Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 68

Rigters 16–21

Bybelteks(te)

Simson in Gasa

1Simson is op 'n keer na Gasa toe. Daar het hy 'n prostituut gesien en by haar huis ingegaan. 2Daar is toe vir die mense van Gasa vertel: “Simson het hierheen gekom.”

Hulle het die huis omsingel en hom die hele nag deur voorgelê by die stadspoort. Hulle het die hele nag in stilte gewag en gedink: môre ligdag maak ons hom dood.

3Maar Simson het net bly lê tot middernag. Toe staan hy op, vat die stadspoort se deure met hulle kosyne en al en ruk hulle so toegesluit uit. Hy het alles op sy skouer teen die berg regoor Hebron opgedra.

Simson en Delila

4'n Ruk later het Simson verlief geraak op 'n vrou in die Sorekvallei. Haar naam was Delila. 5Die leiers van die Filistyne is toe na haar toe, en hulle het vir haar gesê: “Verlei hom en vind uit waarin lê sy groot krag en hoe ons hom kan oorrompel om hom vas te bind en in ons mag te kry. Elkeen van ons sal jou dan dertien kilogram silwer gee.”

6Delila het toe vir Simson gevra: “Sê my tog waarin lê jou groot krag, en waarmee kan 'n mens jou vasbind om jou in sy mag te kry?”

7Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe boogsnare wat nog klam is, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

8Die leiers van die Filistyne het vir haar sewe boogsnare wat nog klam is, gebring en sy het hom daarmee vasgebind. 9Daar het ook manne in haar kamer weggekruip. Toe sê sy vir Simson: “Die Filistyne is hier, Simson!”

Hy het die boogsnare gebreek soos 'n vlam garingdraad breek, en die geheim van sy krag het onbekend gebly.

10Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy het 'n gek van my gemaak en vir my leuens vertel. Sê my tog nou waarmee kan 'n mens jou vasbind.”

11Hy het gesê: “As ek behoorlik vasgebind word met nuwe toue wat nog nooit gebruik is nie, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

12Delila het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind, en toe sê sy vir hom: “Die Filistyne is hier, Simson!”

Daar het weer manne in haar kamer weggekruip, maar Simson het die toue aan sy arms gebreek asof dit garingdraad was.

13Delila het vir Simson gesê: “Hoe lank gaan jy nog 'n gek van my maak en vir my leuens vertel? Sê my tog waarmee kan jy vasgebind word.”

Hy sê toe vir haar: “Jy moet net my sewe haarlokke in jou materiaal op die weefstoel vasweef.”

14Toe sy alles klaar met 'n pen vasgesteek het, sê sy vir hom: “Die Filistyne is hier, Simson!”

Hy het wakker geskrik en die materiaal met pen en al uit die weefstoel losgeruk.

15Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou nie? Jy het my nou al drie keer bedrieg en my nie vertel waarin jou groot krag lê nie.”

16So het sy dae lank by hom bly neul en hom lastig geval. Hy het so ongeduldig geraak dat hy kon sterf.

17Toe vertel hy haar sy lewensgeheim. Hy het vir haar gesê: “My hare is nooit geskeer nie, want ek is van my geboorte af aan God gewy. As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn en ek sal magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

18Delila het besef dat hy haar hierdie keer sy lewensgeheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat roep: “Kom hierdie keer! Hy het my sy lewensgeheim vertel.”

Hulle het toe na haar toe gekom en die geld saamgebring. 19Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak en 'n man geroep, en sy het Simson se sewe haarlokke afgeskeer. So het sy hom laat swak word, sy krag het verdwyn. 20Toe sy sê: “Die Filistyne is hier, Simson!” het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk.

Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie. 21Die Filistyne het hom gegryp en sy oë uitgesteek. Hulle het hom na Gasa toe gevat en hom met 'n dubbele bronsketting geboei. In die tronk moes hy die meul draai.

22Daar het sy hare wat afgeskeer was, weer begin groei.

Simson se laaste daad

23Die leiers van die Filistyne het bymekaargekom om 'n groot offer te bring vir hulle god Dagon en om fees te vier. Hulle het gesê:

“Ons god het ons vyand Simson in ons mag oorgegee.”

24Toe die Filistyne hom sien, het hulle hulle god geprys en gesê:

“Ons god het ons vyand in ons mag oorgegee,

ons vyand wat ons land verwoes het, hy wat so baie van ons doodgemaak het!”

25Toe die Filistyne lekker vrolik was, het hulle gesê: “Roep vir Simson dat hy ons kom vermaak.”

Hulle het toe vir Simson uit die tronk laat kom, en hy het hulle vermaak. Hulle het hom tussen die tempelpilare laat staan, 26en hy het vir die helper wat hom aan die hand vasgehou het, gesê: “Laat my so staan dat ek die pilare kan voel waarop die tempel rus en dat ek daarteen kan leun.”

27Die tempel was vol mans en vrouens. Al die leiers van die Filistyne was daar, en op die dak was omtrent drie duisend mans en vrouens wat gekyk het hoe Simson hulle vermaak.

28Toe roep Simson tot die Here: “Here my God, dink tog aan my! Maak my tog net hierdie een keer sterk, o God, dat ek my met een daad op die Filistyne kan wreek oor my twee oë!”

29Simson het die twee middelpilare waarop die tempel rus, vasgevat en teen hulle geleun met sy regterarm om die een en sy linkerarm om die ander. 30Toe sê hy: “Laat my sterf saam met die Filistyne.”

Hy het met al sy krag getrek, en die tempel het ingeval op die leiers van die Filistyne en op die mense daarin. So het Simson met sy dood meer mense doodgemaak as in sy lewe.

31Daarna het sy broers en sy hele familie gekom en sy lyk kom haal. Hulle het hom gevat en gaan begrawe tussen Sora en Estaol, in sy pa Manoag se graf.

Simson was twintig jaar lank leier van die Israeliete.

Die afgode van Miga

1Daar was 'n man uit die Efraimsberge. Sy naam was Miga. 2Hy het vir sy ma gesê: “Daar is dertien kilogram silwer van Ma gesteel. Ek het gehoor hoe Ma dit vervloek, maar dit is by my. Ek het dit gevat.”

Toe sê sy ma vir hom: “Mag die Here jou seën, my seun.”

3Die man het die dertien kilogram silwer vir sy ma teruggebring, en toe sê sy: “Ek wy die silwer in belang van my seun aan die Here. Jy moet daarvan 'n afgodsbeeld maak. Ek gee dit vir jou terug, my seun.”

4Nadat hy die silwer aan sy ma terugbesorg het, het sy sowat twee en 'n half kilogram daarvan gevat en vir 'n silwersmid gegee om 'n afgodsbeeld te maak. Dit is toe in Miga se huis gesit. 5Miga het naamlik sy eie tempel gehad en hy het 'n efodbeeld en afgodsbeeldjies gemaak. Toe het hy een van sy seuns as priester gewy, en die seun het Miga se priester geword.

6In daardie tyd was daar nog nie 'n koning in Israel nie. Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

7Daar was 'n jongman uit Betlehem in Juda wat aan die Judastam behoort het. Hy was 'n Leviet en het as vreemdeling in Betlehem gewoon. 8Hy het van daar af weggegaan om 'n ander woonplek te gaan soek. Hy het op die Efraimsberge uitgekom by die huis van Miga om daar 'n heenkome te vind. 9Miga het vir hom gevra: “Waarvandaan kom jy?” en hy het geantwoord: “Ek is 'n Leviet uit Betlehem in Juda en ek is onderweg op soek na 'n woonplek.”

10Toe sê Miga vir hom: “Bly by my en wees vir my 'n leermeester en 'n priester, dan gee ek jou honderd en veertien gram silwer in 'n jaar, en kos en klere.”

11Die Leviet het ingestem om by die man te bly, en die jongman was vir Miga soos een van sy eie seuns. 12Miga het die Leviet as priester gewy, en die jongman het Miga se priester geword en in Miga se huis gebly. 13Toe sê Miga: “Nou weet ek die Here sal vir my goed wees, want die Leviet het my priester geword!”

Die stam Dan trek na Lajis toe

1In die tyd toe daar nog nie 'n koning in Israel was nie, het die stam Dan grond gesoek om op te woon, want tot op daardie tyd het hy nog nie 'n eie besitting onder die stamme van Israel gekry nie. 2Die mense van Dan het vyf dapper man uit Sora en uit Estaol gestuur as verteenwoordigers van hulle hele stam om die land te verken en deur te kyk. Daar is vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur.”

Hulle het by die huis van Miga in die Efraimsberge gekom en daar oornag. 3Toe hulle by die huis van Miga kom, het hulle die stem van die jongman, die Leviet, herken en daar ingedraai. Hulle het vir hom gevra: “Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Hoekom is jy hier?”

4Toe sê hy vir hulle: “Miga het met my 'n reëling getref: hy het my gehuur en ek is sy priester.”

5Hulle het vir hom gesê: “Vra tog vir God of ons onderneming wat ons aangepak het, goed sal verloop of nie!”

6Die priester het vir hulle gesê: “Gaan gerus! Die Here is by julle op julle reis.”

7Die vyf mans is toe daar weg, en hulle het in Lajis gekom. Hulle het opgemerk dat die inwoners rustig woon, hulle was sonder agterdog en houtgerus soos die mense van Sidon maar was. Hulle het nooit iets in hulle land kortgekom nie, hulle besittings was veilig. Hulle was ver van die ander mense van Sidon af en was nie in aanraking met ander mense nie. 8Die vyf mans het teruggekom by hulle familie in Sora en in Estaol, en dié het vir hulle gevra: “Wat het julle gesien?”

9Toe antwoord hulle: “Kom ons trek daarnatoe. Ons het die land gesien. Dit is baie mooi. Wat sit julle nog stil? Moenie talm om die land in besit te gaan neem nie. 10Wanneer julle trek, sal julle by 'n volk kom wat houtgerus is en by 'n land wat oop lê na weerskante toe. Die Here gee vir julle 'n plek waar daar nie gebrek is aan enigiets op aarde nie.”

11Ses honderd goed gewapende man uit die stam Dan het toe uit Sora en uit Estaol opgetrek. 12Hulle het kamp opgeslaan by Kirjat-Jearim in Juda. Daarom word die plek, wat net agter Kirjat-Jearim lê, nou nog Magane-Dan genoem. 13Van daar af het hulle na die Efraimsberge toe getrek en by Miga se huis gekom. 14Die vyf man wat die land by Lajis gaan verken het, het vir hulle stamgenote gesê: “Julle weet, in hierdie huis is daar 'n efodbeeld, afgodsbeeldjies en 'n godsbeeld. Julle weet nou wat julle behoort te doen.”

15Hulle het daar ingedraai en na die huis van die jongman, die Leviet, toe gegaan by Miga se huis en die jongman gegroet. 16Die ses honderd goed gewapende man uit die stam Dan het by die deur gaan staan, 17en die vyf wat die land gaan verken het, het by die huis ingegaan en die godsbeeld en die afgodsbeeldjies en die efodbeeld gevat. Die priester het by die deur gestaan by die ses honderd goed gewapende man, 18en toe die vyf man die huis van Miga ingaan en die godsbeeld en die efodbeeld en die afgodsbeeldjies vat, sê die priester vir hulle: “Wat doen julle?”

19Maar hulle sê vir hom: “Bly stil! Moenie praat nie! Kom saam met ons en wees ons leermeester en priester. Is dit vir jou beter om priester te wees vir een man se huis of vir al die mense van 'n stam in Israel?”

20Die priester was toe tevrede, en hy het die efodbeeld, die afgodsbeeldjies en die godsbeeld gevat en saam met die mense van Dan gegaan. 21Hulle het toe weggedraai en vertrek met hulle kinders en vee en besittings op die voorpunt. 22Toe hulle 'n ent weg is van Miga se huis af, het hy die hulp ingeroep van die mense wat in sy omgewing bly. Hulle het die mense van Dan ingehaal 23en vir hulle geskreeu, maar die mense van Dan het omgekyk en vir Miga gesê: “Wat is dit met jou dat jy so te kere gaan?”

24Toe sê hy: “Maar julle het my god wat ek gemaak het, gevat en ook my priester, en nou gaan julle weg. Wat het ek nou oor? Hoe sê julle vir my: Wat is dit met jou?”

25Die mense van Dan het hom geantwoord: “Moenie hier by ons kom staan en lawaai nie! Netnou val 'n klompie roekelose manne jou aan en dan maak hulle jou en jou mense dood.”

26Toe trek die mense van Dan verder, en Miga het besef hulle is sterker as hy en hy het omgedraai huis toe.

27Die mense van Dan het die beelde gevat wat Miga gemaak het, en ook sy priester, en na Lajis toe gegaan, na die volk wat sonder agterdog en houtgerus woon, en hulle doodgemaak en hulle stad verbrand. 28Niemand kon hulle red nie, want hulle was ver van Sidon af en nie binne bereik van ander mense nie. Die stad was geleë in die laagte by Bet-Regob.

Die mense van Dan het die stad herbou en daarin gaan woon. 29Hulle het die stad Dan genoem, na hulle stamvader Dan wat vir Israel gebore is. Die stad is vroeër Lajis genoem. 30Die mense van Dan het die afgodsbeeld daar opgestel, en Jonatan, seun van Gersom seun van Moses, en sy seuns was priesters vir die stam Dan totdat die bevolking in ballingskap weggevoer is.

31Hulle het die afgodsbeeld van Miga wat hy gemaak het, op sy plek neergesit, en dit het daar gebly so lank as die huis van God in Silo was.

'n Leviet en sy byvrou

1Toe die volgende gebeurtenis plaasgevind het, was daar nog nie 'n koning in Israel nie.

Daar was 'n Leviet wat as vreemdeling gewoon het in die uithoeke van die Efraimsberge. Hy het vir hom 'n byvrou gevat uit Betlehem in Juda. 2Die byvrou het ontrou geword en van hom af weggegaan na haar pa se huis toe in Betlehem in Juda. Sy was 'n jaar en vier maande lank daar, 3en toe gaan haar man agter haar aan. Hy wou met haar gaan mooipraat om haar te laat terugkom na hom toe. Hy het 'n slaaf en 'n span donkies by hom gehad. Hy het na haar pa se huis toe gegaan, en toe die meisie se pa hom sien, was die pa bly en hy het die Leviet tegemoet geloop. 4Sy skoonpa, die meisie se pa, het by hom daarop aangedring, en hy het drie dae daar oorgebly. Hulle het geëet en gedrink, en hy het daar oornag. 5Die vierde dag het hy vroeg klaargemaak om te vertrek, maar die meisie se pa het vir sy skoonseun gesê: “Eet eers 'n stukkie vir die pad en dan kan jy vertrek.”

6Hulle twee het toe gaan sit en saam geëet en gedrink. Die meisie se pa sê toe vir die man: “Moenie teëpraat nie. Bly nog dié nag oor en geniet dit hier.”

7Die man was op die punt om te vertrek, maar toe sy skoonpa daarop aandring, het hy omgedraai en daar oornag. 8Die vyfde dag het hy vroegmôre klaargemaak om te vertrek, maar toe sê die meisie se pa: “Eet eers 'n stukkie vir die pad en wag tot agtermiddag.”

Hulle het toe geëet. 9Toe die man en sy byvrou en sy slaaf op die punt staan om te vertrek, sê sy skoonpa, die meisie se pa, vir hom: “Kyk, man, die son is aan die sak, dis amper aand. Oornag hier. Die dag is verby. Slaap hier en geniet dit. Julle kan môre vroeg alles regkry vir die reis en dan kan jy huis toe gaan.”

10Maar die man wou nie die nag oorbly nie. Hy het klaargemaak en vertrek. Hy het regoor Jebus, dit is Jerusalem, gekom met sy span donkies en sy byvrou by hom. 11Toe hulle by Jebus kom, was die dag verby, en sy slaaf sê vir hom: “Kom ons draai hier in by hierdie stad van die Jebusiete en dan vernag ons in die stad.”

12Maar hy sê vir sy slaaf: “Ons kan nie by 'n vreemde stad indraai waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons druk deur tot by Gibea.”

13Hy het verder vir sy slaaf gesê: “Kom ons probeer kom by een van óns plekke, dan oornag ons in Gibea of in Rama.”

14Hulle het toe deurgedruk en toe hulle regoor Gibea in Benjamin kom, gaan die son vir hulle onder. 15Hulle het daar ingedraai om in Gibea te gaan oornag. Hulle het by die stadsplein gekom en daar gaan sit. Niemand het hulle genooi om in sy huis te oornag nie.

16Daardie aand het daar 'n ou man van sy werk in die veld af in die stad ingekom. Hy was afkomstig uit die Efraimsberge en het as vreemdeling in Gibea gewoon. Die mense van Gibea was Benjaminiete. 17Die ou man het die reisiger op die stadsplein raakgesien en vir hom gesê: “Waarheen is jy op pad? Waarvandaan kom jy?”

18Toe sê hy vir die ou man: “Ons is op pad van Betlehem in Juda af na die uithoeke van die Efraimsberge toe. Ek is van daar af, maar ek het na Betlehem in Juda gegaan, na die huis van die Here toe. Ek is op pad, maar niemand het my na sy huis toe genooi nie. 19Ek het genoeg voer vir die donkies, en kos en wyn vir my en die vrou en die slaaf. Ons kom niks kort nie.”

20Toe sê die ou man vir hom: “Dis alles reg, maar wat jy sal gebruik, sal ek voorsien. Jy mag egter nie op die plein oornag nie.”

21Die ou man het hom toe in sy huis gevat en vir die donkies voer gegee. Die mense het hulle voete gewas, en toe het hulle geëet en gedrink. 22Net toe hulle begin vrolik raak, omsingel 'n klomp straatboewe van die stad die huis en hulle slaan op die deur. Hulle sê toe vir die ou man aan wie die huis behoort: “Bring uit die man wat in jou huis gekom het. Ons wil geslagsgemeenskap met hom hê.”

23Die man aan wie die huis behoort, is na hulle toe uit en hy sê vir hulle: “Nee, vriende, moenie hierdie man kwaad aandoen nadat hy in my huis ingekom het nie. Julle moet hom nie so 'n lae ding aandoen nie. 24Hier is my dogter, sy is nog 'n maagd, en die man se byvrou. Ek sal hulle uitbring, verkrag hulle. Doen met hulle wat julle wil, maar moenie hierdie lae ding aan die man doen nie.”

25Maar die mans wou nie na hom luister nie. Toe gryp die Leviet sy byvrou en stoot haar buitentoe na hulle toe. Hulle het met haar geslagsgemeenskap gehad en haar die hele nag deur tot die môre toe verrinneweer. Toe die rooidag breek, het hulle haar gelos. 26Teen die môre se kant het sy by die huis gekom en voor die deur van die huis waarin haar man was, neergeval en bly lê tot sonop. 27Toe haar man die môre opstaan en die huis se deur oopmaak om verder te reis, lê die vrou, sy byvrou, in die deur met haar hande op die drumpel. 28Hy sê toe vir haar: “Staan op dat ons kan vertrek,” maar sy het nie geroer nie. Hy tel haar toe op 'n donkie en maak klaar en vertrek na sy plek toe.

29Toe hy by die huis kom, vat hy 'n mes en die lyk van sy byvrou en sny haar op in twaalf stukke, lid vir lid, en stuur dit deur die hele gebied van Israel. 30Elkeen wat dit gesien het, het gesê: “So iets het nog nooit gebeur vandat die Israeliete uit Egipte weggetrek het nie. Van toe af tot nou toe is so iets nog nie gesien nie. Ons moet dit ter harte neem. Ons moet 'n plan maak. Ons moet praat!”

1Toe het al die Israeliete, dié van Dan tot dié van Berseba en dié uit die Gileadstreek, soos een man as gemeente in Mispa bymekaargekom in die teenwoordigheid van die Here. 2Die leiers van die hele volk, van al die stamme van Israel, was daar in die vergadering van die volk van God. Daar was vier honderd duisend voetsoldate wat met die swaard kon veg.

3Die Benjaminiete het verneem dat die ander Israeliete na Mispa toe opgetrek het. Die Israeliete het vir hulle gevra: “Sê ons tog! Hoe het hierdie lae ding plaasgevind?”

4Toe antwoord die Leviet, die man van die vermoorde vrou: “Ek en my vrou het in Gibea gekom wat aan Benjamin behoort, om daar te oornag. 5Toe wou die mans van Gibea my kom aanrand, en hulle het my die heel nag omsingel in die huis waar ek was. Hulle wou my doodmaak, en hulle het my byvrou verrinneweer, sodat sy gesterf het. 6Toe het ek haar opgesny en rondgestuur deur die hele gebied wat aan Israel behoort, want die mense van Gibea het 'n afskuwelike en lae ding in Israel gedoen. 7En nou is julle almal hier, Israeliete! Ons moet praat en net hier 'n plan maak!”

8Die hele volk het eenparig verklaar: “Niemand mag na sy woonplek toe gaan nie, niemand mag teruggaan huis toe nie. 9Dit is wat ons met Gibea sal doen: ons sal lootjies trek oor Gibea, 10en uit elke honderd man uit die stamme van Israel sal ons tien man vat, uit elke duisend man honderd en uit elke tien duisend duisend om kos by die volk te gaan haal. Wanneer ons in Gibea by Benjamin kom, sal ons hom straf ooreenkomstig die lae ding wat hy in Israel gedoen het.”

11Al die Israeliete het saamgestem en hulle het by Gibea bymekaargekom. 12Toe stuur die stamme van Israel die manne na al die families in Benjamin toe met die boodskap: “Wat vir 'n lae ding het hier by julle plaasgevind? 13Lewer nou die straatboewe van Gibea uit sodat ons hulle kan doodmaak en dié soort verkeerde ding uit Israel kan uitroei.”

Maar die mense van Benjamin wou nie na hulle volksgenote, die Israeliete, luister nie. 14Toe kom die mense van Benjamin uit al hulle stede bymekaar in Gibea om oorlog te maak teen die Israeliete. 15Die Benjaminiete wat uit die stede gekom het, is daardie dag getel, en daar was ses en twintig duisend man wat kon veg, en dit behalwe dié van Gibea. Hulle is ook getel, sewe honderd knap soldate. 16In daardie hele leër was daar sewe honderd knap soldate, almal links. Hulle kon keer op keer 'n haar raakgooi met 'n klip uit 'n slingervel.

17Die Israeliete is ook getel, en sonder Benjamin was daar vier honderd duisend man wat kon veg, elkeen reg vir die oorlog. 18Hulle het na Bet-El toe gegaan en God daar geraadpleeg. Die Israeliete het gevra: “Wie van ons moet eerste optrek om teen Benjamin te gaan veg?”

Die Here het geantwoord: “Juda moet eerste gaan.”

19Die volgende môre het al die Israeliete klaargemaak en regoor Gibea kamp opgeslaan. 20Die Israeliete het hulle manne teenoor Gibea ontplooi om teen die Benjaminiete te veg, 21maar die Benjaminiete het uit Gibea gestorm en op daardie dag twee en twintig duisend Israeliete om die lewe gebring.

22-23Nadat die Israeliete tot die aand toe in die teenwoordigheid van die Here gekla het, het hulle vir Hom gevra: “Moet ons weer teen ons broers die Benjaminiete gaan oorlog maak?”

Die Here het geantwoord: “Trek teen hulle op!”

Toe het die Israeliete moed geskep en weer hulle manne ontplooi om te veg waar hulle dit die vorige dag gedoen het. 24Die tweede dag het die Israeliete weer die Benjaminiete aangeval, 25maar hulle het weer uit Gibea uit gestorm en agtien duisend man van Israel om die lewe gebring, almal goeie soldate. 26Al die Israeliete en die hele leër is toe na Bet-El toe en daar het hulle in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en huil, en daardie dag het hulle tot die aand toe niks geëet nie. Hulle het brandoffers en maaltydoffers aan die Here geoffer. 27Hulle het die Here geraadpleeg; die verbondsark van die Here was destyds by hulle. 28Pinehas, seun van Eleasar seun van Aäron, wat destyds as priester gedien het voor die Here, het gevra: “Moet ons weer gaan oorlog maak teen ons broers die Benjaminiete of moet ons ophou?”

Toe antwoord die Here: “Trek op! Môre gee Ek hulle in julle mag.”

29Van die Israeliete het toe rondom Gibea in hinderlae gaan lê. 30Op die derde dag het die ander Israeliete teen Benjamin opgeruk en die manskappe regoor Gibea ontplooi soos die vorige kere. 31Die Benjaminiete het die soldate tegemoet gestorm, maar die Benjaminiete is van hulle stad af weggelok. Soos die vorige kere het hulle die Israeliete verslaan en begin doodmaak op die grootpaaie na Bet-El en Gibea toe. Hulle het sowat dertig Israeliete om die lewe gebring.

32Die Benjaminiete het gedink: soos voorheen is hulle weer deur ons verslaan. Maar die Israeliete het afgespreek: “Ons sal vlug en hulle uit die stad uit na die grootpaaie toe lok. 33Wanneer die grootste deel van Israel uit sy plek padgee en by Baäl-Tamar ontplooi, moet die Israeliete wat in die hinderlae lê, uit hulle plekke wes van Gibea opspring.”

34Tien duisend dapper soldate uit die leër van die Israeliete het tot regoor Gibea gegaan, en daar is roekeloos geveg. Die Benjaminiete het nog nie besef dat 'n ramp op hulle afkom nie. 35Maar die Here het hulle verslaan vir die Israeliete, en die Israeliete het op dié dag vyf en twintig duisend een honderd man van Benjamin, almal dapper soldate, om die lewe gebring. 36Toe het die Benjaminiete besef dat hulle verslaan is en dat die Israeliete net vir hulle teruggeval het omdat die Israeliete staatgemaak het op die hinderlae wat hulle teen Gibea opgestel het.

37Die manne van die hinderlae het toe gou in Gibea versprei en die stad oorweldig en die inwoners om die lewe gebring.

38Daar was 'n afspraak tussen die Israeliete en hulle hinderlaag om 'n groot rookwolk in die stad op te stuur. 39Toe die Israeliete omdraai om te veg, het die Benjaminiete begin om hulle dood te maak. Sowat dertig man is om die lewe gebring, en die Benjaminiete het gedink: ja-nee, hulle is weer deur ons in die geveg verslaan soos die vorige keer. 40Toe die rookwolk uit die stad begin opstyg, het die Benjaminiete omgedraai, maar die stad het klaar in vlamme gestaan.

41Toe die Israeliete omgedraai het om te veg, het die Benjaminiete baie bang geword, want hulle het besef dat 'n groot ramp hulle getref het. 42Hulle het met die woestynpad voor die Israeliete weggevlug, maar hulle kon die geveg nie vryspring nie, want dié wat die stad in puin gelê het, het hulle verslaan. 43Die Benjaminiete is omsingel en sonder genade agtervolg. Hulle is regoor Gibea, aan die oostekant, platgeloop.

44Van Benjamin het daar in die geveg agtien duisend man geval, almal dapper soldate. 45Die ander het weggekom na die woestyn toe, na die Rimmonrots toe. Op die grootpaaie het die Israeliete nog vyf duisend man doodgemaak. Hulle het die Benjaminiete nog agtervolg tot by Gidom en twee duisend man om die lewe gebring. 46Uit Benjamin het dié dag vyf en twintig duisend man geval, manne wat kon veg, almal dapper soldate. 47Ses honderd man het tot by die Rimmonrots gevlug. Hulle het vier maande lank daar gebly. 48Die manskappe van Israel is terug na die gebied van Benjamin toe. Daar het hulle van stad tot stad gegaan en alles, mens en dier, om die lewe gebring. In al die stede het hulle alles wat hulle aangetref het, verbrand.

Vrouens vir die Benjaminiete

1By Mispa het die Israeliete 'n eed afgelê: “Nie een van ons sal sy dogter met 'n Benjaminiet laat trou nie.”

2Die volk het by Bet-El gekom. Daar het hulle tot die aand toe in die teenwoordigheid van God gesit. Hulle het lank daar gesit en hard gehuil. 3Toe vra hulle: “Waarom het dit in Israel gebeur, Here God van Israel, dat een van die stamme van Israel vandag makeer?”

4Die volgende môre het die volk vroeg opgestaan en net daar 'n altaar gebou en brandoffers en maaltydoffers geoffer.

5Toe sê die Israeliete: “Wie van al die stamme van Israel het nie hier na die gemeente, na die Here toe, opgekom nie?”

Daar is vroeër 'n eed afgelê dat elkeen wat nie na die Here toe kom in Mispa nie, doodgemaak sal word.

6Die Israeliete was jammer oor hulle broers uit Benjamin en het gesê: “Vandag is een stam van Israel afgekap. 7Wat kan ons doen om vrouens te kry vir dié uit Benjamin wat oorgebly het? Ons het 'n eed voor die Here afgelê dat ons nie ons dogters met hulle sal laat trou nie.”

8Toe vra hulle: “Is daar nog 'n deel van die stamme van Israel wat nie na die Here toe gekom het in Mispa nie?”

Dit het toe geblyk dat niemand uit Jabes in Gilead na die vergadering toe gekom het nie. 9Die volk is getel en daar was nie een mens uit Jabes in Gilead nie.

10Toe stuur die gemeente twaalf duisend dapper soldate met die opdrag: “Gaan bring die inwoners van Jabes in Gilead om die lewe, ook die vrouens en die kinders. 11Dit is wat julle moet doen: julle moet elke man en ook elke vrou wat al geslagsgemeenskap gehad het, doodmaak.”

12Onder die inwoners van Jabes in Gilead is daar vier honderd meisies gevind wat nog maagde was en nie geslagsgemeenskap gehad en by 'n man geslaap het nie. Die soldate het hulle na die kamp toe in Silo in Kanaän gebring.

13Toe stuur die hele gemeente 'n boodskap na die Benjaminiete toe by die Rimmonrots om met hulle vrede te maak. 14Die Benjaminiete het dadelik teruggekom, en die vrouens uit Jabes in Gilead wat bly lewe het, is vir hulle gegee, maar daar was nie genoeg nie.

15Die volk het vir Benjamin jammer gekry, want die Here het 'n stuk uit die stamme van Israel uitgeskeur. 16Toe vra die leiers van die gemeente: “Wat kan ons doen om vrouens te kry vir die ander Benjaminiete? Die vrouens uit Benjamin is almal om die lewe gebring.”

17Hulle het verder gesê: “Daar moet erfgename kom vir dié uit Benjamin wat oorgebly het. Daar mag nie 'n stam uit Israel verdwyn nie. 18Self mag ons hulle nie met ons dogters laat trou nie, want Israel het 'n eed afgelê en gesê: Vervloek is elkeen wat 'n vrou vir 'n Benjaminiet gee.”

19Maar toe sê hulle: “Kyk, daar is elke jaar 'n fees in Silo tot eer van die Here.”

Silo lê noord van Bet-El en oos van die grootpad van Bet-El af Sigem toe en suid van Lebona.

20Die leiers het vir die Benjaminiete gesê: “Gaan kruip weg in die wingerde 21en kyk mooi: wanneer die meisies van Silo uitkom om te dans, moet julle uit die wingerde opspring en elkeen moet vir hom 'n vrou gryp onder die meisies van Silo. Dan moet julle na die gebied van Benjamin toe gaan. 22Wanneer die meisies se pa's of broers 'n klag by ons kom indien, sal ons vir hulle sê: Kyk, ons het nie genoeg vrouens vir hulle in die oorlog gevat nie, en julle is onskuldig, want julle het nie die dogters vir hulle gegee nie.”

23Die Benjaminiete het dit toe gedoen. Terwyl die meisies gedans het, het hulle vir hulle die regte getal vrouens kom steel. Die Benjaminiete is toe daar weg, terug na hulle grondgebied toe. Hulle het hulle stede herbou en daarin gewoon.

24Die Israeliete is toe ook daar weg, elkeen na sy stam en sy familie, elkeen na sy grondgebied toe.

25In daardie tyd was daar nog nie 'n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS