Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 81

2 Samuel 11–15, Psalm 51 (opsioneel: Psalm 3)

Bybelteks(te)

Dawid pleeg owerspel en moord

1In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op 'n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.

2Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy 'n vrou sien bad. Sy was 'n baie mooi vrou. 3Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.”

4Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe.

5Die vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: “Ek is swanger.”

6Dawid het op sy beurt 'n boodskap na Joab toe gestuur: “Stuur vir Urija die Hetiet hiernatoe.”

Joab het hom na Dawid toe gestuur.

7Urija het by hom gekom, en Dawid het hom gevra hoe gaan dit met Joab en die leër, en hoe vorder die oorlog. 8Hierna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou maar huis toe en rus 'n bietjie.”

Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning ook nog 'n geskenk agter hom aangestuur. 9Maar Urija wou nie huis toe gaan nie en het by die paleisdeur gaan slaap saam met die slawe van die koning. 10Hulle het vir Dawid gaan sê: “Urija was nie huis toe nie.”

Dawid vra toe vir Urija: “Jy was mos lank weg, waarom gaan jy nie huis toe nie?”

11Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!”

12Dawid het Urija toe beveel: “Bly vandag nog hier! Môre stuur ek jou terug.”

Urija het daardie dag en die dag daarna in Jerusalem vertoef. 13Toe het Dawid hom geroep en saam met hom geëet en gedrink. Hy het hom selfs dronk gemaak. Maar die aand het Urija uitgegaan om op sy gewone plek saam met die slawe van die koning te gaan slaap. Hy het nie huis toe gegaan nie.

14Die volgende oggend het Dawid 'n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur. 15In dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija 'n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.”

16Terwyl Joab die stad beleër, het hy Urija op 'n plek gesit waar hy geweet het daar is dapper teenstanders.

17Die burgers van die stad het uitgekom en teen Joab geveg. Daar het van Dawid se soldate gesneuwel, en Urija die Hetiet het ook omgekom. 18Joab het Dawid laat inlig oor die verloop van die geveg.

19Hy het die boodskapper beveel: “As jy vir die koning die verloop van die geveg klaar vertel het 20en net as hy begin kwaad word en jou vra: ‘Waarom het julle so naby die stad gaan veg? Het julle nie gedink aan die mense wat bo van die muur af skiet nie? 21Wie het vir Abimelek seun van Jerubbeset doodgemaak? Is dit nie 'n vrou wat 'n maalklip bo van die muur af op hom gegooi het, sodat hy in Tebes gesterf het nie? Waarom het julle so naby die muur gekom?’ dan moet jy sê: Ook u manskap Urija die Hetiet het gesneuwel.”

22Die boodskapper het vir Dawid alles gaan vertel wat Joab hom beveel het. 23Hy het vir Dawid gesê: “Die vyand het dapper teen ons geveg. Hulle het tot in die oop veld na ons toe uitgekom en toe ons hulle tot by die stadspoort terugdruk, 24het die boogskutters bo van die muur af u manskappe begin raakskiet. So het party van die koning se soldate gesneuwel, en ook Urija die Hetiet het so gesterf.”

25Dawid het die boodskapper beveel: “Sê vir Joab: ‘Jy moet jou dit nie te veel aantrek nie. Dit gebeur nou maar eenmaal so dat mense sneuwel. Veg dapper in jou stryd teen die stad en verwoes dit.’ En praat hom moed in.”

26Urija se vrou het gehoor dat haar man dood is en sy het oor hom getreur. 27Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.

Natan kondig Dawid se straf aan

1Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm. 2Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. 3Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos 'n eie dogter. 4Daar het 'n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.”

5-6Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef, 'n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.”

7“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. 8Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee. 9Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so 'n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.

10“Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het.

11“So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot, 12want jy het 'n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen.”

13Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.”

En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie. 14Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.”

15Natan het huis toe gegaan, en die Here het die kind wat Urija se vrou vir Dawid in die wêreld gebring het, getref. Die kind het ernstig siek geword. 16Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê. 17Die hoofde van sy huishouding het hom probeer oorreed om van die grond af op te staan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle aan tafel verskyn nie. 18Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is.

Hulle het gesê: “En nou? Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, en hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy sal 'n onbesonne ding aanvang.”

19Dawid het agtergekom dat sy amptenare onder mekaar fluister en hy het afgelei dat die kind dood is. “Is die kind dood?” het hy gevra. “Hy is dood,” was hulle antwoord.

20Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom 'n ete voorgesit en hy het geëet.

21Sy amptenare vra hom toe: “Wat doen u nou? Toe die kind nog gelewe het, het u gevas en gehuil. Nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?”

22Sy antwoord was: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe. 23Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”

24Daarna het Dawid sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar slaapkamer ingegaan en by haar geslaap. Sy het 'n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad 25en het hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”.

Dawid onderwerp die Ammoniete

(Vgl. 1 Kron. 20:1-3)

26Joab het Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, aangeval. Nadat hy die koninklike woonbuurt beset het, 27het hy 'n boodskap na Dawid toe gestuur: “Ek het Rabba aangeval en ek het reeds die ommuurde waterbron verower. 28Roep tog nou die res van die burgers op en kom beleër die stad. Neem ú dit in sodat ek nie self die stad verower en dit dus my eiendom word nie.”

29Dawid het al die burgers opgeroep en teen Rabba gaan veg en dit ingeneem. 30Hy het die kroon van hulle koning se kop afgehaal. Die kroon was van goud, sowat vier en dertig kilogram, en het 'n kosbare steen bevat. Dit het nou op Dawid se kop gekom, en hy het ook 'n groot buit uit Rabba saamgevat.

31Hy het die burgers van Rabba weggevoer en hulle aan die werk gesit met saag, ysterbeitel en byl; party het hy by die steenoonde laat werk. So het hy teenoor al die Ammonitiese stede opgetree. Daarna het hy en al die burgers na Jerusalem toe teruggegaan.

Amnon onteer vir Tamar

1Toe het daar 'n ding gebeur. Dawid se seun Absalom het 'n mooi suster gehad met die naam Tamar. Amnon, 'n ander seun van Dawid, het op haar verlief geraak. 2Hy was siek van begeerte na sy suster Tamar, want sy was nog 'n maagd en dit was vir hom onmoontlik om by haar te kom en iets aan haar te doen. 3Amnon het 'n vriend gehad. Sy naam was Jonadab, 'n seun van Dawid se broer Samma, en hy was 'n vindingryke man. 4“Waarom lyk jy wat 'n koningskind is, dag vir dag so bedruk?” het hy vir Amnon gevra. “Vertel my!”

“Dis Tamar, my broer Absalom se suster,” was sy antwoord. “Ek is verlief op haar.”

5Jonadab het hom toe aangeraai: “Gaan lê op jou bed en maak of jy siek is. As jou pa dan kom kyk hoe dit gaan, moet jy vir hom sê: Laat my suster Tamar tog vir my iets te ete bring. Laat sy die ete hier by my kom voorberei dat ek dit kan sien, want ek wil uit haar eie hande eet.”

6Amnon het gaan lê en hom siek gehou. Toe die koning kom kyk hoe dit gaan, het Amnon vir hom gevra: “Laat my suster Tamar tog asseblief vir my twee hartvormige broodjies hier voor my kom bak sodat ek dit uit haar hande kan eet.”

7Dawid het 'n boodskap na Tamar by haar woonplek gestuur: “Kom tog na jou broer Amnon se woonplek toe en berei vir hom 'n ete voor.”

8Tamar het na haar broer se huis toe gekom terwyl hy op sy bed gelê het. Sy het deeg gevat en geknie en die broodjies voorberei en gebak waar hy dit kon sien. 9Maar toe sy die pan neem en dit vir hom neersit, het Amnon geweier om te eet.

Hy het beveel: “Gaan julle ander almal weg hier van my af.”

Toe hulle weg is, 10het Amnon vir Tamar gesê: “Bring jy die kos hier na die kamer toe sodat ek dit uit jou hand kan eet.”

Tamar het die broodjies wat sy gereed gemaak het, na haar broer in die kamer gebring. 11Net toe sy naby hom kom om hom te laat eet, gryp hy haar vas en sê vir haar: “My suster, kom lê hier by my.”

12“Nee, my broer,” sê sy vir hom, “moet my nie onteer nie, want so iets word nie in Israel gedoen nie. Moet nou nie 'n dwaas ding doen nie. 13Hoe sal ek my skande kan wegsteek? En jý sal in die oë van Israel 'n dwaas wees. Praat liewer met die koning, want hy sal ons toelaat om te trou.”

14Amnon wou nie na haar luister nie. Hy het haar gepak en verkrag. 15Maar daarna het hy haar verag; hy het 'n groot afsku in haar gekry, en sy afsku was baie groter as sy verliefdheid.

Hy het toe vir haar gesê: “Loop!”

16Maar sy sê vir hom: “Moenie die skande wat jy my aangedoen het, vererger deur my weg te jaag nie.”

Hy wou nie na haar luister nie 17en beveel toe sy slaaf wat hom bedien: “Smyt hierdie vroumens uit en sluit die deur agter haar!”

18Volgens die gebruik van koningsdogters wat nog maagde was, het sy 'n lang mantel met moue aangehad. Nadat die slaaf haar uitgesit en die deur gesluit het, 19het Tamar stof op haar kop gegooi. Sy het haar lang mantel geskeur, haar hand op haar kop gesit en sover sy loop, het sy geskreeu.

20Haar broer Absalom het toe vir haar gesê: “Was jou broer Amnon by jou? Toe maar, my suster, bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie.”

Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly en sy was 'n wrak. 21Koning Dawid het van alles gehoor en hy was woedend. 22Absalom het nie 'n enkele woord met Amnon gepraat nie, maar hy het hom gehaat omdat hy sy suster Tamar onteer het.

Absalom vermoor vir Amnon

23Twee jaar later was Absalom besig om sy skape te laat skeer in Baäl-Gasor in Efraim. Hy het al die seuns van die koning uitgenooi.

24Hy het naamlik na die koning toe gegaan en gesê: “Ekskuus tog, ek gaan my skape skeer. Wil die koning en sy paleispersoneel nie miskien na my toe kom nie?”

25“Nee, my seun, beslis nie,” was die koning se antwoord. “Ons kan nie almal gaan en vir jou 'n oorlas wees nie.”

Ten spyte van sy aandrang wou die koning nie gaan nie, maar tog het hy hom voorspoed toegewens.

26Absalom vra hom toe: “Kan my broer Amnon dan nie maar saamgaan nie?”

“Waarom juis hy?” vra die koning.

27Absalom het by hom daarop aangedring, en die koning het Amnon en al die koningseuns laat gaan.

28Absalom het sy lyfwagte beveel: “Julle moet oplet: net as Amnon lekker jolig raak van die wyn, sal ek vir julle die teken gee. Slaan hom dood. Moenie bang wees nie: ek gee mos self die bevel. Pak hom. Moenie weifel nie.”

29Die lyfwagte van Absalom het met Amnon gemaak soos hulle beveel is. Toe het al die ander koningseuns elkeen op sy muil gespring en gevlug.

30Terwyl hulle nog op pad terug was, het die volgende gerug Dawid bereik: “Absalom het al die koningseuns doodgemaak. Daar het nie 'n enkele oorgebly nie.”

31Die koning het van sy troon afgeklim, sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy onderdane het ook hulle klere geskeur en by hom kom staan.

32Maar Jonadab seun van Dawid se broer Samma het gesê: “U moet tog nie dink hulle het al die jongmanne, die koning se seuns, doodgemaak nie. Net Amnon is dood. Waarlik, daar was moord in Absalom se oë vandat Amnon sy suster Tamar onteer het.

33“Die koning moet nou nie die gerug dat al sy seuns dood is, ernstig opneem nie: net Amnon is dood.”

34Absalom het weggevlug.

Terwyl 'n paleiswag uitkyk, sien hy meteens 'n groot klomp mense uit die rigting van die bergskuiling aankom. 35“Kyk daar kom die koning se seuns,” het Jonadab vir die koning gesê. “Dit is net soos ek gesê het.”

36Net na hierdie woorde het die koningseuns ingekom. Hulle het hardop begin huil, en die koning en al sy dienaars het bitterlik saamgehuil.

37Absalom het na koning Talmai van Gesur, seun van Ammigur toe gevlug, maar koning Dawid het die hele tyd net oor sy seun Amnon getreur.

38Absalom het na sy vlug drie jaar in Gesur gebly. 39Omdat koning Dawid hom met die dood van Amnon versoen het, het hy nie teen Absalom gaan oorlog maak nie.

Joab se plan om vir Absalom te laat terugkom, slaag

1Joab seun van Seruja het agtergekom dat die koning na Absalom verlang. 2Toe ontbied hy 'n slim vrou van Tekoa af en sê vir haar: “Jy moet baie hartseer lyk. Trek rouklere aan en moenie skoonheidsmiddels gebruik nie. Gedra jou soos 'n vrou wat al lank rou oor iemand wat dood is. 3Gaan na die koning toe en praat met hom soos ek vir jou sê.”

Hy het haar toe voorgesê wat om te sê. 4Die vrou van Tekoa het toe 'n onderhoud met die koning gehad. Sy het voor hom op haar knieë geval en gebuig. “Help my tog, U Majesteit,” het sy gesmeek.

5“Wat makeer?” wou die koning weet.

“Ag, ek is 'n arme weduwee; my man is dood,” het sy gesug. 6“Ek het twee seuns. Die twee het in die veld gebaklei, en daar was niemand om hulle uitmekaar te maak nie. Toe slaan die een die ander dood. 7En om dit nog erger te maak, is die hele familie nou teen my. Hulle eis: ‘Gee die kind wat sy broer doodgeslaan het. Ons wil hom doodmaak omdat hy sy broer doodgeslaan het. Al is hy die enigste erfgenaam, wil ons hom om die lewe bring.’ Hulle wil die enigste hoop wat vir my oor is, uitwis. Hy sal dus nie die familienaam kan voortsit nie, en daar sal niks van my man op die aarde oorbly nie.”

8“Gaan maar huis toe,” sê die koning vir haar. “Ek sal self jou saak behartig.”

9Maar die vrou sê: “U Majesteit, dit is ek en my gesin wat by hierdie saak betrokke is, nie u en u troon nie.”

10Toe antwoord die koning: “As iemand net weer hieroor met jou praat, moet jy hom na my toe bring, en hy sal jou nie weer lastig val nie.”

11Maar die vrou sê: “Sal die koning tog nie in die Naam van die Here u God onder eed verklaar dat die mense wat my seun moet straf, nie te ver sal gaan en hom doodmaak nie? Hulle moet hom tog nie om die lewe bring nie.”

Toe sê die koning: “Ek verklaar voor die Here: Daar sal nie 'n haar van jou seun op die grond val nie.”

12“Mag ek miskien net nog 'n enkele woord tot die koning rig?” vra die vrou.

“Praat maar,” het die koning geantwoord.

13Toe sê die vrou: “Waarom pleeg u dan 'n onreg teen die volk van God? Terwyl u hierdie uitspraak gelewer het, het u uself skuldig verklaar, omdat u weier om u verjaagde seun te laat terugkom. 14Ons sal almal sterf en soos water wees wat op die grond uitgegooi is en nie weer bymekaargemaak kan word nie. God wil geen lewe neem nie, Hy berei 'n weg om die voortvlugtige nie te verstoot nie. 15Ek het nou hierdie saak met die koning kom bespreek omdat die mense my bang gemaak het. Ek het gedink ek wil met die koning praat. Miskien doen die koning iets aan my saak. 16Die koning sal beslis luister en my red uit die hand van dié mense wat my en my seun wil uitroei uit die volk van God. 17Verder het ek gedink miskien sal die uitspraak van die koning 'n gerusstelling wees, want u is soos 'n engel van God wat na alles luister. Mag die Here u God met u wees.”

18Die koning het vir die vrou gesê: “Jy moet asseblief niks vir my wegsteek van wat ek jou nou gaan vra nie.”

Sy antwoord toe: “Die koning kan maar praat.”

19Toe vra die koning: “Sit Joab nie agter hierdie ding nie?”

Die vrou antwoord: “Ja-nee, U Majesteit, niemand kan u om die bos lei nie. Dit ís so. Joab wat in u diens staan, het my dié opdrag gegee. Hy het my haarfyn vertel wat om te sê. 20Joab het dit gedoen om 'n verandering in die loop van sake te bring. Maar u praat byna met die wysheid van 'n engel van God: u weet werklik alles.”

21Daarna het die koning vir Joab gesê: “Ek het nou eenmaal in die strik getrap. Gaan haal nou maar my seun Absalom.”

22Joab het voor die koning op sy knieë geval en gebuig. Hy het die koning geprys met die woorde: “Vandag weet ek dat u my goedgesind is, want u het gedoen wat ek gevra het.”

23Hy het toe opgestaan, na Gesur toe gegaan en vir Absalom na Jerusalem toe gebring.

24Maar die koning het beveel: “Laat hom na sy eie huis toe gaan. Vir my mag hy nie sien nie.”

Daarom is Absalom huis toe sonder om die koning te sien.

Absalom maak 'n plan om met die koning te praat

25In die hele Israel was daar niemand so mooi soos Absalom nie. Die mense het oral daaroor gepraat. Van kop tot tone het hy nie 'n enkele gebrek gehad nie. 26Teen die einde van die jaar het hy gewoonlik sy hare geskeer, want dit het te swaar geword. Volgens koninklike skaal het sy afgeskeerde hare meer as twee kilogram geweeg.

27Absalom het drie seuns en 'n dogter gehad. Die dogter se naam was Tamar, en sy was 'n baie mooi meisie.

28Hy was al twee jaar in Jerusalem terug sonder dat hy die koning gesien het. 29Toe laat Absalom vir Joab roep om hom na die koning toe te stuur, maar Joab wou nie kom nie. Hy het hom 'n tweede keer laat roep, maar hy het weer geweier om te kom. 30Absalom sê toe vir sy slawe: “Kyk, Joab het 'n stuk land net hier langs my. Hy het gars daarop. Gaan steek dit aan die brand.”

Die slawe van Absalom het toe so gemaak.

31Toe het Joab gou na Absalom se huis toe gekom. “En waarom steek jou slawe my stuk land aan die brand?” vra Joab vir hom.

32Hy het geantwoord: “Man, kyk, ek het jou laat weet: ‘Kom hiernatoe; ek wil jou na die koning toe stuur om te vra waarom ek uit Gesur gekom het.’ Dit sou vir my beter gewees het as ek nog daar was. Ek wil nou met die koning praat. As ek skuldig is, laat hy my dan doodmaak.”

33Joab het dit aan die koning gaan meedeel. Toe laat roep die koning vir Absalom, en hy het gekom. Hy het diep voor die koning gebuig, en die koning het hom gesoen.

Absalom steel die harte van die volk

1Daarna het Absalom vir hom 'n kar en perde aangeskaf. Vyftig man het gewoonlik voor hom uit gehardloop. 2Hy het soggens vroeg opgestaan en langs die pad by die stadspoort gaan staan. Hy het elkeen wat met sy saak vir 'n beslissing na die koning toe gekom het, na hom toe geroep. “Uit watter stad is jy?” vra hy dan.

As die man antwoord: “Ek is 'n Israeliet,” 3sê Absalom vir hom: “Kyk, jy het 'n sterk, regverdige saak, maar by die koning sal niemand na jou luister nie.”

4Dan voeg Absalom by: “As ék maar net as regter in hierdie land aangestel word, sou ek 'n regverdige uitspraak lewer vir elkeen wat met 'n geding of saak na my toe kom.”

5As so iemand nader kom om voor hom te buig, slaan Absalom sy arms om hom en soen hom. 6So het hy gemaak met al die Israeliete wat vir regspraak na die koning toe gekom het, en op hierdie manier het hy die burgers se harte gesteel.

Absalom kom in opstand teen Dawid

7Na vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil graag my gelofte wat ek teenoor die Here afgelê het, in Hebron gaan betaal, 8want terwyl ek op Gesur in Aram gebly het, het ek beloof: As die Here my veilig na Jerusalem toe laat terugkom, sal ek Hom met 'n offer vereer.”

9Die koning het geantwoord: “Gaan gerus maar.”

Hy het toe klaargemaak en na Hebron toe gegaan. 10Absalom het ook boodskappers na al die Israelitiese stamme toe gestuur om te sê: “As julle die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom het koning geword in Hebron.”

11Saam met Absalom was daar twee honderd genooides wat te goeder trou uit Jerusalem saamgegaan het. Van die hele sameswering het hulle niks geweet nie. 12Absalom het ook Dawid se adviseur Agitofel die Giloniet laat kom uit die stad Gilo waar hy besig was om offers te bring. So het die sameswering ernstige afmetings aangeneem, en die volk het al hoe meer na Absalom toe oorgeloop.

Dawid vlug uit Jerusalem uit

13Toe kom daar iemand by Dawid met die berig: “Die hele Israel is aan Absalom se kant.”

14Dawid het toe sy hele hofhouding wat by hom in Jerusalem was, beveel: “Maak klaar. Laat ons vlug, want Absalom sal geen genade vir ons hê nie. Maak gou voordat hy ons dalk inhaal en 'n groot ramp ons tref deurdat hy 'n bloedbad in die stad aanrig.”

15Hulle het die koning geantwoord: “Net soos die koning verkies. Ons is gereed.”

16Nadat hy tien byvrouens agtergelaat het om die paleis op te pas, het die koning en sy hele hofhouding te voet gevlug. 17Hy en al die inwoners het die stad te voet verlaat. By die laaste huis het hulle gaan staan. 18Daar het hy al sy amptenare by hom laat verbygaan; so ook sy hele lyfwag en al ses honderd man wat hom uit Gat gevolg het.

Terwyl die mense voor die koning verbytrek, 19vra hy vir Ittai die man uit Gat: “Waarom gaan jý ook saam met ons? Draai om en bly by die nuwe koning. Jy is 'n uitlander en uit jou eie gebied verban. 20Jy het maar onlangs hier aangekom, en nou maak ek jou dakloos as ek jou saam met ons laat gaan. Ek weet nie waar ek sal beland nie. Draai om en laat jou volksgenote ook omdraai. Dit is immers aan jou dat hulle trou en lojaliteit verskuldig is.”

21Ittai sê toe vir die koning: “Ek verklaar voor die Here en voor u: Ek bly by u, my koning in lewe en in dood.”

22Toe sê die koning: “Kom dan maar saam.”

Ittai die Gattiet en al die manne by hom is toe saam, en so ook al die afhanklikes wat by hom was. 23Al die mense, al die inwoners van die stad, het hardop geloop en huil. Die hele volk en die koning het deur Kedronspruit getrek en toe het die volk in die rigting van die woestyn koers gekies. 24Sadok en al die Leviete wat die verbondsark van God gedra het, was by die koning. Abjatar het ook saamgekom. Hulle het die ark van God neergesit totdat die volk uit die stad was.

25Toe het die koning vir Sadok beveel: “Vat die ark van God terug stad toe. As die Here my dit vergun en my terugbring, sal Hy my die ark en sy heiligdom weer laat sien. 26Maar as die Here sou te kenne gee: ‘Ek is nie meer tevrede met jou nie,’ sal ek dit aanvaar. Dan kan Hy met my maak soos Hy dit goedvind.”

27Verder het die koning vir die priester Sadok gesê: “Sien jy hoe staan sake? Gaan gerus terug stad toe; ook jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar. Die twee seuns moet saam met julle teruggaan. 28En onthou, ek sal by die woestynpas wag totdat ek van julle hoor.”

29Daarna het Sadok en Abjatar die ark van God na Jerusalem toe teruggevat en daar gebly.

30Dawid het die Olyfberg huil-huil uitgeklim en as teken van sy droefheid was sy kop toegemaak en het hy kaalvoet geloop. Almal wat by hom was, het ook hulle koppe toegemaak en huil-huil die helling uitgeklim.

31Toe aan Dawid gesê is: “Agitofel is tussen die samesweerders by Absalom,” het hy gebid: “Here, laat daar tog niks kom van Agitofel se raad nie.”

32Toe Dawid op die kruin kniel in die rigting van die ark van God het Gusai die Erekiet onverwags by hom aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop. 33Dawid het vir hom gesê: “As jy saamgaan, sal jy vir my 'n oorlas wees. 34Maar as jy teruggaan stad toe en vir Absalom sê: ‘U Majesteit, ek is u onderdaan; ek was in u vader se diens, maar van hierdie oomblik af is ek u onderdaan,’ kan jy vir my Agitofel se raad tot niet maak. 35Kyk, die priesters Sadok en Abjatar sal daar by jou wees. Alles wat jy uit die paleis hoor, moet jy hulle vertel. 36Hulle twee seuns Agimaäs en Jonatan is saam met hulle daar, en wat julle ook al hoor, kan julle vir my met hulle laat weet.”

37Gusai die vriend van Dawid het toe die stad ingegaan, en Absalom was op pad na Jerusalem toe.

Neem tog my sonde weg!

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid, na aanleiding daarvan 2dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba.

3Wees my genadig, o God, in u troue liefde,

wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!

4Was my skoon van my skuld,

reinig my van my sonde!

5Ja, my oortredings ken ek

en van my sonde bly ek altyd bewus.

6Teen U alleen het ek gesondig,

ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

U uitspraak is dus reg

en u oordeel regverdig.

7Ek was al skuldig toe ek gebore is,

met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.

8Maar U verwag opregtheid diep in 'n mens se hart:

laat ek dan diep in my binneste weet

hoe U wil dat ek moet lewe.

9Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees,

was my dat ek witter as sneeu kan wees.

10Laat my weer blydskap en vreugde belewe.

U het my verbrysel; laat my weer jubel.

11Moet tog nie ag slaan op my sondes nie,

wis al my skuld uit!

12Skep vir my 'n rein hart, o God,

vernuwe my gees en maak my standvastig.

13Moet my tog nie van U af wegdryf

en u Heilige Gees van my af wegneem nie!

14Laat my weer die blydskap ervaar

van iemand wat deur U verlos is,

laat my U weer met toewyding dien.

15Dan sal ek oortreders leer wat U van 'n mens verwag;

dat die sondaars hulle tot U sal bekeer.

16Red my van ondergang, o God, my Redder,

dat ek kan jubel oor u verlossingsdaad.

17Here, gee my die woorde

om u lof te verkondig.

18'n Offer vra U nie,

anders sou ek dit bring;

'n brandoffer wil U nie hê nie.

19Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging:

U sal 'n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.

20Laat Sion u liefde en u goedheid ondervind:

herbou tog die mure van Jerusalem.

21Dan sal die offers wat voorgeskryf is,

weer vir U aanneemlik wees:

offerdiere wat heeltemal verbrand word.

Dan sal hulle weer bulle op u altare offer.

Hulp kom net van die Here af

1'n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.

2Ek het so baie vyande, Here!

Baie kom in opstand teen my.

3Daar is talle wat van my sê:

“Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela

4Maar U, Here, beskerm my aan alle kante,

U herstel my eer en aansien.

5As ek na die Here roep,

antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela

6As ek gaan lê, slaap ek goed;

ek word ook weer wakker,

want die Here sorg vir my.

7Ek is nie bang vir tienduisende mense

wat van alle kante af op my toesak nie.

8Kom tog, Here,

help my, my God!

U het nog altyd my vyande se mag verbreek,

U het die aanval van die goddeloses afgeslaan.

9Hulp kom net van die Here af.

U laat dit goed gaan met u volk.Sela

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS