroom

wat mense meesleur.

Hy kom om die nasies te sif in 'n fyn sif,

om vir hulle 'n toom aan te sit en hulle weg te lei.

29Maar julle sal sing

soos in die nag voor 'n fees,

julle sal vrolik wees

soos wanneer mense met fluitspel begin loop

na die berg van die Here toe,

na die Rots van Israel toe.

30Die Here sal sy magtige stem laat hoor,

Hy sal sy krag openbaar

in gloeiende toorn, verterende vuur,

storm, onweer en hael.

31Assirië sal sidder vir die stem van die Here

wanneer Hy begin slaan,

32en elke keer wanneer die slae op Assirië afkom

en hom tref,

sal die simbale en die liere weerklink.

Die Here sal self teen Assirië veg.

33Daar is 'n brandoond gereed gemaak, lank gelede al;

dit is diep en wyd en bedoel vir die koning van Assirië.

Daar is 'n groot hoop brandhout in

en die asem van die Here steek dit aan die brand

soos 'n stroom swael.

Die Egiptenaars is mense

1Ellende wag vir dié wat by Egipte hulp gaan vra;

hulle verlaat hulle op perde,

hulle is vol vertroue as daar baie strydwaens is,

as hulle oor 'n menigte ruiters kan beskik;

maar op die Heilige van Israel vertrou hulle nie,

na die wil van die Here vra hulle nie.

2Hý is die Een wat wysheid het;

daarom het Hy 'n ramp laat losbreek

en het Hy nie afgesien van wat Hy gesê het nie:

Hy tree op teen die volk wat altyd verkeerd doen

én teen die volk wat hulp verleen aan dié wat onreg doen.

3Die Egiptenaars is mense, hulle is nie gode nie,

en hulle perde is maar net perde, nie bonatuurlike wesens nie.

As die Here sy hand uitsteek, val die helper én die een wat gehelp word

en gaan hulle saam onder.

Die Here sal red en bevry

4So het die Here vir my gesê:

Soos 'n leeu, 'n maanhaar, by sy prooi lê en grom

en hom nie laat afskrik deur die harde geskreeu van veewagters

wat teen hom saamgeroep is nie,

en hom nie steur aan hulle lawaai nie,

so sal die Here die Almagtige, wanneer Hy neerdaal,

sy oorlog veg op Sionsberg,

op die heuwel waar Sion lê.

5Soos voëls beskermend oor hulle neste sweef,

so sal die Here die Almagtige die skild oor Jerusalem wees;

Hy sal beskermend verbykom

en so sal Hy red en bevry.

6Israeliete, bekeer julle tot Hom

van wie julle so ver verwyder geraak het.

7Daardie dag, wanneer julle elkeen sy afgode weggooi,

die afgode van silwer en van goud

wat julle self gemaak het en waarmee julle gesondig het,

8sal die Assiriërs deur die swaard afgemaai word,

maar nie die swaard van 'n mens nie,

hulle sal uitgewis word deur die swaard,

maar nie die swaard van 'n mens nie.

Hulle sal voor die swaard uit moet vlug,

en hulle jongmanne sal dwangarbeiders word.

9Die koning vir wie hulle as hulle rots beskou,

sal van angs op die vlug slaan,

en hulle leiers sal paniekbevange van die vaandel af padgee,

sê die Here ter ere van wie die vuur in Sion brand,

ter ere van wie die altaar in Jerusalem rook.

Daar sal 'n koning kom

1Daar sal 'n koning kom wat reg sal regeer

en amptenare wat reg sal laat geskied.

2Hulle sal elkeen soos 'n skerm teen die wind,

soos 'n skuiling teen die stortreën wees,

soos strome water in 'n dor land,

soos die skaduwee van 'n groot rots in 'n kaal wêreld.

3Dan sal die oë van dié wat moet sien, nie meer toe wees nie

en sal die ore van dié wat moet hoor, weer kan hoor.

4Die verstand van onbesonne mense sal kennis kan verwerk

en die hakkelaars sal vlot kan praat.

5'n Dwaas sal nie meer as eerbaar beskou word nie

en 'n skurk nie meer as edel beskryf word nie.

6'n Dwaas laster teen God,

sy gedagtes is net met sonde besig;

wat hy doen, wys dat hy ver van die Here af leef,

wat hy vir die Here sê, is vals.

So iemand laat 'n honger mens honger bly

en weier om 'n dors mens water te gee.

7'n Skurk se motiewe is kwaadwillig,

hy smee boosaardige planne

om met leuens die ondergang van eenvoudige, arm mense te bewerk,

ook al beroep hulle hulle op die reg.

8'n Eerbare mens het eerbare bedoelings

en hy kom op vir wat eerbaar is.

Wie reg doen, sal vrede hê

9Gee aandag, luister na my, julle vrouens wat so onbesorg lewe,

luister na wat ek sê, julle wat so selfversekerd is!

10Julle wat nou so selfversekerd is,

sal oor iets meer as 'n jaar rede hê om te bewe:

daar sal nie druiwe wees om te oes nie,

geen vrugte om te pluk nie.

11Staan maar nou al verskrik, onbesorgdes,

begin maar bewe, selfversekerdes!

Trek uit julle klere, trek rouklere aan,

12slaan julle borste van smart

oor die welige landerye, die vrugbare wingerde,

13oor my volk se grond

wat oortrek is met dorings en dissels,

oor al die huise waarin daar soveel vrolikheid was,

oor die stad wat altyd so uitgelate feesgevier het.

14Die paleis lê verlate,

die stad wat so bedrywig was, is leeg.

Waar Ofel en die wagtoring was,

is dit vir altyd net veld

waar wildedonkies lustig vreet

en troppe vee wei.

15So sal dit wees totdat die Gees

van Bo af op ons uitgestort word.

Dan word die woestyn 'n vrugteboord

en word die vrugteboord so dig

dat dit vir 'n bos aangesien word.

16Maar in woestyn en in vrugteboord

sal reg geskied en reg gedoen word.

17Wie reg doen, sal vrede hê;

wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet.

18My volk sal in rustige velde woon,

in veilige wonings,

op plekke waar daar rus is en geen sorge nie.

19Al slaan hael die bosse weg,

al word die stad met die grond gelyk gemaak,

20met julle sal dit goed gaan:

julle sal saai langs baie waters,

julle sal julle beeste en julle donkies vry laat loop.

Die versoeking in die woestyn

(Mark. 1:12-13; Luk. 4:1-13)

1Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.

3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”

4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:

“'n Mens leef nie net van brood nie

maar van elke woord

wat uit die mond van God kom.

5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:

“Hy sal sy engele oor jou opdrag gee

“en:

“Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.

7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.

8Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”

10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:

“Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

Die eerste optrede van Jesus

(Mark. 1:14-15; Luk. 4:14-15)

12Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. 13Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. 14So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:

15“Jy, gebied van Sebulon en gebied

van Naftali, aan die seekant

en oorkant die Jordaan,

Galilea waar die heidene woon!

16Die volk wat in duisternis woon,

het 'n groot lig gesien;

hulle wat in die skemerland

van die dood lewe,

vir hulle het die lig opgegaan.”

17Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Die roeping van die eerste dissipels

(Mark. 1:16-20; Luk. 5:1-11)

18Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om 'n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. 19Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

20Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.

21Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus 'n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in 'n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep, 22en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg.

Weldade aan baie mense

(Luk. 6:17-19)

23Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. 24En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak. 25Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS