Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 83

2 Samuel 19–24, Psalms 18 & 50 (opsioneel: Psalm 59)

Bybelteks(te)

1Daar is aan Joab vertel: “Kan jy dit glo? Die koning huil en treur oor Absalom!”

2So het die oorwinningsdag 'n dag van trane geword vir al die manskappe, want hulle het gehoor dat die koning bedroef is oor sy seun. 3Op dié dag het die manskappe die stad binnegesluip, soos wanneer hulle beskaamd insluip as hulle uit 'n geveg weggehardloop het.

4Die koning het sy gesig toegehou en hardop uitgeroep: “My seun Absalom; Absalom, my seun, my seun!”

5Joab het by die koning in die kamer ingegaan en gesê: “U het vandag al die manskappe laat skaam kry, hulle wat so pas u lewe en ook dié van u seuns en dogters, u vrouens en byvrouens gered het. 6U het mos nou u haters lief en u haat die mense wat vir u liefhet. Ja waarlik, u gee vandag te kenne dat u nie vir aanvoerders en manskappe omgee nie. Vandag weet ek beslis: as Absalom maar net kon gelewe het, kon ons vandag net so wel almal dood gewees het; u sou dan in u skik gewees het! 7Kom nou, gaan stel u manskappe tevrede. Ek verklaar voor die Here: As u nie buitetoe gaan nie, sal daar vannag nie 'n enkele man by u oorbly nie. Dit sal vir u 'n groter ramp wees as enige ramp wat u in u hele lewe getref het.”

8Die koning het toe buitetoe gegaan en in die stadspoort gaan sit. Daar is toe aan al die manskappe vertel: “Kom kyk, die koning sit in die stadspoort.”

Toe het al die manskappe van die koning voor hom verskyn. Israel het intussen huis toe gevlug.

Die volk wil vir Dawid terug hê

9Daarna het die manne van die Israelitiese stamme onder mekaar begin praat: “Dit is die kóning deur wie ons gered is uit die mag van ons vyande; hý het ons bevry uit die greep van die Filistyne, en nou moes hy die land uit vlug voor Absalom. 10Buitendien is Absalom vir wie ons tot koning gesalf het, in die geveg dood. Waarom talm julle nog om die koning te laat terugkom?”

11Hierdie gevoel onder Israel het by Dawid en sy mense uitgekom.

Daarna het die koning vir die priesters, Sadok en Abjatar, laat weet: “Praat met die leiers van Juda en vra: Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning na sy paleis toe te laat terugkom? 12Julle is my broers, ja, julle is my mense. Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning te laat terugkom? 13Sê vir Amasa ek sê: Is jy nie my eie bloedfamilie nie? Mag God my om die lewe bring as jy nie vir altyd die hoof van my leër word in die plek van Joab nie.”

14So het hy die hele Juda soos een man na sy kant toe oorgehaal, en hulle het die koning laat weet: “Kom terug! U en al u manskappe!”

Simeï kom ontmoet vir Dawid

15Die koning is toe terug, en terwyl hy op pad was na die Jordaan toe, het Juda by Gilgal bymekaargekom om hom te ontmoet en oor die Jordaan te help. 16Simeï seun van Gera, die Benjaminiet van die stad Bagurim, het haastig saam met Juda afgegaan om koning Dawid te ontmoet. 17By hom was 'n afdeling soldate uit Benjamin, en verder ook Siba, die bestuurder van Saul se huishouding, met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle het voor die koning by die Jordaan aangekom. 18Hulle het deur die drif gegaan om die geselskap van die koning deur te bring en om te doen wat die koning wou hê.

Net toe die koning die Jordaan wou deurtrek, kniel Simeï seun van Gera voor hom 19en sê: “U Majesteit moet my die verkeerde daad tog nie toereken nie en moenie wat ek verkeerd gedoen het op die dag toe die koning uit Jerusalem uit gegaan het, ernstig opneem nie. 20Ek weet baie goed dat ek sleg opgetree het, maar let tog op dat ek vandag die heel eerste uit die huis van Josef is wat die koning kom ontmoet.”

21Hierop het Abisai seun van Seruja gevra: “Moet Simeï nie doodgemaak word nie? Hy het immers die gesalfde van die Here gevloek.”

22Maar Dawid het geantwoord: “Wat het dit met julle te doen, seuns van Seruja? As julle so praat, is julle my teenstanders. Moet daar dan vandag iemand in Israel doodgemaak word? Ek weet mos tog dat ek vandag koning oor Israel is.”

23Verder het die koning vir Simeï gesê: “Jy sal nie doodgemaak word nie.” Die koning het dit vir hom selfs met 'n eed bevestig.

Mefiboset kom ontmoet vir Dawid

24Toe Saul se seun Mefiboset die koning kom ontmoet het, was sy voete en baard nie versorg nie; en sy klere was vandat die koning vertrek het tot op die dag dat hy in vrede teruggekom het, nie gewas nie. 25Toe hy in Jerusalem die koning kom ontmoet, vra die koning hom: “Waarom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?”

26“U Majesteit,” antwoord hy, “my helper het my in die steek gelaat, want ek het gesê: Ek wil 'n donkie opgesaal hê om op te ry en saam met die koning te gaan; ek is mos kreupel. 27Hy het my by u gaan beskinder, maar U Majesteit is soos 'n engel van God. U sal dus met my doen soos dit vir u die beste lyk. 28My hele familie het by u niks anders as die dood verdien nie, en tog het u my 'n plek gegee by dié wat by u aan huis eet. Ek het niks waarop ek my by die koning kan beroep nie.”

29Toe antwoord die koning hom: “Die saak is afgehandel. Ek beveel hiermee dat jy en Siba die grond moet deel.”

30Mefiboset het geantwoord: “Nou dat die koning behoue tuis gekom het, kan Siba maar alles vat.”

Barsillai neem afskeid van Dawid

31Barsillai die Gileadiet het van Rogelim af gekom vir die koning se oortog oor die Jordaan. 32Hy was al baie oud, tagtig jaar, en hy het die koning onderhou tydens sy verblyf in Maganajim, want hy was welgesteld. Hy wou daar by die Jordaan van die koning afskeid neem.

33Toe sê die koning vir hom: “Kom saam met my, dan sal ek jou in Jerusalem by my onderhou.”

34Maar hy het vir die koning gesê: “Hoeveel langer het ek nog om te leef dat ek saam met die koning na Jerusalem toe moet optrek? 35Ek is nou tagtig. Kan ek nog iets geniet? Of kan ek nog proe wat ek eet en drink? Kan ek nog die stem van sangers en sangeresse waardeer? Waarom moet ek van my 'n oorlas maak by die koning? 36Waarvoor wil die koning my nou eintlik beloon? Ek wou maar net 'n klein entjie van die Jordaan af saam met u trek. 37Laat my nou maar omdraai en in my eie stad sterf, by die graf van my pa en ma. Maar kyk, hier is u onderdaan Kimham. Hy kan saam met u gaan, en u kan aan hom doen soos u dit goedvind.”

38Toe sê die koning: “Kimham kan maar saamgaan. Ek sal vir hom doen wat jy sê. Wat jy ook al van my verwag, sál ek vir hom doen.”

39Daarna het die hele volk die Jordaan oorgesteek, en die koning het gevolg. Nadat die koning vir Barsillai gesoen en hom voorspoed toegewens het, het hy na sy stad toe teruggegaan. 40Die koning het by Gilgal verbygetrek, en Kimham saam met hom. Die hele Juda en ook die helfte van Israel het saam met die koning getrek.

Juda en Israel twis oor Dawid. Seba se opstand

41Toe het al die mense van Israel na die koning toe gekom en gesê: “Waarom het ons broer Juda u gesteel en die koning met sy huisgesin en al die manskappe van Dawid saam met hom oor die Jordaan laat trek?”

42Die hele Juda het Israel toe geantwoord: “Maar die koning is mos familie van my. Waarom neem jy aanstoot hieraan? Het ons dalk iets van die koning geëet, of is ons op enige manier bevoordeel?”

43Maar Israel antwoord vir Juda: “Ek het tien keer meer aanspraak op die koningskap; selfs aan Dawid het ek meer as jy. Waarom het jy my nie in die saak geken nie? Was my uitnodiging nie eerste om my koning na my toe te laat terugkom nie?”

Maar Juda het 'n beter saak gehad as Israel.

1Daar was 'n opruier met die naam Seba seun van Bikri, 'n Benjaminiet. Hy het die ramshoring geblaas en gesê: “Dawid is nie deel van ons nie; ons het niks aan Isai se seun nie. Elkeen terug na sy woonplek toe, Israel!”

2Toe het die hele Israel weggetrek van Dawid af agter Seba seun van Bikri aan.

Maar Juda het hulle koning van die Jordaan af Jerusalem toe gevolg. 3Toe koning Dawid in Jerusalem in sy paleis kom, het hy die tien vrouens, die byvrouens, wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas, in 'n bewaakte huis gesit. Hy het hulle onderhou, maar nie by hulle geslaap nie, en hulle was tot met hulle dood afgesonder en lewenslank feitlik weduwees.

Joab vermoor vir Amasa

4Die koning het vir Amasa beveel: “Roep die burgers van Juda vir my binne drie dae op. Kom meld jou dan weer aan.”

5Amasa het Juda toe gaan oproep, maar hy het die tyd wat Dawid vasgestel het, oorskry.

6Toe sê die koning vir Abisai: “Nou sal Seba seun van Bikri ons meer moeilikheid gee as Absalom. Vat jy my manskappe en haal hom in voordat hy dalk die een of ander sterk stad bereik waar ons hom nie kan bykom nie.”

7Joab en sy afdeling het ook agter hom aan uitgetrek. Die koninklike lyfwag en al die vegters het uit Jerusalem getrek om Seba seun van Bikri te agtervolg. 8Terwyl hulle by die groot klip in Gibeon was, het Amasa by hulle gekom. Joab het nog sy mantel aangehad waaroor sy swaard in die skede vasgegespe was. Hy het op Amasa afgestap, en toe val die swaard uit. 9Joab het vir hom gevra: “Gaan dit goed met jou, my broer?” en hom met sy regterhand aan die baard gegryp asof hy hom wou soen.

10Amasa was nie op sy hoede vir die swaard in Joab se ander hand nie, en Joab het hom daarmee in die onderlyf gesteek, sodat sy ingewande op die grond uitgeval het. 'n Tweede steek was onnodig; hy sou sterf. Joab en sy broer Abisai het toe vir Seba seun van Bikri agtervolg.

11Een van Joab se volgelinge het by Amasa bly staan en gesê: “Wie vir Joab verkies en wie vir Dawid is, volg Joab.”

12Maar Amasa het in die middel van die pad in sy bloed gelê en gekrul van die pyn. Toe die man sien dat al die manskappe gaan staan, het hy vir Amasa uit die pad uit die veld in gesleep en 'n kledingstuk oor hom gegooi, want elkeen wat hom gesien het, het gaan staan. 13Toe hy uit die pad verwyder is, het almal Joab gevolg om Seba seun van Bikri agterna te sit.

Seba word om die lewe gebring

14Seba het met al die stamme van Israel getrek na Abel toe, dit is Bet-Maäka. Al die Beriete het bymekaargekom en hom ook gevolg.

15Joab-hulle het toe gekom en vir Seba beleër in Abel-Bet-Maäka. Hulle het 'n beleëringswal teen die stad gegooi.

Toe dit al vas teen die voorskans staan, en die hele leër wat by Joab was, besig was om die muur te ondergrawe en dit so te laat val, 16het 'n wyse vrou vanuit die stad geroep: “Luister! Luister! Sê tog vir Joab hy moet hierheen kom, ek wil met hom praat.”

17Hy het nader gegaan en die vrou het gevra: “Is u Joab?”

Hy het geantwoord: “Ja,” en sy sê vir hom: “Luister tog na my woorde.”

“Ek luister,” was sy antwoord.

18Sy sê toe: “Vanmelewe het die mense altyd gesê: ‘Hulle kan gerus maar by Abel kom raad vra,’ en dan het hulle daarvolgens gehandel. 19Ons is van die heel getroustes in Israel. U wil nou 'n stad uitroei wat in Israel in aansien is. Waarom wil u 'n stad wat aan die Here behoort, uitroei?”

20Toe antwoord Joab: “Dit wil ek glad nie doen nie. Ek wil nie uitroei of uitwis nie. 21Dit gaan maar net oor 'n man uit die Efraimsberge. Sy naam is Seba seun van Bikri. Hy het teen koning Dawid in opstand gekom. Lewer hom net uit, dan trek ek van die stad af weg.”

Hierop het die vrou geantwoord: “Goed! Sy kop sal vir jou oor die muur gegooi word.”

22Die vrou is toe met haar plan na die stadsburgers toe, en hulle het Seba seun van Bikri se kop afgesny en dit na Joab toe oorgegooi. Hy het die ramshoring geblaas, en die manskappe het van die stad af uitmekaargegaan, elkeen na sy woonplek toe. Maar Joab het na die koning toe teruggegaan in Jerusalem.

Dawid se amptenare

(Vgl. 1 Kron. 18:14-17)

23Joab was die bevelvoerder oor die hele Israelitiese leër. Benaja seun van Jojada het die beheer gehad oor die koninklike lyfwag. 24Adoniram was in bevel van die dwangarbeiders. Josafat seun van Agilud was hoof uitvoerende beampte; 25Sewa was staatsekretaris, en Sadok en Abjatar was priesters. 26En verder was Ira, uit Jaïr, ook priester onder Dawid.

Rispa en haar seuns

1In Dawid se tyd was daar 'n keer hongersnood wat drie jaar aanmekaar geduur het. Dawid het toe die Here geraadpleeg, en die Here het geantwoord: “Dit is te wyte aan Saul en sy moordenaarshuis, want hy het van die Gibeoniete laat doodmaak.”

2Die koning het toe die Gibeoniete laat roep. Hulle was natuurlik nie Israeliete nie, maar 'n oorblyfsel van die Amoriete. Die Israeliete het 'n verdrag met hulle gesluit gehad, maar later het Saul hulle probeer uitroei in sy geesdrif vir die saak van Israel en Juda.

3Dawid het vir die Gibeoniete gesê: “Wat moet ek vir julle doen en hoe moet ek julle vergoed sodat die land van die Here weer sy oeste kan lewer?”

4Die Gibeoniete het hierop geantwoord: “Ons verwag nie silwer of goud van Saul en sy familie nie en ook nie dat iemand in Israel doodgemaak moet word nie.”

Dawid vra toe: “Wat wil julle dan hê moet ek vir julle doen?”

5Hulle antwoord die koning: “Daar was 'n man wat ons wou uitroei en wat beplan het om ons te verdelg sodat ons nie in die grondgebied van Israel kon voortbestaan nie. 6Daar moet nou sewe mans uit sy familie aan ons gegee word, sodat ons hulle kan doodmaak en voor die Here kan ophang by Gibea van Saul, die man wat deur die Here uitgekies was.”

Dawid het geantwoord: “Goed, ek sal dit doen.”

7Die koning het Mefiboset, seun van Jonatan seun van Saul, gespaar vanweë die verbond wat in die Naam van die Here tussen Dawid en Saul se seun Jonatan bestaan het.

8Maar die koning het vir Armoni en Mefiboset, die twee seuns wat Rispa dogter van Aja by Saul gehad het, gevat asook die vyf seuns van Saul se dogter Merab wat sy gehad het by Adriël seun van Barsillai die Megolatiet. 9Hy het hulle almal uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle doodgemaak en voor die Here op die berg opgehang het. Die sewetal het saam omgekom. Hulle is gedood teen die tyd dat daar gewoonlik begin word met die garsoes.

10Rispa dogter van Aja het toe rouklere gevat en dit vir haar op 'n rots oopgegooi. Van die begin van die oestyd af totdat die reëntyd aangebreek het, het sy bedags die roofvoëls en snags die roofdiere nie aan die lyke laat vreet nie. 11Toe daar aan Dawid meegedeel is wat Aja se dogter Rispa, 'n byvrou van Saul, gedoen het, 12het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan laat haal by die burgers van Jabes in Gilead. Hulle het dit destyds op die stadsplein van Bet-San gaan steel waar die Filistyne dit opgehang het toe Saul op Gilboa verslaan is. 13Hy het Saul en sy seun Jonatan se bene daarvandaan laat bring en ook dié van die manne wat op die berg opgehang is 14en almal by Sela in Benjamin laat begrawe in die graf van Kis, Saul se pa. Alles is gedoen net soos die koning beveel het. Daarna het God weer gebede vir die land verhoor.

Dawid se oorloë teen die Filistyne

(Vgl. 1 Kron. 20:4-8)

15Daar het oorlog uitgebreek tussen die Filistyne en die Israeliete. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg en Dawid het moeg geword. 16Jisbi van Nob, uit die geslag van die Refaïete, het toe gedink hy kan Dawid sonder moeite doodmaak. Jisbi se bronsspies het byna vier kilogram geweeg, en hy het 'n nuwe uitrusting gehad. 17Seruja se seun Abisai het Dawid egter gehelp en die Filistyn platgeslaan en doodgemaak. Toe het die manne van Dawid vir hom gesê: “U wat die lamp van Israel is, mag nie meer saam met ons na die oorlog toe uittrek nie, sodat die lamp nie doodgeblaas sal word nie.”

18Daarna was daar weer oorlog teen die Filistyne in Gob. Daar het Sibbekai uit Gusa vir Sippai uit die geslag van die Refaïete verslaan. 19In 'n ander geveg teen die Filistyne in Gob het Elganan seun van Jaäre-Oregim van Betlehem vir Goliat die Gattiet doodgemaak. Sy spiessteel was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel.

20Op 'n ander keer was daar oorlog in Gat. Daar was 'n lang man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet; saam was dit vier en twintig. Hy was ook 'n Refaïet van geboorte. 21Hy het die Israeliete getart en toe het Jonatan, seun van Dawid se broer Samma, hom doodgemaak.

22Hierdie vier was Refaïete wat in Gat gebore is. Dawid en sy manskappe het hulle laat sneuwel.

Dit is God wat die oorwinning gee

(Vgl. Ps. 18:1-51)

1Dawid het die woorde van hierdie lied tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit die mag van al sy vyande en uit die mag van Saul.

2Die Here is my rots, my skuilplek en my redder,

3my God, my rots, by wie ek skuil,

my skild en sterk verlosser, my veilige vesting,

my toevlug en bevryder.

Van geweld het U my verlos.

4Onder bespotting roep ek na die Here,

dan word ek van my vyande gered.

5Waarlik, golwe van die dood het my omsluit,

strome van onheil het my verskrik.

6Bande van die doderyk het my vasgetrek,

strikke van die dood het my bedreig.

7In my nood roep ek na die Here,

ja, ek roep om hulp na my God.

In sy paleis hoor Hy my geroep.

Ek roep na Hom om hulp,

en Hy luister na my.

8Die aarde het geskud en gebewe,

die fondamente van die hemel het getril en geskud,

want Hy was vertoorn.

9Rook het uit sy neus getrek,

vuur uit sy mond het alles verteer,

gloeiende kole uit sy binneste.

10Hy het die hemel afgebuig en afgekom,

onder sy voete was duisternis.

11Hy het op 'n gerub geklim en gevlieg;

op die vleuels van die wind het Hy verskyn.

12Hy het Hom in donkerte gehul,

donker waters en wolkemassas was sy bedekking.

13Uit die gloed voor Hom het weerligstrale geblits.

14Die Here het dit uit die hemel laat dreun,

die Allerhoogste het sy stem laat hoor.

15Hy het sy pyle afgeskiet

en die vyand uitmekaar gejaag,

hulle met weerligstrale op loop gejaag.

16Die seebodem het sigbaar geword,

die fondamente van die aarde is blootgelê

deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn.

17Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp,

my uit geweldige waters uitgelig.

18Hy het my gered van my vyand wat sterk was,

van my haters toe hulle vir my te magtig was.

19Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby,

maar die Here het my daarvan bewaar.

20Hy het my in vryheid laat uitgaan,

my gered omdat Hy my liefhet.

21Die Here het aan my reg laat geskied,

Hy het my onskuld aanvaar,

22want ek het my aan sy voorskrifte gehou

en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie;

23ek het my deur al sy bepalings laat lei

en nie van sy voorskrifte afgewyk nie.

24Ek was opreg voor Hom,

ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid.

25Die Here het aan my reg laat geskied

want ek was onskuldig in sy oë.

26U betoon U getrou teenoor die getroue,

opreg teenoor die opregte,

27rein teenoor die reine,

maar U verwerp die huigelaar.

28U red die verdrukte volk,

U verneder die trotses.

29U, Here, laat my lamp helder skyn;

my God gee lig as dit donker is om my.

30Met u hulp loop ek 'n oormag storm,

met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.

31Wat God doen, is volmaak;

wat die Here sê, is suiwer.

Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy.

32Waarlik, wie anders as die Here is God?

Ja, wie anders as ons God is 'n rots?

33God omgord my met krag;

Hy maak my pad voorspoedig.

34Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok;

op hoë plekke laat Hy my stewig staan.

35Hy leer my hande om oorlog te maak,

my arms om selfs die stramste boog te span.

36Die redding wat U gebring het,

was vir my 'n beskerming,

deur u hulp het ek sterk geword.

37U het my ruim vastrapplek gegee,

my enkels het nie geswik nie.

38Ek het my vyande agtervolg en ingehaal,

ek het nie omgedraai voordat hulle uitgewis was nie.

39Ja, ek het hulle verpletter,

sodat hulle nie weer kon opstaan nie.

Hulle het voor my voete gesneuwel.

40U het my met krag omgord vir die stryd,

U het my teëstanders voor my laat swig.

41U het my vyande voor my laat vlug

en ek kon my haters uitwis.

42Hulle roep om hulp,

en daar is niemand wat help nie;

hulle roep selfs na die Here,

maar Hy antwoord hulle nie.

43Ek maak hulle fyn soos stof,

ek laat hulle wegspat soos modder in die strate,

ja, ek vermorsel hulle.

44U het my gered van opstandige mense,

my as hoof van vreemde nasies aangestel.

'n Volk wat ek nie geken het nie, is my onderdane.

45Wie ook al van my verneem, gehoorsaam my.

Vreemde volke kruip voor my.

46Hulle skrik en kom bewend uit hulle forte uit.

47Die Here leef! Ek loof Hom wat my rots is.

Ek prys my God wat my verlos het.

48Dit is God wat my die oorwinning gee,

wat volke aan my onderwerp.

49Hy red my van my vyande.

Ja, U stel my buite bereik van my teëstanders,

U bevry my van geweldenaars.

50Daarvoor sal ek U loof voor die nasies, Here,

tot eer van u Naam 'n lofpsalm sing!

51Dit is Hy wat aan sy koning groot oorwinnings gee

en trou aan sy gesalfde betoon,

aan Dawid en sy nageslag vir altyd!

'n Verbond vir altyd

1Hier volg die laaste woorde van Dawid:

“Dit is Dawid seun van Isai wat praat.

Dit is 'n man wat praat, een wat hoog geplaas is,

die gesalfde van die God van Jakob,

die gevierde in die liedere van Israel:

2“Die Gees van die Here het deur my gepraat,

ja, sy woord was op my lippe.

3Die God van Israel het gepraat,

die Rots van Israel het vir my gesê:

‘Hy wat regverdig oor mense heers,

wat regeer in eerbied teenoor God,

4is soos die môrelig as die son opkom

op 'n oggend sonder wolke;

dit skitter na die reën;

die gras skiet op uit die grond.’

5“God het my koningskap goed gevestig,

Hy het aan my 'n verbond vir altyd gegee,

behoorlik opgestel en goed bewaar.

Al my hulp, al my vreugde,

dit kom van Hom af.

6Maar die goddelose is soos doringtakke wat alles weggegooi word;

niemand vat met die hand daaraan nie.

7Wie daarmee werk, doen dit met yster of hout.

In 'n vuur brand hulle heeltemal uit.”

Dawid se dapper manne

(Vgl. 1 Kron. 11:10-47)

8Die volgende dapper manne was by Dawid: Joseb-Bassebet die Tagkemoner was hoof van die driemanskap. Hy het met sy spies ag honderd man in een veldslag laat sneuwel. 9Eleasar seun van Dodo uit Agoag was onder hom. Hy was een van die drie helde by Dawid toe die Filistyne by Garpam bymekaargekom het om te veg. Toe die Israeliete teen die hange uit vlug, 10het hy bly staan en Filistyne afgemaai totdat hy later nie meer sy hand kon oopmaak om sy swaard te los nie. Daardie dag het die Here groot uitkoms gegee. En toe eers het die manskappe vir Eleasar gevolg, net om te plunder.

11Onder hom was Agee se seun Samma, uit Harar. Die Filistyne het bymekaargekom by Legi waar 'n land vol lensies was. Toe die leër vir die Filistyne vlug, 12het hy by daardie akker gaan stelling inneem en dit beskerm. Hy het die Filistyne verslaan, en die Here het groot uitkoms gegee.

13Op 'n keer het drie van die dertig leiers afgetrek en in die oestyd by die Adullamgrot by Dawid aangekom. Die kamp van die Filistyne was in die Spooklaagte. 14Dawid was toe in 'n bergskuiling, en die Filistyne het Betlehem beset.

15Dawid het baie dors geword en gesug: “Ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink!”

16Die drie helde het toe deur die Filistynse kamp geglip en water uit die put in Betlehem se poort vir Dawid gebring, maar hy wou dit nie drink nie.

Hy het dit as 'n offer vir die Here uitgegiet 17en gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek dit sou drink. Is dit nie so goed as die bloed van die manne wat met lewensgevaar gegaan het nie?”

Daarom wou hy dit nie drink nie.

Dit het die drie helde gedoen.

18Seruja se seun Abisai, die broer van Joab, was die leier van die dertigtal. Hy het met sy spies drie honderd man laat sneuwel. Hy was beroemd onder die dertigtal. 19Ja, onder die dertig was hy hoog geëer, sodat hy hulle aanvoerder geword het. Maar een van die driemanskap het hy nie geword nie.

20Benaja seun van Jojada, seun van Isgai, was afkomstig uit Kabseël. Hy was 'n man van baie dade en het twee sterk manne in Moab doodgemaak. Op 'n sneeudag het hy in 'n droë put afgeklim en 'n leeu daar doodgemaak. 21Hy het ook 'n frisgeboude Egiptenaar doodgeslaan. Die Egiptenaar het nogal 'n spies in sy hand gehad, terwyl Benaja hom net met 'n stok gepak het. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie spies van kant gemaak. 22Dit het Benaja seun van Jojada gedoen. Hy was beroemd onder die dertig helde. 23Hy het 'n hoër rang gehad as die res van die dertig, maar een van die driemanskap het hy nie geword nie. Dawid het hom oor sy lyfwag aangestel.

24Asael, Joab se broer, was onder die dertigtal. So ook Elganan seun van Dodo uit Betlehem, 25Samma uit Garod, Elika uit Garod, 26Geles uit Pelet, Ira seun van Ikkes uit Tekoa, 27Abiëser uit Anatot, Sibbekai uit Gusa, 28Salmon uit Agoag, Marai uit Netofa, 29Geled seun van Baäna uit Netofa, Ittai seun van Ribai uit Gibea in Benjamin, 30Benaja uit Piraton, Hiddai uit Nagale-Gaäs, 31Abi-Albon uit Bet-Araba, Asmawet uit Bagurim, 32Eljagba uit Saälbon, die seuns van Jasen, Jonatan, 33Samma uit Harar, Agiam seun van Sarar uit Arar, 34Elifelet seun van Agasbai, seun van iemand uit Maäka, Eliam seun van Agitofel uit Gilo, 35Gesro uit Karmel, Paärai uit Arab, 36Jigal seun van Natan uit Soba, Bani uit Gad, 37Selek die Ammoniet, Nagrai uit Beërot, wapendraer van Joab seun van Seruja, 38Ira uit Jeter, Gareb uit Jeter, 39Urija die Hetiet. Daar was altesaam sewe en dertig.

Dawid laat die volk tel

(Vgl. 1 Kron. 21:1-27)

1Op 'n keer was die Here vertoorn op Israel. Hy het Dawid teen hulle aangehits en gesê: “Gaan tel die Israeliete en die Judeërs.”

2Die koning het vir Joab, die hoof van die leër, wat by hom was, gesê: “Trek rond deur al die Israelitiese stamme van die noorde tot die suide en tel die volk. Ek wil weet hoeveel hulle is.”

3Joab het die koning geantwoord: “Selfs al sou die Here u God die volk honderd maal laat vermeerder en die koning sien dit self, watter genot sou dit u verskaf?”

4Toe die koning egter vir Joab en die leëroffisiere nadruklik so beveel, is hulle van hom af weg om die volk te tel. 5Hulle het deur die Jordaan gegaan en by Aroër suid van die stad by die spruit begin. Daarvandaan is hulle na Gad en Jaeser toe 6en het hulle Gilead deurgegaan tot by die land onderkant Kades. Toe het hulle by Dan gekom en daarvandaan is hulle oor Sidon, 7waarna hulle by die vesting Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete gekom het. Toe is hulle af na Berseba toe in die suide van Juda.

8Hulle het die hele land deurreis en na nege maande en twintig dae weer in Jerusalem teruggekom, 9en Joab het die uitslag van die telling aan die koning gegee. Israel was ag honderd duisend weerbare man wat kon oorlog maak en Juda vyf honderd duisend.

10Nadat hy die volk laat tel het, het Dawid se gewete hom gekwel. Hy het teenoor die Here bely:

“Ek het swaar gesondig met wat ek gedoen het.

Vergewe tog nou my oortreding, Here!

Waarlik, ek het baie dwaas opgetree.”

11Nadat Dawid die oggend opgestaan het, het die profeet Gad, die siener van Dawid, na hom toe gekom.

Die woord van die Here het tot Gad gekom en gesê: 12“Gaan sê vir Dawid: So het die Here gesê: Ek lê drie dinge aan jou voor. Kies vir jou een daarvan, dan sal Ek dit laat gebeur.”

13Gad het toe vir Dawid die boodskap gebring: “Wat wil jy liewer hê? Sewe jaar hongersnood in jou land, of drie maande waarin jy voor jou teenstanders vlug en hulle jou agtervolg, of drie dae lank pes in jou land? Oorweeg nou goed hoe ek Hom wat my gestuur het, moet antwoord.”

14Dawid het vir Gad geantwoord: “Ek is in 'n hoek gedryf. Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is groot. Ek wil nie in die hand van 'n mens val nie.”

15Daarna het die Here 'n pes van die oggend af tot die aand onder Israel ingestuur. Van die noorde tot die suide het daar sewentig duisend gesterf.

16Net toe die engel sy hand na Jerusalem toe uitsteek om dit te verdelg, het die Here besluit om die straf nie verder te voer nie. Hy het vir die engel wat die verderf onder die volk aanrig, gesê: “Dis nou genoeg. Trek jou hand terug.”

Die engel van die Here was toe net by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.

17Terwyl Dawid die engel sien wat die volk tref, sê hy vir die Here: “Dit is ék wat gesondig het. Ja, ék het oortree. Wat het hierdie arme mense gedoen? Tree liewer op teen my en my familie.”

18Gad het daardie dag na Dawid toe gekom en vir hom gesê: “Gaan op en bou vir die Here 'n altaar op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.”

19Dawid het toe opgegaan soos die Here hom deur die woord van Gad beveel het. 20Toe Arauna afkyk en die koning en sy amptenare na hom toe sien aankom, gaan hy uit en buig diep voor die koning.

21“Waarom kom die koning na sy dienaar toe?” vra Arauna.

“Om die dorsvloer van jou te koop en 'n altaar vir die Here daarop te bou, sodat die plaag van die volk af weggeneem kan word,” antwoord Dawid.

22Arauna het vir Dawid gesê: “U kan dit gerus maar vat, U Majesteit, en offer net wat u wil. Kyk, die beeste vir die offer is hier, en die dorsslee en die jukke is beskikbaar as brandhout. 23U Majesteit, Arauna gee dit alles aan die koning. Mag die Here u God u offer aanneem.”

24Hierop het die koning vir Arauna gesê: “Nee, ek koop dit beslis van jou teen die volle prys. Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.”

Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir sowat ses honderd gram silwer gekoop. 25Hy het net daar 'n altaar vir die Here gebou en brandoffers en maaltydoffers gebring. Hierna het die Here weer die gebede vir die land verhoor, en die plaag is uit Israel weggeneem.

Dit is God wat die oorwinning gee

(Vgl. 2 Sam. 22:1-51)

1Vir die koorleier. 'n Lied van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het dié woorde tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit die mag van al sy vyande en uit die mag van Saul.

2Hy het gesê:

Ek het U baie lief, Here, my Sterkte.

3Die Here is my rots, my skuilplek en my redder,

my God, my rots, by wie ek skuil,

my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.

4Onder bespotting roep ek na die Here,

dan word ek van my vyande verlos.

5Bande van die dood het my omsluit,

strome van onheil het my verskrik.

6Bande van die doderyk het my vasgetrek,

strikke van die dood het my bedreig.

7In my nood roep ek na die Here,

ja, ek roep om hulp na my God.

In sy paleis hoor Hy my geroep.

Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my.

8Die aarde het geskud en gebewe,

die fondamente van die berge het getril en geskud,

want Hy was vertoorn.

9Rook het uit sy neus getrek,

vuur uit sy mond het alles verteer,

gloeiende kole uit sy binneste.

10Hy het die hemel afgebuig en afgekom,

onder sy voete was duisternis.

11Hy het op 'n gerub geklim en gevlieg;

op die vleuels van die wind het Hy nadergesweef.

12Hy het Hom in donkerte gehul,

donker waters en wolkemassas was sy bedekking.

13Uit die gloed voor Hom het wolke getrek,

hael en weerligstrale.

14Die Here het dit uit die hemel laat dreun,

die Allerhoogste het sy stem laat hoor

in hael en weerligstrale.

15Hy het sy pyle afgeskiet

en die vyand uitmekaar gejaag,

hulle met 'n menigte weerligstrale op loop gejaag.

16Die seebodem het sigbaar geword,

die fondamente van die aarde is blootgelê

deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn.

17Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp,

my uit geweldige waters uitgelig.

18Hy het my gered van my vyand wat sterk was,

van my haters toe hulle vir my te magtig was.

19Die dag toe hulle my aangeval het,

was my ondergang naby,

maar die Here het my daarvan bewaar.

20Hy het my in vryheid laat uitgaan,

my gered omdat Hy my liefhet.

21Die Here het aan my reg laat geskied,

Hy het my onskuld aanvaar,

22want ek het die wil van die Here gehoorsaam

en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie;

23ek het my deur al sy bepalings laat lei en nie van sy voorskrifte afgewyk nie.

24Ek was opreg voor Hom,

ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid.

25Die Here het aan my reg laat geskied,

want ek was onskuldig in sy oë.

26U betoon U getrou teenoor die getroue,

opreg teenoor die opregte,

27rein teenoor die reine,

maar U verwerp die huigelaar.

28U red die verdrukte volk,

U verneder die trotses.

29U, Here, laat my lamp helder skyn;

my God gee lig as dit donker is om my.

30Met u hulp loop ek 'n oormag storm,

met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.

31Wat God doen, is volmaak;

wat die Here sê, is suiwer.

Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy.

32Waarlik, wie anders as die Here is God?

Ja, wie anders as ons God is 'n rots?

33God omgord my met krag;

Hy maak my pad voorspoedig.

34Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok;

op hoë plekke laat Hy my stewig staan.

35Hy leer my hande om oorlog te maak,

my arms om selfs die stramste boog te span.

36Die redding wat U gebring het,

was vir my 'n beskerming,

u regterhand het my ondersteun,

deur u hulp het ek sterk geword.

37U het my ruim vastrapplek gegee,

my enkels het nie geswik nie.

38Ek het my vyande agtervolg en ingehaal,

ek het nie omgedraai voordat hulle uitgewis was nie.

39Ja, ek het hulle verpletter,

sodat hulle nie weer kon opstaan nie.

Hulle het voor my voete gesneuwel.

40U het my met krag omgord vir die stryd,

U het my teëstanders voor my laat swig.

41U het my vyande voor my laat vlug

en ek kon my haters uitwis.

42Hulle roep om hulp

en daar is niemand wat help nie;

hulle roep selfs na die Here,

maar Hy antwoord hulle nie.

43Ek maak hulle fyn soos stof in die wind,

ek laat hulle wegspat soos modder in die strate,

ja, ek vermorsel hulle.

44U het my gered van opstandige mense,

my as hoof van vreemde nasies aangestel.

'n Volk wat ek nie geken het nie, is my onderdane.

45Wie ook al van my verneem, gehoorsaam my.

Vreemde volke kruip voor my.

46Hulle skrik en kom bewend uit hulle forte uit.

47Die Here leef! Ek loof Hom wat my rots is.

Ek prys my God wat my gered het.

48Dit is God wat my die oorwinning gee,

wat volke aan my onderwerp.

49Hy red my van my vyande.

Ja, U stel my buite bereik van my teëstanders,

U bevry my van geweldenaars.

50Daarvoor sal ek U loof voor die nasies, Here,

tot eer van u Naam 'n lofpsalm sing!

51Dit is Hy wat aan sy koning groot oorwinnings gee

en trou aan sy gesalfde betoon,

aan Dawid en sy nageslag vir altyd!

Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red

1'n Psalm van Asaf.

Die Here is God, Hy alleen is God.

Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,

van waar die son opkom tot waar hy ondergaan.

2Uit Sion, stad van volmaakte prag,

verskyn God in glans.

3Ons God kom, Hy bly nie stil nie.

Voor Hom uit brand 'n vuur,

rondom Hom woed 'n storm.

4Hy roep die hemel en die aarde op vir die saak teen sy volk:

5“Maak bymekaar dié wat aan My getrou is

en met 'n offer 'n verbond met My gesluit het.”

6Die hemel getuig: “God is regverdig, en Hý is die regter.” Sela

7“Luister, my volk, Ek wil my saak stel,

Ek wil teen jou getuig, Israel.

Ek is God, Ek is jou God!

8Dit is nie omdat jy nie offer dat Ek rekenskap van jou eis nie;

jou brandoffers is immers gedurig voor My.

9Ek wil geen jong bul uit jou stal hê

of bokke uit jou krale nie,

10want al die diere in die bos is Myne,

die wild op duisende berge.

11Ek ken al die voëls van die berge;

al wat roer op die veld, is Myne.

12Ek sou jou nie vra as Ek honger sou kry nie,

want die aarde en alles wat daarop is, behoort aan My.

13Eet Ek miskien die vleis van die bulle wat julle offer,

of drink Ek die bloed van bokke?

14Lof is die offer wat jy aan God moet bring.

Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.

15Roep My aan in die dag van benoudheid:

Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”

16Maar vir die goddelose sê God:

“Waarom sê jy my voorskrifte een vir een op

en beroep jy jou op my verbond,

17jy wat 'n afkeer het van wat Ek jou leer

en jou nie steur aan wat Ek sê nie?

18As jy 'n dief raakloop, breek jy saam met hom in,

en as jy die kans kry, pleeg jy egbreuk.

19As jy jou mond oopmaak, praat jy kwaad;

jou tong ryg bedrog aanmekaar.

20Jy sit en praat teen jou broer,

jou eie broer beswadder jy.

21“Moet Ek stilbly as jy sulke dinge doen?

Dan sal jy dink Ek het soos jy geword!

Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan!

22Julle moet luister na hierdie waarskuwing,

julle wat nie met God rekening hou nie,

anders verskeur Ek julle sonder dat iemand kan red.

23“Die mens wat My eer,

is die een wat lof as 'n offer bring.

Hy wat reg lewe,

vir hom sal Ek red.”

God is my veilige vesting

1Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” Van Dawid. 'n Gedig, na aanleiding daarvan dat hulle, in opdrag van Saul, Dawid se huis omsingel het om hom dood te maak.

2Red my van my vyande, my God,

beskerm my teen my teëstanders,

3red my van die mense wat onreg doen,

bevry my van hierdie moordenaars!

4Die geweldenaars lê my voor om my dood te maak,

hulle wil my aanval.

Maar ek het nie gesondig nie,

ek het nie oortree nie, Here!

5Ek is onskuldig en tog bestorm hulle my en val hulle my aan.

Kom help my tog! Kyk wat doen hulle!

6U is die Here God, die Almagtige, die God van Israel!

Gryp tog in en straf al hierdie vyandige nasies!

Moenie genade betoon aan sulke lae verraaiers nie. Sela

7Hulle kom altyd in die aand terug,

hulle grom soos honde en loop in die stad rond.

8Die skuim staan om hulle bekke,

en hulle wys hulle tande,

want hulle dink niemand hoor hulle nie.

9Maar U, Here, U lag hulle uit,

U spot met al die nasies!

10Ek wil my hoop op U gevestig hou, U, my Sterkte,

want U is my veilige vesting!

11My God sal my te hulp kom in sy trou,

God sal my laat neersien op my teëstanders.

12Moet hulle nie nou al doodmaak nie,

sodat hulle straf nie ongemerk aan my volk verbygaan nie.

Breek hulle stadig af deur u mag

en laat hulle ondergaan, Here, ons Beskermer,

13oor hulle woorde, die sonde uit hulle mond.

Laat hulle gevang word deur hulle hoogmoed,

deur die vervloekings wat hulle uitspreek,

en die leuens wat hulle praat.

14Vernietig hulle in u toorn,

wis hulle heeltemal uit.

Dan sal almal weet dat God oor sy volk Jakob en oor die hele aarde regeer. Sela

15Hulle kom altyd in die aand terug,

hulle grom soos honde en loop in die stad rond.

16Hulle dwaal rond agter prooi aan

en as hulle nie genoeg kry nie, tjank hulle.

17Maar ék sal sing van u mag,

elke môre sal ek jubel oor u trou,

want U is vir my 'n veilige vesting,

'n skuilplek in tyd van nood.

18Tot u eer wil ek sing, U, my Sterkte,

want U is my veilige vesting,

U is my troue God.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS