Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 69

Rut 1–4, Psalm 45 & 58

Bybelteks(te)

Uit Betlehem na Moab toe en terug

1In die tyd van die leiers was daar op 'n keer hongersnood in die land, en 'n man met sy vrou en sy twee seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om 'n heenkome te soek in die gebied van Moab. 2Die man was Elimelek, sy vrou Naomi, en sy twee seuns Maglon en Kiljon. Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het in Moab aangekom en hulle daar gevestig. 3Toe Naomi se man, Elimelek, sterf, het sy en haar twee seuns alleen agtergebly. 4Die twee seuns het later getrou met die Moabitiese meisies Orpa en Rut. Naomi en haar seuns het omtrent tien jaar in Moab gebly. 5Toe haar twee seuns Maglon en Kiljon ook sterf, het sy alleen agtergebly sonder haar seuns en sonder haar man. 6Toe sy verneem dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle 'n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters klaargemaak om van Moab af terug te gaan. 7Sy en haar skoondogters het saam vertrek uit die plek waar hulle gebly het, op pad na Juda toe.

8Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. 9Mag die Here vir julle elkeen weer 'n goeie man en 'n heenkome gee.”

Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil 10en vir haar gesê: “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe.”

11Maar Naomi het weer vir hulle gesê: “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? 12Gaan asseblief maar terug, my dogters, ek is te oud om weer te trou; selfs al sou ek sê daar is nog hoop vir my, al sou ek vannag by 'n man slaap, al sou ek nog seuns in die wêreld bring, 13sou julle kon wag tot hulle groot is? Sou julle julle ondertussen daarvan kon weerhou om te trou? Dit is onmoontlik, my dogters. Nee, my lot is swaarder as julle s'n: die Here het teen my gedraai.”

14Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly. 15Toe sê Naomi: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar volk en na haar gode toe. Gaan jy nou ook saam met haar terug.”

16Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; 17waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

18Naomi het besef dat Rut vasbeslote was om saam met haar te gaan en sy het opgehou om haar te probeer ompraat. 19Hulle twee is toe saam na Betlehem toe. Met hulle aankoms in Betlehem was daar groot opgewondenheid in die stad, en die vrouens het gesê: “Maar dis mos Naomi!”

20Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het 'n ramp oor my gebring.”

22So het Naomi uit Moab teruggekom en Rut, haar Moabitiese skoondogter, was by haar. Hulle het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes.

Die ontmoeting tussen Boas en Rut

1Naomi het 'n vermoënde familielid gehad van haar man Elimelek se kant af. Sy naam was Boas. 2Rut, die Moabitiese vrou, vra toe vir Naomi: “Mag ek lande toe gaan om are op te tel by iemand wat my toelaat om dit te doen?”

Naomi antwoord haar: “Gaan gerus maar, my dogter.”

3Sy het toe geloop om in die land te gaan are optel agter die graansnyers aan. Sy het uitgekom by dié deel van die land wat behoort het aan Boas, die familielid van Elimelek. 4Boas het toe juis self uit Betlehem daar aangekom en hy het vir die snyers gesê: “Mag die Here by julle wees,” en hulle het hom geantwoord: “Mag die Here u seën.”

5Boas vra toe vir sy voorman: “Wie is daardie meisie?” 6en hy antwoord: “Sy is 'n Moabitiese meisie wat saam met Naomi van Moab af gekom het. 7Sy het gevra of sy are agter die snyers mag optel. Sy het toe gekom en is nog al die tyd besig van vanmôre af tot nou toe. Sy rus nou net 'n bietjie.”

8Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, moenie op 'n ander land gaan are optel nie; moet ook nie hier weggaan nie. Bly hier by die meisies. 9Bly op die land waar hulle oes, en volg hulle. Ek het die mans aangesê om jou nie lastig te val nie. En wanneer jy dors is, gaan na die waterkruike toe en drink van die water wat die werksmense vir hulle geskep het.”

10Rut het diep gebuig voor Boas en gevra: “Waarom is u so goed vir my en stel u belang in my, in 'n buitelander?”

11Boas antwoord haar toe: “Ek weet van alles wat jy vir jou skoonma gedoen het na die dood van haar man en dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het en na 'n volk toe gekom het waarvan jy vantevore niks geweet het nie. 12Mag die Here jou beloon vir wat jy gedoen het. Mag jy 'n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het.”

13Sy het geantwoord: “Meneer, u bewys my 'n guns, u laat my goed voel, u is vriendelik met my, al is ek nie eers een van u slavinne nie.”

14Toe dit etenstyd was, sê Boas vir haar: “Kom hierheen en eet 'n stukkie brood en doop dit in die wynsous.”

Sy het toe by die snyers gaan sit, en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Nadat sy genoeg geëet het en selfs oorgehou het, 15het sy opgestaan om weer te gaan are optel. Boas het sy werkers toe beveel: “Sy mag selfs tussen die gerwe are optel en julle mag haar nie pla nie; 16julle moet ook van die are uit die gerwe haal en dit op die grond laat val. Sy mag dit optel sonder dat julle haar daaroor aanspreek.”

17Rut het tot die aand toe are opgetel in die land. En toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit ongeveer dertien kilogram. 18Sy het dit gevat en saamgeneem stad toe. Haar skoonma het gesien hoeveel sy bymekaargemaak het. Rut het ook van die kos wat sy oorgehou het, vir haar skoonma gegee.

19Haar skoonma vra haar toe: “Waar het jy vandag are opgetel en wat het jy alles gedoen? Mag dié een wat in jou belang gestel het, deur die Here geseën word.” Sy het toe vir haar skoonma vertel wat sy gedoen het en dat die man by wie sy die dag gewerk het, se naam Boas is.

20Naomi sê toe vir haar skoondogter: “Mag hy geseën word deur die Here wat nie nalaat om sy trou aan lewendes en dooies te bewys nie. En,” het Naomi bygevoeg, “hierdie man is familie van ons. Hy is een van ons lossers.”

21Rut, die Moabitiese vrou, sê toe: “Hy het ook nog vir my gesê ek moet by sy werksters bly totdat hulle klaar geoes het.”

22Hierop sê Naomi vir haar: “Dit is goed vir jou, my dogter, dat jy saam met sy werksters uitgaan. Op 'n ander land sal jy dalk gemolesteer word.”

23Rut het toe saam met die werksters van Boas are opgetel totdat die gars- en koringoes ingesamel was. Sy het nog by haar skoonma gewoon.

Rut en Boas by die dorsvloer

1Rut se skoonma Naomi het vir haar gesê: “My dogter, dit is my verantwoordelikheid om vir jou 'n heenkome te soek sodat dit met jou goed kan gaan. 2Kyk, Boas saam met wie se werksters jy gewerk het, is mos familie van ons. Hy dors vannag gars op die dorsvloer. 3Was jou, maak jou mooi en trek jou netjies aan en gaan na die dorsvloer toe. Moenie dat hy jou gewaar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. 4Wanneer hy gaan slaap, sorg dat jy weet waar hy gaan lê. Dan gaan jy soontoe en kruip by sy voete in. Hy sal jou dan sê wat jy moet doen.”

5Toe antwoord Rut: “Ek sal doen wat u gesê het.”

6Sy het na die dorsvloer toe gegaan en alles gedoen wat haar skoonma vir haar gesê het. 7Nadat Boas geëet en gedrink het, was hy baie vrolik en het hy langs die mied gaan lê. Rut het toe stilletjies gekom, sy voete oopgemaak en by sy voete ingekruip. 8Toe hy in die middel van die nag wakker skrik en omdraai, was hy baie verbaas toe hy 'n vrou by sy voete gewaar.

9Hy vra toe vir haar: “Wie is jy?” en sy antwoord: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser; neem my nou onder u beskerming.”

10Hy sê toe: “Mag die Here jou seën, my dogter! Wat jy nou doen, naamlik dat jy agter geen jongman, arm of ryk, aanloop nie, is baie beter as die liefde wat jy aan die begin aan jou skoonma bewys het. 11Moet nou nie verder bekommerd wees nie, my dogter. Alles wat jy my vra, sal ek doen, want al die mense weet dat jy 'n goeie vrou is. 12Dit is waar dat ek jou losser is, maar nou is dit ook so dat daar 'n ander losser is wat nader familie is as ek. 13Slaap vannag hier. As hy dan môreoggend bereid is om as jou losser op te tree, goed, maar as hy nie wil nie, sal ek so seker as die Here leef, as losser optree. Bly hier tot môreoggend.”

14Sy het toe by sy voete bly lê tot die oggend, maar voordat dit lig genoeg was om iemand te herken, het sy opgestaan, “want,” het Boas gesê, “dit moenie bekend word dat 'n vrou na die dorsvloer toe gekom het nie.” 15Hy het ook gesê: “Bring die tjalie wat jy om het en hou dit oop.”

Sy het dit oopgehou, en hy het ses en twintig kilogram gars vir haar daarin afgemeet en dit op haar rug getel. Hy is toe stad toe, 16en sy het na haar skoonma toe gegaan.

Sy vra toe vir Rut: “Hoe het dit toe gegaan, my dogter?”

Sy het haar vertel wat Boas alles vir haar gedoen het en 17gesê: “Hy het vir my hierdie ses en twintig kilogram gars gegee, want hy het gesê ek mag nie met leë hande by my skoonma aankom nie.”

18Naomi sê toe: “Wag maar en kyk wat nou gaan gebeur, my dogter. Die man sal beslis nie vandag rus voordat die saak afgehandel is nie.”

Die lossingsprosedure. Huwelik. Die geboorte van Obed

1Ondertussen het Boas na die stadspoort toe gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie Boas gepraat het, daar verby. Boas roep toe: “Kom sit hier, my vriend.”

Nadat hy kom sit het, het Boas 2ook tien leiers van die stad gevra om daar te kom sit, en hulle het dit gedoen. 3Boas sê toe vir die losser: “Naomi, die vrou wat uit Moab teruggekom het, bied die stuk grond wat aan ons familielid Elimelek behoort het, te koop aan. 4Ek het gedink ek behoort dit vir jou te sê. Koop dit nou in die teenwoordigheid van almal wat hier sit en voor die leiers van die volk; indien jy bereid is om as losser op te tree, doen dit dan, maar indien nie, sê dit vir my dat ek dit weet, want ek is ná jou die volgende een wat die lossersreg moet uitoefen.”

Hy antwoord toe: “Ek is bereid om as losser op te tree.”

5Daarop sê Boas: “Wanneer jy die stuk grond van Naomi koop, kry jy terselfdertyd vir Rut die Moabitiese weduwee sodat die grond in die oorledene se familie bly.”

6Die losser sê toe: “In daardie geval sal ek my reg om as losser op te tree, laat vaar, want anders sou dit beteken dat my eie eiendom in gevaar kom. Tree jy nou maar as losser op, want ek sien nie meer daarvoor kans nie.”

7In Israel was dit gebruiklik by die lossingsprosedure of by die ruil van enige eiendom dat die een party 'n skoen uittrek en aan die ander party gee. Dit was die manier waarop die bekragtiging van 'n transaksie in Israel plaasgevind het.

8Die losser sê toe vir Boas: “Jy kan dit maar koop,” en die losser het sy skoen uitgetrek.

9Hierop sê Boas vir die leiers en almal teenwoordig: “Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimelek en Kiljon en Maglon behoort het, van Naomi gekoop het en dat 10ek ook die Moabitiese vrou Rut, die weduwee van Maglon, vir my as vrou gekry het. So sal die grond in die oorledene se familie bly en sy nagedagtenis nie vergeet word in die volkslewe nie. Ja, julle is vandag getuies.”

11Die leiers en almal wat in die stadspoort bymekaar was, het toe bevestig: “Ons is getuies. Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, soos Ragel en Lea maak wat saam gebou het aan die volk Israel. Verwerf aansien in Efrata en maak naam vir jouself in Betlehem. 12Mag die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou sal gee, wees soos dié van Peres wat deur Tamar vir Juda in die wêreld gebring is.”

13Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het 'n seuntjie in die wêreld gebring. 14Die vrouens sê toe vir Naomi: “Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou 'n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 15en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring.”

16Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem.

17Haar buurvroue het die seuntjie toe 'n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “'n Seun is vir Naomi gebore.”

Obed was die voorvader van Dawid.

Die geslagsregister van Peres tot by Dawid

18Hier is nou die geslagsregister van Peres: Peres was die vader van Gesron, 19Gesron van Ram, Ram van Amminadab, 20Amminadab van Nagson, Nagson van Salmon, 21Salmon van Boas, Boas van Obed, 22Obed van Isai, en Isai was die vader van Dawid.

Gedig vir 'n koning

1Vir die koorleier: op die wysie van “Lelies”. Van die Koragiete. 'n Gedig. 'n Lied van die liefde.

2Mooi woorde roer in my hart;

ek dra my gedig voor aan die koning;

my tong is soos die pen van 'n vaardige skrywer.

3U is mooier as alle mense;

oor u lippe vloei net vriendelike woorde,

want u hele lewe lank seën God u.

4Kom, held, maak u reg vir die stryd,

kom in u koninklike luister.

5Mag u oorwin!

Knoop die stryd aan vir die waarheid

en vir die reg van die hulpelose!

U is geroepe tot magtige dade.

6U skerp pyle laat volke voor u voete val;

hulle deurboor die hart van die koning se vyande.

7U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas,

met u koninklike septer laat u geregtigheid geskied.

8U het die reg lief en u haat die onreg,

want, verhewe wese, onder groot vreugde het u God u bo u tydgenote tot koning gesalf.

9Die geur van mirre, aalwyn en kaneel deurtrek al u klere;

musiek uit u ivoorversierde paleis maak u bly.

10Voor u staan prinsesse, getooi met u juwele,

en aan u regterhand die koningin, versier met goud van Ofir.

11Luister, dogter, luister goed:

neem afskeid van u volk en u familie,

12want u skoonheid bekoor die koning.

U behoort aan hom, u moet hom eer.

13Dogter van Tirus, die rykes van die volk sal u guns soek met geskenke.

14In louter prag staan die koningin daar

in haar kleed van goudbrokaat;

15in haar veelkleurige rok word sy na die koning toe gelei;

sy en haar gevolg van jong meisies, haar vriendinne, word na u toe gebring.

16Onder uitbundige vreugde word hulle ingelei,

betree hulle die paleis van die koning!

17Mag u seuns hê om u geslag voort te sit

dat u hulle kan aanstel as regeerders in die hele land!

18Mag deur my lied die roem van u naam oor geslagte strek,

sodat volke u vir altyd sal prys.

Daar is tog 'n God wat reg laat geskied

1Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” Van Dawid. 'n Gedig.

2Julle wat mag besit, is julle uitsprake werklik regverdig?

Is julle beslissings in die sake tussen mense billik?

3Nee, julle optrede in die land is die ene korrupsie,

met geweld gaan julle deur die lewe.

4Slegte mense loop van hulle geboorte af 'n verkeerde pad,

vandat hulle in die wêreld gekom het, dwaal hierdie bedrieërs af.

5Hulle is soos giftige slange,

soos adders wat hulle doof hou,

6wat hulle nie steur aan die stem van die slangbesweerder nie,

hoe vernuftig hy ook mag wees.

7Ruk hulle tande uit hulle mond uit, o God!

Slaan dié leeus se slagtande uit, Here!

8Laat hulle verdwyn soos water wat wegsyfer,

laat hulle fyngetrap word soos droë gras.

9Laat hulle wegraak soos slakke wat net slym agterlaat,

laat hulle word soos misgeboortes, sonder lewe.

10Laat hulle, voor hulle dit weet, uitgeroei wees soos onkruid,

laat 'n gloeiende wind hulle wegwaai in die fleur van hulle lewe.

11Die regverdige sal bly wees as hy sien daar is vergelding,

as die bloed van die goddeloses oor sy voete loop.

12Die mense sal sê: Daar is tóg 'n beloning vir die regverdige,

daar is tóg 'n God wat reg op die aarde laat geskied!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS