Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 79

2 Samuel 1–5, Psalm 13

Bybelteks(te)

Dawid verneem van Saul se dood

1-2Na die dood van Saul, op die derde dag daarna, het daar onverwags iemand uit Saul se kamp by Dawid aangekom. Dawid was toe al twee dae terug in Siklag na sy oorwinning oor die Amalekiete. Die man se klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Toe hy by Dawid aankom, het die man voor hom op sy knieë geval en gebuig.

3“Waar kom jy vandaan?” het Dawid hom gevra.

“Ek het uit die Israelitiese kamp ontvlug,” was sy antwoord.

4“Wat is aan die gang? Vertel my!” het Dawid aangedring.

Hy het toe vertel dat die leër uit die geveg weggevlug het, dat 'n groot deel van die leër gesneuwel het, en dat Saul en sy seun Jonatan ook dood is.

5“Hoe weet jy dat Saul en sy seun Jonatan dood is?” vra Dawid vir die jongman wat hom dit vertel het.

6Hy het geantwoord: “Ek was heel toevallig op Gilboaberg. Daar merk ek toe dat Saul hom met sy spies om die lewe probeer bring, terwyl die Filistyne se strydwaens en hulle drywers kort op sy hakke was. 7Saul het omgekyk en my gesien. Hy het my nader geroep en ek het gevra: ‘Wat kan ek vir u doen?’ 8Hy vra my toe: ‘Wie is jy?’ en ek antwoord: ‘'n Amalekiet.’ 9‘Kom staan hier langs my en maak my dood,’ beveel hy, ‘want ek leef wel nog, maar my toestand is kritiek.’ 10Ek het toe nader gestaan en hom doodgemaak, want ek het besef dat hy, nadat hy homself probeer doodmaak het, nie sou bly lewe nie. Ek het die kroon van sy kop af gegryp, ook die armband van sy arm af, en dit vir u gebring.”

11Hieroor was Dawid so ontsteld dat hy sy klere geskeur het, en al sy manskappe ook. 12Hulle het tot die aand gerou en getreur en gevas oor Saul en sy seun Jonatan en oor die volk van die Here, die Israeliete, omdat hulle gesneuwel het.

13Dawid het toe vir die jongman wat hom die berig gebring het, gevra: “Van waar is jy nou weer?”

Hy het geantwoord: “Ek is nie 'n landsburger nie. Ek is 'n Amalekiet.”

14Dawid het vir hom gesê: “Dus was jy nie bang om jou hand uit te steek en die gesalfde van die Here om die lewe te bring nie?”

15Toe roep hy een van die manskappe en sê vir hom: “Kom hier! Maak hom dood!”

Die manskap het hom toe doodgemaak.

16Dawid het hom toegevoeg: “Jy het jou dood gesóék, want jy het jouself veroordeel toe jy gesê het: Dit is ek wat die gesalfde van die Here doodgemaak het!”

Dawid se klaaglied oor Saul en Jonatan

17Dawid het toe die volgende klaaglied oor Saul en sy seun Jonatan gesing. 18Hy het opdrag gegee dat hierdie booglied aan die inwoners van Juda geleer moet word. Die lied is ook opgeteken in die Boek van die Opregte.

19“Jou trots, Israel –

op jou hoogtes lê dit verslaan.

Hoe het die helde geval!

20Moet dit nie in Gat vertel nie;

moet dit ook nie bekend maak in Askelon se strate nie,

anders sal die Filistynse meisies bly wees

en die dogters van die heidene jubel.

21Gilboaberge! Offerland!

Nóg dou, nóg reën vir julle!

Waarlik, dáár is die heldeskild besoedel.

Saul se skild – dit is nie met olie ingesmeer nie

22maar met bloed van gesneuweldes,

met vet van helde!

Jonatan se boog – dit het pal gestaan.

Saul se swaard – dit het sy werk goed gedoen.

23Saul en Jonatan, geliefde en beminde mense –

in lewe en sterwe nie geskei nie.

Hulle was vinniger as arende,

sterker as leeus.

24Israelitiese dogters, julle moet huil oor Saul!

Hy het julle beklee met sierlike klere,

goue sierade het hy daarop laat aanbring.

25Hoe het die helde geval?

In die hitte van die stryd!

Jonatan lê verslaan op die hoogtes.

26Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan.

Jy was baie na aan my hart.

Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou.

27Hoe het die helde geval?

Met die wapen in die hand het hulle omgekom!”

Dawid word in Hebron tot koning van Juda gesalf

1Hierna het Dawid die Here geraadpleeg: “Moet ek na 'n stad in Juda toe gaan?”

Die Here het geantwoord: “Ja, gaan!”

Dawid het gevra: “Na watter plek toe moet ek gaan?”

Toe antwoord die Here: “Na Hebron toe.”

2Dawid het toe gegaan, vergesel van sy twee vrouens, Aginoam van Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet. 3Hy het ook sy manskappe met hulle gesinne laat saamgaan, en hulle het almal in die gebied van Hebron gaan woon. 4Daar het die burgers van Juda vir Dawid tot hulle koning kom salf.

Toe daar aan Dawid vertel is dat die inwoners van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het, 5het hy boodskappers na hulle toe gestuur om vir hulle te sê: “Mag die Here julle seën omdat julle hierdie liefdesdaad aan julle koning Saul bewys het deur hom te begrawe. 6Mag die Here ook aan julle liefde en trou betoon. Ek self sal ook nog 'n weldaad aan julle bewys omdat julle dit gedoen het. 7Tree nou net moedig op en wees dapper, want julle koning Saul is wel dood, maar Juda het mý tot hulle koning gesalf.”

Abner maak vir Is-Boset koning van Israel

8Maar die hoof van Saul se leër, Abner seun van Ner, het vir Is-Boset seun van Saul gevat, hom laat deurtrek na Maganajim toe 9en hom koning gemaak oor Gilead, Aser, Jisreël, Efraim en Benjamin, ja, oor die hele Israel. 10Saul se seun Is-Boset was veertig jaar oud toe hy koning van Israel geword het en hy het twee jaar geregeer. Net die Judastam het vir Dawid ondersteun. 11Dawid was sewe en 'n half jaar in Hebron koning oor Juda.

Die geveg by die dam van Gibeon

12Abner seun van Ner het met Is-Boset se soldate van Maganajim af na Gibeon toe opgeruk. 13Joab seun van Seruja het hulle met Dawid se soldate tegemoet getrek en hulle by die Gibeondam gekry. Joab-hulle het aan die een kant van die dam gaan sit, en die ander aan die oorkant.

14Abner skreeu toe vir Joab: “Laat die jong manne eers hier voor ons 'n oorlogspel kom speel!”

“Hulle kan dit maar doen,” was Joab se antwoord.

15Twaalf man het toe namens Benjamin en Is-Boset na vore gekom, en so ook twaalf van Dawid se soldate. 16Maar elkeen het sy opponent aan die hare beetgekry en met die swaard onder die ribbes gesteek, en hulle het gelyk omgekom. Daarom word dié plek in Gibeon die Ribbebeensdeel genoem. 17Daardie dag het daar toe 'n hewige geveg ontwikkel, en Abner en die manskappe van Israel is deur Dawid se soldate verslaan.

Abner steek vir Asael dood

18Seruja se drie seuns, Joab, Abisai en Asael, was ook daar. Asael was vinnig soos 'n wildsbok. 19Hy het Abner agternagesit en knaend op sy spoor gebly. 20Abner het vir hom oor sy skouer gevra: “Is dit jy, Asael?”

“Ja, dis ek,” was die antwoord.

21Abner sê toe vir hom: “As jy agter 'n uitrusting aan is, draai weg in enige rigting, oorrompel enige jong soldaat en vat syne.”

Maar hy wou nie wegdraai nie.

22Abner het weer vir hom gesê: “Gee pad agter my! Waarom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek jou broer Joab in die oë kan kyk?”

23Maar hy het bly weier om weg te draai. Toe steek Abner hom sommer na agter toe met die spies in die maag, sodat dit by sy rug uitkom. Asael het net daar in sy spore dood neergesak. Elkeen wat op die plek gekom het waar hy geval het, het 'n oomblik gaan staan.

24Daarna het Joab en Abisai vir Abner agternagesit. Sononder het hulle by die Elmboogrant aangekom, regoor die fontein langs die pad na Gibeon se weiveld toe. 25Die Benjaminiete het almal bo-op die rant gestaan en in 'n bondel agter Abner saamgedrom.

26Toe skreeu Abner vir Joab: “Moet die swaard aanhou verteer? Besef jy nie dat die uiteinde net bitterheid is nie? Wanneer gaan jy eendag die manskappe beveel om nie meer hulle broers te agtervolg nie?”

27Joab het geantwoord: “Waarlik, God weet dit, as jy nie nou gepraat het nie, sou ons die volk tot môreoggend laat veg het, en dit nogal broer teen broer.”

28Toe het Joab die ramshoring geblaas. Al die manskappe het gaan staan en Israel nie meer agtervolg nie en hulle het nie verder geveg nie. 29Abner en sy manskappe het die nag deur met die Jordaanvallei langs getrek. Hulle het die Jordaan oorgesteek en Maganajim al met die Bitronloop langs bereik. 30Joab het die agtervolging van Abner gestaak en die manskappe bymekaargeroep. Toe hulle Dawid se soldate tel, was daar behalwe Asael nog negentien man kort. 31Dawid se vegters het egter baie Benjaminiete verslaan. Onder Abner se soldate alleen was drie honderd en sestig dood. 32Joab-hulle het vir Asael opgetel en in die familiegraf in Betlehem gaan begrawe. Hierna het Joab en sy soldate die hele nag deur getrek en ligdag was hulle in Hebron.

1Daar was 'n langdurige oorlog tussen die nageslag van Saul en Dawid, maar Dawid het gaandeweg al hoe sterker geword en die nageslag van Saul al hoe swakker.

Dawid se seuns wat in Hebron gebore is

(Vgl. 1 Kron. 3:1-4)

2Die volgende seuns van Dawid is in Hebron gebore: Amnon, seun van Aginoam sy Jisreëlitiese vrou, was die oudste. 3Sy tweede was Kilab seun van Abigajil, die weduwee van Nabal die Karmeliet. Absalom seun van Maäka, 'n dogter van koning Talmai van Gesur, was die derde, 4en die vierde was Adonia seun van Gaggit. Die vyfde was Sefatja seun van Abital 5en die sesde Jitream seun van Dawid se vrou Egla. Hulle is vir hom in Hebron gebore.

Abner breek met Is-Boset

6Onderwyl die oorlog tussen Saul se huis en dié van Dawid aan die gang was, het Abner geprobeer om sy posisie in Saul se huis te verstewig deur 'n verbintenis met 'n byvrou van Saul. 7Haar naam was Rispa dogter van Aja.

Toe Is-Boset hom vra: “Waarom het jy my pa se byvrou gevat?” 8het Abner hom gruwelik oor dié woorde vererg en gesê: “Dink jy dan ek is 'n lae hond wat Juda se saak wil aanhelp? Tot nou toe was ek getrou aan die huis van Saul en aan sy broers én sy vriende. Ek het verhoed dat jy in Dawid se mag val, en nou spreek jy my aan oor 'n vergryp met hierdie vrou! 9Mag God my om die lewe bring as ek nie nou vir Dawid gaan help om te doen wat die Here hom met 'n eed beloof het nie, 10naamlik om die koningskap van die nageslag van Saul weg te vat en die heerskappy van Dawid oor Israel en Juda te bevestig, van noord tot suid.”

11So bang was Is-Boset vir Abner dat hy nie 'n woord kon terugsê nie.

Abner onderhandel met Dawid

12Hierna het Abner boodskappers na Dawid toe gestuur om te sê: “Behoort die land nie aan u nie? Sluit tog 'n ooreenkoms met my en u sal sien dat ek by u staan deur die hele Israel na u kant toe oor te haal.”

13Dawid het geantwoord: “Goed, ek sal 'n ooreenkoms met jou sluit. Ek verwag net een ding van jou, en dit is dat jy nie met my moet kom onderhandel sonder om Saul se dogter Mikal saam te bring nie.”

14Dawid het ook boodskappers na Saul se seun Is-Boset toe gestuur om te sê: “Gee my vrou Mikal terug wat ek as vrou verkry het in ruil vir honderd Filistynse voorhuide.”

15Is-Boset het gestuur en haar laat wegvat van haar man, Palti seun van Lajis. 16Hy het saam met sy vrou geloop, huil-huil agter haar aan tot by Bagurim.

Toe sê Abner vir hom: “Gee pad! Loop terug!”

Hy het toe maar omgedraai.

17Daarna het Abner met die leiers van Israel gepraat: “Julle probeer mos lankal om vir Dawid koning te maak. 18Doen dit nou, want die Here het vir Dawid gesê: Deur my dienaar Dawid sal Ek my volk Israel red uit die mag van die Filistyne en van al sy vyande.”

19Abner het self ook vertroulik met die Benjaminiete gaan onderhandel. Dit was ook hy wat vertroulik aan Dawid in Hebron gaan vertel het watter voorwaardes vir Israel en die Benjaminstam aanneemlik sou wees. 20Vervolgens het Abner saam met twintig man na Dawid toe gegaan in Hebron, en Dawid het vir hulle 'n eetmaal aangebied.

21Abner sê toe vir Dawid: “Met u verlof gaan ek nou die hele Israel by u, die koning, bymekaarbring sodat hulle met u 'n verdrag kan sluit; dan sal u koning wees volgens u hartsbegeerte.”

Dawid het daartoe ingestem en Abner het ongehinderd vertrek.

Joab vermoor vir Abner

22En toe gebeur die onvoorsiene! Joab en die soldate van Dawid het net van 'n rooftog af teruggekom en 'n groot buit saamgebring. Abner was toe nie meer by Dawid in Hebron nie: Abner het met die instemming van die koning ongehinderd vertrek.

23Dit was toe dat Joab en al sy soldate tuis gekom het en daar vir hom gesê is: “Abner seun van Ner het by die koning gekom, en hy het hom ongehinderd laat vertrek.”

24Joab het na die koning toe gegaan en gesê: “Wat het u nou aangevang? Hier kom Abner na u toe, en u laat hom weer loop? 25U ken tog vir Abner seun van Ner! Hy het net gekom om u vir die gek te hou, ja, om uit te vind wat u bewegings en u doen en late is.”

26Joab is toe van Dawid af weg en het boodskappers agter Abner aangestuur. Hulle het hom by die watergat langs die doringboom laat omdraai sonder dat Dawid dit geweet het. 27Abner het teruggekom na Hebron toe, en Joab het hom na die poort se kant toe weggelei asof hy vertroulik met hom wou praat. Uit weerwraak oor die dood van sy broer Asael het Joab hom toe net daar in die maag gesteek, sodat hy gesterf het.

28Dawid het dit agterna eers verneem en gesê: “Ek is vir altyd voor die Here onskuldig aan die moord op Abner seun van Ner, ek en my koningshuis. 29Mag die straf daarvoor op Joab se kop afkom en op sy hele familie. Mag daar altyd in sy familie een wees wat bloei of melaats is of op krukke loop of deur die swaard omkom of broodsgebrek ly.”

30Joab en sy broer Abisai het vir Abner doodgemaak omdat hy hulle broer Asael tydens die oorlog in Gibeon doodgemaak het.

31Aan Joab en die hele leër by hom het Dawid gesê: “Skeur julle klere; trek rouklere aan en rou oor Abner.”

Koning Dawid het self agter die draagbaar gestap. 32Toe hulle Abner in Hebron begrawe het, het die koning hardop gehuil by die graf, en die hele leër het ook gehuil. 33Die koning het 'n klaaglied oor Abner gesing:

“Moes Abner dan so 'n eerlose dood sterwe?

34Jou hande was nie geboei nie,

jou voete nie met kettings gebind nie.

Jy het omgekom soos een wat deur misdadigers omkom.”

Toe het die leër se gehuil oor hom eens so erg geword. 35Die hele leër het Dawid probeer oorreed om iets te eet terwyl dit nog dag was, maar hy het 'n eed afgelê: “Mag God my om die lewe bring as ek voor sononder brood of ander kos eet!”

36Almal het opgemerk dat hy nie eet nie en hulle het dit goedgevind. Hulle was tevrede met alles wat die koning gedoen het. 37Die hele leër en die ganse Israel was toe oortuig dat die koning niks met Abner seun van Ner se dood te doen gehad het nie.

38Die koning het aan die onderdane by hom gesê: “Besef julle nie dat daar vandag 'n leier, ja, 'n groot man, in Israel om die lewe gebring is nie? 39Ek is wel tot koning gesalf, maar my posisie is nog nie sterk genoeg teenoor hierdie manne, die seuns van Seruja, nie. Hulle is vir my te hard. Mag die Here daarom self die saak regstel deur die moordenaar vir sy misdaad te straf.”

1Toe Is-Boset seun van Saul verneem dat Abner in Hebron dood is, was hy tot niks in staat nie, en die hele Israel was skrikbevange.

Is-Boset word vermoor

2Daar was twee bendeleiers by Is-Boset. Die een se naam was Baäna en die ander s'n Rekab. Hulle was kinders van Rimmon die Beërotiet, uit die geledere van Benjamin. Beërot is vroeër by Benjamin gereken, 3maar die Beërotiete het na Gittajim toe gevlug, waar hulle nou nog asiel het.

4Saul se seun Jonatan het 'n seun gehad met gebreklike voete. Hy was vyf jaar oud toe die tyding oor Saul en Jonatan uit Jisreël gekom het, en die vrou wat hom versorg het, het hom opgetel en gevlug, maar in haar haas het hy geval en so kreupel geword. Sy naam was Mefiboset.

5Rekab en Baäna, seuns van Rimmon die Beërotiet, het op die warmte van die dag, terwyl Is-Boset besig was om sy middagslapie te geniet, by sy huis aangekom. 6Hulle het tot binne in die huis gegaan onder die voorwendsel dat hulle koring kom aflewer, en hom in die maag gesteek. Daarna het hulle gevlug. 7Hulle het in die huis gekom en hom doodgesteek terwyl hy op sy bed in die slaapkamer aan die slaap was. Hulle het selfs sy kop afgekap en dit saamgevat. Die hele nag deur het hulle met die Jordaanvalleipad langs gestap 8en Is-Boset se kop na Dawid toe in Hebron gebring.

Hulle het vir die koning gesê: “Hier is die kop van Is-Boset Saul se seun. Saul was u vyand en wou u doodmaak, maar vandag het die Here vir die koning wraak geneem oor Saul en sy nasate.”

9Toe sê Dawid vir Rekab en sy broer Baäna, seuns van Rimmon die Beërotiet: “Ek verklaar voor die Here, my bevryder uit elke lewensgevaar: 10Die man wat my in Siklag vertel het: ‘Saul is dood!’ het ek laat gryp en doodslaan as beloning vir so 'n boodskap, en hy het nogal gedink hy is iemand wat 'n goeie tyding bring. 11Hoeveel te meer sal ek nie, noudat skurke 'n onskuldige man op sy bed in sy huis doodgemaak het, sy moord op hulle wreek en hulle van die aarde af wegvee nie!”

12Toe het Dawid sy lyfwag beveel om hulle dood te maak. Hulle het hulle hande en voete afgesny en hulle by die dam van Hebron opgehang. Maar Is-Boset se kop het hulle gevat en in Abner se graf in Hebron gaan begrawe.

Dawid word gesalf tot koning oor Israel

(Vgl. 1 Kron. 11:1-3)

1Hierna het al die Israelitiese stamme na Dawid toe in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal u eie mense! 2In die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here het vir u gesê:

“Jy moet vir my volk Israel 'n herder wees;

ja, jy moet heerser oor Israel wees!”

3So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het koning Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here 'n verdrag met hulle gesluit. Op hulle beurt het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf. 4Dawid was dertig toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar geregeer. 5In Hebron was hy sewe en 'n half jaar koning oor Juda, en in Jerusalem drie en dertig jaar oor die hele Israel en Juda.

Dawid verower Jerusalem

(Vgl. 1 Kron. 11:4-6)

6Die koning en sy manskappe het teen Jerusalem opgetrek. Die Jebusiete het hierdie gebied bewoon.

Daar is aan Dawid gesê: “Hier sal jy nie inkom nie. Blindes en kreupeles sal jou hier uithou.” Ja, daar is beweer: “Dawid sal hier nie inkom nie!” 7En tog het Dawid die Sionsvesting ingeneem. Dit is nou die Dawidstad.

8Op daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat 'n Jebusiet wil verslaan, moet eers die watertonnel, en die blindes en kreupeles in die hande kry.”

Dawid het hulle blywend gehaat. Dit is waarom gesê word 'n blinde of 'n kreupele mag nie in die tempel inkom nie.

Dawid gaan woon in Jerusalem

(Vgl. 1 Kron. 11:7-9; 14:1-7)

9Dawid het in die vesting gaan woon en dit Dawidstad genoem. Sy bouwerke het gestrek van die terras af in die rigting van die paleis. 10Hy het al hoe sterker geword en die Here die Almagtige was by hom. 11Koning Hiram van Tirus het 'n afvaardiging na hom toe gestuur en ook sederhout en skrynwerkers en messelaars. Hulle het vir Dawid 'n paleis gebou. 12Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en dat die Here Dawid se koningskap in hoë aansien gebring het ter wille van die volk Israel.

13Nadat Dawid uit Hebron verhuis het, het hy vir hom uit Jerusalem meer byvrouens en vrouens geneem. Daar is toe vir hom nog seuns en dogters gebore. 14Dit is die name van sy kinders wat in Jerusalem gebore is: Sima, Sobab, Natan, Salomo, 15Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia, 16Elisama, Eljada en Elifelet.

Dawid verslaan die Filistyne

(Vgl. 1 Kron. 14:8-16)

17Toe die Filistyne verneem dat Dawid tot koning oor Israel gesalf is, het hulle almal teen hom opgetrek. Dawid het dit te hore gekom en op 'n strategiese plek gaan stelling inneem. 18Die Filistyne het gekom en die Spooklaagte binnegeval.

19Dawid het die Here geraadpleeg en gevra: “Moet ek teen die Filistyne opruk? Sal U hulle in my mag oorgee?”

Die Here het hom geantwoord: “Ja, trek op, want Ek gee hulle beslis aan jou oor.”

20Dawid het toe deur 'n groot kloof getrek en hulle daar verslaan.

Hy het gesê: “Die Here het my vyand voor my gekloof soos water 'n wal kloof.”

Daarom het hy die plek Grootkloof genoem. 21Die Filistyne het selfs hulle afgodsbeelde net daar gelos, en Dawid en sy manskappe het dit opgetel.

22Toe die Filistyne weer opruk en die Spooklaagte binneval, 23het Dawid die Here geraadpleeg.

Die Here het gesê: “Moenie optrek nie. Draai na hulle agterhoede toe en val hulle aan regoor die melkbosse. 24Wanneer jy 'n geritsel in die toppe van die melkbosse hoor, moet jy blitsvinnig aanval, want dan trek die Here voor jou uit om die kamp van die Filistyne te tref.”

25Dawid het gemaak soos die Here gesê het en die Filistyne van Geba af tot by die ingang na Geser verslaan.

Hoe lank nog, Here?

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.

2Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here?

Vir altyd?

Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?

3Hoe lank moet ek nog my eie planne maak

en my dae met kommer deurbring?

Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?

4Luister tog en antwoord my, Here my God!

Gee my tog nuwe lewenskrag.

Ek wil nie sterwe nie,

5anders sê my vyand hy het my oorwin

en juig my verdrukkers oor my ondergang.

6Ek hou vas aan u troue liefde,

oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.

Ek wil sing tot eer van die Here,

omdat Hy aan my goed gedoen het.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS