Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 82

2 Samuel 16–18, Psalms 4–5 & 7

Bybelteks(te)

Siba bring kos vir Dawid

1Toe Dawid 'n entjie van die kruin af weg was, het Mefiboset se amptenaar Siba hom onverwags teëgekom. Op twee opgesaalde donkies het hy twee honderd brode, honderd pakkies rosyntjies en honderd pakkies voorvye en 'n kruik wyn gehad.

2“Wat het jy hier?” vra die koning vir hom, en Siba antwoord: “Die donkies is vir die koning-hulle om op te ry, en die brood en vye is kos vir u lyfwag; dié wat in die woestyn moeg word, kan die wyn drink.”

3“En waar is Saul se seun?” vra die koning.

“Nee, hy sit in Jerusalem. Hy dink mos: vandag sal Israel die koningskap van my pa aan my teruggee,” antwoord Siba.

4Toe sê die koning: “Nou kyk, alles wat aan Mefiboset behoort, is nou joune.”

“Ek sal altyd dankbaar bly,” sê Siba, “en ek hoop ek sal U Majesteit altyd tevrede stel.”

Simeï vloek vir Dawid

5Toe die koning by Bagurim kom, storm daar ewe skielik een van Saul se familielede op hom af. Sy naam was Simeï seun van Gera. So ver as hy gaan, het hy geloop en vloek. 6Hy het Dawid en al sy amptenare en die hele volk, ja, selfs al die dapper krygsmanne, links en regs onder die klippe gesteek.

7Terwyl hy loop en vloek, het Simeï uitgeroep: “Trap, trap hier uit, jou moordenaar en jou skurk! 8Nou straf die Here jou vir al die moorde op Saul se geslag toe jy in sy plek koning geword het. Nou het die Here die koningskap aan jou seun Absalom gegee. Nou sit jy self in die ellende omdat jy 'n moordenaar is.”

9Toe vra Seruja se seun Abisai vir die koning: “Waarom vloek hierdie lae hond die koning? Laat ek sy kop vir hom gaan afkap.”

10“Seun van Seruja, dit het niks met my of met jou te doen nie,” was die koning se antwoord. “Hy vloek so omdat die Here hom beveel het om vir Dawid te vloek! Niemand moet nou vra waarom hy dit doen nie.”

11Verder het die koning vir al sy amptenare en vir Abisai gesê: “My eie bloedkind soek my lewe. Daarom moet julle hierdie Benjaminiet met rus laat dat hy maar vloek, want die Here het hom die opdrag gegee. 12Miskien let die Here op my ellende en beloon Hy my met iets goeds vir vandag se vervloeking.”

13Dawid en sy mense het toe pad langs verder getrek. Simeï het ál teen die berghang langs geloop en vloek en klippe gooi en stof opskop. 14Moeg het die koning en sy geselskap by die Jordaan aangekom en daar 'n bietjie gerus.

Agitofel se raad word verydel

15Maar Absalom en die hele Israel het in Jerusalem aangekom. Agitofel was ook by.

16Toe Dawid se vriend Gusai die Erekiet by Absalom kom, sê Gusai vir hom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!”

17Toe vra Absalom vir hom: “Is dit hoe jy jou lojaliteit teenoor jou vriend wys? Waarom het jy nie saam met hom gegaan nie?”

18Gusai het geantwoord: “O nee! Ek skaar my by dié een vir wie die Here en hierdie manskappe en elke Israeliet gekies het. By hom staan ek. 19Per slot van rekening: wie sal ek dien? Is dit nie sy seun nie? Net soos ek u vader gedien het, sal ek u dien.”

20Daarna sê Absalom vir Agitofel: “Kom, julle moet altwee raad gee oor wat ons nou te doen staan.”

21Agitofel se raad was: “Gaan slaap by u vader se byvrouens wat hy hier laat bly het om die paleis op te pas. Dan sal die hele Israel besef dat u teen u vader in opstand gekom het en dit sal al u volgelinge se hande sterk.”

22Daar is toe vir Absalom 'n tent op die dak opgeslaan, sodat hy voor die oë van die hele Israel by sy pa se byvrouens kon gaan slaap. 23In daardie tyd was Agitofel se raad asof hy dit van God gekry het. So was sy raad altyd, of dit nou al vir Dawid of vir Absalom was.

1Agitofel het verder vir Absalom gesê: “Laat ek tog twaalf afdelings uitsoek en klaarmaak om Dawid vannag nog agterna te sit. 2Ek sal hom oorval terwyl hy moeg en moedeloos is. Ek sal verwarring in sy geledere skep, sodat die hele volk wat by hom is, sal vlug en ek die koning kan doodmaak waar hy alleen is. 3Dan sal ek die hele volk na u toe laat swaai. Nadat almal oorgeloop het, sal u die gunsteling wees en die hele volk sal eensgesind wees.”

4Die voorstel het aanneemlik gelyk vir Absalom en die leiers van Israel.

5Maar Absalom het gesê: “Roep eers vir Gusai die Erekiet. Laat ons ook hoor wat hý te sê het.”

6Gusai het ingekom, en Absalom het vir hom gesê: “Dit is die voorstel van Agitofel. Moet ons dit aanvaar of nie? Hoe dink jy?”

7Gusai het geantwoord: “Hierdie keer het Agitofel nie goeie raad gegee nie. 8U ken tog u vader en sy manskappe. Hulle is dapper vegters en hulle is boonop verbitter soos 'n beer wat in die veld van haar kleintjies beroof is. Daarby is u vader 'n uitgeslape krygsman. Hy sal nie by die volk oornag nie. 9Ek is seker hy kruip nou weg in 'n sloot of op een of ander plek. As daar aan die begin al van u manskappe omkom en dit rugbaar word, sal daar gesê word: ‘Daar was 'n slagting onder die manne wat vir Absalom volg.’ 10Dan sal selfs die dapperste man, die man met leeuemoed, bang word, want die hele Israel weet u vader is 'n vegter en hy het dapper manne by hom. 11Nee, ek raai aan dat die hele volk oor die lengte en breedte van die land eers by u bymekaargeroep word: 'n menigte soos die sand van die see. Dan kan u persoonlik teen hom opruk. 12Waar hy ook al is, as ons by hom kom in een van die plekke, sak ons op hom toe soos mistige weer. Daar sal niks van hom oorbly nie, ook nie eers een van die manne by hom nie. 13As hy hom dalk in 'n stad terugtrek, moet die hele Israel toue oor die mure van daardie stad gooi en dit na die laagte toe wegsleep totdat daar nie meer 'n enkele klip oorbly nie.”

14Toe het Absalom en al die manskappe van Israel gesê: “Die raad van Gusai die Erekiet is beter as dié van Agitofel.”

Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.

Dawid ontvang berig uit Jerusalem en vlug deur die Jordaan

15Daarna het Gusai die priesters Sadok en Abjatar ingelig: “Só het Agitofel vir Absalom en die volksleiers aangeraai, maar só was my raad. 16Stuur nou gou en laat weet vir Dawid hy moenie vannag in die woestynpas slaap nie. Hy moet beslis verder trek, anders word hy en sy hele leër uitgewis.”

17Omdat hulle nie in die stad gesien moes word nie, het Jonatan en Agimaäs ondertussen by Rogelfontein gewag. 'n Slavin het hulle gaan inlig, en hulle moes weer vir koning Dawid gaan inlig. 18'n Jong seun het hulle egter gesien en Absalom daarvan vertel. Maar dié twee het weggeglip en by 'n man in Bagurim gaan wegkruip. In sy agterplaas was daar 'n put en hulle het daarin geklim. 19Sy vrou het 'n doek oor die put gespan en graan daar oor gegooi sodat niemand onraad kon merk nie.

20Absalom se manne het by die huis aangekom en vir die vrou gevra: “Waar is Agimaäs en Jonatan?”

Sy het hulle geantwoord: “Hulle is hiervandaan rivier se kant toe.”

Nadat die manne tevergeefs gesoek het, is hulle terug Jerusalem toe. 21Toe hulle weg is, het Agimaäs en Jonatan uit die put geklim en vir Dawid gaan sê: “Trek gou deur die rivier, want Agitofel se raad is gevaarlik vir u.”

22Die koning en die hele volk by hom het klaargemaak en deur die Jordaan getrek tot ligdag, totdat almal deur die Jordaan was.

23Toe Agitofel sien sy raad word nie gevolg nie, het hy sy donkie opgesaal en na sy huis toe in sy tuisdorp gery. Daar het hy sy sake gereël en homself opgehang en gesterf. Hy is in die familiegraf begrawe.

24Dawid het na Maganajim toe gegaan onderwyl Absalom en die hele Israel deur die Jordaan getrek het. 25Absalom het vir Amasa in Joab se plek oor die leër aangestel. Amasa was die seun van 'n sekere Ismaeliet Jeter wat gemeenskap gehad het met Abigal dogter van Nagas. Sy was 'n suster van Seruja, Joab se ma.

26Israel en Absalom het laer opgeslaan in Gilead. 27Toe Dawid in Maganajim aankom, is daar vir hom beddegoed gebring deur Sobi seun van Nagas van die Ammonitiese stad Rabba, en Makir seun van Ammiël van die stad Lo-Dabar, en Barsillai die Gileadiet van Rogelim. 28Hulle het toe die slaapplek reggemaak. Daar was ook nog erdebakke, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies. 29Hulle het ook heuning, bokmelk en beesmelkkaas gebring sodat Dawid en sy mense kon eet en drink, want hulle het geweet die mense het moeg en honger en dors geword in die woestyn.

Absalom sterf

1Dawid het die manskappe wat by hom was, in gelid opgestel: hy het hoofde oor afdelings van duisend en honderd aangestel en die leër in drie verdeel: 2'n derde onder leiding van Joab; 'n derde onder Joab se broer Abisai seun van Seruja, en die ander derde onder leiding van Ittai die Gattiet.

Toe het die koning vir die leër gesê: “Ek gaan self saam met julle veg.”

3Die leër het egter geantwoord: “Nee, u moenie saamgaan nie, want as óns dalk moet vlug, kan ons maar vlug en niemand sal van ons notisie neem nie; of as die helfte van ons dalk sterf, sal dit nie saak maak nie. Maar u is soos tien duisend van ons. Dit sal beter wees as u ons van die stad af kom help.”

4Die koning sê toe: “Ek sal doen soos julle sê.”

Toe gaan staan hy langs die stadspoort terwyl die hele leër in afdelings van honderd en duisend uittrek om te gaan veg.

5Die koning het vir Joab, Abisai en Ittai beveel: “Werk om my ontwil tog saggies met my kind Absalom.”

Al die manskappe het die bevel oor Absalom gehoor toe die koning dit aan die offisiere gegee het.

6Die manskappe het toe in die oop veld teen Israel opgetrek. Daar het 'n geveg in die Efraimbos ontstaan, 7en Israel is deur Dawid se manskappe verslaan. Dit was 'n groot slagting. Daar het dié dag nie minder nie as twintig duisend man geval. 8Die geveg het oor die hele landstreek versprei, en op daardie dag het die bos meer lewens geëis as die swaard.

9Dawid se manskappe het op Absalom afgekom waar hy op 'n muil gery het. Die muil het onder die digte takke van 'n groot akkerboom deurgegaan, en Absalom se kop het in die boom vasgehaak. Die muil waarop hy gery het, het aangehou hardloop en Absalom het tussen hemel en aarde bly hang.

10Iemand het dit gesien en aan Joab vertel: “Weet u, ek het Absalom aan 'n akkerboom sien hang.”

11Toe sê Joab aan die man wat dit vir hom vertel het: “Wat? Het jy hom gesien? Waarom het jy hom dan nie net daar doodgeslaan nie? Ek sou jou dan tien silwerstukke en 'n eregordel moes gegee het.”

12Maar die man antwoord vir Joab: “Al sou ek ook vir my duisend silwerstukke met my eie hand kon aftel, sou ek nog nie my hand teen die koning se seun opgetel het nie. Ons het immers almal gehoor hoe die koning u en Abisai en Ittai beveel: ‘Werk tog saggies met my kind Absalom.’ 13As ek verkeerd opgetree het, sou dit by die koning bekend geword het en dan sou ú my nie gehelp het nie.”

14Toe sê Joab: “Ek kan nie so staan en tyd mors hier by jou nie.” Hy het drie spiese gegryp en dit deur Absalom se hart gaan steek waar hy nog lewendig in die boom gehang het. 15Toe het tien wapendraers van Joab nader gestorm en Absalom heeltemal dood geslaan.

16Hierna het Joab die ramshoring geblaas en die leër het opgehou om Israel te agtervolg. So het Joab die leër laat terugtrek, 17maar die hele Israel het huis toe gevlug.

Absalom se lyk is in 'n diep gat in die bos gegooi, en hulle het 'n groot hoop klippe op hom gepak.

18Dit was dieselfde Absalom wat die gedenkteken in die koningslaagte opgerig het om homself te vereer, omdat hy gesê het hy het nie meer 'n seun om sy naam in gedagtenis te hou nie. Daarom het hy die gedenkteken na homself vernoem en dit word nou nog genoem: “Absalom se Gedenkteken”.

19Agimaäs seun van Sadok het gesê: “Laat ek tog hardloop en aan die koning die goeie tyding bring dat die Here hom van sy vyand verlos het.”

20Maar Joab het vir hom gesê: “Jy is vandag nie die regte man om 'n tyding te bring nie. Jy kan op 'n ander dag boodskappe dra. Vandag doen jy dit nie, want dit is die koning se seun wat dood is.”

21Toe beveel Joab 'n Kussiet: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het.”

Nadat die Kussiet voor Joab gebuig het, het hy begin hardloop. 22Agimaäs seun van Sadok het weer vir Joab gesê: “Kom wat wil, laat ek tog net agter die Kussiet aan hardloop.”

“My seun, waarom wil jy tog hardloop? Daar sal nie vir jou ook 'n boodskappersloon wees nie,” antwoord Joab.

23“Dit maak nie saak nie; ek hardloop,” sê hy.

“Nou hardloop dan,” sê Joab vir hom.

Agimaäs het toe met die pad deur die Jordaanstreek gehardloop en die Kussiet verbygegaan.

24Terwyl Dawid in die stadspoort sit, klim die wag na die uitkykpos op die poort se dak en kyk rond of hy nie dalk iets sien nie. En juis toe kom daar iemand alleen aangehardloop. 25Die wag roep toe en sê dit vir die koning.

“As hy alleen is, bring hy nuus,” sê die koning.

Terwyl hy nader kom, 26sien die wag nog iemand hardloop en hy roep na die poortwagter: “Daar kom nog iemand alleen aangehardloop.”

En die koning sê: “Ook hý bring nuus.”

27“Dit lyk my die voorste een hardloop soos Agimaäs seun van Sadok,” merk die wag op.

“Hy is 'n goeie man, hy kom met 'n goeie boodskap,” voeg die koning toe by.

28“Alles is reg,” roep Agimaäs en buig voor die koning en sê: “Geloof sy die Here u God, omdat Hy die mense wat in opstand gekom het teen die koning, verslaan het.”

29“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning. Hierop antwoord Agimaäs: “Ek het 'n groot samedromming opgemerk net toe u offisier Joab my gestuur het. Verder weet ek niks.”

30Die koning het hom beveel: “Wag 'n bietjie. Kom staan hier eenkant.”

Hy het dit gedoen 31en toe kom die Kussiet juis net daar aan en sê: “Daar is nuus vir die koning, want die Here het u vandag verlos van almal wat teen u in opstand gekom het.”

32“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning, en die Kussiet antwoord: “Mag dit met die vyande van die koning en almal wat teen u in opstand kom en u ondergang wil bewerk, gaan soos met daardie kind.”

33Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.”

U alleen laat my veilig woon

1Vir die koorleier: met snarespel. 'n Psalm van Dawid.

2O God wat aan my reg verskaf,

antwoord my as ek roep.

Toe ek in die nood was,

het U my bevry.

Wees my ook nou genadig

en hoor my gebed!

3Hoe lank gaan julle my eer nog skend, mense,

gaan julle valsheid liefhê

en voorkeur gee aan leuens? Sela

4Besef tog dat die Here wonders gedoen het

vir dié wat aan Hom getrou is.

Die Here hoor as ek na Hom roep.

5As jy ontsteld raak, moenie sondig nie;

dink in stilte daaroor na as jy gaan lê,

en laat dit daarby! Sela

6Julle moet die offers bring

wat aan julle voorgeskryf is,

en julle moet op die Here vertrou.

7Daar is baie wat sê:

“Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?”

Wees ons tog weer goedgesind, Here, help ons!

8U het my reeds groter vreugde laat belewe

as wat daar is by mense

wat koring en wyn in oorvloed het.

9Nou sal ek onbesorg gaan lê

en dadelik aan die slaap raak,

want, Here, U alleen laat my veilig woon.

Help my om u wil te doen

1Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Psalm van Dawid.

2Luister tog na my woorde, Here,

hoor hoe ek sug.

3Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God,

want tot U bid ek.

4U luister na my stem in die môre, Here,

in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.

5U is nie 'n God wat onreg verdra nie,

die kwaad het by U geen plek nie.

6Hooghartiges durf nie voor U kom nie.

U haat almal wat onreg doen,

7U roei alle leuenaars uit.

Die Here verafsku moordenaars en bedrieërs.

8Maar ek, ek mag deur u groot liefde in u huis ingaan

en in u heilige tempel buig

met die eerbied wat aan U verskuldig is.

9Omdat ek vyande het, Here,

leer my tog wat reg is

en help my om u wil te doen.

10Niks wat hulle sê, is waar nie;

al waaraan hulle dink, is my ondergang;

hulle vlei my,

maar hulle wil my in die graf laat beland.

11Laat hulle daarvoor boet, o God,

laat hulle deur hulle eie planne tot niet gaan.

Dryf hulle weg oor hulle baie sondes,

want hulle is opstandig teen U.

12Maar laat almal wat by U skuil, bly wees,

laat hulle altyd jubel.

U beskerm dié wat u Naam liefhet,

en hulle juig oor U.

13U laat dit goed gaan met die regverdige, Here,

u goedheid beskerm hom soos 'n skild.

God help die opregtes

1'n Klaaglied van Dawid wat hy vir die Here gesing het na aanleiding van die dade van Kus, 'n Benjaminiet.

2By U soek ek beskerming, Here my God.

Help my, red my van almal wat my vervolg,

3sodat hulle my nie verskeur soos 'n leeu sy prooi nie,

my nie uitmekaar skeur sonder hoop op redding nie.

4As ek iets verkeerds gedoen het, Here my God,

as daar onreg aan my hande kleef,

5as ek 'n vriend van my kwaad aangedoen het,

as ek 'n teëstander van my sommer goedsmoeds kaalgestroop het,

6mag die vyand my dan agtervolg en inhaal,

my in die grond in trap,

my tot in die stof in verneder. Sela

7Kom tog, Here, in u toorn,

tree op teen die verwoede aanslag van my teëstanders.

Kom my te hulp,

U wat bepaal het dat reg sal geskied.

8Laat al die volke rondom U kom staan;

neem hoog bo hulle u plek in op u regterstoel!

9U wat regspreek oor die volke, Here,

bevind tog dat ek reg het, Here,

dat ek onskuldig is.

10Maak 'n end aan al die bose dade van die goddelose mense.

Stel tog die onskuldige in die gelyk.

U wat die mens deur en deur toets,

U is die regverdige God.

11God wat die opregtes help,

is my beskermer.

12God is 'n betroubare regter,

'n God wat altyd die skuldiges straf.

13Hy maak sy swaard elke keer weer skerp,

Hy span sy boog en lê aan.

14Hy hou dodelike wapens gereed

en maak vir Hom brandpyle.

15Die skuldige is soos iemand

wat swanger geraak het van onreg,

swanger is van kwaad

en leuens voortbring.

16Hy grawe 'n diep gat

en val self daarin.

17Sy boosheid tref homself,

en die geweld wat hy beplan het,

kom op sy eie kop af.

18Ek wil die Here prys omdat Hy reg laat geskied.

Die Naam van die Here, die Allerhoogste,

wil ek besing.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS