Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 74

1 Samuel 6–10, Psalm 150

Bybelteks(te)

Die ark word teruggestuur

1Toe die ark van die Here sewe maande in Filistynse gebied was, 2het die Filistyne hulle priesters en waarsêers ontbied en gevra: “Wat moet ons met die ark van die Here doen? Sê vir ons hoe ons dit na sy eie plek toe kan terugstuur.”

3En hulle het geantwoord: “As julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit nie sommerso terugstuur nie. Julle moet dit teruggee met 'n behoorlike geskenk daarby. Dan sal julle gesond word en weet waarom sy hand so swaar op julle gebly het.”

4Die Filistyne vra hulle toe: “Watter geskenk moet ons daarmee saamstuur?” en hulle antwoord: “Goue afbeeldings van vyf pesswere en van vyf muise, volgens die getal Filistynse regeerders, want die plaag was een en dieselfde vir almal, ook vir die regeerders. 5Maak afbeeldings van julle swere en van die muise wat die land verniel het, en gee eer aan die God van Israel; miskien sal sy hand dan nie langer swaar op julle lê nie, ook nie op julle gode en op julle land nie. 6Waarom sou julle hardkoppig bly soos die Egiptenaars en die farao hardkoppig was? Toe God hulle laat swaarkry het, het hulle uiteindelik die Israeliete laat gaan dat hulle kon wegtrek.

7“Maak dan nou 'n nuwe wa en vat twee koeie wat in die melk is en nog nie ingespan was nie. Span hulle in voor die wa en keer hulle kalwers af kraal toe. 8Vat dan die ark van die Here en sit dit op die wa. Die goue voorwerpe wat julle as geskenk aan die Here gee, moet julle langs die ark in 'n kissie neersit. Los dan die wa dat hy loop. 9En let op: as dit met die pad langs na sy gebied toe in Bet-Semes gaan, dan het die Here ons hierdie groot kwaad aangedoen. So nie, dan weet ons dat dit nie Hy was nie; dan was dit maar iets wat toevallig gebeur het.”

10Die Filistyne het dit toe gedoen. Hulle het die twee koeie gevat en voor die wa ingespan en hulle kalwers in die kraal gehou, 11en die ark van die Here op die wa gesit, ook die kissie met die goue muise en die afbeeldings van die swere. 12Die koeie het reguit met die pad langs na Bet-Semes toe geloop, bulk-bulk al met die grootpad langs. Hulle het nie links of regs weggedraai nie, terwyl die Filistynse regeerders agter hulle aan geloop het tot by die gebied van Bet-Semes.

13Die mense van Bet-Semes was besig om koring te oes in die laagte, en toe hulle opkyk, sien hulle die ark. Hulle was bly om dit te sien. 14Die wa het tot by die grond van Josua van Bet-Semes gekom en daar gaan staan. Dáár was 'n groot klip. Hulle het die hout van die wa stukkend gekap en die koeie as brandoffer aan die Here geoffer. 15Die Leviete het die ark van die Here en die kissie daar langsaan waarin die goue voorwerpe was, afgelaai en op die groot klip neergesit. Op daardie dag het die mense van Bet-Semes aan die Here brandoffers en ander diereoffers geoffer. 16Toe die vyf Filistynse regeerders dit sien, het hulle dieselfde dag nog teruggegaan na Ekron toe.

17Die geskenk wat die Filistyne aan die Here gegee het, die goue afbeeldings van die swere, was een vir Asdod, een vir Gasa, een vir Askelon, een vir Gat en een vir Ekron. 18Die goue afbeeldings van die muise was vir die versterkte en onversterkte stede van die vyf Filistynse regeerders. Die groot klip waarop hulle die ark van die Here neergesit het, staan tot vandag toe as getuienis op die grond van Josua van Bet-Semes.

19Maar die Here het die inwoners van Bet-Semes getref omdat hulle die ark bekyk het. Hy het sewentig man onder hulle laat sterf. Toe het hulle gerou omdat die Here hulle so swaar getref het.

20Daarna het die mense van Bet-Semes gevra: “Wie kan bestaan in die teenwoordigheid van die Here, hierdie heilige God? Na wie toe kan Hy gaan van ons af?”

21Hulle het boodskappers gestuur na die inwoners van Kirjat-Jearim toe om te sê: “Die Filistyne het die ark van die Here teruggebring. Kom vat dit na julle toe.”

1Die mense van Kirjat-Jearim het toe gekom. Hulle het die ark van die Here gaan haal en dit na die huis van Abinadab op die heuwel gebring. Hulle het sy seun Eleasar gewy om die ark van die Here op te pas.

Die verlossing by Mispa

2Vandat die ark in Kirjat-Jearim 'n staanplek gekry het, het daar 'n lang tyd verloop, twintig jaar. Toe het al die Israeliete by die Here gekla oor hulle verdrukking, 3en Samuel het vir hulle gesê: “As julle met julle hele hart na die Here terugkom, moet julle alle vreemde gode tussen julle uit verwyder, ook die Astartes. Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red uit die mag van die Filistyne.”

4Die Israeliete het toe die Baäls en die Astartes verwyder en net die Here gedien.

5Toe sê Samuel: “Die hele Israel moet by Mispa bymekaarkom, dan sal ek vir julle tot die Here bid.”

6Hulle het by Mispa bymekaargekom, water geskep en dit voor die Here uitgegiet. Op daardie dag het hulle gevas en daar het hulle bely: “Ons het teen die Here gesondig.”

Samuel het die Israeliete in Mispa onderrig oor wat reg en verkeerd is.

7Die Filistyne het verneem dat die Israeliete by Mispa bymekaargekom het, en die Filistynse regeerders het teen hulle opgetrek. Toe die Israeliete dit hoor, was hulle bang vir die Filistyne.

8Die Israeliete sê toe vir Samuel: “Moenie ophou om die Here ons God vir ons om hulp te smeek nie, sodat Hy ons uit die mag van die Filistyne kan red.”

9Samuel het 'n suiplam gevat en dit in sy geheel aan die Here as brandoffer geoffer. Hy het ook die Here om hulp gesmeek vir Israel, en die Here het sy gebed verhoor. 10Samuel was nog besig om te offer, toe kom die Filistyne nader om teen Israel te veg. Op daardie dag het die Here 'n groot donderweer oor die Filistyne laat losbars. Die Here het hulle verwar, en hulle is deur die Israeliete verslaan. 11Die Israeliete het van Mispa af die Filistyne agtervolg en hulle verdryf tot onderkant Bet-Kar. 12Samuel het toe 'n klip gevat en dit regop gesit tussen Mispa en Sen. Hy het die plek Eben-Haeser genoem, “want,” het hy gesê, “tot nou toe het die Here ons gehelp.”

Opsomming van Samuel se werk

13Die Filistyne is verslaan en het nie weer in die gebied van Israel gekom nie. Die Here was teen die Filistyne so lank as Samuel geleef het. 14Die stede wat die Filistyne van Israel afgevat het, is deur Israel herower, van Ekron af tot by Gat. Israel het sy gebied uit die mag van die Filistyne bevry.

Verder was daar vrede tussen Israel en die Amoriete.

15Samuel was sy lewe lank 'n leier in Israel. 16Hy het van tyd tot tyd rondgegaan, by Bet-El, Gilgal en Mispa. By al hierdie plekke het hy Israel se hofsake verhoor. 17Daarna het hy weer na Rama toe teruggegaan waar sy huis was, en ook dáár het hy Israel se hofsake verhoor. Daar het hy ook 'n altaar vir die Here gebou.

Die Israeliete vra 'n koning

1Toe Samuel oud geword het, het hy sy seuns as leiers oor Israel aangestel. 2Die oudste se naam was Joël en dié van die tweede Abia. Hulle was leiers in Berseba. 3Maar Samuel se seuns was nie soos hy nie: hulle het hulle verryk ten koste van ander, het omkoopgeskenke aangeneem en die regspraak verdraai.

4Al die leiers van Israel het bymekaargekom en na Samuel toe in Rama gegaan. 5Hulle het vir hom gesê: “Kyk, u het oud geword. U kinders is nie soos u nie. Stel nou liewer 'n koning oor ons aan om oor ons te regeer, soos dit by al die nasies is.”

6Maar vir Samuel was dit verkeerd dat hulle gesê het: “Gee ons tog 'n koning om oor ons te regeer.”

Samuel het tot die Here gebid, 7en die Here het vir hom gesê: “Gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle. 8Hulle het nou ook met jou gemaak wat hulle met My gedoen het sedert Ek hulle uit Egipte laat trek het tot nou toe: hulle het My verlaat en ander gode gedien. 9Gee nou maar toe aan hulle versoek. Stel die saak net baie duidelik aan hulle: sê vir hulle wat die reg van die koning is wat oor hulle sal regeer.”

10Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom 'n koning gevra het.

11Hy het gesê: “Dit sal die reg wees van die koning wat oor julle sal regeer: julle seuns sal hy vat en party by sy wa en perderuiters aanstel, party om voor sy wa uit te hardloop, 12party sal hy aanstel as bevelvoerders oor afdelings en onderafdelings van die leër, party om sy lande te ploeg en sy oes in te samel, en party om sy krygstuig en uitrusting vir sy strydwaens te maak; 13julle dogters sal hy vat om vir hom salf te meng, om vir hom te kook en te bak; 14julle beste lande, wingerde en olyfboorde sal hy vat en aan sy amptenare gee; 15van julle saaigrond en wingerde se opbrengs sal hy 'n tiende vat en aan sy paleispersoneel en sy amptenare gee; 16julle beste slawe, slavinne en jong manne, en julle donkies sal hy vat en vir sy werk gebruik; 17van julle kleinvee sal hy 'n tiende vat, en julle self sal sy slawe wees.

18“Daardie dag sal julle om hulp roep vanweë julle koning vir wie julle verkies het, maar dan sal die Here julle nie antwoord nie.”

19Maar die volk het geweier om na Samuel te luister. Hulle het vir hom gesê: “Nee, daar moet tog maar 'n koning oor ons wees. 20Ons wil ook soos al die nasies wees. Ons koning moet oor ons regeer; hy moet ons lei en ons oorloë voer.”

21Samuel het na die woorde van die volk geluister en dit vir die Here vertel.

22Toe sê die Here vir Samuel: “Gee toe aan hulle versoek. Stel 'n koning oor hulle aan.”

Samuel het vir die manne van Israel gesê: “Gaan julle nou almal huis toe.”

Saul word tot koning gesalf

1Daar was 'n man uit Benjamin. Sy naam was Kis, en hy was 'n seun van Abiël seun van Seror, seun van Bekorat, seun van Afiag. Hy was 'n Benjaminiet en 'n ryk man. 2Hy het 'n seun gehad met die naam Saul en dié was sterk en mooi; onder die Israeliete was daar niemand mooier as hy nie. Hy was 'n kop langer as enige van sy volksgenote.

3Toe daar op 'n keer donkies van Kis, Saul se pa, weggeraak het, het hy vir sy seun Saul gesê: “Vat een van die slawe saam, maak klaar en gaan soek die donkies.”

4Hulle het die Efraimsberge deurkruis; hulle het die Salisastreek ook deurkruis, maar niks gekry nie. Hulle het die Saälimgebied deurkruis, maar daar was niks. Hulle het toe die Jeministreek deurkruis en ook niks gekry nie. 5Toe hulle in die Sufgebied kom, het Saul vir die slaaf by hom gesê: “Kom ons gaan terug, anders vergeet my pa van die donkies en raak bekommerd oor ons.”

6Die slaaf sê toe vir Saul: “Nee, wag! In hierdie stad is 'n man van God. Dié man geniet hoë aansien. Alles wat hy sê, gebeur net so. Kom ons gaan soontoe. Dalk kan hy vir ons sê waar om te soek.”

7Saul sê toe vir sy slaaf: “Nou goed, kom ons gaan, maar wat sal ons vir die man saamvat? Die brood in ons sakke is al op. Ons het ook nie 'n geskenk om vir die man van God te gee nie. Wat het ons?”

8Die slaaf het vir Saul geantwoord: “Wag! Ek het 'n drie gram silwer by my. Ek sal dit aan die man van God gee sodat hy vir ons kan sê waar om te soek.”

9Vroeër, wanneer iemand gegaan het om God te raadpleeg, is daar in Israel gesê: “Kom ons gaan na die siener toe.” Die profeet van vandag is vroeër siener genoem.

10Saul het vir sy slaaf gesê: “Dis 'n goeie plan. Kom ons gaan.”

Hulle het na die stad toe gegaan waar die man van God was. 11Terwyl hulle die opdraand na die stad toe opgaan, het hulle meisies teëgekom wat gaan water skep het, en vir hulle gevra: “Is die siener hier?”

12Hulle het geantwoord: “Hy is daar in die stad voor u. Maak gou! Hy het vandag na hierdie stad toe gekom, want die volk bring vandag 'n offer op die hoogte. 13Wanneer julle die stad binnegaan, sal julle hom kry net voor hy na die hoogte toe opgaan om te eet. Die mense eet nie voor hy gekom het nie, want hy moet die offer seën. Daarna eet die genooides. Gaan dadelik, want julle sal hom nou daar kry.”

14Hulle is na die stad toe en toe hulle die stad ingaan, kom Samuel juis in hulle rigting om na die hoogte toe op te gaan.

15'n Dag voor die koms van Saul het die Here vertroulik aan Samuel geopenbaar: 16“Môre teen hierdie tyd sal Ek 'n man uit die gebied van Benjamin na jou toe stuur. Jy moet hom tot regeerder oor my volk Israel salf. Hy sal my volk red uit die mag van die Filistyne, want Ek het op my volk ag geslaan. Ja, hulle hulpgeroep het My bereik.”

17Net toe Samuel vir Saul sien, het die Here vir hom gesê: “Dit is die man van wie Ek jou gesê het hy sal oor my volk regeer.”

18Saul het vir Samuel in die poort teëgekom en vir hom gesê: “Sê my asseblief waar is die huis van die siener.”

19Samuel sê toe vir Saul: “Ek is die siener. Gaan saam met my na die hoogte toe. Julle moet vandag saam met my gaan eet. Môreoggend sal ek jou laat gaan. Oor alles wat jou kwel, sal ek jou inlig. 20Jou donkies is vandag al drie dae weg. Jy moet jou egter nie oor hulle bekommer nie, want hulle is gekry. Maar aan wie behoort die kosbaarste goed in die hele Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie?”

21En Saul antwoord: “Ek is maar net 'n Benjaminiet, uit die swakste stam van Israel. Boonop is my familie die kleinste in die stam Benjamin! Waarom praat u so met my?”

22Samuel het Saul en sy slaaf saamgevat en hulle na die eetplek toe gebring. Hy het hulle 'n ereplek onder die genooides gegee. Daar was omtrent dertig man.

23Samuel het vir die kok gesê: “Bring die deel wat ek aan jou gegee het en waarvan ek gesê het: Sit dit eenkant.”

24Die kok het die boud vleis gevat en voor Saul neergesit, en Samuel het vir hom gesê: “Dit is wat uitgehou is. Eet wat voor jou neergesit is, want vir hierdie geleentheid is dit vir jou gebêre toe ek die mense genooi het.”

So het Saul dan daardie dag saam met Samuel geëet.

25Daarna het hulle van die hoogte af na die stad toe gegaan. En Samuel het met Saul op die huis se dak gepraat. 26Die volgende môre het hulle vroeg opgestaan. Toe die rooidag uitkom, het Samuel al na Saul op die dak geroep: “Staan op! Ek wil 'n ent met jou saam stap.”

Saul het toe opgestaan, en hy en Samuel het buitetoe gegaan.

27Hulle het gegaan tot by die stadsgrens en Samuel het vir Saul gesê: “Beveel die slaaf om vooruit te loop; maar wag jy eers sodat ek vir jou kan vertel wat God gesê het.”

1Nadat die slaaf vooruitgeloop het, het Samuel 'n kruik olie gevat en dit oor Saul se kop uitgegiet, hom gesoen en gesê: “Die Here het jou tot regeerder oor sy besitting gesalf. 2Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy by Selsag, by die graf van Ragel op die grens van Benjamin, twee mans teëkom en hulle sal vir jou sê: ‘Die donkies wat jy gaan soek het, is gekry. Maar kyk, jou pa het die saak van die donkies al laat vaar. Hy is bekommerd oor julle en vra: Wat kan ek omtrent my seun doen?’

3“En wanneer jy daarvandaan verder gaan, sal jy by Elon-Tabor kom. Daar sal jy drie mans teëkom wat na God in Bet-El opgaan. Die een sal drie bokkies dra, die ander een drie ringbrode en die derde 'n kruik wyn. 4Hulle sal vra hoe dit met jou gaan. Dan sal hulle jou twee brode gee, en jy moet dit van hulle aanneem. 5Daarna sal jy uitkom by Gibea-van-God waar wagposte van die Filistyne is. Wanneer jy die stad binnekom, sal jy op 'n groep profete afkom. Hulle sal van die hoogte af gaan onder begeleiding van harpe, tamboeryne, fluite en liere, en hulle sal as profete optree.

6“Dan sal die Gees van die Here kragtig in jou werk. Jy sal saam met hulle as profeet optree en 'n ander mens word. 7Wanneer hierdie tekens oor jou kom, moet jy doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou. 8Daarna moet jy voor my na Gilgal toe gaan en ek sal later kom om brandoffers te offer en maaltydoffers te bring. Jy moet sewe dae wag tot ek by jou kom. Dan sal ek jou sê wat jy moet doen.”

9Net toe hy omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God Saul se gesindheid verander. Al hierdie tekens het op dié dag uitgekom. 10Hulle het daar in Gibea gekom, en toe hy weer sien, kom 'n groep profete hom tegemoet. Die Gees van God het kragtig in hom gewerk, en hy het saam met hulle as profeet opgetree. 11Almal wat hom voorheen geken het en nou gesien het hoe hy saam met die profete as profeet optree, het vir mekaar gevra: “Wat het met Kis se seun gebeur? Is Saul ook onder die profete?”

12En iemand uit die omgewing het bygevoeg: “En waarvandaan kom hulle nogal?”

Daarom het dit 'n spreekwoord geword: Is Saul ook onder die profete?

13Toe hy klaar as profeet opgetree het, het hy na die hoogte toe gegaan. 14Saul se oom het vir hom en sy slaaf gevra: “Waarheen was julle?”

Saul het geantwoord: “Ons het die donkies gaan soek, maar ons het niks gesien nie en het toe na Samuel toe gegaan.”

15Saul se oom sê toe: “Vertel my tog wat Samuel vir julle gesê het.”

16“Hy het ons verseker dat die donkies gekry is,” het Saul vir sy oom gesê.

Maar oor die saak van die koningskap wat Samuel genoem het, het Saul niks gesê nie.

Saul word in Mispa as koning aangewys

17Daarna het Samuel die volk by Mispa na die Here toe geroep. 18Hy het vir die Israeliete gesê: “So het die Here die God van Israel gesê: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat vir julle verdruk het. 19Maar deurdat julle sê: ‘Nee, U móét 'n koning oor ons aanstel,’ verwerp julle vandag julle God wat vir julle uit alle gevare en verdrukking verlos het. Kom staan dan nou voor die Here volgens julle stamme en julle onderafdelings.”

20Samuel het al die stamme van Israel laat nader kom, en die stam Benjamin is aangewys. 21Samuel het die stam Benjamin volgens sy families laat nader kom, en die familie van Matar is aangewys. Vervolgens is Saul seun van Kis aangewys, maar toe hulle hom soek, was hy weg.

22Hulle het die Here gevra: “Moet hy nog kom?”

Die Here het geantwoord: “Nee, hy is al hier. Hy kruip weg tussen die bondels goed.”

23Hulle het gehardloop en hom daarvandaan gebring en hom tussen die volk laat staan. Hy was 'n kop langer as enige van sy volksgenote.

24Samuel sê toe vir die hele volk: “Sien julle die een vir wie die Here uitgekies het? Daar is niemand soos hy onder die hele volk nie!”

Toe juig almal en sê: “Lank lewe die koning!”

25Samuel het hierna die reg van die koning aan die volk bekend gemaak, dit in 'n boek opgeteken en voor die Here neergesit. Daarna het Samuel die hele volk weggestuur, elkeen na sy woonplek toe. 26Ook Saul het na sy huis toe gegaan in Gibea. Die dapperes wie se hart deur God geroer is, het saam met hom gegaan. 27Maar die kwaadwilliges het gevra: “Hoe sal hý ons red?”

Hulle het hom met minagting behandel en geen geskenk vir hom gebring nie, maar daaraan het Saul hom nie gesteur nie.

Laat alles wat asemhaal, die Here prys

1Prys die Here!

Prys God in sy heiligdom,

prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf!

2Prys Hom oor sy kragtige dade,

prys Hom in sy magtige grootheid!

3Prys Hom met die ramshoring,

prys Hom met harp en lier!

4Prys Hom met tamboeryn en koordanse,

prys Hom met snaarinstrumente en fluite!

5Prys Hom met simbale,

prys Hom met galmende simbale!

6Laat alles wat asemhaal, die Here prys!

Prys die Here!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS