Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 78

1 Samuel 26–31, Psalm 57 (opsioneel: Psalm 63)

Bybelteks(te)

Dawid sluip Saul se kamp binne

1Daarna het Siffiete by Saul in Gibea gekom en gesê: “Dawid kruip weg op die Gakilarant teenoor die onherbergsame streek.” 2Saul het toe klaargemaak en na die Sifwoestyn toe gegaan. Saam met hom was daar drie afdelings, uitgesoektes uit Israel, om Dawid in die Sifwoestyn op te spoor. 3Saul het kamp opgeslaan langs die pad op die Gakilarant, wat teenoor die onherbergsame gebied is. Dawid het in die woestyn gebly. Toe hy hoor dat Saul tot in die woestyn agter hom aankom, 4het Dawid spioene uitgestuur en so het hy sekerheid gekry dat Saul na hom toe op pad was. 5Toe het Dawid klaargemaak en by die plek gekom waar Saul kamp opgeslaan het. Dawid het die plek gesien waar Saul en Abner seun van Ner, die hoof van Saul se leër, gelê en slaap het. Saul het op die wa gelê en die manskappe rondom hom. 6En Dawid het vir Agimelek die Hetiet, en vir Abisai, broer van Joab en seun van Seruja, gevra: “Wie wil saam met my na Saul toe in die kamp gaan?”

Abisai het geantwoord: “Ek sal saam met jou gaan.”

7Dawid en Abisai het daardie nag by die manskappe van Saul gekom, en Saul was vas aan die slaap op die wa terwyl sy spies aan die koppenent in die grond steek en Abner en die manskappe rondom hom lê en slaap. 8Abisai het vir Dawid gesê: “God het jou vyand nou in jou mag oorgegee. Laat ek hom nou sommer hier met die spies in die grond vassteek. Ek sal hom nie 'n tweede keer hoef te steek nie.”

9Maar Dawid het vir Abisai gesê: “Jy moet hom nie om die lewe bring nie, want wie sal sy hand oplig teen die gesalfde van die Here en nog onskuldig wees?” 10Dawid het ook gesê: “So seker as die Here leef, die Here sal hom met 'n vroeë dood tref, of sy tyd sal aanbreek en hy sal sterwe, of hy sal gaan oorlog maak en hy sal omkom. 11Mag die Here my verhinder dat ek my hand oplig teen die gesalfde van die Here. Vat net die spies by sy koppenent en die waterkruik en laat ons hier wegkom.”

12Dawid het die spies en die waterkruik by Saul se koppenent gevat en weggegaan sonder dat iemand iets gesien of gehoor het of wakker geword het, want almal het geslaap. Die Here het hulle vas laat slaap. 13Daarna het Dawid na die oorkant toe gegaan en op die top van die berg gaan staan, ver weg met 'n groot afstand tussen hulle.

14Dawid het na die manskappe van Saul en na Abner seun van Ner geroep: “Abner, antwoord jy dan nie?”

En Abner het geantwoord: “Wie is jy wat na die koning roep?”

15Toe sê Dawid vir Abner: “Is jy nie 'n man nie? Wie is soos jy in Israel? Waarom het jy nie wag gestaan by jou koning nie? Daar het een van die volk gekom om die koning dood te maak. 16Wat jy gedoen het, is nie goed nie. So seker as die Here leef, julle moet eintlik dood wees omdat julle nie by julle koning, die gesalfde van die Here, wag gestaan het nie. Kyk net 'n bietjie! Waar is die koning se spies en die waterkruik wat by sy koppenent was?”

17Saul het Dawid se stem herken en gesê: “Is dit jy wat praat, my seun, Dawid?”

Dawid het gesê: “Dit is, U Majesteit!” 18Hy het verder gevra: “Waarom agtervolg die koning tog sy onderdaan? Wat het ek gedoen wat verkeerd is? 19Maar nou moet die koning tog na my luister. As dit die Here is wat u teen my aanhits, bring dan vir Hom 'n offer. Maar as dit mense is, vervloek is hulle voor die Here, want hulle het my nou uitgedryf sodat ek voel asof ek nie meer aan die volk van die Here behoort nie. Hulle het gesê: ‘Gaan dien vreemde gode.’ 20Laat my bloed tog nie ver van die heiligdom af op die grond val nie. Waarlik, die koning van Israel het uitgetrek om een enkele vlooi te soek soos 'n mens 'n patrys in die berge agtervolg.”

21Maar Saul het gesê: “Ek het 'n fout gemaak. Kom terug, my seun, Dawid, want ek sal nie meer verkeerd teenoor jou optree nie omdat jy vandag my lewe gespaar het. Ja regtig, ek het dwaas opgetree en 'n growwe fout gemaak.”

22Toe sê Dawid: “Hier is die koning se spies. Laat een van u manskappe tog oorkom en dit kom haal. 23Mag die Here elkeen volgens sy geregtigheid en trou beloon, want die Here het u vandag in my mag gegee. Maar ek was nie bereid om my hand te lig teen die gesalfde van die Here nie. 24En kyk, mag die Here my lewe net so spaar soos ek vandag u lewe gespaar het, en mag Hy my uit elke benoudheid red.”

25Saul het vir Dawid gesê: “Mag dit goed gaan met jou, my seun, Dawid. Jy sal van krag tot krag gaan en beslis ook die oorhand kry.”

Daarna het Dawid sy koers ingeslaan, en Saul het omgedraai huis toe.

Dawid skaar hom by Akis

1Dawid het by homself gedink: ek sal nog eendag deur Saul omkom. Daar bly vir my niks anders oor nie as om uit te wyk na die land van die Filistyne toe. Dan sal Saul ophou om langer oral in die gebied van Israel na my te soek. So sal ek van hom af wegkom.

2Dawid het klaargemaak en hy en ses honderd man wat by hom was, het oorgetrek na koning Akis van Gat, seun van Maok toe. 3Dawid het by Akis in Gat gewoon, hy en sy manne met hulle gesinne, en ook sy twee vrouens Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet. 4Daar is toe aan Saul vertel dat Dawid na Gat toe gevlug het, en Saul het hom nie langer gesoek nie.

5Dawid het vir Akis gesê: “As u my goedgesind is, gee my dan 'n plek in een van u buitedorpe sodat ek daar kan woon. Waarom moet ek saam met u in die koninklike stad woon?”

6Op daardie dag het Akis toe vir Siklag aan hom gegee, en daarom behoort Siklag nou nog aan die konings van Juda. 7Dawid het 'n jaar en vier maande op die platteland by die Filistyne gewoon.

Dawid mislei vir Akis

8Dawid en sy manne het van tyd tot tyd opgetrek en dan het hulle die Gesureërs of die Geseriete of die Amalekiete aangeval. Dit is die mense wat die gebied bewoon van Olam af waar jy ingaan na Sur toe tot by Egipte. 9Wanneer Dawid 'n gebied verower het, het hy geen man of vrou laat lewe nie. Hy het skape en beeste, donkies en kamele en klere buitgemaak. Dan het hy omgedraai en na Akis toe gegaan.

10En as Akis vra: “Vir wie het julle nou weer oorval?” antwoord Dawid: “Die Suidland van Juda” of “die Suidland van die Jeragmeëliete” of “die Suidland van die Keniete.”

11Dawid het geen man of vrou laat lewe om na Gat toe te bring nie, want hy het gedink: anders verklik hulle ons en sê: “Dit is wat Dawid gedoen het.”

Dit het hy gedoen so lank hy op die platteland by die Filistyne gewoon het. 12Akis het vir Dawid vertrou, want hy het gedink: hy het vir goed by sy volk Israel in onguns geraak. Hy sal altyd my onderdaan wees.

Saul raadpleeg 'n dodebesweerster

1In daardie tyd het die Filistyne hulle leërs vir die stryd begin oproep om teen Israel oorlog te maak. Akis het vir Dawid gesê: “Jy weet natuurlik dat jy en jou manne saam met my in die leër moet optrek.”

2En Dawid het vir Akis gesê: “Maar u weet tog wat ek nog altyd doen.”

Toe sê Akis vir Dawid: “Daarom stel ek jou vir goed aan as my lyfwag.”

3Samuel het te sterwe gekom, en die hele Israel het oor hom gerou en hulle het hom in sy stad Rama begrawe. Saul het ook die dodebesweersters en die waarsêers uit die land verban.

4Die Filistyne het bymekaargekom en kamp gaan opslaan by Sunem. Saul het die hele Israel bymekaargemaak en kamp opgeslaan by Gilboa. 5Saul het die kamp van die Filistyne gesien; hy was bang en sy hart het benoud geklop. 6Hy het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nóg deur drome, nóg deur die urim, nóg deur profete.

7Saul het toe vir sy amptenare gesê: “Soek vir my 'n dodebesweerster sodat ek haar kan gaan raadpleeg.”

Sy amptenare het vir hom gesê: “Daar is 'n dodebesweerster in En-Dor.”

8Saul het hom vermom en ander klere aangetrek, en hy en twee manne het gegaan en in die nag by die vrou aangekom en gesê: “Tree vir my as waarsegster op deur die gees van 'n afgestorwene, en laat vir my die een opkom wat ek vir jou sê.”

9Maar die vrou het vir hom gesê: “Jy weet baie goed wat Saul gedoen het en dat hy die dodebesweersters en waarsêers in die land uitgeroei het. Waarom stel jy vir my 'n lokval om my dood te maak?”

10Maar Saul het vir haar 'n eed afgelê in die Naam van die Here: “So seker as die Here leef, jy sal nie oor hierdie saak gestraf word nie.”

11Toe vra die vrou: “Wie moet ek vir jou laat opkom?”

En hy antwoord: “Laat Samuel vir my opkom.”

12Toe die vrou vir Samuel sien, het sy hard geskreeu en vir Saul gesê: “Waarom het u my bedrieg? U is dan self Saul.”

13Maar die koning het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie. Wat sien jy?” en die vrou sê vir Saul: “Ek sien 'n wese uit 'n ander wêreld opkom uit die aarde.”

14Hy sê toe vir haar: “Hoe lyk hy?” en sy sê: “'n Ou man kom op en hy het 'n mantel aan.”

Saul het toe geweet dat dit Samuel is en Saul het diep gebuig en eer aan hom betoon.

15Samuel het vir Saul gevra: “Waarom steur jy my deur my te laat opkom?”

En Saul antwoord: “Ek is baie bang, want die Filistyne veg teen my, en God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie, nie deur profete nie en ook nie deur drome nie. Daarom het ek u opgeroep om my in te lig oor wat ek moet doen.”

16Maar Samuel sê: “Waarom raadpleeg jy mý dan as die Here jou verlaat en jou teëstander geword het? 17Die Here het gedoen soos Hy deur my gesê het. Die Here het die koningskap van jou afgeskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee, 18want jy het nie die bevel van die Here gehoorsaam nie en sy gloeiende toorn nie op Amalek gewreek nie. Daarom het die Here jou nou hierdie ding aangedoen. 19Die Here sal Israel saam met jou in die mag van die Filistyne oorgee, en môre sal jy en jou seuns by my wees. Die Here sal ook die leër van Israel oorgee in die mag van die Filistyne.”

20Saul het meteens in sy volle lengte op die grond neergeslaan en hy het baie bang geword vanweë die woorde van Samuel. Hy het geen krag gehad nie, want hy het die hele dag en nag nie geëet nie. 21Toe het die vrou na Saul toe gekom en gesien dat hy baie bewe en sy het vir hom gesê: “Ek het aan u versoek toegegee en ek het my lewe op die spel geplaas toe ek na u geluister het. 22Gee dan tog nou toe aan my versoek, en laat ek vir u 'n stukkie kos voorsit. Eet dan, sodat daar weer krag in u kom en u verder kan gaan.”

23Maar hy het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie.”

Sy manne en ook die vrou het by hom aangedring totdat hy hulle hulle sin gegee het. Hy het van die grond af opgestaan en op die bed gaan sit. 24Die vrou het 'n kalf by die huis op stal gehad, en sy het dit gou gaan slag. Sy het ook meel gevat, dit geknie en ongesuurde brood gebak. 25Sy het dit vir Saul en sy manne voorgesit en hulle het geëet. Daarna het hulle opgestaan en dieselfde nag nog weggegaan.

Die Filistyne wantrou vir Dawid

1Die Filistyne het hulle hele leër bymekaargemaak by Afek, en Israel het kamp opgeslaan by die fontein in Jisreël. 2Terwyl die regeerders van die Filistyne met honderde en duisende verbytrek en Dawid en sy manne heel laaste saam met Akis verbygaan, 3het die leiers van die Filistyne gesê: “Wat maak hierdie Hebreërs hier?”

Akis het vir die leiers van die Filistyne gesê: “Dit is maar net Dawid, die onderdaan van koning Saul van Israel, wat al geruime tyd by my is. Vandat hy afvallig geword het tot nou toe het ek niks teen hom gevind nie.”

4Maar die leiers van die Filistyne het hulle vererg en vir Akis gesê: “Laat die man omdraai en laat hy teruggaan na sy plek toe wat jy vir hom aangewys het. Hy mag nie saam met ons in die oorlog optrek nie. Dalk draai hy in die geveg teen ons. Hoe sal hy weer by sy koning in die guns kom? Is dit nie met die koppe van ons soldate nie? 5Dit is mos die Dawid van wie hulle in koordanse sing:

“Saul het sy duisende verslaan,

maar Dawid sy tienduisende!”

6Akis het toe vir Dawid geroep en vir hom gesê: “So seker as die Here leef, jy is opreg. Ek vind dit goed dat jy saam met my gaan veg, want vandat jy by my gekom het tot nou toe, het ek niks verkeerds by jou gevind nie, maar jy is nie aanvaarbaar vir die regeerders nie. 7Draai nou maar om en gaan in vrede sodat jy jou nie die onguns van die Filistynse regeerders op die hals haal nie.”

8Maar Dawid het vir Akis gesê: “Wat het ek gedoen, en wat het u by my gevind vandat ek in u diens gekom het tot vandag toe dat ek nie kan kom en teen u vyande veg nie?”

9Akis het geantwoord en Dawid verseker: “Ek is oortuig dat jy so opreg is as 'n boodskapper van die gode. Dis net dat die leiers van die Filistyne gesê het: ‘Hy mag nie saam met ons in die oorlog optrek nie.’ 10Maak dan nou môreoggend klaar, ook jou koning se onderdane wat saam met jou gekom het; julle moet môre voordag klaarmaak en as dit lig word, moet julle vertrek.”

11Toe het Dawid en sy manne klaargemaak om vroeg die môre te vertrek en terug te gaan na die land van die Filistyne toe. Maar die Filistyne het na Jisreël toe opgetrek.

Dawid verlos die mense van Siklag

1Toe Dawid en sy manne op die derde dag in Siklag aankom, het die Amalekiete al klaar 'n strooptog onderneem teen die Suidland en teen Siklag. Hulle het Siklag verower en afgebrand. 2Hulle het die vrouens en almal daarin, groot en klein, as krygsgevangenes weggevoer. Hulle het niemand doodgemaak nie, maar almal gedwing om saam met hulle te gaan.

3Toe Dawid en sy manne in die dorp kom, was dit afgebrand en hulle vrouens, seuns en dogters was as gevangenes weggevoer. 4Dawid en sy manne het hard gehuil totdat hulle nie meer kon huil nie. 5Die twee vrouens van Dawid, Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet, was ook as gevangenes weggevoer. 6Dawid was in die nood, want die manne het daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi. Almal was verbitterd, elkeen oor sy seuns en dogters, en toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God.

7Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: “Bring tog vir my die skouerkleed nader.” Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring.

8Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?”

Die Here het hom geantwoord: “Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red.”

9Dawid en sy ses honderd man het gegaan en by Besorspruit gekom, waar party agtergebly het. 10Dawid self en vier honderd man het die agtervolging voortgesit, en twee honderd man wat te moeg was om Besorspruit deur te gaan, het agtergebly.

11Hulle het 'n Egiptenaar in die veld gekry en hom na Dawid toe gebring. Hulle het hom kos gegee, en nadat hy geëet het, het hulle hom water laat drink. 12Toe gee hulle hom 'n stukkie gedroogde vye en twee trossies rosyntjies en nadat hy dit geëet het, het hy weer reggekom, want hy het drie dae en nagte nie kos geëet of water gedrink nie.

13Dawid het hom gevra: “By wie is jy en waar kom jy vandaan?”

En hy antwoord: “Ek is 'n Egiptenaar, 'n slaaf van 'n Amalekiet, en my eienaar het my drie dae gelede agtergelaat, want ek het te swak geword. 14Ons het 'n strooptog onderneem in die Filistynse Suidland wat aan Juda behoort, en in die Suidland van Kaleb en ons het Siklag afgebrand.”

15Dawid vra toe vir hom: “Sal jy ons na hierdie bende toe lei?”

Maar hy sê: “Lê tog vir my 'n eed af in die Naam van God dat u my nie sal doodmaak of sal uitlewer in die hand van my eienaar nie, en ek sal u na hierdie bende toe lei.”

16Hy het hulle gelei, en toe hulle weer sien, lê die bende oor die hele gebied versprei, en hulle eet en drink en vier fees met die hele groot buit wat hulle uit die gebied van die Filistyne en van Juda gebring het. 17Dawid het van die laat middag af tot die aand toe en dwarsdeur tot in die vroeë oggend teen hulle geveg en hulle verslaan. Nie een het ontsnap nie, behalwe vier honderd jong manne wat op kamele gery en gevlug het. 18Dawid het almal wat deur Amalek gevat is, gered; hy het ook sy twee vrouens gered. 19Daar is niemand, groot of klein, seun of dogter, vermis nie, en ook niks van alles wat deur die Amalekiete gebuit is nie. Dawid het alles teruggebring. 20Hy het ook al die skape en beeste teruggevat. Sy mense het die goed voor hom uitgedrywe en hulle het gesê: “Dis Dawid se buit.”

21Toe Dawid aankom na die twee honderd man toe wat te moeg was om agter hom aan te gaan en wat hy by Besorspruit laat bly het, het hulle vir Dawid en sy manne tegemoet gegaan. Dawid het nader gekom na die manne toe en gevra hoe dit met hulle gaan.

22Al die slegte en nikswerd manne uit die groep wat saam met Dawid gegaan het, het opgemerk: “Omdat hulle nie saam gegaan het nie, gee ons nie vir hulle van die buit wat deur ons gered is nie. Elkeen kan net sy vrou en kinders vat en loop.”

23Maar Dawid het gesê: “My broers, julle mag nie so maak nie. Wat het die Here nie alles vir ons gegee nie? Hy het ons bewaar en die bende wat teen ons gekom het, in ons mag oorgegee. 24Wie sal na julle en na hierdie voorstel luister? Nee, soos die aandeel van dié wat gaan veg, is die aandeel van dié wat by die goed agterbly: hulle deel gelykop.”

25So het dit van toe af gebeur. Hy het dit as voorskrif en bepaling vir Israel vasgestel tot nou toe.

26Toe Dawid in Siklag aangekom het, het hy van die buit na sy vriende, die leiers van Juda, toe gestuur met die boodskap: “Dit is vir julle 'n geskenk uit die buit van die vyande van die Here.” 27Dit was vir die leiers van Bet-El en Ramot in die Suidland, Jattir, 28Aroër, Sifmot, Estemoa, 29Rakal, die dorpe van die Jeragmeëliete, die dorpe van die Keniete, 30Gorma, Bor-Asan, Atak, 31Hebron en oral waar Dawid en sy manne heen en weer getrek het.

Saul sterf op Gilboa

(Vgl. 1 Kron. 10:1-12)

1Die Filistyne het vir Israel aangeval. Die Israeliete het vir hulle gevlug, en van die manskappe het op Gilboaberg gesneuwel. 2Toe het die Filistyne op Saul en sy seuns toegesak. Hulle het Saul se seuns Jonatan, Abinadab en Malkisua neergevel 3en toe die aanval op Saul toegespits.

Die boogskutters het hom in die oog gekry, en hy het baie bang vir hulle geword, 4en vir sy wapendraer gesê: “Trek jou swaard en steek my daarmee dood dat daardie heidene nie kom en my doodsteek en in oneer laat sterf nie.”

Maar sy wapendraer wou nie, want hy was baie bang. Saul vat toe self die swaard en val daarin. 5Toe sy wapendraer sien Saul is dood, val hy ook in sy swaard en sterf saam met hom. 6So is Saul en sy drie seuns en sy wapendraer en al die manskappe by hom op daardie dag saam dood. 7Die Israeliete wat oorkant die laagte en oorkant die Jordaan gewoon het, het gesien dat die manskappe gevlug het en dat Saul en sy seuns dood is. Hulle het toe die stede verlaat en ook gevlug, en die Filistyne het die stede beset en daar gaan woon.

8Toe die Filistyne die dag na die geveg die lyke kom stroop, kry hulle Saul en sy drie seuns daar waar hulle op Gilboaberg geval het. 9Hulle het sy kop afgesny en sy wapens afgeruk en dié in die land van die Filistyne rondgestuur om die goeie nuus in hulle tempels en aan hulle mense bekend te maak. 10Daarna het hulle sy wapenrusting in die tempel van Astarte gesit en sy lyk het hulle teen die muur van Bet-San vasgespyker. 11Toe die mense van Jabes in Gilead hoor wat die Filistyne met Saul gedoen het, 12het al die weerbare manne klaargemaak en hulle het die hele nag deur getrek en die lyk van Saul en dié van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal. Hulle het dit na Jabes toe gebring en daar verbrand. 13Hulle het toe die bene gevat en onder die tamarisk in Jabes begrawe en daarna het hulle sewe dae lank gevas.

Toon u grootheid, o God

1Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” Van Dawid. 'n Gedig, na aanleiding daarvan dat hy vir Saul in die grot in gevlug het.

2Wees my genadig, o God! Wees my genadig,

want by U soek ek skuiling.

Onder u vleuels sal ek skuil

tot die bedreiging verby is.

3Ek roep na God, die Allerhoogste,

na God wat my sal help.

4Hy sal uit die hemel antwoord en my red,

Hy sal dié wat my jaag, die stryd laat verloor. Sela

God sal antwoord in sy liefde en trou.

5Ek is hier tussen leeus,

tussen mense wat my wil verskeur.

Hulle tande is spiese en pyle,

hulle tonge is skerp swaarde.

6Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel,

u mag hoog bo die aarde.

7Hulle het 'n strik vir my voete gespan,

hulle wou my breek,

hulle het 'n gat vir my gegrawe,

maar self daarin geval. Sela

8Ek voel weer veilig, o God!

Ek voel weer veilig!

Ek wil 'n lied sing, ja, ek wil sing.

9Ek wil vroeg opstaan,

met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak!

10Onder die volke wil ek U loof, Here,

onder die nasies u lof besing,

11want u liefde reik tot in die hemel,

u trou tot in die wolke!

12Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel,

hoog bo die aarde u mag.

Ek bly altyd naby U

1'n Psalm van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die Judawoestyn.

2Ek soek U, o God, my God,

ek dors na U;

ek smag na U

soos in 'n dor en droë land,

'n land sonder water.

3Ek wil by U in die heiligdom wees

om daar u mag en grootheid te ondervind.

4U troue liefde is meer werd as die lewe;

daarom sal ek U prys.

5Ek sal U my lewe lank loof,

my hande ophef om u Naam te prys.

6Soos elke keer wanneer ek u goeie gawes geniet,

sal ek U altyd roem met jubelende mond.

7As ek aan U dink op my bed,

oor U peins in die nag, dan weet ek:

8U is vir my 'n hulp,

en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels.

9Ek bly altyd naby U,

u hand ondersteun my.

10Maar hierdie mense wat my ondergang soek,

mag hulle wegsink in die dieptes van die aarde!

11Mag hulle aan die swaard oorgegee word

en aas vir die jakkalse word!

12Laat die koning hom in God verbly,

laat elkeen wat hom op God verlaat, Hom prys.

Die mond van die vals mens word toegestop.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS