Absalom sterf
1Dawid het die manskappe wat by hom was, in gelid opgestel: hy het hoofde oor afdelings van duisend en honderd aangestel en die leër in drie verdeel: 2'n derde onder leiding van Joab; 'n derde onder Joab se broer Abisai seun van Seruja, en die ander derde onder leiding van Ittai die Gattiet.
Toe het die koning vir die leër gesê: “Ek gaan self saam met julle veg.”
3Die leër het egter geantwoord: “Nee, u moenie saamgaan nie, want as óns dalk moet vlug, kan ons maar vlug en niemand sal van ons notisie neem nie; of as die helfte van ons dalk sterf, sal dit nie saak maak nie. Maar u is soos tien duisend van ons. Dit sal beter wees as u ons van die stad af kom help.”
4Die koning sê toe: “Ek sal doen soos julle sê.”
Toe gaan staan hy langs die stadspoort terwyl die hele leër in afdelings van honderd en duisend uittrek om te gaan veg.
5Die koning het vir Joab, Abisai en Ittai beveel: “Werk om my ontwil tog saggies met my kind Absalom.”
Al die manskappe het die bevel oor Absalom gehoor toe die koning dit aan die offisiere gegee het.
6Die manskappe het toe in die oop veld teen Israel opgetrek. Daar het 'n geveg in die Efraimbos ontstaan, 7en Israel is deur Dawid se manskappe verslaan. Dit was 'n groot slagting. Daar het dié dag nie minder nie as twintig duisend man geval. 8Die geveg het oor die hele landstreek versprei, en op daardie dag het die bos meer lewens geëis as die swaard.
9Dawid se manskappe het op Absalom afgekom waar hy op 'n muil gery het. Die muil het onder die digte takke van 'n groot akkerboom deurgegaan, en Absalom se kop het in die boom vasgehaak. Die muil waarop hy gery het, het aangehou hardloop en Absalom het tussen hemel en aarde bly hang.
10Iemand het dit gesien en aan Joab vertel: “Weet u, ek het Absalom aan 'n akkerboom sien hang.”
11Toe sê Joab aan die man wat dit vir hom vertel het: “Wat? Het jy hom gesien? Waarom het jy hom dan nie net daar doodgeslaan nie? Ek sou jou dan tien silwerstukke en 'n eregordel moes gegee het.”
12Maar die man antwoord vir Joab: “Al sou ek ook vir my duisend silwerstukke met my eie hand kon aftel, sou ek nog nie my hand teen die koning se seun opgetel het nie. Ons het immers almal gehoor hoe die koning u en Abisai en Ittai beveel: ‘Werk tog saggies met my kind Absalom.’ 13As ek verkeerd opgetree het, sou dit by die koning bekend geword het en dan sou ú my nie gehelp het nie.”
14Toe sê Joab: “Ek kan nie so staan en tyd mors hier by jou nie.” Hy het drie spiese gegryp en dit deur Absalom se hart gaan steek waar hy nog lewendig in die boom gehang het. 15Toe het tien wapendraers van Joab nader gestorm en Absalom heeltemal dood geslaan.
16Hierna het Joab die ramshoring geblaas en die leër het opgehou om Israel te agtervolg. So het Joab die leër laat terugtrek, 17maar die hele Israel het huis toe gevlug.
Absalom se lyk is in 'n diep gat in die bos gegooi, en hulle het 'n groot hoop klippe op hom gepak.
18Dit was dieselfde Absalom wat die gedenkteken in die koningslaagte opgerig het om homself te vereer, omdat hy gesê het hy het nie meer 'n seun om sy naam in gedagtenis te hou nie. Daarom het hy die gedenkteken na homself vernoem en dit word nou nog genoem: “Absalom se Gedenkteken”.
19Agimaäs seun van Sadok het gesê: “Laat ek tog hardloop en aan die koning die goeie tyding bring dat die Here hom van sy vyand verlos het.”
20Maar Joab het vir hom gesê: “Jy is vandag nie die regte man om 'n tyding te bring nie. Jy kan op 'n ander dag boodskappe dra. Vandag doen jy dit nie, want dit is die koning se seun wat dood is.”
21Toe beveel Joab 'n Kussiet: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het.”
Nadat die Kussiet voor Joab gebuig het, het hy begin hardloop. 22Agimaäs seun van Sadok het weer vir Joab gesê: “Kom wat wil, laat ek tog net agter die Kussiet aan hardloop.”
“My seun, waarom wil jy tog hardloop? Daar sal nie vir jou ook 'n boodskappersloon wees nie,” antwoord Joab.
23“Dit maak nie saak nie; ek hardloop,” sê hy.
“Nou hardloop dan,” sê Joab vir hom.
Agimaäs het toe met die pad deur die Jordaanstreek gehardloop en die Kussiet verbygegaan.
24Terwyl Dawid in die stadspoort sit, klim die wag na die uitkykpos op die poort se dak en kyk rond of hy nie dalk iets sien nie. En juis toe kom daar iemand alleen aangehardloop. 25Die wag roep toe en sê dit vir die koning.
“As hy alleen is, bring hy nuus,” sê die koning.
Terwyl hy nader kom, 26sien die wag nog iemand hardloop en hy roep na die poortwagter: “Daar kom nog iemand alleen aangehardloop.”
En die koning sê: “Ook hý bring nuus.”
27“Dit lyk my die voorste een hardloop soos Agimaäs seun van Sadok,” merk die wag op.
“Hy is 'n goeie man, hy kom met 'n goeie boodskap,” voeg die koning toe by.
28“Alles is reg,” roep Agimaäs en buig voor die koning en sê: “Geloof sy die Here u God, omdat Hy die mense wat in opstand gekom het teen die koning, verslaan het.”
29“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning. Hierop antwoord Agimaäs: “Ek het 'n groot samedromming opgemerk net toe u offisier Joab my gestuur het. Verder weet ek niks.”
30Die koning het hom beveel: “Wag 'n bietjie. Kom staan hier eenkant.”
Hy het dit gedoen 31en toe kom die Kussiet juis net daar aan en sê: “Daar is nuus vir die koning, want die Here het u vandag verlos van almal wat teen u in opstand gekom het.”
32“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning, en die Kussiet antwoord: “Mag dit met die vyande van die koning en almal wat teen u in opstand kom en u ondergang wil bewerk, gaan soos met daardie kind.”
33Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.”