Die vromes roep om hulp teen hoogmoedige vyande
1Waarom staan U so ver weg, Here?
Waarom trek U U terug in tye van nood?
2Die goddeloses is vol van hulleself, hulle vervolg 'n hulpelose man.
Laat hulle gevang word deur die sluwe planne
wat hulle self uitgedink het.
3Die goddelose verlustig hom nou al
in wat hy hoop om in die hande te kry.
Die een wat hom wil verryk ten koste van 'n ander,
wens homself by voorbaat geluk.
Hy verag die Here.
4Neus in die lug sê hy:
“God vra tog geen rekenskap nie!”
In al sy planne is daar geen plek vir God nie.
5Dit gaan mos altyd goed met wat hy aanpak.
U oordele is vir hom te ver weg, buite sy gesigsveld.
Hy snork met veragting oor al sy vyande.
6Hy dink: ek sal nie wankel nie
en die ongeluk sal my nooit tref nie.
7Hy lê 'n vloek op almal,
hy onderdruk en bedrieg,
hy bedink onheil en onreg.
8Hy lê onskuldiges voor agter die heinings
en vermoor hulle in die geheim.
Hy loer rond in die donker.
9Hy lê op die loer in 'n wegkruipplek soos 'n leeu agter 'n bos,
hy lê op die loer om die hulpelose te vang.
Hy vang hom en trek hom vas in sy net,
10hy slaan hom dat hy inmekaar sak.
So kry hy die arme mens in die hande.
11Hy sê vir homself:
“God steur Hom nie daaraan nie,
Hy kyk weg,
Hy sal dit nooit raaksien nie.”
12Kom tog, Here! Toon u mag, o God!
Moet die hulpeloses tog nie vergeet nie.
13Hoe durf die goddeloses God verag
en reken Hy sal hulle nie uitvind nie?
14En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet.
U let daarop en maak daar 'n einde aan.
Op U verlaat die ongelukkige hom,
ook vir die weeskind is U 'n helper.
15Verbreek tog die magsgreep van die goddelose en van die misdadiger,
straf sy misdade!
Moenie een enkele van sy misdade verskoon nie.
16Die Here bly altyd koning,
die vyande is uit sy land verdryf.
17U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here.
U gee hulle nuwe moed.
U verhoor hulle gebed.
18U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood,
sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.