Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 97

JESAJA 26–28, MATTEUS 1–3

Bybelteks(te)

God gee oorwinning aan sy volk

1Daar kom 'n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word:

Ons het 'n sterk stad,

God beskerm ons met mure, met 'n vesting.

2Maak oop die poorte

dat die nasie wat gered is, kan ingaan,

die nasie wat aan God gehoorsaam is

3en wat op Hom vertrou.

Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here,

want hulle het hulle vertroue op U gestel.

4Vertrou altyd op die Here,

want die Here God is 'n veilige toevlug.

5Hy bring dié wat in hoë vestings woon, af grond toe,

Hy gooi hulle hoë stadsmure om,

Hy maak dit gelyk met die grond

en laat lê dit in die stof.

6Hulle sal onder die voete vertrap word,

onder die voete van onderdruktes;

die armes sal op hulle trap.

7Die pad van die regverdige is reguit,

U maak sy pad gelyk.

8Ook wanneer U straf, Here, vertrou ons op U.

Ons wil u Naam eer en U aanroep.

9In die nag smag ek na U,

in die môre vra ek na u wil.

Wanneer U die aarde straf,

leer sy inwoners wat geregtigheid is.

10Daar word goed gedoen aan die goddeloses,

maar hulle leer nie wat geregtigheid is nie,

hulle verdraai die reg

en erken nie die mag van die Here nie.

11U staan gereed om hulle te straf, Here,

maar hulle steur hulle nie daaraan nie.

Laat hulle ondervind dat U vir u volk opkom:

laat die pogings van hierdie teëstanders van U misluk,

laat vuur hulle verteer.

12U regeer in vrede oor ons, Here,

U doen alles vir ons.

13Behalwe U, Here ons God, het ander konings oor ons geregeer,

maar ons wil net ú Naam onthou.

14Hulle is nou dood en sal nie weer lewe nie,

hulle gees sal nie weer opstaan nie.

U het hulle gestraf en uitgewis,

U maak dat niemand meer aan hulle dink nie.

15Here, U het u volk meer laat word,

U het hulle meer laat word

en hulle landsgrense uitgebrei.

So het U u mag getoon.

Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe

16Here, in hulle nood het hulle hulle toevlug tot U geneem,

toe U hulle met swaarkry gestraf het, het hulle U aangeroep.

17Soos 'n swanger vrou wat inmekaar krimp en skreeu oor haar geboortepyne wanneer sy 'n kind in die wêreld wil bring,

so, Here, is ons in u teenwoordigheid.

18Ons was swanger, ons het inmekaar gekrimp van pyn,

maar ons het niks in die wêreld gebring nie:

ons het nie 'n redder vir die land gegee nie,

en daar is nie inwoners vir die wêreld gebore nie.

19Dié uit u volk wat gesterf het, sal weer lewe, Here,

hulle sal opstaan.

Word wakker en juig, julle wat in die doderyk is!

Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe, Here,

die aarde sal hulle wat lankal gesterf het, lewend teruggee.

20Gaan in julle slaapkamers in, my volk,

sluit die deure agter julle toe.

Kruip 'n rukkie weg totdat God klaar is met straf.

21Die Here kom uit sy woonplek te voorskyn

om die bewoners van die aarde te straf oor hulle ongeregtighede.

Die aarde sal vertel van die bloed wat daarop vergiet is

en sal nie meer die mense wat vermoor is, wegsteek nie.

In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet

1Daardie dag sal die Here sy skerp, groot, sterk swaard gebruik om die Leviatan, die vinnige, kronkelende slang te verslaan en sal Hy die monster doodmaak wat in die see is.

2Daardie dag moet julle sing van die goeie wingerd;

3Ek, die Here, sorg daarvoor:

Ek lei dit gereeld nat,

dag en nag staan Ek wag daarby

sodat niemand dit kan beskadig nie.

4Ek is nie kwaad vir my wingerd nie.

Niemand sal dit waag om dorings en dissels daarin te plant nie.

Maar soos in 'n oorlog sal Ek my wingerd plattrap

en heeltemal verbrand

5as hy nie in my stad kom skuil nie.

Hy, Israel, moet met My kom vrede maak,

hy moet vrede met My kom maak!

6In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet,

Israel sal groei en lote maak.

Die aarde sal vol word van hulle vrugte.

7Die Here het sy volk nie geslaan

soos Hy hulle teëstanders geslaan het nie.

Hy het hulle ook nie doodgemaak,

soos Hy hulle moordenaars doodgemaak het nie.

8Die Here het sy volk gestraf

deur hulle te verjaag en weg te dryf.

Met 'n sterk wind het Hy hulle weggewaai ooste toe.

9As Jakob al sy altaarklippe fyn stamp

soos 'n mens 'n kalkklip fyn stamp,

as hy nie gewyde pale en wierookaltare vir sy afgode oprig nie,

sal daar versoening wees vir sy oortreding,

sal sy sonde van hom af weggeneem word.

10Die versterkte stad lê verwoes:

'n plek sonder inwoners,

verlate soos die woestyn.

Dáár wei net kalwers,

en hulle vreet wat daar groei,

en dáár gaan hulle lê.

11Die droë takke word afgebreek,

vrouens kom en maak vuur daarmee.

Israel is 'n volk sonder begrip van wat Ek doen.

Daarom sal sy Maker hom nie langer liefhê nie

en sal sy Skepper hom nie genadig wees nie.

12Daardie dag sal die Here sy oes inbring

van die Eufraat af tot by die grens van Egipte,

en julle, Israeliete, sal die koringare wees wat één-één opgetel word.

13Daardie dag sal die groot ramshoring geblaas word.

Dan sal almal aankom wat in Assirië verstrooi was,

ook dié wat na Egipte toe verjaag is.

Hulle sal die Here aanbid op die heilige berg in Jerusalem.

Ellende wag vir Samaria

1Ellende wag vir Samaria,

die kroon, die trots van die dronkaards van Efraim,

die roem van die drankverslaafdes,

die krans van verwelkte blomme,

dié stad hoog bokant die vrugbare vallei.

2Die Here het iemand tot sy beskikking

wat sterk en magtig is

en wat dié kroon grond toe sal bring

soos 'n haelstorm, soos 'n vernietigende stormwind,

soos stortreëns uit 'n wolkbreuk.

3Dié kroon, die trots van die dronkaards van Efraim,

sal met die voete vertrap word,

4dié krans van verwelkte blomme

waaroor hulle roem,

die stad hoog bokant die vrugbare vallei

is soos 'n ryp voorvy:

wie hom sien, pluk hom en kyk skaars na hom

voor hy hom wegsluk.

5Daardie dag sal die Here die Almagtige die kroon wees,

die krans waaroor dié sal roem

wat van sy volk oor is.

6Hy sal aan dié wat reg moet spreek,

'n sin vir reg gee,

Hy sal krag gee aan dié wat die aanval moet afslaan

by die stadspoorte.

Teen die priesters en profete in Jerusalem

7Maar ook die priesters en profete hier in Jerusalem

slinger en waggel van dronkenskap;

hulle slinger, hulle is beneweld,

hulle waggel van die wyn en die drank;

die profete slinger wanneer hulle gesigte moet uitlê,

die priesters loop twee rye spore

wanneer hulle regsbeslissings moet maak.

8Al die tafels is vol braaksel,

daar is nie 'n plek wat nie bemors is nie.

9Hulle sê: “Vir wie wil Jesaja leer,

vir wie wil hy die boodskap uitlê

wat hy sou gehoor het?

Ons is nie kinders wat pas gespeen is,

wat nou net van hulle ma's se borste af

weggevat is nie!

10Wat ons van hom hoor,

is 'n bietjie brabbeltaal hier

en 'n bietjie brabbeltaal daar!”

11Hy sál in die vervolg met dié volk praat

met stotterende woorde, in 'n vreemde taal.

12Hy het vir hulle gesê: Die rus moet hier wees,

gee hier vir die vermoeide rus,

hier is die plek vir vrede!

Maar hulle wou nie luister nie.

13Die woord van die Here tot hulle sal nou wees

'n bietjie brabbeltaal hier

en 'n bietjie brabbeltaal daar,

sodat hulle sal struikel waar hulle ook gaan,

verstrik sal raak, gevang en vernietig sal word.

Ek gaan in Sion 'n klip neersit

14Hoor die woord van die Here, julle ligsinniges

wat regeer oor hierdie volk in Jerusalem!

15Julle sê: “Ons het 'n ooreenkoms met die dood,

ons het 'n verstandhouding met die doderyk;

wanneer die vloed aangestroom kom,

sal hy ons nie tref nie.

Ons het die leuen ons skuilplek gemaak,

ons kruip veilig weg agter die valsheid!”

16So sê die Here my God:

Ek gaan in Sion 'n klip neersit,

'n uitgesoekte klip, 'n hoekklip

wat fondament aan fondament sal sluit.

Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie.

17Ek maak geregtigheid die maatstaf,

regverdigheid die toets.

Die hael sal julle skuilplek van leuens uitwis,

die water sal julle wegkruipplek wegspoel.

18Julle ooreenkoms met die dood word opgehef,

julle verstandhouding met die doderyk sal nie bly staan nie.

Wanneer die vloed aangestroom kom,

sal julle in hom ondergaan.

19Hy sal julle meesleur elke keer as hy kom,

en hy sal dag vir dag kom,

dag en nag.

Dan sal dit louter verskrikking wees

om die boodskap uit te lê wat ontvang is.

20Die bed sal te kort wees om reguit op te lê,

die kombers te smal om jou daarmee toe te maak.

21Soos by Perasimberg sal die Here Hom gereed maak,

soos in die laagte by Gibeon sal Hy Hom in sy toorn voorberei

om te doen wat Hy wil doen,

om die taak te verrig waartoe Hy besluit het,

en dit is iets vreemds wat Hy wil doen,

dit is 'n uitsonderlike taak.

22Staak julle ligsinnigheid

sodat die bande nie nog stywer om julle getrek word nie!

Ek het by die Here my God, die Almagtige, gehoor

dat dit by Hom vasstaan:

Hy gaan die hele land verwoes.

Kennis wat van die Here af kom

23Gee aandag, luister na wat ek sê,

let op, luister na my woorde:

24Hou 'n boer aan met ploeg as hy wil saai?

Hou hy aan grond breek en vore trek?

25As hy die grond gelyk gemaak het,

saai hy mos swartkomyn en komyn,

sit hy koring en gars in waar dit moet kom

en spelt aan die kante.

26Sy God leer hom en gee hom die kennis

hoe om alles te doen soos dit hoort.

27Swartkomyn word mos nie met 'n slee uitgedors

of komyn met wawiele uitgetrap nie.

Swartkomyn en komyn word met 'n stok uitgeslaan.

28Graan word gemaal vir brood,

maar 'n mens hou nie eindeloos aan om dit te laat trap

deur wawiele en deur trekdiere

tot dit fyn is nie.

29Ook dit is iets wat van die Here die Almagtige af kom;

kennis wat van Hom kom, is wonderbaar

en laat alles voorspoedig verloop.

Die geslagsregister van Jesus Christus

(Luk. 3:23-38)

1Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham:

2Abraham was die vader van Isak, Isak van Jakob, en Jakob van Juda en sy broers; 3Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar, Peres van Gesron, en Gesron van Ram; 4Ram was die vader van Amminadab, Amminadab van Nagson, en Nagson van Salmon; 5Salmon was die vader van Boas by Ragab, Boas van Obed by Rut, Obed van Isai; 6Isai was die vader van koning Dawid.

Dawid was die vader van Salomo by die vrou van Urija; 7Salomo was die vader van Rehabeam, Rehabeam van Abia en Abia van Asa; 8Asa was die vader van Josafat, Josafat van Joram, en Joram van Ussia; 9Ussia was die vader van Jotam, Jotam van Agas, en Agas van Hiskia; 10Hiskia was die vader van Manasse, Manasse van Amon, en Amon van Josia; 11Josia was die vader van Jojagin en sy broers. Toe is die volk weggevoer na Babilonië toe.

12En na die Babiloniese ballingskap was dit so: Jojagin was die vader van Sealtiël, en Sealtiël van Serubbabel; 13Serubbabel was die vader van Abihud, Abihud van Eljakim, en Eljakim van Asor; 14Asor was die vader van Sadok, Sadok van Agim, en Agim van Elihud; 15Elihud was die vader van Eleasar, Eleasar van Mattan, en Mattan van Jakob; 16Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.

17Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af tot by Dawid, veertien van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap en veertien van die Babiloniese ballingskap af tot by Christus.

Die geboorte van Jesus Christus

(Luk. 2:1-7)

18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.

Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:

23“Die maagd sal swanger word

en 'n Seun in die wêreld bring,

en hulle sal Hom Immanuel noem.”

Die naam beteken God by ons.

24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

Besoek uit die ooste

1Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur 'n profeet geskrywe:

6“En jy, Betlehem, gebied van Juda,

jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie.

Uit jou sal 'n leier voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees.

7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in 'n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met 'n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Die vlug na Egipte toe

13Nadat hulle vertrek het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”

14Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek 15en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur 'n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”

Die kindermoord

16Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. 17Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:

18“'n Gekerm word op Rama gehoor,

'n gehuil en groot gejammer:

Ragel treur oor haar kinders

en wil nie getroos word nie,

omdat hulle nie meer daar is nie.”

Die terugkoms uit Egipte

19Na die dood van Herodes verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte 20en sê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.”

21Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan. 22Toe hy egter verneem dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was Josef bang om daarheen te gaan. Nadat God hom in 'n droom 'n aanwysing gegee het, is hy na die landstreek Galilea toe. 23Daar aangekom, het hy gaan woon in 'n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is: Hy sal Nasarener genoem word.

Johannes die Doper en sy prediking

(Mark. 1:1-8; Luk. 3:1-9,15-17; Joh. 1:19-28)

1In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek 2en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” 3Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het:

“Iemand roep in die woestyn:

Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.”

4Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra met 'n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 5In dié dae het Jerusalem en die hele Judea en die hele omgewing van die Jordaan na hom toe gestroom. 6Hulle het hulle sondes bely en hulle deur hom in die Jordaanrivier laat doop.

7Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. 9Julle moet julle nie verbeel dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie. Dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 10Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 11Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 12Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.”

Die doop van Jesus

(Mark. 1:9-11; Luk. 3:21-22; Joh. 1:31-34)

13In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. 14Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?”

15Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Daarna het Johannes ingestem. 16Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom. 17Daar was ook 'n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS