Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 75

1 Samuel 11–15, Psalm 10

Bybelteks(te)

Saul verslaan die Ammoniete

1Nagas die Ammoniet het opgetrek en Jabes in Gilead beleër. Al die inwoners van Jabes het vir Nagas gesê: “Sluit 'n verdrag met ons, dan sal ons u onderdane wees.”

2En Nagas die Ammoniet het vir hulle gesê: “Op hierdie voorwaarde sal ek dit doen: ek steek elkeen van julle se regteroog uit tot skande van die hele Israel.”

3Toe sê die leiers van Jabes vir hom: “Gee ons sewe dae kans sodat ons boodskappers deur die hele gebied van Israel kan stuur. Indien niemand tot ons redding kom nie, sal ons ons aan u oorgee.”

4Die boodskappers het by Saul se stad Gibea gekom en ten aanhore van die volk die hele saak uiteengesit. En die hele volk het hard gehuil.

5Toe kom Saul net agter die osse van die land af en hy vra: “Wat makeer die volk dat hulle so huil?”

Hulle het hom vertel wat die manne van Jabes gesê het. 6Die Gees van God het kragtig in Saul gewerk toe hy dit hoor, en hy het woedend geword. 7Toe vat hy twee osse en kap hulle in stukke en stuur dit deur die hele gebied van Israel met boodskappers wat sê: “Hy wat nie agter Saul en Samuel optrek nie – so sal met sy beeste gemaak word.”

'n Geweldige skrik het die volk oorval en hulle het soos een man opgetrek. 8Saul het hulle in Besek getel. Daar was drie honderd afdelings Israeliete, en die manne van Juda was dertig afdelings.

9Hulle het toe vir die boodskappers wat gekom het, gesê: “So moet julle vir die manne van Jabes in Gilead sê: Môre as die son warm word, sal daar vir julle uitkoms wees.”

Die boodskappers het gegaan en dit aan die manne van Jabes vertel, en hulle was bly. 10Die manne van Jabes het egter vir Nagas gesê: “Môreoggend gee ons ons aan julle oor. Dan kan julle met ons maak net wat julle wil.”

11Na sononder het Saul die manskappe in drie afdelings opgestel. Lank voor dagbreek het hulle die kamp van die Ammoniete binnegeval en tot op die warmte van die dag het hulle die Ammoniete om die lewe gebring. Dié wat oorgebly het, is so uitmekaargejaag dat daar nie twee van hulle bymekaar gebly het nie.

12Die manskappe het toe vir Samuel gevra: “Wie het gesê: ‘Moet Saul dan oor ons koning wees?’ Lewer daardie mense uit en ons sal hulle doodmaak!”

13Maar Saul het gesê: “Op 'n dag soos dié mag niemand doodgemaak word nie, want vandag het die Here uitkoms gegee in Israel.”

14Toe sê Samuel vir die manskappe: “Kom ons gaan na Gilgal toe en bevestig daar opnuut die koningskap.”

15Al die manskappe is toe na Gilgal toe, en daar in Gilgal het hulle voor die Here aangekondig dat Saul koning is. Hulle het daar maaltydoffers voor die Here gebring, en Saul en al die manskappe van Israel was baie bly.

Samuel lewer sy afskeidsboodskap

1Samuel het vir die hele Israel gesê: “Kyk, ek het aan julle versoek toegegee; soos julle vir my gevra het, het ek 'n koning oor julle aangestel. 2Hier is die koning dan nou. Hy sal julle lei. Maar ek het oud en grys geword en my seuns is hier saam met julle. Ek het julle van my jeug af tot nou toe gelei. 3Lê dan nou getuienis teen my af in die teenwoordigheid van die Here en sy gesalfde. Van wie het ek 'n os gevat? Van wie het ek 'n donkie gevat? Wie het ek benadeel of wie het ek verdruk? Uit wie se hand het ek omkoopgeld aangeneem om 'n onreg oor te sien? Ek sal dit terugbetaal.”

4Toe antwoord hulle: “U het ons nie benadeel en ons ook nie verdruk nie. U het van niemand iets gevat nie.”

5Verder sê Samuel vir hulle: “Die Here is hier by julle getuie, en sy gesalfde is vandag ook getuie dat julle niks teen my gevind het nie.”

En hulle sê: “Hy is getuie.”

6Samuel sê toe vir die volk: “Die Here deur wie Moses en Aäron gemaak is wat hulle was, en deur wie julle voorgeslag uit Egipte gebring is, is getuie. 7Kom staan nou hier dat ek julle voor die Here kan onderrig op grond van al die reddingsdade van die Here wat Hy vir julle en julle voorgeslag gedoen het.

8“Nadat Jakob in Egipte gekom het, het julle voorvaders na die Here geroep om hulp. Die Here het toe vir Moses en Aäron gestuur, en hulle het julle voorvaders uit Egipte uit gelei en in hierdie land laat woon. 9Maar julle voorvaders het die Here hulle God vergeet. Hy het hulle oorgegee in die mag van Sisera, die leëraanvoerder van Hasor, en in die mag van die Filistyne en van die koning van Moab, wat almal teen julle voorvaders oorlog gemaak het. 10Hulle het na die Here geroep om hulp en het bely: ‘Ons het gesondig, want ons het die Here verlaat en ons het die Baäls en die Astartes gedien. Red ons tog nou uit die mag van ons vyande, en ons sal U dien.’ 11Toe het die Here vir Jerubbaäl, Barak, Jefta en Samuel gestuur en julle bevry uit die mag van julle vyande rondom julle sodat julle rustig kon woon. 12Toe julle sien dat koning Nagas van die Ammoniete teen julle optrek, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar moet 'n koning oor ons heers,’ hoewel die Here julle God tog julle koning is.

13“Hier is dan nou die koning vir wie julle verkies het, op wie julle aangedring het. Kyk, die Here het 'n koning oor julle aangestel. 14As julle eerbied aan die Here betoon, Hom dien en na sy stem luister en julle ook nie verset teen die bevel van die Here nie, julle sowel as die koning wat oor julle regeer, sal die Here julle God by julle wees. 15As julle nie na die stem van die Here luister nie en ongehoorsaam is aan die bevel van die Here, sal die Here teen julle wees, soos teen julle voorvaders.

16“Staan nog net 'n rukkie en let op hierdie groot ding wat die Here voor julle oë gaan doen. 17Hoewel dit nou nie reëntyd is nie, gaan ek die Here aanroep sodat Hy donderslae en 'n stortreën gee. Kyk daarna en besef dan dat julle in die oë van die Here 'n baie verkeerde ding gedoen het deur vir julle 'n koning te vra.”

18Samuel het die Here aangeroep, en die Here het op dieselfde dag donderslae en 'n stortreën gegee, en die hele volk het groot ontsag gekry vir die Here, en ook vir Samuel.

19Die hele volk het vir Samuel gesê: “Bid tot die Here u God vir ons sodat ons nie sterwe nie, want by al ons sondes het ons nog boonop 'n verkeerde ding gedoen deur vir ons 'n koning te vra.”

20Samuel sê toe vir die volk: “Moenie bang wees nie, julle het nou wel hierdie verkeerde dinge gedoen, maar moet nou net nie van die Here af wegdraai nie. Dien die Here met julle hele hart. 21Moenie agter afgode aan wegdraai nie. Hulle kan nie help of red nie, want hulle is niks. 22Ter wille van sy groot Naam sal die Here nie sy volk prysgee nie. Die Here het besluit om julle sy volk te maak. 23Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle aanhou onderrig in die goeie en reguit pad. 24Wees net gehoorsaam aan die Here en dien Hom opreg en met julle hele hart. Let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. 25Maar as julle opsetlik verkeerd doen, sal julle sowel as julle koning uitgewis word.”

Saul se koningskap wankel

1Saul het al 'n jaar of twee as koning oor Israel geregeer, 2toe kies hy vir hom drie afdelings uit Israel uit. Twee afdelings was by hom in Mikmas en in die bergwêreld van Bet-El. Een afdeling was by Jonatan in Gibea in Benjamin. Saul het die res van die manskappe huis toe gestuur.

3Toe Jonatan die Filistynse wagpos wat in Gibea was, oorrompel het, het die Filistyne daarvan gehoor. Saul het oor die hele land die ramshoring laat blaas om die Hebreërs op te roep.

4Die hele Israel het gehoor dat Saul die wagpos van die Filistyne oorrompel het en dat Israel in onguns gebring was by die Filistyne. Die manskappe is bymekaargeroep by Saul in Gilgal.

5Die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: dertig afdelings strydwaens en ses afdelings perderuiters en manskappe so baie soos die sand van die see. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan by Mikmas oos van Bet-Awen. 6Israel het gemerk dat hy in die moeilikheid is, want die volk was in 'n hoek vasgekeer. Die volk het in spelonke, grotte, hol kranse, gate en droë putte gaan wegkruip. 7En sommige Hebreërs het deur die Jordaan gegaan na Gad en na Gilead toe. Saul was egter nog in Gilgal en al die manskappe by hom was doodbang. 8Hy het sewe dae gewag, die tyd soos afgespreek met Samuel, maar Samuel het nie by Gilgal opgedaag nie.

Toe die manskappe wat by Saul was, begin dros het, 9het hy gesê: “Bring die brandoffer en die maaltydoffers na my toe.” Hy het toe self die brandoffer geoffer.

10En toe gebeur dit! Net toe hy die brandoffer klaar verbrand het, kom Samuel daar aan. Saul het na hom toe uitgegaan om hom te groet.

11Samuel vra hom toe: “Wat het jy aangevang?”

En Saul het gesê: “Ek het gesien die manskappe loop van my af weg, en u het nie opgedaag op die tyd wat ons afgespreek het nie. Die Filistyne het bymekaargekom by Mikmas, 12en toe dink ek: die Filistyne sal nou-nou teen my afkom na Gilgal toe en ek het nog nie aan die Here 'n offer gebring nie. Toe het ek dit gewaag om self die brandoffer te bring.”

13Maar Samuel sê vir Saul: “Jy het dwaas gehandel. As jy maar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het, nagekom het! Waarlik, dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. 14Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom 'n man na sy hart soek. Die Here sal hóm aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie.”

15Samuel het daarna opgestaan en van Gilgal af na Gibea in Benjamin toe vertrek. Saul het toe die manskappe wat nog by hom was, getel: omtrent ses honderd man.

16En terwyl Saul en sy seun Jonatan en die manskappe by hulle in Gibea in Benjamin was, was die Filistynse kamp nog steeds by Mikmas. 17Daar het toe 'n roofbende in drie afdelings uit die kamp van die Filistyne uitgegaan. Die een afdeling het in die rigting van Ofra na die Sualstreek toe gedraai. 18Die tweede het in die rigting van Bet-Goron gedraai, en nog 'n afdeling het gedraai in die rigting van die gebied wat afkyk op die Seboïmdal na die woestyn se kant toe.

19Daar was geen smid in die hele Israel nie, want die Filistyne het gesê die Hebreërs sal swaarde of spiese maak. 20Daarom moes elke Israeliet na die Filistyne toe gaan om sy ploegskaar of skoffelpik of byl of ander gereedskap te laat slyp. 21Dit was die geval met die skerpmaak van ploegskare, skoffelpikke, drietandvurke en byle en ook met die regmaak van osprikkels. 22So het dit dan gebeur dat in die oorlogstyd nie een van die manskappe by Saul en Jonatan 'n swaard of 'n spies gehad het nie; net Saul en sy seun Jonatan het wapens gehad.

Jonatan verras die Filistyne

23In daardie tyd het 'n patrollie van die Filistyne die pas by Mikmas beset.

1Op 'n dag sê Jonatan seun van Saul toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan oor na die patrollie van die Filistyne toe daar oorkant.”

Hy het dit egter nie vir sy pa vertel nie.

2Saul was toe onder 'n granaatboom by die dorsvloer net buite Gibea met omtrent ses honderd man by hom. 3Die priester Agija seun van Agitub, broer van Ikabod seun van Pinehas, seun van Eli wat priester van die Here in Silo was, het die skouerkleed gedra.

Maar die manskappe het nie geweet dat Jonatan weggegaan het nie.

4Weerskante van die pas waar Jonatan probeer deurgaan het na die patrollie van die Filistyne toe, was daar 'n spits rots. Die naam van die een rots was Boses en dié van die ander Senne. 5Die een spits het soos 'n pilaar aan die noordekant teenoor Mikmas gestaan, en die ander aan die suidekant teenoor Gibea.

6Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan oor na die patrollie van hierdie heidene toe. Miskien sal die Here ons help. Hy kan red, deur baie of deur min.”

7En sy wapendraer sê vir hom: “Net soos u wil. Ek is tot u diens.”

8Jonatan sê toe vir hom: “Nou toe, kom ons gaan in hulle rigting sodat hulle ons kan sien. 9As hulle vir ons sê: ‘Staan stil totdat ons by julle kom,’ bly ons hier onder staan. Ons gaan dan nie op na hulle toe nie. 10Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ gaan ons na hulle toe, want dan sal dit vir ons die teken wees dat die Here hulle in ons mag gee.”

11Toe die Filistynse patrollie die twee sien, het die Filistyne gesê: “Kyk daar! Party Hebreërs het uitgekom uit die gate waarin hulle weggekruip het.” 12En die manne van die patrollie het vir Jonatan en sy wapendraer uitgedaag: “Kom op na ons toe dat ons julle 'n les kan leer.”

Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Klim agter my aan! Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee.”

13Jonatan het hande-viervoet opgeklouter met sy wapendraer op sy hakke.

Die vyand het voor Jonatan geval, en agter hom het sy wapendraer hulle doodgemaak. 14In hierdie eerste slagting deur Jonatan en sy wapendraer het omtrent twintig man geval, en dit op 'n klein stukkie grond. 15Toe het die hele leër van die vyand paniekbevange geword, in die laer en in die veld; die patrollie en die roofbende het ook paniekbevange geword: daar was 'n aardbewing en God het hulle paniekbevange gemaak.

16Toe die wagte van Saul by Gibea in Benjamin sien dat die menigte in beroering is en in die rondte maal, 17het Saul vir die manskappe by hom gesê: “Stel dadelik vas wie van ons is weg.”

Hulle het vasgestel Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie. 18Saul sê toe vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was in dié tyd by die Israeliete. 19Terwyl Saul nog met die priester aan die praat was, het die rumoer in die laer van die Filistyne steeds groter geword. Toe sê Saul vir die priester: “Laat staan maar!”

20Saul en die manskappe by hom het bymekaargekom en toe hulle by die geveg kom, was die Filistyne besig om onder mekaar te veg. Daar was baie groot verwarring. 21Boonop het die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne se leër opgetrek het, oorgeloop na die Israeliete toe wat by Saul en Jonatan was. 22Al die Israeliete wat in die Efraimsberge weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug en het hulle agterna gesit. 23Die Here het Israel daardie dag gered. Hulle het veg-veg by Bet-Awen verbygegaan. 24Elke Israeliet het daardie dag kom veg.

Saul het die manskappe 'n eed opgelê en gesê: “'n Ramp tref dié een wat voor vanaand iets eet. Ek wil my op my vyande wreek.”

Nie een van die manskappe het aan iets geproe nie. 25Die gebied was bosagtig en daar was veldheuning. 26Toe die manskappe in die bos kom, het dit sommerso gedrup van die heuning en tog het niemand sy mond aan iets gesit nie, want die manskappe was bang vir die eed wat hulle opgelê is. 27Jonatan het egter nie gehoor toe sy pa die leër die eed opgelê het nie. Hy het die punt van sy kierie in 'n heuningkoek gesteek en daarvan geëet. Dit het hom nuwe krag gegee.

28Een van die manskappe sê toe vir hom: “Jou pa het die manskappe 'n streng eed opgelê en gesê: ‘'n Ramp tref dié een wat vandag iets eet.’ Daarom is die manskappe nou uitgeput.”

29Maar Jonatan sê: “My pa het 'n ramp oor die land gebring. Kyk net, ek het nuwe krag gekry omdat ek hierdie bietjie heuning geproe het. 30As die manskappe vandag maar net ongehinderd kon geëet het van die buit wat van die vyand afgevat is, sou die slagting onder die Filistyne nou sommer baie groot gewees het.”

31Daardie dag het hulle die Filistyne verslaan van Mikmas af tot by Ajalon, maar toe was die manskappe heeltemal gedaan. 32Hulle het op die buit toegesak en kleinvee, beeste en kalwers gevat en op die grond geslag en sommerso by die bloed geëet.

33Daar is toe aan Saul gesê: “Die manskappe sondig teen die Here deur by die bloed te eet.”

Toe sê hy: “Julle doen verkeerd. Rol dadelik 'n groot klip na my toe!”

34Verder het Saul gesê: “Loop tussen die manskappe deur en sê vir hulle: Elkeen moet sy bees of stuk kleinvee na my toe bring en op die klip slag en dan gaan eet, sodat hulle nie teen die Here sondig deur by die bloed te eet nie.”

Daardie nag het al die manskappe elkeen self sy bees gebring en daar by Saul geslag. 35Saul het 'n altaar vir die Here gebou: hy het die klip gebruik om 'n altaar vir die Here te bou.

36Daarna het Saul gesê: “Laat ons die Filistyne vannag agtervolg. Laat ons hulle plunder tot môre ligdag. Ons moenie een van hulle laat oorbly nie.”

Die manskappe sê toe: “Maak soos u goedvind.”

Maar die priester antwoord: “Laat ons God hier raadpleeg!”

37Toe het Saul vir God gevra: “Moet ek die Filistyne agtervolg? Sal U hulle in Israel se mag oorgee?”

Maar God het hom nie toe geantwoord nie.

38Saul sê toe vir al die offisiere: “Kom hiernatoe dat julle kan uitvind en self sien wie vandag gesondig het. 39Al is dit ook my seun Jonatan moet hy sekerlik sterwe, so seker as wat die Here leef, Hy wat vir Israel red.”

Maar geen enkele manskap het vir Saul geantwoord nie. 40Toe sê hy vir die hele Israel: “Julle moet eenkant toe staan. Ek en my seun Jonatan sal anderkant toe staan.”

En die manskappe sê vir Saul: “Maak soos u goedvind.”

41Saul het vir die Here gevra: “God van Israel, gee tog 'n beslissing.”

Jonatan en Saul is aangewys, en die manskappe is van blaam onthef.

42Toe sê Saul: “Julle moet loot tussen my en my seun Jonatan.”

Jonatan is aangewys, 43en Saul het vir hom gesê: “Vertel my tog wat jy gedoen het.”

Jonatan het vir hom vertel. Hy het gesê: “Ek het net met die punt van my kierie 'n bietjie heuning geproe. Maar ek is bereid om te sterf.”

44Saul sê toe: “Dit was 'n eed, Jonatan, jy moet beslis sterf!”

45Maar die manskappe sê vir Saul: “Moet Jonatan wat hierdie groot uitkoms vir Israel bewerk het, sterf? Beslis nie! So seker as die Here leef, daar sal vandag geen haar van Jonatan se kop op die grond val nie, want met God se hulp het hy die Filistyne verslaan.”

So het die manskappe vir Jonatan los gekry, en hy het nie gesterf nie.

46Saul het die agtervolging van die Filistyne gestaak, en die Filistyne het na hulle gebied toe teruggegaan.

Opsomming van Saul se regering

47Nadat Saul seker was van die koningskap oor Israel, het hy oorlog gemaak teen al sy vyande in die omgewing: teen Moab en die Ammoniete; teen Edom en die konings van Soba; teen die Filistyne en teen almal wat teen hom gedraai het en gerebelleer het. 48Saul het dapper opgetree en die Amalekiete verslaan. Sodoende het hy Israel gered uit die mag van dié wat hom geplunder het.

49Die seuns van Saul was Jonatan, Jiswi en Malkisua; die name van sy twee dogters was Merab, die oudste, en Mikal, die jongste. 50Die naam van Saul se vrou was Aginoam dogter van Agimaäs, en die hoof van Saul se leër was Abner seun van Ner, 'n oom van Saul. 51Kis, Saul se pa, en Ner, Abner se pa, was seuns van Abiël. 52Gedurende die hele bewind van Saul was daar gedurig oorlog teen die Filistyne, en Saul het elke sterk of dapper man van wie hy gehoor het, by hom laat aansluit.

Saul as koning verwerp

1Samuel het vir Saul gesê: “Dit is vir my wat die Here gestuur het om jou tot koning oor sy volk Israel te salf. Luister nou na die woorde van die Here. 2So het die Here die Almagtige gesê: Ek het nie vergeet wat Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het. 3Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie.”

4Saul het die manskappe opgeroep. Hy het hulle by Telaim getel: twee honderd afdelings voetsoldate en tien afdelings uit Juda. 5Saul het by die woonplek van die Amalekiete aangekom en sy manskappe laat stelling inneem by 'n spruit.

6Toe het Saul die Keniete laat weet: “Gee gou pad tussen die Amalekiete uit sodat ek julle nie saam met hulle uit die weg ruim nie, want julle het die Israeliete goed behandel toe hulle uit Egipte getrek het.”

Die Keniete het toe tussen die Amalekiete uit padgegee. 7Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot waar 'n mens kom by Sur teenoor Egipte. 8Hy het koning Agag van Amalek lewend gevang, maar die hele volk om die lewe gebring. 9Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was. Saul-hulle wou dit alles nie om die lewe bring nie. Al die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant gemaak.

10Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: 11“Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.”

Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek.

12Die oggend het Samuel hom vroeg klaargemaak om Saul te ontmoet. Iemand het vir Samuel vertel: “Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself 'n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe.”

13Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.”

14Samuel vra toe: “Wat vir 'n geblêr van kleinvee is daar dan in my ore? En wat van die gebulk van beeste wat ek hoor?”

15“Hulle het dit van die Amalekiete af gebring,” antwoord Saul. “Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak.”

16En Samuel sê vir Saul: “Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vannag vir my gesê het.”

Saul sê toe vir hom: “Praat maar.”

17Toe sê Samuel: “Al is jy klein in jou eie oë, is jy tog die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf tot koning oor Israel. 18Die Here het jou met 'n doel uitgestuur en Hy het jou beveel: ‘Trek op, bring die sondaars, die Amalekiete, om die lewe. Jy moet teen hulle veg totdat jy hulle uitgeroei het.’ 19Waarom het jy nie na die bevel van die Here geluister nie? En waarom het jy jou aan die buit vergryp en hierdie ding gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?”

20Saul antwoord toe vir Samuel: “Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring. 21Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer.”

22Maar Samuel antwoord:

“Is brandoffers en ander diereoffers

net so aanneemlik vir die Here

as gehoorsaamheid aan sy bevel?

Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande,

om te luister is beter as die vet van ramme.

23Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery;

eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.

Omdat jy die woord van die Here verwerp het,

het Hy jou as koning verwerp.”

24Saul sê toe vir Samuel: “Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het.

25“Vergewe tog nou my sonde en kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid.”

26Maar Samuel sê vir Saul: “Ek sal nie saam met jou gaan nie, want jy het die woord van die Here verwerp en die Here het jou verwerp as koning oor Israel.”

27Samuel het weggedraai om te loop, maar Saul het die punt van sy mantel gegryp, en dit het geskeur.

28Toe sê Samuel vir hom: “Die Here het die koningskap van Israel nou van jou afgeskeur en dit gegee aan jou naaste wat beter is as jy. 29Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.”

30“Ek het gesondig,” sê Saul toe. “Eer my tog net voor die leiers van die volk en voor Israel deur saam met my te kom sodat ek die Here u God kan aanbid.”

31Samuel het met Saul saamgegaan, en Saul het die Here aanbid.

32Toe beveel Samuel: “Bring vir koning Agag van Amalek na my toe.”

Agag het opgeruimd na hom toe geloop en gesê: “Nou is ek nie meer bang dat hulle my sal doodmaak nie.”

33Samuel het vir hom gesê: “Soos jou swaard vrouens kinderloos gemaak het, so sal jou ma onder die vrouens kinderloos wees.”

En Samuel het vir Agag in stukke gekap voor die Here in Gilgal. 34Samuel het na Rama toe gegaan, terwyl Saul na sy huis toe in Gibea gegaan het. 35Tot die dag van sy dood het Samuel nie weer vir Saul gesien nie. Samuel het oor Saul getreur, en die Here was bedroef daaroor dat Hy vir Saul koning oor Israel gemaak het.

Die vromes roep om hulp teen hoogmoedige vyande

1Waarom staan U so ver weg, Here?

Waarom trek U U terug in tye van nood?

2Die goddeloses is vol van hulleself, hulle vervolg 'n hulpelose man.

Laat hulle gevang word deur die sluwe planne

wat hulle self uitgedink het.

3Die goddelose verlustig hom nou al

in wat hy hoop om in die hande te kry.

Die een wat hom wil verryk ten koste van 'n ander,

wens homself by voorbaat geluk.

Hy verag die Here.

4Neus in die lug sê hy:

“God vra tog geen rekenskap nie!”

In al sy planne is daar geen plek vir God nie.

5Dit gaan mos altyd goed met wat hy aanpak.

U oordele is vir hom te ver weg, buite sy gesigsveld.

Hy snork met veragting oor al sy vyande.

6Hy dink: ek sal nie wankel nie

en die ongeluk sal my nooit tref nie.

7Hy lê 'n vloek op almal,

hy onderdruk en bedrieg,

hy bedink onheil en onreg.

8Hy lê onskuldiges voor agter die heinings

en vermoor hulle in die geheim.

Hy loer rond in die donker.

9Hy lê op die loer in 'n wegkruipplek soos 'n leeu agter 'n bos,

hy lê op die loer om die hulpelose te vang.

Hy vang hom en trek hom vas in sy net,

10hy slaan hom dat hy inmekaar sak.

So kry hy die arme mens in die hande.

11Hy sê vir homself:

“God steur Hom nie daaraan nie,

Hy kyk weg,

Hy sal dit nooit raaksien nie.”

12Kom tog, Here! Toon u mag, o God!

Moet die hulpeloses tog nie vergeet nie.

13Hoe durf die goddeloses God verag

en reken Hy sal hulle nie uitvind nie?

14En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet.

U let daarop en maak daar 'n einde aan.

Op U verlaat die ongelukkige hom,

ook vir die weeskind is U 'n helper.

15Verbreek tog die magsgreep van die goddelose en van die misdadiger,

straf sy misdade!

Moenie een enkele van sy misdade verskoon nie.

16Die Here bly altyd koning,

die vyande is uit sy land verdryf.

17U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here.

U gee hulle nuwe moed.

U verhoor hulle gebed.

18U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood,

sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS