Vrouens vir die Benjaminiete
1By Mispa het die Israeliete 'n eed afgelê: “Nie een van ons sal sy dogter met 'n Benjaminiet laat trou nie.”
2Die volk het by Bet-El gekom. Daar het hulle tot die aand toe in die teenwoordigheid van God gesit. Hulle het lank daar gesit en hard gehuil. 3Toe vra hulle: “Waarom het dit in Israel gebeur, Here God van Israel, dat een van die stamme van Israel vandag makeer?”
4Die volgende môre het die volk vroeg opgestaan en net daar 'n altaar gebou en brandoffers en maaltydoffers geoffer.
5Toe sê die Israeliete: “Wie van al die stamme van Israel het nie hier na die gemeente, na die Here toe, opgekom nie?”
Daar is vroeër 'n eed afgelê dat elkeen wat nie na die Here toe kom in Mispa nie, doodgemaak sal word.
6Die Israeliete was jammer oor hulle broers uit Benjamin en het gesê: “Vandag is een stam van Israel afgekap. 7Wat kan ons doen om vrouens te kry vir dié uit Benjamin wat oorgebly het? Ons het 'n eed voor die Here afgelê dat ons nie ons dogters met hulle sal laat trou nie.”
8Toe vra hulle: “Is daar nog 'n deel van die stamme van Israel wat nie na die Here toe gekom het in Mispa nie?”
Dit het toe geblyk dat niemand uit Jabes in Gilead na die vergadering toe gekom het nie. 9Die volk is getel en daar was nie een mens uit Jabes in Gilead nie.
10Toe stuur die gemeente twaalf duisend dapper soldate met die opdrag: “Gaan bring die inwoners van Jabes in Gilead om die lewe, ook die vrouens en die kinders. 11Dit is wat julle moet doen: julle moet elke man en ook elke vrou wat al geslagsgemeenskap gehad het, doodmaak.”
12Onder die inwoners van Jabes in Gilead is daar vier honderd meisies gevind wat nog maagde was en nie geslagsgemeenskap gehad en by 'n man geslaap het nie. Die soldate het hulle na die kamp toe in Silo in Kanaän gebring.
13Toe stuur die hele gemeente 'n boodskap na die Benjaminiete toe by die Rimmonrots om met hulle vrede te maak. 14Die Benjaminiete het dadelik teruggekom, en die vrouens uit Jabes in Gilead wat bly lewe het, is vir hulle gegee, maar daar was nie genoeg nie.
15Die volk het vir Benjamin jammer gekry, want die Here het 'n stuk uit die stamme van Israel uitgeskeur. 16Toe vra die leiers van die gemeente: “Wat kan ons doen om vrouens te kry vir die ander Benjaminiete? Die vrouens uit Benjamin is almal om die lewe gebring.”
17Hulle het verder gesê: “Daar moet erfgename kom vir dié uit Benjamin wat oorgebly het. Daar mag nie 'n stam uit Israel verdwyn nie. 18Self mag ons hulle nie met ons dogters laat trou nie, want Israel het 'n eed afgelê en gesê: Vervloek is elkeen wat 'n vrou vir 'n Benjaminiet gee.”
19Maar toe sê hulle: “Kyk, daar is elke jaar 'n fees in Silo tot eer van die Here.”
Silo lê noord van Bet-El en oos van die grootpad van Bet-El af Sigem toe en suid van Lebona.
20Die leiers het vir die Benjaminiete gesê: “Gaan kruip weg in die wingerde 21en kyk mooi: wanneer die meisies van Silo uitkom om te dans, moet julle uit die wingerde opspring en elkeen moet vir hom 'n vrou gryp onder die meisies van Silo. Dan moet julle na die gebied van Benjamin toe gaan. 22Wanneer die meisies se pa's of broers 'n klag by ons kom indien, sal ons vir hulle sê: Kyk, ons het nie genoeg vrouens vir hulle in die oorlog gevat nie, en julle is onskuldig, want julle het nie die dogters vir hulle gegee nie.”
23Die Benjaminiete het dit toe gedoen. Terwyl die meisies gedans het, het hulle vir hulle die regte getal vrouens kom steel. Die Benjaminiete is toe daar weg, terug na hulle grondgebied toe. Hulle het hulle stede herbou en daarin gewoon.
24Die Israeliete is toe ook daar weg, elkeen na sy stam en sy familie, elkeen na sy grondgebied toe.
25In daardie tyd was daar nog nie 'n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.