Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 30

LEVITIKUS 17–20, HEBREËRS 9–10

Bybelteks(te)

Die enigste offerplek

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir Aäron, die priesters en al die Israeliete, die Here het beveel: 3Elke Israeliet wat 'n bees of 'n skaap of 'n bok in die kamp of buite die kamp slag 4en nie by die ingang van die tent van ontmoeting waar hy voor die heiligdom van die Here 'n deel as gawe aan die Here kan gee nie, is skuldig aan bloedvergieting. So iemand het bloed vergiet, en sal van sy volksgenote afgesny word. 5Die bedoeling is dat die Israeliete nie meer diere in die veld moet slag nie, maar dit vir die Here moet bring. Hulle moet dit na die ingang van die tent van ontmoeting na die priester toe bring en daar slag as maaltydoffer vir die Here. 6Die priester moet die bloed sprinkel teen die altaar van die Here by die ingang van die tent van ontmoeting en ook die vet op die altaar verbrand as 'n offer wat deur die Here aanvaar word. 7Die Israeliete mag nooit weer diere slag vir die veldgode en só aan die Here ontrou wees nie.

“Hierdie bepaling moet 'n vaste reël wees vir alle toekomstige geslagte.

8“Verder moet jy vir hulle sê: Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat 'n brandoffer of enige ander offer wil bring, 9moet dit vir die Here bring by die ingang van die tent van ontmoeting. As iemand dit nie doen nie, sal hy van sy volksgenote afgesny word.”

Verbod om bloed te eet

10“Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat enige bloed eet, sal Ek self straf. Ek sal hom van sy volksgenote afsny. 11Omdat die lewe van 'n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens. Omdat bloed versoening bring deur die lewe wat daarin is, 12beveel Ek elke Israeliet en elke vreemdeling by julle om géén bloed te eet nie. 13Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat 'n rein wilde dier of voël slag, moet dit laat uitbloei en die bloed met grond toemaak. 14Omdat die bloed van enige dier sy lewe is, beveel Ek julle, Israeliete, dat julle géén bloed mag eet nie. Omdat die bloed van enige dier sy lewe is, sal elkeen wat dit eet, doodgemaak word.

15“Enige persoon onder julle, of hy nou 'n gebore Israeliet is of 'n vreemdeling, wat 'n dier eet wat gevrek het of deur roofdiere verskeur is, moet sy klere en homself was. Hy sal die res van die dag onrein wees. 16As hy nie sy klere en homself was nie, moet hy die gevolge dra.”

LEVITIKUS 17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Oor seksuele verhoudings

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Ek is die Here julle God. 3Julle mag nie maak soos die Egiptenaars by wie julle gewoon het, of soos die Kanaäniete na wie se land toe Ek julle bring nie. Julle mag hulle gebruike nie navolg nie. 4Julle moet my bepalings nakom en my voorskrifte gehoorsaam deur daarvolgens te lewe. Ek is die Here julle God. 5Wees gehoorsaam aan my voorskrifte en bepalings. Wie dit doen, sal lewe. Ek is die Here.

6“Niemand van julle mag met 'n naby bloedverwant geslagsgemeenskap hê nie. Ek is die Here.

7“Jy mag nie jou pa die skande aandoen dat jy met jou ma gemeenskap het nie. Sy is tog immers jou ma. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.

8“Jy mag ook nie met 'n ander vrou van jou pa gemeenskap hê nie. Dit sal skande oor jou pa bring.

9“Jy mag nie met jou suster gemeenskap hê nie, ook nie met 'n halfsuster aan vaderskant of aan moederskant nie, of hulle nou deel is van die gesin of nie.

10“Jy mag nie met jou kleindogter gemeenskap hê nie, want sy is jou nageslag.

11“Jy mag nie met 'n halfsuster aan vaderskant gemeenskap hê nie, want sy is jou suster.

12“Jy mag nie met jou tante aan vaderskant gemeenskap hê nie, want sy is jou pa se bloedverwant.

13“Jy mag nie met jou tante aan moederskant gemeenskap hê nie, want sy is jou ma se bloedverwant.

14“Jy mag nie jou oom die skande aandoen dat jy met sy vrou gemeenskap het nie. Sy is immers jou tante.

15“Jy mag nie met jou skoondogter gemeenskap hê nie. Sy is jou seun se vrou. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.

16“Jy mag nie met jou skoonsuster gemeenskap hê nie, want dit sal skande oor jou broer bring.

17“Jy mag nie gemeenskap hê met 'n vrou en met haar dogter nie. Jy mag die vrou nie die skande aandoen dat jy met 'n kleindogter van haar trou nie. Hulle is haar nageslag en dit sal 'n afstootlike daad wees.

18“Solank jou vrou lewe, mag jy nie met haar suster trou nie. Daar sal vyandskap tussen hulle ontstaan as jy met albei gemeenskap het.

19“Jy mag nie met 'n vrou gemeenskap hê terwyl sy menstrueer en dus onrein is nie.

20“Jy mag nie met jou naaste se vrou gemeenskap hê en jouself só verontreinig nie.

21“Jy mag nie een van jou kinders wy aan Molek en só die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.

22“Jy mag nie 'n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is 'n afstootlike sonde.

23“Jy mag met geen dier geslagsgemeenskap hê en jouself so besoedel nie. 'n Vrou mag dit ook nie doen nie. Dit is iets afskuweliks.

24“Julle moet julle op geen van hierdie maniere verontreinig nie, want dit is wat die heidene gedoen het wat Ek voor julle verdryf. 25Hulle het die land verontreinig en Ek het die land daarvoor gestraf sodat hy sy bewoners uitgespoeg het. 26Julle almal, die gebore Israeliete en die vreemdelinge by julle, moet my voorskrifte en bepalings gehoorsaam. Julle mag geen van dié afstootlike dinge doen nie. 27Omdat die vorige inwoners hierdie afstootlike dinge gedoen het, is die land verontreinig. 28As julle die land verontreinig, sal hy júlle ook uitspoeg soos hy die heidene vóór julle uitgespoeg het. 29Elkeen wat enige van hierdie afstootlike dinge doen, sal van sy volksgenote afgesny word! 30Wees gehoorsaam aan wat Ek julle beveel. Vermy die afstootlike gebruike van die vorige inwoners en hou julleself rein. Ek is die Here julle God.”

LEVITIKUS 18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek is die Here julle God

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig. 3Elkeen van julle moet eerbied hê vir sy ma en sy pa. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam. Ek is die Here julle God. 4Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God.

5“Wanneer julle 'n maaltydoffer vir My, die Here, slag, moet julle dit so doen dat julle vir My aanneemlik is: 6julle moet die vleis eet op die dag wanneer julle slag, of hoogstens die volgende dag. Wat oorbly tot die derde dag, moet verbrand word. 7Wie daarvan op die derde dag eet, eet iets onreins. Dit is nie vir My aanneemlik nie. 8Wie daarvan eet, is skuldig, want hy ontheilig wat aan die Here gewy is. So iemand sal van sy volksgenote afgesny word.

9“Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. 10Julle moet ook nie die wingerde 'n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.

11“Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie. 12Julle mag nie 'n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.

13“Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie 'n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie. 14Uit eerbied vir jou God mag jy nie 'n dowe vloek of 'n hindernis in die pad van 'n blinde lê nie. Ek is die Here.

15“Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste. 16Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.

17“Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie. Maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie. 18Jy mag nie wraak neem of 'n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

19“Julle moet my voorskrifte gehoorsaam. Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of 'n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie.

20“Wanneer die eienaar van 'n slavin reeds 'n ooreenkoms aangegaan het waarvolgens iemand anders haar as byvrou koop, en die eienaar het met haar gemeenskap voordat die prys betaal is en voordat hy van haar afstand gedoen het, moet hy aan die toekomstige eienaar skadevergoeding betaal. Hulle mag nie die doodstraf opgelê word nie, want hy het nog beskikkingsreg oor haar. 21Verder moet hy as skuldoffer vir die Here 'n ram bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe. 22Die priester moet met die skuldofferram vir die eienaar van die slavin versoening doen by die Here oor die sonde wat gedoen is. Die sonde sal dan vergewe word.

23“Wanneer julle julle in die land vestig en allerhande soorte vrugtebome plant, mag julle drie jaar lank glad nie die vrugte pluk nie. Die vrugte is vir julle verbode. Dit mag nie geëet word nie. 24Die vierde jaar moet al die vrugte as 'n gawe van dankbaarheid aan die Here gewy word. 25Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte gebruik. Julle sal dan goeie opbrengste hê. Ek is die Here julle God.

26“Julle mag nie aan heidense offermaaltye deelneem nie. Julle mag nie waarsêery en towery beoefen nie. 27-28Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here.

29“Niemand van julle mag sy dogter die skande aandoen om haar 'n tempelprostituut te laat word nie. Dit lei tot hoerery en afskuwelike sondes in die land. 30Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here. 31Moenie hulp soek by geeste of waarsêers nie. Dit sal julle onrein maak. Ek is die Here julle God.

32“Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here.

33“Wanneer daar 'n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. 34Julle moet hom soos 'n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God.

35“Julle mag nie bedrog pleeg wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie. 36Julle moet 'n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate gebruik. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het. 37Gehoorsaam al my voorskrifte en bepalings en leef daarvolgens. Ek is die Here.”

LEVITIKUS 19AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Elke Israeliet en vreemdeling in Israel wat sy kind aan Molek wy, moet met die dood gestraf word: die burgers moet hom met klippe doodgooi, 3anders sal Ek self teen so iemand optree en hom van sy volksgenote afsny omdat die wyding van 'n kind aan Molek my heiligdom onrein maak en my heilige Naam ontheilig. 4As die burgers hulle oë sluit vir so 'n oortreding en nie die skuldige doodmaak nie, 5sal Ek self ingryp en so iemand en sy familie sowel as almal wat saam met hom ontrou is en vir Molek dien, van sy volksgenote afsny. 6Enigiemand wat aan My ontrou is deur hulp te soek by geeste of waarsêers, teen hom sal Ek optree: Ek sal hom van sy volksgenote afsny. 7Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God. 8Gehoorsaam my voorskrifte en leef daarvolgens. Ek is die Here, Ek heilig julle aan My.

9“Wanneer iemand sy pa of sy ma vloek, moet hy doodgemaak word. Hy het sy pa of sy ma gevloek en hy verdien die dood.”

Oor seksuele verhoudings

10“Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van 'n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg. 11Iemand wat gemeenskap het met een van sy pa se vrouens, bring skande oor sy pa. Hy en die vrou moet albei doodgemaak word. Hulle verdien die dood. 12Iemand wat met sy skoondogter gemeenskap het, moet doodgemaak word, en sy ook. Hulle het iets afskuweliks gedoen. Hulle verdien die dood.

13“Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen 'n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood. 14Iemand wat met 'n ma en haar dogter trou, begaan 'n afskuwelike sonde. Hulle moet al drie 'n vuurdood sterf. Julle mag sulke afskuwelike sondes nie duld nie.

15“'n Man wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet doodgemaak word, en die dier ook. 16'n Vrou wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet doodgemaak word, en die dier ook. Sulke mense moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

17“As 'n man met sy suster of halfsuster se toestemming gemeenskap met haar het, is dit 'n skandelike daad. Hulle moet in die openbaar van hulle volksgenote afgesny word. Hy het skande oor sy suster gebring en moet die gevolge dra. 18As 'n man met die toestemming van 'n vrou wat menstrueer, gemeenskap met haar het, moet albei afgesny word van hulle volksgenote.

19“Niemand mag gemeenskap hê met sy tante aan moederskant of aan vaderskant nie, want sy is 'n naaste bloedverwant. As dit gebeur, moet albei gestraf word. 20As iemand met sy oom se vrou gemeenskap het, bring hy skande oor sy oom. Die man en die vrou moet die gevolge dra: hulle sal sterf as mense wat alle regte verbeur het. 21As 'n man sy broer se vrou afneem, is dit 'n skandelike daad. Die man het skande oor sy broer gebring. Die man en die vrou verbeur al hulle regte.

22“Julle moet al my voorskrifte en bepalings gehoorsaam en dit uitvoer. As julle dit nie doen nie, sal die land waarheen Ek julle laat trek om daar te woon, julle uitspoeg. 23Julle mag nie die gebruike van die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf, navolg nie. Ek het juis 'n afsku van hulle gekry omdat hulle al hierdie dinge doen. 24Ek het julle belowe dat julle hulle land in besit sal neem. Dit is Ek wat hierdie land aan julle gee om dit in besit te neem, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Ek is die Here julle God, Ek het julle afgesonder van die ander volke. 25Daarom moet julle by diere en voëls onderskeid maak tussen rein en onrein. Julle mag julle nie besoedel met die diere of voëls of met enigiets wat op die aarde kruip wat Ek afgesonder het as dinge waardeur julle onrein gemaak word nie. 26Julle moet heilig lewe, want Ek die Here is heilig. Ek het julle afgesonder uit die volke om aan My te behoort. 27Enige mens wat hom ophou met die oproep van geeste of met beswering, moet doodgemaak word. Hy moet met klippe doodgegooi word. Hy verdien die dood.”

LEVITIKUS 20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die aardse heiligdom en sy offers

1Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens gehad, en ook 'n aardse heiligdom. 2Die verbondstent is opgerig, en in die voorste gedeelte daarvan, wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. 3Agter die tweede voorhangsel was die gedeelte wat die Allerheiligste genoem word.

4Daarin was die goue wierookaltaar en die verbondsark, wat in sy geheel met goud oorgetrek was. In die ark was die goue kruik met manna, die kierie van Aäron wat gebot het, asook die plat klippe met die wet van die verbond daarop geskrywe. 5Bo-op die ark het die gerubs wat die heerlikheid van God voorstel, hulle vleuels oor die versoendeksel uitgestrek. Op die besonderhede kan ons nie nou verder ingaan nie.

6Met die dinge só ingerig, het die priesters gereeld die voorste gedeelte van die verbondstent binnegegaan om die dienste te verrig. 7Maar in die agterste gedeelte het alleen die hoëpriester ingegaan, en dit net een keer in die jaar, en dan nie sonder bloed nie, om vir homself te offer en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het. 8Hiermee maak die Heilige Gees duidelik dat die pad na die Allerheiligste toe nie oop is so lank as die voorste gedeelte van die verbondstent bestaan nie. 9Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, 'n volkome skoon gewete kan gee nie. 10Dit het net betrekking op voedsel, drank en 'n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God 'n beter orde sou instel.

11Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 12Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en 'n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van 'n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.

15Daarom is Hy ook die Middelaar van 'n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. 16Dit is soos met 'n testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is, 17want 'n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie. 18Daarom is die eerste verbond ook nie sonder bloed ingestel nie. 19Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel 20en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het.” 21Ook die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens het hy op dieselfde wyse met die bloed besprinkel. 22Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.

Christus die volkome offer

23Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. 24Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom wat deur mense gemaak is en net 'n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 27'n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. 28So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

Die offers van die ou verbond

1Die wet van Moses is slegs 'n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie 'n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie. 2As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring. 3Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, 4omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem.

5Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld:

“Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie,

maar die liggaam wat U My gegee het.

6Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie!

7Toe het Ek gesê:

Kyk, Ek het gekom, o God,

om u wil te doen.

In die boekrol is dit van My geskrywe.”

8Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om 'n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.

Die offer van Jesus Christus

11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.

15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:

16“Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here.

Ek sal hulle my wette in die hart gee,

in hulle verstand sal Ek dit skrywe.”

17Dan sê Hy verder:

“Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.”

18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

Laat ons met vrymoedigheid na God gaan

19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op 'n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

God straf die opsetlike sondes

26Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. 27Daar bly alleen 'n verskriklike verwagting oor van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. 28As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. 29Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? 30Ons weet tog wie Hy is wat gesê het:

“Dit is mý reg om te straf;

Ek sal vergeld;”

en verder:

“Die Here sal oor sy volk oordeel.”

31Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.

Volhard in die geloof

32Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. 33Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. 34Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle 'n besitting het wat beter en blywend is. 35Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. 36Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.

37Nog net “'n kort, kort tydjie,

en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie.

38En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe;

maar as hy terugdeins,

het Ek aan hom niks meer nie.”

39Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.

HEBREËRS 10AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS