Die offers van die ou verbond
1Die wet van Moses is slegs 'n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie 'n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie. 2As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring. 3Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, 4omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem.
5Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld:
“Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie,
maar die liggaam wat U My gegee het.
6Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie!
7Toe het Ek gesê:
Kyk, Ek het gekom, o God,
om u wil te doen.
In die boekrol is dit van My geskrywe.”
8Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om 'n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.
Die offer van Jesus Christus
11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.
15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:
16“Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here.
Ek sal hulle my wette in die hart gee,
in hulle verstand sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.
Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op 'n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.
God straf die opsetlike sondes
26Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. 27Daar bly alleen 'n verskriklike verwagting oor van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. 28As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. 29Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? 30Ons weet tog wie Hy is wat gesê het:
“Dit is mý reg om te straf;
Ek sal vergeld;”
en verder:
“Die Here sal oor sy volk oordeel.”
31Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.
Volhard in die geloof
32Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. 33Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. 34Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle 'n besitting het wat beter en blywend is. 35Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. 36Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.
37Nog net “'n kort, kort tydjie,
en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie.
38En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe;
maar as hy terugdeins,
het Ek aan hom niks meer nie.”
39Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.