1Toe het al die Israeliete, dié van Dan tot dié van Berseba en dié uit die Gileadstreek, soos een man as gemeente in Mispa bymekaargekom in die teenwoordigheid van die Here. 2Die leiers van die hele volk, van al die stamme van Israel, was daar in die vergadering van die volk van God. Daar was vier honderd duisend voetsoldate wat met die swaard kon veg.
3Die Benjaminiete het verneem dat die ander Israeliete na Mispa toe opgetrek het. Die Israeliete het vir hulle gevra: “Sê ons tog! Hoe het hierdie lae ding plaasgevind?”
4Toe antwoord die Leviet, die man van die vermoorde vrou: “Ek en my vrou het in Gibea gekom wat aan Benjamin behoort, om daar te oornag. 5Toe wou die mans van Gibea my kom aanrand, en hulle het my die heel nag omsingel in die huis waar ek was. Hulle wou my doodmaak, en hulle het my byvrou verrinneweer, sodat sy gesterf het. 6Toe het ek haar opgesny en rondgestuur deur die hele gebied wat aan Israel behoort, want die mense van Gibea het 'n afskuwelike en lae ding in Israel gedoen. 7En nou is julle almal hier, Israeliete! Ons moet praat en net hier 'n plan maak!”
8Die hele volk het eenparig verklaar: “Niemand mag na sy woonplek toe gaan nie, niemand mag teruggaan huis toe nie. 9Dit is wat ons met Gibea sal doen: ons sal lootjies trek oor Gibea, 10en uit elke honderd man uit die stamme van Israel sal ons tien man vat, uit elke duisend man honderd en uit elke tien duisend duisend om kos by die volk te gaan haal. Wanneer ons in Gibea by Benjamin kom, sal ons hom straf ooreenkomstig die lae ding wat hy in Israel gedoen het.”
11Al die Israeliete het saamgestem en hulle het by Gibea bymekaargekom. 12Toe stuur die stamme van Israel die manne na al die families in Benjamin toe met die boodskap: “Wat vir 'n lae ding het hier by julle plaasgevind? 13Lewer nou die straatboewe van Gibea uit sodat ons hulle kan doodmaak en dié soort verkeerde ding uit Israel kan uitroei.”
Maar die mense van Benjamin wou nie na hulle volksgenote, die Israeliete, luister nie. 14Toe kom die mense van Benjamin uit al hulle stede bymekaar in Gibea om oorlog te maak teen die Israeliete. 15Die Benjaminiete wat uit die stede gekom het, is daardie dag getel, en daar was ses en twintig duisend man wat kon veg, en dit behalwe dié van Gibea. Hulle is ook getel, sewe honderd knap soldate. 16In daardie hele leër was daar sewe honderd knap soldate, almal links. Hulle kon keer op keer 'n haar raakgooi met 'n klip uit 'n slingervel.
17Die Israeliete is ook getel, en sonder Benjamin was daar vier honderd duisend man wat kon veg, elkeen reg vir die oorlog. 18Hulle het na Bet-El toe gegaan en God daar geraadpleeg. Die Israeliete het gevra: “Wie van ons moet eerste optrek om teen Benjamin te gaan veg?”
Die Here het geantwoord: “Juda moet eerste gaan.”
19Die volgende môre het al die Israeliete klaargemaak en regoor Gibea kamp opgeslaan. 20Die Israeliete het hulle manne teenoor Gibea ontplooi om teen die Benjaminiete te veg, 21maar die Benjaminiete het uit Gibea gestorm en op daardie dag twee en twintig duisend Israeliete om die lewe gebring.
22-23Nadat die Israeliete tot die aand toe in die teenwoordigheid van die Here gekla het, het hulle vir Hom gevra: “Moet ons weer teen ons broers die Benjaminiete gaan oorlog maak?”
Die Here het geantwoord: “Trek teen hulle op!”
Toe het die Israeliete moed geskep en weer hulle manne ontplooi om te veg waar hulle dit die vorige dag gedoen het. 24Die tweede dag het die Israeliete weer die Benjaminiete aangeval, 25maar hulle het weer uit Gibea uit gestorm en agtien duisend man van Israel om die lewe gebring, almal goeie soldate. 26Al die Israeliete en die hele leër is toe na Bet-El toe en daar het hulle in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en huil, en daardie dag het hulle tot die aand toe niks geëet nie. Hulle het brandoffers en maaltydoffers aan die Here geoffer. 27Hulle het die Here geraadpleeg; die verbondsark van die Here was destyds by hulle. 28Pinehas, seun van Eleasar seun van Aäron, wat destyds as priester gedien het voor die Here, het gevra: “Moet ons weer gaan oorlog maak teen ons broers die Benjaminiete of moet ons ophou?”
Toe antwoord die Here: “Trek op! Môre gee Ek hulle in julle mag.”
29Van die Israeliete het toe rondom Gibea in hinderlae gaan lê. 30Op die derde dag het die ander Israeliete teen Benjamin opgeruk en die manskappe regoor Gibea ontplooi soos die vorige kere. 31Die Benjaminiete het die soldate tegemoet gestorm, maar die Benjaminiete is van hulle stad af weggelok. Soos die vorige kere het hulle die Israeliete verslaan en begin doodmaak op die grootpaaie na Bet-El en Gibea toe. Hulle het sowat dertig Israeliete om die lewe gebring.
32Die Benjaminiete het gedink: soos voorheen is hulle weer deur ons verslaan. Maar die Israeliete het afgespreek: “Ons sal vlug en hulle uit die stad uit na die grootpaaie toe lok. 33Wanneer die grootste deel van Israel uit sy plek padgee en by Baäl-Tamar ontplooi, moet die Israeliete wat in die hinderlae lê, uit hulle plekke wes van Gibea opspring.”
34Tien duisend dapper soldate uit die leër van die Israeliete het tot regoor Gibea gegaan, en daar is roekeloos geveg. Die Benjaminiete het nog nie besef dat 'n ramp op hulle afkom nie. 35Maar die Here het hulle verslaan vir die Israeliete, en die Israeliete het op dié dag vyf en twintig duisend een honderd man van Benjamin, almal dapper soldate, om die lewe gebring. 36Toe het die Benjaminiete besef dat hulle verslaan is en dat die Israeliete net vir hulle teruggeval het omdat die Israeliete staatgemaak het op die hinderlae wat hulle teen Gibea opgestel het.
37Die manne van die hinderlae het toe gou in Gibea versprei en die stad oorweldig en die inwoners om die lewe gebring.
38Daar was 'n afspraak tussen die Israeliete en hulle hinderlaag om 'n groot rookwolk in die stad op te stuur. 39Toe die Israeliete omdraai om te veg, het die Benjaminiete begin om hulle dood te maak. Sowat dertig man is om die lewe gebring, en die Benjaminiete het gedink: ja-nee, hulle is weer deur ons in die geveg verslaan soos die vorige keer. 40Toe die rookwolk uit die stad begin opstyg, het die Benjaminiete omgedraai, maar die stad het klaar in vlamme gestaan.
41Toe die Israeliete omgedraai het om te veg, het die Benjaminiete baie bang geword, want hulle het besef dat 'n groot ramp hulle getref het. 42Hulle het met die woestynpad voor die Israeliete weggevlug, maar hulle kon die geveg nie vryspring nie, want dié wat die stad in puin gelê het, het hulle verslaan. 43Die Benjaminiete is omsingel en sonder genade agtervolg. Hulle is regoor Gibea, aan die oostekant, platgeloop.
44Van Benjamin het daar in die geveg agtien duisend man geval, almal dapper soldate. 45Die ander het weggekom na die woestyn toe, na die Rimmonrots toe. Op die grootpaaie het die Israeliete nog vyf duisend man doodgemaak. Hulle het die Benjaminiete nog agtervolg tot by Gidom en twee duisend man om die lewe gebring. 46Uit Benjamin het dié dag vyf en twintig duisend man geval, manne wat kon veg, almal dapper soldate. 47Ses honderd man het tot by die Rimmonrots gevlug. Hulle het vier maande lank daar gebly. 48Die manskappe van Israel is terug na die gebied van Benjamin toe. Daar het hulle van stad tot stad gegaan en alles, mens en dier, om die lewe gebring. In al die stede het hulle alles wat hulle aangetref het, verbrand.