Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 76

1 Samuel 16–20, Psalm 59

Bybelteks(te)

Samuel salf 'n ander koning

1Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak 'n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My 'n koning.”

2Samuel vra toe: “Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.”

En die Here sê vir hom: “Neem 'n vers saam en sê: ‘Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring.’ 3Nooi dan vir Isai na die offer toe. Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel.”

4Samuel het gedoen wat die Here gesê het. By sy aankoms in Betlehem het die leiers van die stad hom ontsteld tegemoet gekom en gesê: “Kom u in vrede?”

5En hy het gesê: “Ja. Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe.”

Hyself het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi. 6Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink: die gesalfde van die Here staan hier voor die Here.

7Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

8Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan en hy dink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 9Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan, maar Samuel het gedink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 10Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

11Daarop het Samuel vir Isai gevra: “Is dit al jou seuns dié?” En hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar hy pas nou skape op.”

Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons eet nie voordat hy hier is nie.” 12Isai het hom laat haal. Hy het 'n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en 'n goeie voorkoms.

Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.”

13Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan.

Dawid speel vir Saul op die lier

14Maar die Gees van die Here het van Saul gewyk, en 'n bose gees wat deur die Here gestuur is, het hom voortdurend ontstel. 15Die amptenare van Saul het vir hom gesê: “U word ontstel deur 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is. 16Die koning moet maar net praat, dan soek ons iemand wat die lier kan speel. As die boosaardige gees u pla, kan die man speel, en u sal beter voel.”

17Saul sê toe vir sy amptenare: “Kyk maar vir my uit na 'n man wat goed kan speel en bring hom na my toe.”

18Een van die amptenare antwoord hom: “Ek het 'n seun van Isai die Betlehemmer hoor speel. Hy is 'n dapper man en 'n goeie vegter. Hy kan sy woord goed doen en het 'n goeie voorkoms. Die Here is by hom.”

19Saul het boodskappers na Isai toe gestuur met die versoek: “Stuur jou seun Dawid wat by die kleinvee is, na my toe.”

20Isai het toe brood, 'n sak wyn en 'n klein bokkie gevat en dit op 'n donkie met sy seun Dawid na Saul toe gestuur. 21So het Dawid dan by Saul gekom en vir hom gewerk. Saul het baie van Dawid gehou, sodat hy Saul se wapendraer geword het. 22Saul het ook na Isai toe gestuur en laat vra: “Laat Dawid tog vir my werk, ek hou van hom.”

23Telkens wanneer die boosaardige gees in Saul was, het Dawid die lier gevat en daarop gespeel. Dan het Saul bedaar, en die boosaardige gees het van hom af padgegee.

Goliat verkleineer Saul se leër

1Die Filistyne het hulle krygsmag opgeroep. Hulle het bymekaargekom in Soko wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan in Efes-Dammim tussen Soko en Aseka. 2Saul en die manskappe van Israel het bymekaargekom en kamp opgeslaan in die laagte by die groot boom en teenoor die Filistyne stelling ingeneem om te veg. 3Die Filistyne het teen die een rant gestaan, en die Israeliete teen die ander, met 'n smal vallei tussen hulle. 4Toe kom daar 'n baasvegter uit die laer van die Filistyne uit. Sy naam was Goliat en hy was afkomstig uit Gat. Hy was drie meter lank. 5Daar was 'n bronshelm op sy kop, en hy het 'n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was sewe en vyftig kilogram. 6Daar was bronsskerms voor sy bene en tussen sy wapens was daar 'n bronsswaard. 7Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel, en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Sy skilddraer het voor hom uit geloop.

8Goliat het gaan staan en na die linies van Israel geroep. Hy het vir hulle gesê: “Waarom het julle uitgekom om gevegslinies op te stel? Is ek nie 'n Filistyn en julle almal Saul se slawe nie? Kies vir julle iemand om na my toe uit te kom. 9As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees en vir ons werk.”

10Verder het die Filistyn nog gesê: “Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer! Gee my tog iemand dat ons teen mekaar kan veg.”

11Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle geskrik en baie bang geword.

12Dawid was die seun van 'n Efratiet, iemand uit Betlehem in Juda met die naam Isai. Hy het ag seuns gehad. In die tyd van Saul was hierdie man al oud en afgeleef. 13Die drie oudste seuns van Isai het Saul na die oorlog toe gevolg. Die name van die drie seuns wat gaan veg het, was Eliab die oudste, Abinadab die tweede, en Samma die derde. 14Dawid was die jongste. Die drie oudstes het pal met Saul saamgegaan, 15maar Dawid het om die beurt na Saul toe gegaan en dan weer sy pa se kleinvee in Betlehem gaan oppas.

16Die Filistyn het veertig dae lank vroeg in die môre en teen die aand nader gekom en regoor die Israeliete gaan staan.

17Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Vat tog vir jou broers sestien kilogram gebraaide koring en tien brode en bring dit gou vir hulle in die kamp. 18Die tien kase moet jy na die aanvoerder van die afdeling toe vat. Dan moet jy sommer kyk of dit nog goed gaan met jou broers, en 'n bewys daarvan saambring. 19Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne.”

20Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef. 21Israel en die Filistyne het naamlik in linies teenoor mekaar stelling ingeneem. 22Dawid het die pak wat hy gedra het, onder die sorg gelaat van die man wat die goed oppas, en na die linies toe gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan, 23en terwyl hy nog met hulle praat, kom die baasvegter Goliat die Filistyn uit Gat juis uit die linies van die Filistyne vorentoe en hy praat weer so. Dawid het dit gehoor. 24Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en hulle was baie bang.

25'n Israeliet sê toe: “Julle sien hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom net om Israel te verkleineer. Die man wat hom verslaan – die koning sal daardie man baie ryk maak en sy dogter aan hom gee, en die man se familie sal in Israel van alle verpligtinge vrygestel wees.”

26Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: “Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?”

27Die manskappe het dieselfde vir hom gesê: “So sal gedoen word aan die man deur wie die Filistyn verslaan word.”

28Dawid se oudste broer Eliab het gehoor wat hy met die manskappe praat en Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk?”

29Toe sê Dawid: “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie 'n belangrike saak nie?”

30Dawid het van hom af weggedraai na 'n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste.

Dawid verslaan die Filistyn

31Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword. Die manskappe het dit vir Saul vertel, en hy het hom laat haal.

32“'n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul. “Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.”

33Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk en hy 'n vegter van kindsbeen af.”

34Toe sê Dawid vir Saul: “As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom 'n leeu of 'n beer en dra 'n lam weg uit die kudde, 35gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. 36Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.” 37Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.”

Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here by jou wees.”

38Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het 'n bronshelm op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek, 39en Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie.

Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie.”

En Dawid het dit uitgetrek. 40Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop. 41Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer voor hom was. 42Toe hy vir Dawid sien, het die Filistyn hom met minagting aangekyk omdat hy jonk was, met 'n rooi gelaatskleur en 'n mooi voorkoms.

43Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Is ek 'n hond dat jy met kieries na my toe kom?”

Hy het Dawid toe in die naam van die Filistynse gode vervloek. 44Verder het die Filistyn vir Dawid gesê: “Kom 'n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee.”

45Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. 46Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel 'n God het. 47Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.”

48Toe die Filistyn regmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid die Filistyn vinnig op die vegterrein tegemoet gehardloop. 49Toe steek Dawid sy hand in die sak, vat 'n klip daaruit, gooi met die slingervel, en tref die Filistyn teen die voorkop. Die klip het in sy voorkop ingedring, en hy het vooroor geval op die grond. 50Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan en doodgemaak. Dawid het nie eens 'n swaard by hom gehad nie!

51Toe het Dawid gehardloop, by die Filistyn gaan staan, sy swaard gevat, dit uit die skede getrek en hom van kant gemaak: hy het sy kop daarmee afgekap.

Die Filistyne het gesien dat hulle held dood is, en het gevlug. 52Die manskappe van Israel en Juda het opgestaan, die aanvalskreet uitgeskreeu en die Filistyne agtervolg tot by die ingang van Gat en die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne op die pad van Saärajim af tot by Gat en Ekron gelê het. 53Daarna het die Israeliete teruggekom van die strawwe agtervolging van die Filistyne af en hulle kamp geplunder. 54Dawid het die kop van die Filistyn gevat en dit na Jerusalem toe gebring, maar die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent gaan sit.

55Toe Saul vir Dawid sien uitgaan om die Filistyn te ontmoet, het hy vir Abner die hoof van die leër gevra: “Abner, wie se kind is dié jong man tog?”

Abner het geantwoord: “So seker as u leef, U Majesteit, ek weet nie.”

56Die koning sê toe: “Vra jy tog wie se kind die jong man is.”

57Toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom gevat en voor Saul gebring met die kop van die Filistyn nog in sy hand. 58Saul het vir hom gevra: “Seun, wie se kind is jy?”

“Die kind van u onderdaan Isai, uit Betlehem,” het Dawid geantwoord.

Dawid bly by Saul

1Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself. 2Dieselfde dag nog het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy pa se huis toe terug te gaan nie. 3Jonatan en Dawid het 'n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself. 4Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel. 5Dawid het toe opgetrek teen elkeen teen wie Saul hom uitgestuur het. Hy was suksesvol, en Saul het hom oor die soldate aangestel. Die hele volk en Saul se amptenare het dit goedgevind.

Saul wantrou vir Dawid

6Toe Dawid teruggekom het nadat hy die Filistyn verslaan het en Saul-hulle op pad was huis toe, het die vroue van al die dorpe van Israel uitgegaan om te sing, en die danseresse het koning Saul tegemoet gegaan met tamboeryne en driesnarige musiekinstrumente en met gejubel. 7Die vroue het gedans en gesing:

“Saul het sy duisende verslaan,

maar Dawid sy tienduisende!”

8Daaroor het Saul hom vererg. Dit het hom nie geval nie en hy het gesê: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee en aan my duisende. Die koningskap sal ook nog syne word!”

9Van toe af het Saul vir Dawid gewantrou.

10Die volgende dag het 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak, sodat hy in sy huis te kere gegaan het soos 'n waansinnige. Soos gewoonlik het Dawid op die lier gespeel. In die hand van Saul was daar 'n spies. 11Toe lig Saul die spies op en dink: ek gaan vir Dawid teen die muur vaspen.

Maar Dawid het weggekoes, selfs twee maal. 12Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat. 13Saul het daarna nie meer vir Dawid by hom laat bly nie en hom aangestel as hoof van 'n leërafdeling. Hy het in die oorlog as aanvoerder van die manskappe opgetree 14en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was. 15Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom. 16Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, en hy het in die oorlog as hulle aanvoerder opgetree.

Dawid word Saul se skoonseun

17Later het Saul vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter Merab. Ek gee haar aan jou as vrou. Jy moet net vir my 'n dapper man wees en die oorloë van die Here voer.”

Saul het naamlik gedink: ek moenie teen hom wees nie. Laat die Filistyne teen hom wees.

18Dawid sê toe vir Saul: “Wie is ek en wie is my broers en my familie in Israel dat ek die koning se skoonseun mag word?”

19Maar teen die tyd dat Saul se dogter Merab aan Dawid gegee moes word, is sy aan Adriël die Megolatiet as vrou gegee. 20Saul se ander dogter, Mikal, was verlief op Dawid, en toe dit aan Saul vertel is, was hy in sy skik daarmee. 21Saul het naamlik gedink: ek sal haar aan hom gee dat sy vir hom 'n vangstrik word en die Filistyne teen hom kan wees.

So het Saul dan twee keer vir Dawid gesê: “Jy kan vandag my skoonseun word.”

22Saul het sy amptenare beveel: “Sê so ongemerk vir Dawid: Jy weet, die koning hou van jou en al sy amptenare is lief vir jou. Word nou maar die koning se skoonseun.”

23Saul se amptenare het hierdie boodskap vir Dawid in die oor gefluister en Dawid het gesê: “Dink julle dis 'n kleinigheid om die koning se skoonseun te word? Ek is maar 'n arm man sonder aansien.”

24Saul se amptenare het hom meegedeel wat Dawid gesê het.

25Maar Saul het gesê: “So moet julle vir Dawid sê: Die koning wil niks anders as honderd voorhuide van die Filistyne as huweliksvergoeding hê nie, om so wraak te neem teen sy vyande.”

Saul se gedagte was om Dawid deur die Filistyne te laat omkom. 26Saul se amptenare het hierdie woorde aan Dawid meegedeel, en Dawid het ingestem om die koning se skoonseun te word.

Dawid het nie tyd verspeel nie, 27maar klaargemaak, en hy en sy manskappe het twee honderd Filistyne gaan doodmaak. Dawid het hulle voorhuide gebring, en dié is almal aan die koning oorhandig sodat Dawid die koning se skoonseun kon word. Saul het sy dogter Mikal aan hom gegee as vrou.

28Dit het vir Saul duidelik geword dat die Here by Dawid is. Boonop het Saul se dogter Mikal vir Dawid liefgehad. 29Toe het Saul nog banger geword vir Dawid, Saul was vir goed vyandig teenoor hom. 30Die regeerders van die Filistyne het herhaaldelik opgetrek om oorlog te maak, maar elke keer as hulle optrek, het Dawid meer sukses gehad as die offisiere van Saul, sodat hy groot aansien verkry het.

Jonatan pleit by Saul vir Dawid

1Saul het naderhand selfs met sy seun Jonatan en met al sy offisiere gepraat om Dawid dood te maak. Maar Saul se seun Jonatan het baie van Dawid gehou. 2Toe het Jonatan vir Dawid vertel: “My pa wil jou doodmaak. Jy moet tog môreoggend versigtig wees. Gaan sit op 'n beskutte plek en kruip weg. 3Dan sal ek in die veld waar jy is, langs my pa gaan staan en met hom oor jou praat. As ek agterkom hoe dit gesteld is, sal ek jou dit vertel.”

4Jonatan het toe vir Dawid voorspraak gedoen by Saul en vir hom gesê: “Die koning moet hom tog nie aan sy onderdaan Dawid besondig nie, want hy het u geen kwaad aangedoen nie, sy dade was baie voordelig vir u. 5Hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan dié keer toe die Here die groot uitkoms vir die hele Israel bewerk het. U het dit gesien en u was self bly. Waarom sal u sonde doen oor 'n onskuldige man en vir Dawid sonder rede doodmaak?”

6Saul het na Jonatan geluister en 'n eed afgelê: “So seker as die Here leef, hy sal nie doodgemaak word nie.” 7Hierná het Jonatan vir Dawid gaan roep, en Jonatan het hom die hele gesprek meegedeel. Jonatan het vir Dawid na Saul toe gebring, en Dawid het vir Saul gedien soos voorheen.

8Daar het weer 'n keer oorlog gekom, en Dawid het opgetrek om teen die Filistyne te veg. Hy het hulle in 'n bloedige veldslag verslaan, en hulle het voor hom gevlug.

Mikal bedrieg vir Saul en red Dawid se lewe

9Saul het in sy huis gesit met sy spies in sy hand, en Dawid het op die lier gespeel. Toe 'n boosaardige gees wat deur die Here gestuur is, oor Saul kom, 10het hy geprobeer om Dawid teen die muur vas te pen met die spies. Maar Dawid het weggekoes, en Saul het die spies teen die muur vasgegooi. Dawid het gevlug en daardie nag ontsnap. 11Toe stuur Saul mense na Dawid se huis toe om hom dop te hou en hom in die môre dood te maak.

Maar sy vrou Mikal het hom gewaarsku: “As jy nie vannag vlug nie, word jy môre doodgemaak.”

12Mikal het Dawid toe deur die venster laat afsak. Hy het weggegaan, gevlug en ontsnap. 13Maar Mikal het die afgodsbeeld gevat en op die bed neergesit. Sy het 'n bokhaarnet om die beeld se kop gedraai en dit met 'n kombers toegemaak.

14Toe Saul se mense daar kom om vir Dawid te vang, sê sy: “Hy is siek.”

15Daarna het Saul sy manne gestuur om na Dawid te gaan kyk en beveel: “Bring hom na my toe met bed en al dat ek hom kan laat doodmaak.” 16Die manne het ingekom, en toe lê die afgodsbeeld op die bed, met die bokhaarnet aan die koppenent.

17Saul sê toe vir Mikal: “Waarom het jy my so bedrieg en my vyand vrygelaat om te ontsnap?”

Maar Mikal het vir Saul geantwoord: “Hy het vir my gesê: Laat my gaan, anders maak ek jou dood.”

Saul weer tussen die profete

18Ondertussen het Dawid gevlug en ontsnap en by Samuel in Rama gekom en hom alles vertel wat Saul hom aangedoen het. Hy en Samuel het in die woonkwartiere van die profete gaan woon. 19Daarna is aan Saul berig: “Weet u, Dawid is in die profetekwartiere in Rama.”

20Daarop stuur Saul boodskappers om Dawid gevange te neem. Toe hulle die groep profete sien wat besig was om as profete op te tree onderwyl Samuel hulle voorgaan, het die Gees van God oor die boodskappers van Saul gekom, en hulle het self ook begin om as profete op te tree.

21Dit is aan Saul vertel, en hy het ander boodskappers gestuur. Ook húlle het self begin om as profete op te tree. Hy het 'n derde groep boodskappers gestuur, en hulle het óók begin om as profete op te tree. 22Daarop het hy self na Rama toe gegaan en toe hy by die groot opgaardam in Seku kom, vra hy: “Waar is Samuel en Dawid?”

Iemand het geantwoord: “Daar in die profetekwartiere in Rama.”

23Hy het na die profetekwartiere toe gegaan in Rama, en die Gees van God het ook oor hom gekom en hy het so in die loop begin om as profeet op te tree totdat hy by die kwartiere in Rama gekom het. 24Ook hý het sy klere uitgetrek en self as profeet opgetree in die teenwoordigheid van Samuel. Daardie hele dag en nag het Saul sonder klere op die grond gelê, sodat die mense gevra het: “Is Saul ook onder die profete?”

Jonatan pleit nog 'n keer vir Dawid by Saul

1Daarna het Dawid uit die profetekwartiere in Rama padgegee en by Jonatan gekom en vir hom gevra: “Wat het ek gedoen? Wat is my oortreding of wat het ek verkeerd gedoen teenoor jou pa dat hy my lewe soek?”

2Jonatan het hom geantwoord: “Nee, wag. Jy sal nie sterwe nie. Jy weet goed my pa doen niks, groot of klein, sonder om dit vertroulik vir my te vertel nie. Waarom sou my pa dan hierdie ding vir my wegsteek? Dit is nie soos jy dink nie.”

3Dawid het toe vir Jonatan met 'n eed verseker: “Jou pa weet baie goed dat jy van my hou en hy het gedink: Jonatan mag dit nie weet nie sodat hy nie sleg voel nie. Maar so seker as die Here leef en so seker as jy leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood.”

4En Jonatan sê vir Dawid: “Ek sal vir jou doen net wat jy wil hê.”

5Dawid sê toe vir Jonatan: “Môre is dit nuwemaan, en ek móét saam met die koning aansit om te eet. Maar laat my gaan dat ek in die veld kan wegkruip tot die derde aand. 6As jou pa uitdruklik na my vra, moet jy sê: ‘Dawid het my dringend verlof gevra om gou na sy stad Betlehem toe te gaan, want die hele familie se jaarlikse offer vind daar plaas.’ 7As hy sou sê: ‘Goed!’ dan is ek veilig, maar as hy baie kwaad word, weet dan beslis dat hy klaar besluit het om my dood te maak. 8Jy het my met 'n verbond van die Here aan jou verbind. Toon jou trou aan my, en as ek skuldig is, maak jý my dan dood. Waarom moet jy my nog na jou pa toe bring?”

9Toe antwoord Jonatan: “Nee, as ek seker weet dat my pa klaar besluit het om jou dood te maak, sal ek jou dit beslis laat weet.”

10Dawid sê toe vir Jonatan: “Wie sal vir my kom sê of jou pa jou 'n harde antwoord gegee het?”

11Jonatan het daarna vir Dawid gesê: “Kom ons gaan uit veld toe.”

Hulle twee het veld toe gegaan, 12en Jonatan het vir Dawid gesê: “So seker as die Here die God van Israel leef, ek sal my pa môre of oormôre pols. Hy sal gunstig gestem wees teenoor jou. So nie, sal ek na jou toe stuur en dit in die geheim aan jou bekend maak. 13Mag die Here my om die lewe bring as my pa besluit het om jou dood te maak en ek jou dit nie in die oor fluister nie en jou nie kans gee om veilig weg te kom nie. Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was. 14En as ek dan nog lewe, moet jy die trou van die Here aan my betoon, sodat ek nie sterwe nie, 15en jy moet jou trou nooit aan my familie onttrek nie. Selfs wanneer die Here die vyande van Dawid een vir een van die aarde af wegvee, 16mag Jonatan nie deur die familie van Dawid uitgeroei word nie, want dan sal die Here dit vergeld deur Dawid se vyande.”

17Jonatan het Dawid dit met 'n eed vir hom laat belowe vanweë sy liefde vir hom, want hy het hom liefgehad soos homself.

18Jonatan het ook nog vir hom gesê: “Môre is nuwemaan, en jy sal gemis word omdat jou leë sitplek opgemerk sal word. 19Op die derde dag moet jy beslis na die plek toe kom waar jy die vorige keer op die werkdag weggekruip het. Jy moet langs die hoop klippe gaan sit. 20Ek sal drie pyle aan die kant daarvan verby skiet, asof ek na 'n teiken skiet. 21Dan sal ek my slaaf stuur: ‘Gaan soek die pyle.’ As ek uitdruklik vir hom sê: ‘Kyk, die pyle is duskant jou; tel hulle op en kom!’ is jy veilig en so seker as die Here leef, daar is dan geen gevaar nie. 22Maar as ek vir hom sê: ‘Kyk, die pyle is anderkant jou!’ moet jy weggaan. Dan stuur die Here jou weg. 23En wat die saak betref waaroor ek en jy gepraat het: onthou, die Here is vir altyd getuie daarvan.”

24Dawid het toe in die veld weggekruip. Met nuwemaan het die koning by die maaltyd aangesit, 25en hy het soos gewoonlik op sy plek teen die muur gaan sit. Jonatan het regoor hom gesit en Abner langs Saul. Dawid se leë plek is opgemerk, 26maar op daardie dag het Saul niks gesê nie, want hy het gedink: daar moes iets gebeur het, en hy is dalk nie rein nie, hy mag dalk nie aan tafel kom nie. 27Die volgende dag van die nuwemaan, die tweede dag, is Dawid se leë plek weer opgemerk.

Saul vra toe vir sy seun Jonatan: “Waarom het die seun van Isai gister en vandag nie na die maaltyd toe gekom nie?”

28Maar Jonatan het vir Saul geantwoord: “Dawid het my dringend verlof gevra om na Betlehem toe te gaan. 29Hy het gesê: ‘Laat my tog gaan, want ons het 'n familie-offer in die stad. My broer self het my laat roep. As u dit goedvind, laat my dan tog gaan sodat ek my broers kan gaan besoek.’ Daarom het hy nie aan die koning se tafel verskyn nie.”

30Toe het Saul hom bloedig vererg vir Jonatan en gesê: “Jou rebelse ellendeling! Jy verkies mos die seun van Isai tot jou eie skande en tot skande van jou ma wat jou in die wêreld gebring het. 31Solank die seun van Isai op hierdie aarde leef, sal daar nie plek wees vir jou en jou koningskap nie. Stuur en bring hom na my toe, hy moet dood!”

32Daarop het Jonatan sy pa geantwoord en gevra: “Waarom moet hy doodgemaak word? Wat het hy gedoen?” 33Toe Saul die spies na Jonatan mik om hom dood te maak, het Jonatan geweet sy pa is vasbeslote om vir Dawid om die lewe te bring. 34Woedend het Jonatan van die tafel af opgestaan en op die tweede dag van die nuwemaan niks geëet nie omdat hy bekommerd was oor Dawid en omdat Saul vir Dawid so sleg behandel.

35In die môre het Jonatan volgens sy afspraak met Dawid uitgegaan na die veld toe, en daar was 'n jong slaaf by hom. 36Hy het vir sy slaaf gesê: “Hardloop, gaan haal die pyle wat ek afskiet.”

Die slaaf het gehardloop en Jonatan het die pyl by hom verby geskiet. 37Toe die slaaf by die plek kom waarheen Jonatan die pyl geskiet het, het Jonatan agter hom aan geroep en gesê: “Die pyl lê verder.”

38Jonatan het weer agter hom aan geroep: “Maak gou! Vinnig! Moenie tyd mors nie!”

Die slaaf het toe die pyl opgetel en na Jonatan toe gekom. 39Hy het van niks geweet nie. Net Jonatan en Dawid het daarvan geweet. 40Jonatan het sy wapens aan die slaaf wat by hom was, gegee en vir hom gesê: “Loop! Vat dit stad toe.”

41Toe die slaaf weg was, het Dawid opgestaan langs die kliphoop en op sy knieë geval en drie maal vooroor gebuig. Hulle het mekaar gesoen en saam gehuil totdat Dawid baie ontroerd geword het.

42Jonatan het vir Dawid gesê: “Gaan in vrede omdat ons twee in die Naam van die Here trou gesweer het en gesê het: Die Here is vir altyd daarvan getuie tussen ons en tussen ons twee se nageslagte.”

43Dawid het toe klaargemaak en weggegaan, maar Jonatan is terug stad toe.

God is my veilige vesting

1Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” Van Dawid. 'n Gedig, na aanleiding daarvan dat hulle, in opdrag van Saul, Dawid se huis omsingel het om hom dood te maak.

2Red my van my vyande, my God,

beskerm my teen my teëstanders,

3red my van die mense wat onreg doen,

bevry my van hierdie moordenaars!

4Die geweldenaars lê my voor om my dood te maak,

hulle wil my aanval.

Maar ek het nie gesondig nie,

ek het nie oortree nie, Here!

5Ek is onskuldig en tog bestorm hulle my en val hulle my aan.

Kom help my tog! Kyk wat doen hulle!

6U is die Here God, die Almagtige, die God van Israel!

Gryp tog in en straf al hierdie vyandige nasies!

Moenie genade betoon aan sulke lae verraaiers nie. Sela

7Hulle kom altyd in die aand terug,

hulle grom soos honde en loop in die stad rond.

8Die skuim staan om hulle bekke,

en hulle wys hulle tande,

want hulle dink niemand hoor hulle nie.

9Maar U, Here, U lag hulle uit,

U spot met al die nasies!

10Ek wil my hoop op U gevestig hou, U, my Sterkte,

want U is my veilige vesting!

11My God sal my te hulp kom in sy trou,

God sal my laat neersien op my teëstanders.

12Moet hulle nie nou al doodmaak nie,

sodat hulle straf nie ongemerk aan my volk verbygaan nie.

Breek hulle stadig af deur u mag

en laat hulle ondergaan, Here, ons Beskermer,

13oor hulle woorde, die sonde uit hulle mond.

Laat hulle gevang word deur hulle hoogmoed,

deur die vervloekings wat hulle uitspreek,

en die leuens wat hulle praat.

14Vernietig hulle in u toorn,

wis hulle heeltemal uit.

Dan sal almal weet dat God oor sy volk Jakob en oor die hele aarde regeer. Sela

15Hulle kom altyd in die aand terug,

hulle grom soos honde en loop in die stad rond.

16Hulle dwaal rond agter prooi aan

en as hulle nie genoeg kry nie, tjank hulle.

17Maar ék sal sing van u mag,

elke môre sal ek jubel oor u trou,

want U is vir my 'n veilige vesting,

'n skuilplek in tyd van nood.

18Tot u eer wil ek sing, U, my Sterkte,

want U is my veilige vesting,

U is my troue God.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS