Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 29

LEVITIKUS 13–16, HEBREËRS 7–8

Bybelteks(te)

Oor velsiektes waardeur 'n persoon onrein gemaak word

1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Wanneer iemand êrens aan sy lyf 'n swelsel of 'n uitslag of 'n seer het wat dalk kan ontwikkel in 'n velsiekte wat hom onrein kan maak, moet hy na Aäron of een van die Aäronitiese priesters toe gebring word. 3Die priester moet dan die seerplek ondersoek. As die hare daarop wit geword het en dit lyk of die ontsteking dieper is as die vel, is dit 'n velsiekte waardeur die persoon onrein gemaak word. Die priester wat dit ondersoek het, moet dan die persoon onrein verklaar. 4Maar as die seer 'n ligte kleur het en dit lyk of dit nie dieper as die vel is nie en die hare daarop het nie wit geword nie, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder. 5Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As daar na die priester se mening geen verandering ingetree het nie en die ontsteking het nie versprei in die vel nie, moet hy die persoon nog 'n week afsonder. 6Op die sewende dag moet die priester die persoon dan weer ondersoek. As die ontsteking opgeklaar het en nie verder versprei het in die vel nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Dit is dan 'n onskadelike uitslag. Nadat hy sy klere gewas het, sal hy rein wees. 7As die uitslag egter verder versprei nadat die priester hom ondersoek en rein verklaar het, moet hy weer na die priester toe gaan vir 'n ondersoek. 8As die priester merk dat die uitslag versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar. Dit is dan 'n velsiekte waardeur hy onrein gemaak word.

9“Iemand wat vermoedelik 'n velsiekte het wat hom onrein kan maak, moet na die priester toe gebring word. 10Die priester moet hom dan ondersoek.

“Al is daar op die vel net 'n enkele wit seerplek wat die hare laat wit word en wat oop en rou is, 11het die persoon alreeds 'n velsiekte wat hom onrein maak. Die priester moet die persoon onrein verklaar. Die priester hoef die persoon nie vir 'n tyd af te sonder nie, want hy is klaar onrein.

12“Maar as iemand 'n velsiekte het wat so versprei het dat dit vir die priester lyk of dit die hele lyf bedek, 13moet die priester hom noukeurig ondersoek.

“Al is die velsiekte oor sy hele lyf versprei, maar daar is geen teken van ontsteking nie, is hy rein. 14Maar wanneer daar êrens aan hom 'n rou seer verskyn, is hy onrein.

15“Wanneer die priester by 'n ondersoek 'n rou seer ontdek, moet hy die persoon onrein verklaar. 'n Rou seer beteken onreinheid, 'n velsiekte waardeur die persoon onrein gemaak word. 16As die rou seer egter genees en 'n wit roof vorm, moet hy weer na die priester toe gaan. 17Die priester moet dit ondersoek. As die seerplek inderdaad 'n wit roof gevorm het, moet die priester die persoon rein verklaar. Hy is rein.

18“As iemand aan sy lyf 'n verswering gehad het wat genees het, 19en waar die verswering was, kom daar 'n wit swelsel of 'n rooierige seer, moet dit aan die priester gewys word. 20Die priester moet dit ondersoek. As dit lyk of die kwaad onder die vel is en die hare daarop het wit geword, moet die priester die persoon onrein verklaar. Deur die verswering het daar 'n velsiekte ontstaan wat hom onrein maak.

21“Maar as die priester die plek ondersoek en sien dat die hare daarop nie wit geword het nie, dat die kwaad nie onder die vel is nie en dat die ontsteking opgeklaar het, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder. 22As die kwaad dan verder versprei in die vel, moet die priester die persoon onrein verklaar. Hy het 'n seerplek wat hom onrein maak. 23Maar as die plek onverander bly en die ontsteking het nie versprei nie, is dit maar net die litteken van die verswering. Die priester kan hom dan rein verklaar.

24“Wanneer iemand 'n brandwond opgedoen het en die rou wond vorm 'n rooierige of 'n wit seer, 25moet die priester die plek ondersoek. As die hare op die seer wit geword het en die seer lyk dieper as die vel, het deur die brandwond 'n velsiekte ontstaan waardeur die persoon onrein gemaak word. Die priester moet die persoon onrein verklaar. Hy het 'n velsiekte wat hom onrein maak. 26As die priester by sy ondersoek egter vind dat die hare op die seer nie wit geword het nie, dat die seer nie dieper is as die vel nie en dat die ontsteking opgeklaar het, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder. 27Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As die kwaad verder versprei het in die vel, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n velsiekte wat hom onrein maak. 28Maar as die plek onverander bly en die ontsteking het nie in die vel versprei nie maar opgeklaar, is dit die swelsel van die brandwond. Die priester moet hom dan rein verklaar, want dit is maar net die merk van die brandwond.

29“Wanneer daar 'n seerplek is aan die kop van 'n man of 'n vrou of in die baard van 'n man, 30moet die priester dit ondersoek. As dit lyk of die kwaad dieper is as die vel en as die hare daarop geel en donserig is, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n skurfsiekte, 'n velsiekte aan die kop of gesig, waardeur die persoon onrein gemaak word. 31As die priester egter sien dat die skurfsiekte nie dieper is as die vel nie, maar dat die hare daarop tog nie 'n gesonde kleur het nie, moet hy die persoon met die skurfsiekte 'n week lank afsonder. 32Op die sewende dag moet die priester weer die seerplek ondersoek. As die skurfsiekte nie versprei het nie, die hare daarop nie geel is nie en dit nie dieper lyk as die vel nie, 33moet al die hare afgeskeer word behalwe dié waar die skurfsiekte is. Daarna moet die priester die persoon nog 'n week afsonder. 34Op die sewende dag moet die priester die skurfsiekte weer ondersoek. As dit nie versprei het in die vel nie en dit lyk nie dieper as die vel nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Nadat hy sy klere gewas het, sal hy rein wees. 35As daar egter enige verspreiding van die skurfsiekte voorkom nadat die persoon rein verklaar is, 36moet die priester hom weer ondersoek. As dit duidelik is dat die skurfsiekte versprei het op die vel, hoef die priester nie eens te kyk of daar geel hare is nie. Die persoon is onrein. 37As die priester later sien dat die skurfsiekte nie versprei het nie en dat daar gesonde hare op groei, is dit 'n teken dat die plek genees het en dat die persoon rein is. Die priester moet hom dan ook rein verklaar.

38“As 'n man of 'n vrou êrens aan die lyf wit vlekke het, 39moet die priester dit ondersoek. As die vlekke op die vel bleekwit vertoon, is dit gewone velverwitting waaraan die persoon ly. Hy is rein.

40“Iemand wie se hare uitval sodat sy kop kaal word, is nie daarvan onrein nie. 41Ook wanneer net die hare op sy voorkop uitval, sodat sy kop daar kaal word, is hy nie onrein nie. 42As daar egter 'n rooierige ontsteekte plek verskyn waar sy kop kaal raak, is dit 'n teken dat hy aan sy kopvel 'n velsiekte het wat hom dalk onrein maak. 43Die priester moet die persoon dan ondersoek. As die simptome dieselfde is as dié van 'n velsiekte aan die lyf, wat 'n mens onrein maak, naamlik 'n rooierige swelsel, 44het die man inderdaad so 'n velsiekte. Hy is onrein en die priester moet nie huiwer om die man onrein te verklaar nie. Die kwaad is in sy kopvel.

45“Iemand wat 'n velsiekte het wat hom onrein maak, moet geskeurde klere dra en sy hare onversorg laat. Hy moet ook die onderste deel van sy gesig bedek en uitroep: ‘Onrein! Onrein!’ 46Hy bly onrein solank hy die siekte het. Hy moet dan ook in afsondering lewe en buite die kampplek bly.”

Oor skimmel wat onrein maak

47“As daar 'n kol skimmel is op 'n kledingstuk, 48of op garing of materiaal van linne of wol, of op vel of enige velartikel, 49en die skimmel het 'n groenerige of rooierige kleur, kan dit skadelike skimmel wees, en moet dit aan die priester gewys word. 50Die priester moet die kol ondersoek en die artikel met die skimmel 'n week lank eenkant sit. 51Op die sewende dag moet hy dit weer ondersoek. As die kol op die kledingstuk of garing of materiaal of velartikel groter geword het, is dit skadelike skimmel. Dit is onrein. 52Die ding waarop die kol skadelike skimmel is, die wol, linne of vel, moet sonder meer in die vuur gegooi en verbrand word. 53Maar as die priester sien dat die kol nie groter geword het nie, 54moet hy beveel dat die artikel met die skimmel gewas word. Daarna moet hy dit nog 'n week eenkant sit. 55As die priester dan, nadat dit so behandel is, sien dat die kleur van die kol nie verander het nie, is dit onrein, ook al het die kol nie groter geword nie. Dit moet verbrand word. Dit maak nie saak of die bederfde plek aan die voor- of aan die agterkant is nie. 56As die priester egter sien dat die kol dowwer van kleur is 'n week nadat die artikel gewas is, moet hy die kol uitskeur uit die kledingstuk, die vel, die garing of die materiaal. 57As daar dan weer 'n kol verskyn, is dit 'n teken dat die skimmel nog daar is. So 'n artikel moet verbrand word. 58'n Kledingstuk, garing, materiaal of 'n velartikel waarvan die skimmel verdwyn het nadat dit gewas is, moet 'n tweede keer gewas word, dan is dit rein.”

59Die voorafgaande is die voorskrifte waarvolgens bepaal moet word of klere, garing en materiaal van wol of linne, en velartikels rein of onrein is wanneer daar skimmel op is.

LEVITIKUS 13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Reinigingsvoorskrif vir velsiektes wat onrein maak

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Wanneer iemand gereinig moet word wat gely het aan 'n velsiekte wat hom onrein maak, moet die volgende voorskrif nagekom word. Hy moet na die priester toe gebring word, 3maar buite die kampplek. Die priester moet die persoon daar ondersoek. As hy genees is van die velsiekte, 4moet daar op bevel van die priester twee lewende rein voëls, 'n stukkie sederhout, bloedrooi garing en 'n hisoptakkie gebring word vir die persoon wat gereinig moet word. 5Op bevel van die priester moet die kop van die een voël afgesny word oor 'n erdebakkie waarin vars water is. 6Die priester moet dan die lewende voël vat en hom saam met die stukkie sederhout, die bloedrooi garing en die hisoptakkie dompel in die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is oor die bakkie vars water. 7Hy moet die water met die bloed in sewe maal sprinkel oor die persoon wat gereinig moet word van sy siekte en hom dan rein verklaar. Daarna moet hy die lewende voël in die veld loslaat. 8Die persoon wat gereinig word, moet sy klere was, al sy hare afskeer en bad. Dan is hy rein en mag hy in die kampplek ingaan, maar hy moet nog 'n week buite sy tent bly.

9“Op die sewende dag moet hy al sy hare afskeer. Hy moet sy hare, sy baard, sy wenkbroue en al sy liggaamshare afskeer. As hy dan sy klere gewas en hom gebad het, is hy rein en mag hy in sy tent ingaan.

10“Op die agste dag moet hy twee ramlammers en 'n jaaroud ooilam, almal sonder liggaamsgebrek, 'n graanoffer wat bestaan uit vyf kilogram meel wat met olyfolie aangemaak is, en 'n halwe liter olyfolie na die priester toe bring. 11Die priester wat die reiniging doen, moet dan die persoon wat gereinig word, saam met sy offergawes bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe, in die teenwoordigheid van die Here. 12Daarna moet die priester die een ramlam en die halwe liter olie as 'n skuldoffer bring; hy moet dit as 'n beweegoffer vir die Here aanbied. 13Hy moet die lam slag op dieselfde plek waar die sondeoffer en die brandoffer geslag word, op die gewyde plek, want die skuldoffer is net soos die sondeoffer. Dit kom die priester toe, dit is 'n besondere gewyde gawe. 14Die priester moet van die bloed van die skuldofferlam smeer aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die persoon wat gereinig word. 15Daarna moet die priester van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi, 16'n vinger van sy regterhand in die olie druk en dit sewe maal sprinkel in die teenwoordigheid van die Here. 17Die priester moet van die olie wat in sy handpalm oorbly, bo-oor die skuldofferbloed smeer wat aan die regteroorlel, die duim en die groottoon van die persoon is. 18Die priester smeer die res van die olie in sy handpalm aan die kop van die persoon wat gereinig word. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon. 19Daarby moet die priester ook die sondeofferlam offer en so versoening doen vir die persoon wat gereinig word. Hierna mag die persoon die brandofferlam slag, 20en die priester moet dit saam met die graanoffer op die altaar verbrand. Wanneer die priester so versoening gedoen het vir die persoon, is hy rein.

21“As die persoon egter so arm is dat hy nie gewone offers kan bekostig nie, kan hy 'n ramlam gebruik as skuldoffer. Dit moet as beweegoffer aangebied word om vir hom versoening te doen, saam met 'n graanoffer bestaande uit een en 'n half kilogram meel wat met olyfolie aangemaak is en 'n halwe liter olyfolie. 22Verder moet hy twee tortelduiwe of twee ander duiwe gebruik, een vir die sondeoffer en een vir die brandoffer. 23Hy moet dit op die agste dag van sy reiniging vir die priester bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe, in die teenwoordigheid van die Here. 24Die priester moet dan die skuldofferlam en die halwe liter olie as beweegoffer vir die Here aanbied. 25Daarna moet die priester die skuldofferlam slag en van die bloed smeer aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die persoon wat gereinig word. 26Daarna moet die priester van die olie in die palm van sy eie linkerhand gooi 27en dit met 'n vinger van sy regterhand sewe maal sprinkel in die teenwoordigheid van die Here. 28Hy moet ook van die olie in sy handpalm bo-oor die skuldofferbloed smeer wat aan die regteroorlel, die duim en die groottoon van die persoon is wat gereinig word. 29Die priester smeer die olie wat in sy handpalm oor is, aan die persoon se kop. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon. 30Die priester moet dan een van die twee tortelduiwe of ander duiwe wat die man gebring het, 31as 'n sondeoffer bring en die ander as 'n brandoffer saam met die graanoffer. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon wat gereinig word. 32Hierdie voorskrif moet geld in die geval van 'n persoon wat 'n velsiekte gehad het wat hom onrein gemaak het en wat nie die gewone reinigingsoffers kan bekostig nie.”

Reinigingsvoorskrifte vir huise

33Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 34“Julle gaan intrek in die land Kanaän wat Ek vir julle as besitting gee. As Ek dan swamme laat groei in een van die huise in die land wat julle sal besit, 35moet die eienaar van die huis vir die priester gaan sê: ‘Dit lyk my daar is 'n swamplaag in my huis.’ 36Die priester moet dan beveel dat die huis ontruim word voordat hy die swamme gaan ondersoek, anders word alles in die huis dalk onrein verklaar. Eers daarna kan hy die huis gaan ondersoek. 37As die priester sien dat die swamme aan die mure van die huis sit en dat dit groenerige of rooierige holtes vorm wat lyk of dit dieper is as die oppervlak van die muur, 38moet hy uit die huis uitgaan en toegang tot die huis 'n week lank verbied. 39Op die sewende dag moet die priester die huis weer ondersoek. As die swamme aan die mure versprei het, 40moet die klippe waaraan die swamme is, uitgebreek word op bevel van die priester en buite die dorp op 'n onrein plek weggegooi word. 41Al die pleister in die huis moet dan afgekrap en ook buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word. 42Hulle moet dan ander klippe in die muur inbou en die hele huis oorpleister.

43“As daar weer swamme groei nadat die klippe uitgebreek, die pleister afgekrap en die huis oorgepleister is, 44moet die priester weer gaan kyk. As dit inderdaad weer uitgeslaan het, is dit skadelike swamme. Daardie huis is onrein. 45Dit moet afgebreek word en die klippe, houtwerk en klei moet buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word. 46Iemand wat in die huis ingaan in die tyd dat toegang verbied is, sal die res van die dag onrein wees 47en as hy in die huis slaap of eet, moet hy ook sy klere was.

48“As die priester egter vind dat die swamme nie weer gegroei het nadat die huis oorgepleister is nie, moet hy dit rein verklaar aangesien daar nie meer swamme is nie. 49Om die huis te reinig, moet hy twee voëls, 'n stukkie sederhout, bloedrooi garing en 'n hisoptakkie vat. 50Hy moet die kop van die een voël afsny oor 'n erdebakkie waarin vars water is, 51en dan die stukkie sederhout, die hisoptakkie, die bloedrooi garing en die lewende voël dompel in die vars water met die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is. Hy moet die water met die bloed in sewe keer teen die huis sprinkel. 52So moet hy die huis reinig met die bloed van die voël en die vars water en deur middel van die lewende voël, die stukkie sederhout, die hisoptakkie en die bloedrooi garing. 53Daarna moet hy die lewende voël buite die dorp loslaat in die oop veld. So doen die priester versoening vir die huis en word dit rein.”

54Die voorafgaande voorskrifte het betrekking op skurfsiekte, 55skimmel aan klere, swamme in 'n huis, 56swelsels, uitslag en sere wat onrein maak. 57So moet vasgestel word wanneer iets rein of onrein is. Dit is die voorskrif in verband met dinge wat onrein maak.

LEVITIKUS 14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Onreinheid by mans en vrouens

1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Enige abnormale afskeiding uit die geslagsorgaan van 'n man is onrein. 3Hy is self ook onrein solank die afskeiding duur. Of dit nou 'n aanhoudende of 'n periodieke afskeiding is, dit maak hom onrein. 4'n Bed waarop so iemand lê, of enigiets waarop hy sit, word onrein. 5Enigiemand wat aan die bed raak, moet sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 6Wanneer iemand op iets sit waarop die man met die afskeiding gesit het, moet so 'n persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 7Wanneer iemand raak aan 'n man wat 'n afskeiding het, moet so 'n persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 8Wanneer 'n man met 'n afskeiding op 'n rein persoon spoeg, moet die persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 9Enige saal waarop die man ry wat die afskeiding het, is onrein, 10en elkeen wat aan iets raak waarop die man gesit het, is die res van die dag onrein. Enigiemand wat iets optel waarop die man gesit het wat die afskeiding het, moet bad en sy klere was. Hy is die res van die dag onrein. 11Enigiemand aan wie 'n man met 'n afskeiding raak sonder dat hy sy hande eers afgespoel het, moet bad en sy klere was. Hy is die res van die dag onrein. 12Alle kleipotte waaraan die man raak wat die afskeiding het, moet gebreek word, maar gebruiksartikels van hout moet afgespoel word.

13“As 'n man wat 'n afskeiding het, gesond word, moet hy sewe dae wag voordat hy rein verklaar kan word. Hy moet sy klere was en hom in lopende water bad. Daarna is hy rein. 14Op die agste dag moet hy met twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die ingang van die tent van ontmoeting toe gaan en hulle in die teenwoordigheid van die Here vir die priester gee. 15Die priester moet die een vir 'n sondeoffer en die ander vir 'n brandoffer gebruik om vir die man wat die afskeiding gehad het, versoening te doen by die Here.

16“As 'n man 'n normale saadafskeiding het, moet hy hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 17Enige linne of leer waarop die saad kom, moet ook gewas word en is die res van die dag onrein. 18Wanneer 'n man en 'n vrou geslagtelike omgang gehad het, moet altwee bad. Hulle is die res van die dag onrein.

19“Met 'n normale menstruasie is 'n vrou sewe dae onrein. Enigiemand wat aan haar raak, is die res van die dag onrein. 20Enigiets waarop sy lê of sit gedurende die sewe dae, is onrein. 21-22Enige persoon wat aan haar bed raak of aan iets waarop sy gesit het, moet sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 23As iemand aan iets raak wat op haar bed lê of aan iets waarop sy gesit het, is hy ook die res van die dag onrein. 24As 'n man dit sou waag om met haar geslagsgemeenskap te hê, word haar onreinheid op hom oorgedra en is hyself ook sewe dae onrein. Enige bed waarop hy lê, is ook onrein.

25“As 'n vrou 'n bloedvloeiing het buite haar menstruasietyd of as die bloedvloeiing tydens menstruasie abnormaal lank aanhou, is sy onrein solank die bloedvloeiing duur. 26Net soos met menstruasie is enige bed waarop sy lê of enigiets waarop sy gedurende dié tyd sit, onrein. 27Elkeen wat daaraan raak, is onrein. Hy moet sy klere was en hom bad en hy is die res van die dag onrein. 28Wanneer die bloedvloeiing ophou, moet sy sewe dae wag voordat sy rein verklaar kan word. 29Op die agste dag moet sy dan twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die priester toe bring by die ingang van die tent van ontmoeting. 30Die priester moet die een as 'n sondeoffer en die ander as 'n brandoffer gebruik om vir haar versoening te doen by die Here oor die onreinheid wat deur die vloeiing veroorsaak is.

31“Julle moet die Israeliete streng laat hou by hierdie reinheidsvoorskrifte, anders sal hulle dalk my heiligdom wat by hulle is, ontwy. As dit gebeur, sal hulle sterwe.”

32Die voorafgaande voorskrifte reël die geval wanneer 'n man 'n afskeiding of saadstorting het wat hom onrein maak, 33en wanneer 'n vrou menstrueer, dit wil sê enige geval van 'n afskeiding uit die geslagsorgaan van 'n man of 'n vrou en ook wanneer 'n man met 'n onrein vrou geslagsgemeenskap het.

LEVITIKUS 15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die jaarlikse versoening

1Aäron se twee seuns het gesterf toe hulle 'n offer aan die Here wou bring, en na aanleiding daarvan het die Here vir Moses 'n opdrag gegee. 2Hy het vir Moses gesê: “Sê vir jou broer Aäron hy mag nooit sommer in die heiligdom agter die voorhangsel ingaan na die deksel van die verbondsark toe nie. Ek verskyn telkens in 'n wolk bokant die deksel van die ark en as Aäron sommer ingaan, sal hy sterwe. 3Voordat hy in die Allerheiligste ingaan, moet hy 'n jong bul as sondeoffer bring en 'n ram as brandoffer. 4Verder moet hy die gewyde klere van 'n gewone priester aanhê oor 'n broek en hy moet 'n serp om sy lyf en 'n tulband op sy kop hê. Dit moet alles gewyde linneklere wees. Hy moet hom was voor hy dit aantrek. 5Van die gemeente Israel moet hy twee bokramme as sondeoffer kry en een skaapram as brandoffer. 6Hy offer dan eers die bul wat vir homself bedoel is as sondeoffer, sodat hy versoening kan doen vir homself en al die priesters. 7Daarna bring hy die twee bokke na die ingang van die tent van ontmoeting toe in die teenwoordigheid van die Here. 8Hier moet Aäron lootjies trek oor die bokke. Die een lootjie moet gemerk wees ‘vir die Here’ en die ander een ‘vir Asasel’. 9Aäron moet die bok wat vir die Here geloot word, as 'n sondeoffer offer. 10Die bok wat vir Asasel geloot is, moet bly lewe. Die bok moet in die teenwoordigheid van die Here bly staan sodat Aäron die versoeningshandeling daarop kan verrig, en daarna moet die bok die woestyn in gestuur word vir Asasel.

11“Wanneer Aäron die sondeofferbul offer wat vir homself bedoel is en waarmee hy vir hom en al die priesters versoening doen, moet hy die bul slag 12en moet hy 'n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar af wat in die teenwoordigheid van die Here staan. Aäron moet ook 'n dubbele handvol fyngestampte wierook vat en daarmee agter die voorhangsel ingaan. 13Daar in die teenwoordigheid van die Here moet hy dan die wierook op die kole gooi sodat dit 'n rookwolk maak wat die deksel van die ark bedek waarin die getuienis is. Dan sal hy nie sterf nie. 14Hy moet daarna van die bloed van die bul met sy vinger sprinkel op die deksel se voorkant en dan ook nog sewe maal op die grond voor die deksel. 15Wanneer Aäron die bokram slag wat as sondeoffer vir die volk bedoel is, moet hy met die bloed agter die voorhangsel ingaan en daarmee doen soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet dit sprinkel op die deksel en voor die deksel. 16So moet hy die Allerheiligste reinig van die onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredinge en al hulle sondes. Hy moet die tent van ontmoeting ook op dieselfde manier reinig, want dit staan by die volk met al hulle onreinheid. 17Niemand anders mag in die tent van ontmoeting wees vandat Aäron ingaan om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitgaan nie: hy doen versoening vir homself, die priesters en die hele gemeente Israel. 18Daarna moet Aäron uitgaan na die altaar toe in die teenwoordigheid van die Here en dit reinig: hy moet van die bloed van die bul en die bokram rondom al die horings van die altaar smeer 19en met sy vinger van die bloed sewe keer op die altaar sprinkel. So moet hy die altaar reinig van die onreinheid van die Israeliete en dit wy.

20“Nadat Aäron die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar gereinig het, moet hy die lewende bok nader bring. 21Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. Sodoende sal hy die sonde op die kop van die bok oordra. Iemand wat beskikbaar is, moet dan die bok die woestyn injaag. 22So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na 'n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word.

23“Aäron moet dan in die tent van ontmoeting ingaan en sy linneklere waarmee hy in die Allerheiligste ingegaan het, uittrek en dit daar neersit. 24Hy moet hom op 'n gewyde plek gaan was en sy hoëpriesterlike klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en die brandoffer vir die versoening van sy eie sonde bring, asook die brandoffer vir die versoening van die sonde van die volk. 25Hy moet ook die vet van die sondeoffer op die altaar verbrand. 26Die man wat die bok na Asasel toe gejaag het, moet sy klere en homself was voordat hy na die kamp toe terugkom. 27Die sondeofferbul en die sondeofferbok waarvan die bloed gebruik is om versoening te doen in die Allerheiligste, moet buite die kampplek verbrand word, velle, vleis, pensmis en al. 28Die man wat dit verbrand het, moet eers sy klere en homself was voordat hy na die kamp toe terugkom. 29Julle moet dit as 'n vaste instelling handhaaf dat julle almal, die gebore Israeliete en die vreemdelinge wat by julle woon, moet vas en alle werk moet staak op die tiende dag van die sewende maand, 30want op dié dag moet daar vir julle versoening gedoen word sodat julle rein kan wees. Julle moet in die teenwoordigheid van die Here gereinig word van al julle sonde. 31Dit moet 'n plegtige rusdag wees, 'n dag waarop julle vas, 'n vaste instelling. 32Die priester wat gesalf is en in die plek van sy vader as hoëpriester georden is, moet die versoening doen. Hy moet die gewyde linneklere aantrek, 33die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar reinig en versoening doen vir die priesters en die hele gemeente. 34Die versoening vir die sonde van die Israeliete moet 'n vaste instelling wees. Dit moet elke jaar plaasvind.”

Aäron het toe gedoen wat die Here vir Moses beveel het.

LEVITIKUS 16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die uitnemendheid van die priesterskap van Melgisedek bo dié van Aäron

1Melgisedek was koning van Salem en priester van God die Allerhoogste. Dit is Melgisedek wat vir Abraham tegemoet gegaan en hom geseën het toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings verslaan het, 2en dit is ook aan hom dat Abraham 'n tiende van al die oorlogsbuit gegee het. In die eerste plek, sy naam Melgisedek beteken: koning van geregtigheid; en hy was ook koning van Salem, en dit beteken: koning van vrede. 3Niks is bekend omtrent sy vader en moeder of sy afstamming of die begin en einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God en hy bly priester vir altyd.

4Let nou op hoe groot hierdie man was aan wie Abraham, die stamvader, 'n tiende van die beste oorlogsbuit gegee het. 5Die priesters wat van Levi afstam, het volgens die bepaling van die wet die reg om 'n tiende in te vorder van die volk, dit wil sê van hulle broers, wat net soos hulle ook afstammelinge van Abraham is. 6Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het van Abraham 'n tiende geneem en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën. 7Dit is onbetwisbaar dat dit altyd die mindere is wat deur die meerdere geseën word. 8In die geval van die Levitiese priesters is dit sterflike mense wat tiendes invorder, maar in die geval van Melgisedek iemand van wie getuig word dat hy lewe. 9'n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende gegee het, 10want Levi was nog in die liggaam van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het.

Christus en die Levitiese priesterskap

11Dit was in samehang met die Levitiese priesterskap dat die volk die wet van Moses ontvang het. As hierdie priesterskap volmaaktheid kon bewerk, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester volgens die priesterorde van Melgisedek aangestel moes word, van wie daar nie gesê word dat hy 'n priester volgens die orde van Aäron sou wees nie?

12As daar 'n ander priesterskap kom, volg noodwendig ook 'n verandering van die wet. 13Hy van wie hierdie dinge gesê word, behoort juis tot 'n ander stam, waaruit niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie. 14Dit is algemeen bekend dat ons Here van Juda afstam, en in verband met daardie stam het Moses niks oor die priesterskap gesê nie. 15Die saak word nog duideliker as ons daaraan dink dat die ander priester wat te voorskyn tree, ooreenkom met Melgisedek, 16deurdat Hy priester word nie deur die bepaling van die wet oor menslike afstamming nie, maar deur die krag van onvernietigbare lewe. 17Van Hom word getuig:

“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”

18Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan: 19die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het 'n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader.

20Dit het nie sonder die bevestiging met 'n eed plaasgevind nie. Die Leviete het wel priesters geword sonder die bevestiging met 'n eed, 21maar Jesus met 'n eed deur God, wat vir Hom gesê het:

“Die Here het dit met 'n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy is priester vir ewig.’ ”

22So het Jesus ook van 'n beter verbond borg geword.

23Daar is ook 'n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het. 24Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý 'n priesterskap wat nie op 'n ander oorgedra word nie. 25Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

26Vir ons was so 'n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, 27een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd 'n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het. 28Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met 'n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.

Die Hoëpriester van 'n nuwe en beter verbond

1Die hoofsaak van wat gesê is, is dit: ons het 'n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel. 2Hy is bedienaar van die heiligdom, die ware verbondstent, wat deur die Here opgerig is en nie deur 'n mens nie. 3Elke hoëpriester word aangestel om gawes en offers te bring; daarom moet ook hierdie Een iets hê om te offer. 4As Hy nog op aarde was, sou Hy nie eens priester kon wees nie, omdat volgens die wet daar reeds priesters is wat die gawes offer. 5Hulle bedien egter slegs 'n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom. Toe Moses die Goddelike opdrag gekry het om die verbondstent op te rig, het God gesê: “Sorg dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat Ek jou op die berg gewys het.” 6Maar nou het Jesus 'n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van 'n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.

7As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou 'n tweede nie nodig gewees het nie. 8Maar God bestraf die volk oor hulle tekortkoming deur te sê:

“Kyk, daar kom 'n tyd, sê die Here,

dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit.

9Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak het

op die dag toe Ek hulle

aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie,

want hulle het nie my verbond gehou nie,

en Ek het hulle verwerp, sê die Here.

10Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit,

sê die Here:

Ek sal hulle my wette in die verstand gee,

op hulle harte sal Ek dit skrywe;

Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.

11Dan hoef niemand meer

sy medeburger te leer en vir sy broer te sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie.

Hulle almal, klein en groot, sal My ken.

12Oor hulle ongeregtighede

sal Ek genadig wees en aan hulle sondes

nooit meer dink nie.”

13Deur van 'n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS