Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 31

LEVITIKUS 21–23, HEBREËRS 11–13

Bybelteks(te)

Die priester moet heilig wees

1Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Aäronitiese priesters: 'n Priester mag hom nie verontreinig deur naby 'n lyk te kom nie, al is die oorledene ook 'n familielid. 2Hy mag dit slegs doen in die geval van 'n naaste bloedverwant van hom: sy ma of pa, sy seun of dogter, sy broer 3of 'n eie suster as sy 'n ongetroude jongmeisie is. 4Hy mag hom nie verontreinig deur naby die lyk van 'n aangetroude familielid te kom nie. 5Priesters mag nie as teken van rou hulle hare of wangbaard afskeer of aan hulle liggame snymerke maak nie. 6Hulle moet aan hulle God alleen gewy wees en mag nie sy Naam ontheilig nie. Omdat hulle gedurig offers aan die Here hulle God bring, moet hulle gewyd bly.

7“'n Priester mag nie trou met 'n prostituut of met 'n meisie wat nie meer 'n maagd is nie. Hy mag ook nie met 'n geskeide vrou trou nie; hy is aan sy God gewy.

8“Jy moet die heiligheid van die priester erken, Israel! Hy is immers die een wat die offers vir jou God aanbied. Die priester moet vir jou heilig wees, want Ek die Here is heilig en Ek heilig julle.

9“As 'n priester se dogter haar ontwy deur te hoereer, ontwy sy ook haar pa. Sy moet verbrand word. 10Die hoëpriester op wie se kop olie uitgegiet is om hom te salf en wat georden is om die heilige klere te dra, mag glad nie rou deur sy hare onversorg te laat of sy klere te skeur nie. 11Hy mag ook glad nie naby enige lyk kom nie, hy mag nie eens met die lyk van sy pa of ma verontreinig word nie. 12Hy mag nie die heiligdom verlaat met die oog op 'n sterfgeval nie, want hy kan dalk die heiligdom van sy God ontwy. As hoëpriester is hy met olie gesalf en dra hy die wydingsteken van sy God. Ek is die Here. 13Die hoëpriester mag net met 'n maagd trou. 14Met 'n weduwee, 'n geskeide vrou, 'n vrou wat nie meer 'n maagd is nie, of met 'n prostituut, mag hy nie trou nie. Hy mag alleen met 'n maagd uit sy eie stam trou, 15anders is sy nageslag ontwy. Ek, die Here, het hom geheilig.”

16Die Here het Moses ook beveel: 17“Sê vir Aäron: Geeneen van jou nakomelinge met 'n liggaamlike tekortkoming mag ooit 'n offer aan God bring nie. 18Geen persoon wat 'n liggaamlike tekortkoming het, mag offer nie: geen blinde of kreupele of iemand met 'n misvormde gesig of liggaamsdeel, 19of met 'n gebreekte voet of hand, 20of met 'n boggel of 'n onderontwikkelde liggaam, of met 'n pêrel op die oog, of met skurfte of veluitslag, of 'n beskadigde geslagsdeel nie. 21Geen persoon uit die priestergeslag mag dus in die heiligdom ingaan om te offer as hy 'n liggaamlike tekortkoming het nie. Hy mag nie 'n offer vir die Here sy God bring as hy 'n liggaamlike tekortkoming het nie. 22Maar hy mag van die gewyde gawes eet, ook van die besondere gewyde gawes. 23Hy mag egter nie naby die voorhangsel of naby die altaar kom as hy 'n liggaamlike tekortkoming het nie. Ek, die Here, het hierdie dinge geheilig en dit mag nie ontheilig word nie.”

24Moses het dit toe vir Aäron en sy seuns en vir al die Israeliete gesê.

LEVITIKUS 21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Oor die eet van die gewyde gawes

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir Aäron en sy seuns hulle moet versigtig omgaan met die gewyde gawes wat die Israeliete aan My wy, sodat hulle nie my heilige Naam ontheilig nie. Ek is die Here. 3Sê vir hulle: Nie een van julle of julle nakomelinge mag ooit van die gewyde gawes wat die Israeliete aan My wy, gebruik terwyl hy onrein is nie. Die persoon wat dit doen, mag nooit weer in my teenwoordigheid diens doen nie. Ek is die Here.

4“Geen priester uit die geslag van Aäron wat 'n velsiekte of 'n afskeiding het wat hom onrein maak, mag van die gewyde gawes eet voordat hy weer rein is nie. As 'n priester aan enigiets geraak het wat deur 'n lyk verontreinig is, of as hyself 'n saadvloeiing gehad het 5of aan enige dier of persoon geraak het wat hom op enige manier onrein maak, 6is hy die res van die dag onrein en mag hy nie van die gewyde gawes eet nie. Eers nadat hy gebad het 7en die son onder is, is hy weer rein. Daarna moet hy toegelaat word om van die gewyde gawes te eet, want dit is al kos wat hy het. 8Hy mag nie die vleis eet van 'n dier wat gevrek het of wat deur roofdiere verskeur is nie. Dit maak hom onrein. Ek is die Here.

9“Die priesters moet my bevel gehoorsaam en nie sondig nie. Hulle sal sterf as hulle die gewyde gawes ontwy. Ek, die Here, heilig die priesters.

10“Geen onbevoegde persoon mag van die gewyde gawes eet nie, ook nie 'n bywoner of dagloner van 'n priester mag daarvan eet nie. 11Slawe wat deur die priester gekoop is, of dié wat van geboorte af deel is van sy huishouding, mag wel eet van die kos wat hy ontvang. 12Wanneer 'n priester se dogter trou met iemand wat nie lid is van die priesterfamilie nie, mag sy nie langer van die gewyde gawes eet nie.

13“As so 'n dogter egter 'n weduwee word of van haar man skei en sy geen kinders het nie, mag sy weer by haar pa gaan inwoon soos toe sy 'n jongmeisie was en kan sy ook van die kos eet wat hy ontvang. Geen onbevoegde persoon mag egter van die gewyde gawes eet nie.

14“As 'n onbevoegde persoon per ongeluk van die gewyde gawes eet, moet hy die waarde daarvan plus twintig persent aan die priester uitbetaal.

15“Die priesters moet egter toesien dat die gewyde gawes wat die Israeliete aan die Here gee, nie ontwy word nie. 16Hulle mag nie toelaat dat onbevoegde persone van die gewyde gawes eet nie, want dan sal hulle straf oor hulleself bring. Ek, die Here, heilig die priesters.”

Offers moet vir die Here aanneemlik wees

17Die Here het vir Moses gesê: 18-19“Sê vir Aäron, vir sy seuns en vir al die Israeliete: Wanneer enige Israeliet of vreemdeling in Israel aan die Here 'n brandoffer wil bring, moet dit vir die Here aanneemlik wees, of dit nou bedoel is om geloftes na te kom en of dit bedoel is as vrywillige offers. Dit moet 'n bul, 'n skaapram of 'n bokram wees en sonder liggaamsgebrek. 20Geen dier wat 'n liggaamlike tekortkoming het, mag geoffer word nie, want die Here sal dit nie van julle aanneem nie. 21Wanneer iemand 'n maaltydoffer aan die Here bring om 'n gelofte na te kom of as 'n vrywillige offer, is 'n bees of 'n stuk kleinvee sonder liggaamsgebrek aanneemlik. Die dier mag nie enige liggaamlike tekortkominge hê nie: 22dit mag nie blind wees of 'n afpoot hê of 'n seerplek of vratjies of brandsiek of enige velkwaal nie. Só 'n dier mag julle nie vir die Here aanbied en op die altaar bring as 'n offergawe vir Hom nie. 23As vrywillige gawes mag julle wel beeste of kleinvee met misvormde liggaamsdele offer, maar sulke diere mag nie gebruik word om 'n gelofte na te kom nie. 24Julle mag nie 'n os of 'n hamel aan die Here offer nie, ongeag die manier waarop dit gekastreer is. Sulke offers mag julle in julle land nie bring nie. 25Julle mag ook nie 'n os of 'n hamel wat julle by 'n uitlander kry, aan julle God offer nie. Sulke diere is vermink, hulle het 'n liggaamlike tekortkoming, en die Here sal dit nie van julle aanneem nie.”

26Die Here het vir Moses gesê: 27“'n Kalf of 'n skaaplam of 'n boklam wat aankom, moet 'n week lank by sy ma bly. Van die agste dag af is die diertjie aanneemlik as 'n offergawe aan die Here. 28'n Kalf of 'n lam mag nie op dieselfde dag as sy ma geoffer word nie.

29“Wanneer julle 'n dankoffer aan die Here bring, moet julle dit so doen dat dit vir die Here aanneemlik is. 30Julle moet die offervleis dieselfde dag opeet en niks laat oorbly tot die volgende dag nie. Ek is die Here.

31“Gehoorsaam my gebooie en voer dit uit. Ek is die Here.

32“Julle mag nie my heilige Naam ontheilig nie. Die hele Israel moet My as die Heilige erken. Ek, die Here, heilig julle. 33Ek het julle uit Egipte gebring sodat Ek julle God kan wees. Ek is die Here.”

LEVITIKUS 22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Feeste tot eer van die Here

(Vgl. Num. 28:16 – 29:40)

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Die feeste wat julle tot my eer moet vier, moet gewyde byeenkomste wees. Die volgende is my feeste:

3“Ses dae moet julle werk, maar die sewende dag is 'n rusdag, 'n sabbat waarop julle 'n gewyde byeenkoms moet hou. Dan mag julle geen werk doen nie. Julle moet die sabbat aan die Here wy, waar julle ook al woon.

4“Verder is daar ook die volgende feeste tot my eer, gewyde byeenkomste wat julle op vasgestelde tye moet vier:

5“Op die veertiende van die eerste maand teen skemer moet julle die paasfees vier tot eer van die Here. 6Op die vyftiende van dieselfde maand begin die fees van ongesuurde brood tot eer van die Here. Sewe dae moet julle ongesuurde brood eet. 7Op die eerste dag moet julle 'n gewyde byeenkoms hou: julle mag dan geen werk doen nie. 8Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Die sewende dag moet julle weer 'n gewyde byeenkoms hou, en niemand mag werk nie.”

9Die Here het verder vir Moses gesê: 10“Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, en julle samel die graanoes in, moet elkeen die eerste ryp are van sy oes na die priester toe neem. 11Hy moet die are as beweegoffer vir My, die Here, aanbied sodat julle vir My aanneemlik sal wees. Die priester moet dit die dag ná die sabbat doen. 12Wanneer julle die are as beweegoffer aanbied, moet julle ook 'n jaaroud lam sonder liggaamsgebrek as brandoffer aan die Here bring, 13sowel as 'n graanoffer van drie kilogram meel aangemaak met olyfolie. Dit is 'n offer wat deur My, die Here, aanvaar word. Daarby moet een liter wyn as drankoffer gebring word. 14Voor hierdie dag waarop julle die offer aan julle God bring, mag julle nog niks van die nuwe graan gebruik nie, nie gebak of gebraai of rou nie. Dit moet 'n vaste instelling vir julle hele nageslag wees, waar julle ook al woon.

15“Van die dag ná die sabbat af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet julle sewe volle weke tel. 16Die dag ná die sewende sabbat, op die vyftigste dag, moet julle vir die Here 'n graanoffer bring uit die pas geoeste graan. 17Elke gesin moet twee brode vir 'n beweegoffer na die heiligdom toe bring. Dit moet van drie kilogram meel met suurdeeg gebak wees en is 'n gawe aan die Here uit die eerste opbrengs van die oes. 18Behalwe al die brode moet daar ook sewe jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek, 'n jong bul en twee ramme gebring word. Hulle moet as brandoffers aan die Here gebring word met die graanoffer en die drankoffers wat daarby behoort. Dit is 'n offer wat deur My, die Here, aanvaar word. 19Julle moet ook 'n bokram as sondeoffer bring en twee jaaroud lammers as maaltydoffer. 20Die priester moet die twee lammers saam met die brode uit die eerste opbrengs van die oes as beweegoffer vir die Here aanbied. Dit is 'n gewyde gawe aan die Here en dit kom die priesters toe. 21Op hierdie dag moet julle 'n gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie. Dit moet vir altyd 'n vaste instelling wees, waar julle of julle nageslag ook al woon.

22“Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie die wenakkers afoes of die are wat bly lê, optel nie. Julle moet dit los vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.”

23Die Here het vir Moses gesê: 24“Sê vir die Israeliete: Die eerste dag van die sewende maand moet 'n rusdag wees, 'n gedenkdag wat met die blaas van ramshorings aangekondig word, 'n gewyde byeenkoms. 25Niemand mag dan werk nie en julle moet offers aan die Here bring.”

26Die Here het vir Moses gesê: 27“Op die tiende van die sewende maand is dit die versoendag. Julle moet dan 'n gewyde byeenkoms hou, en julle moet vas en aan die Here offers bring. 28Niemand mag op dié dag werk nie, want dit is die versoendag waarop daar vir julle versoening gedoen word by die Here julle God. 29Enigiemand wat nie vas op hierdie dag nie, moet van sy volksgenote afgesny word 30en Ek sal elkeen wat op hierdie dag werk, om die lewe bring. 31Julle mag geen werk doen nie. Hierdie dag moet vir altyd 'n vaste instelling wees, waar julle of julle nageslag ook al woon. 32Dit moet vir julle 'n plegtige rusdag wees waarop julle vas. Julle moet rus van sononder af op die negende van die maand tot sononder op die tiende.”

33Die Here het vir Moses gesê: 34“Sê vir die Israeliete: Van die vyftiende van die sewende maand af moet julle sewe dae lank die huttefees vier tot eer van die Here. 35Op die eerste dag van die fees moet julle 'n gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie. 36Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Op die agste dag moet julle weer 'n gewyde byeenkoms hou en offers aan die Here bring. Dit moet 'n besondere feesdag wees. Niemand mag dan werk nie.

37“Dit is die feestye wat deur die Here bepaal is, die tye waarop julle gewyde byeenkomste moet hou om offers aan die Here te bring: brandoffers en graanoffers, maaltydoffers en drankoffers soos vir elke feesdag voorgeskryf. 38Daarnaas is daar nog die gewone sabbatte van die Here, die gewone geskenke aan die heiligdom en al die offers wat julle bring om geloftes na te kom of wat julle vrywillig aan die Here gee.

39“Julle moet dus op die vyftiende van die sewende maand wanneer julle die vrugteoes insamel, sewe dae lank die fees van die Here vier. Die eerste en die agste dag moet rusdae wees. 40Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem saam met palmblare en takke van digte bome en rivierwilgers, en dan moet julle sewe dae lank met vreugde feesvier by die heiligdom van die Here julle God. 41Julle moet hierdie fees van die Here elke jaar sewe dae lank vier. Dit moet 'n vaste instelling wees vir julle nageslag. Julle moet dit in die sewende maand vier. 42Sewe dae lank moet julle in hutte woon, alle gebore Israeliete moet dan in hutte woon. 43Die doel daarmee is dat julle nageslag moet weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.”

44Moses het toe aan die Israeliete die bevele gegee oor die feestye wat deur die Here bepaal is.

LEVITIKUS 23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wat geloof is

1Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.

3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.

4Omdat Abel geglo het, het hy 'n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy 'n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.

5Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. 6As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

7Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

8Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, 'n vreemdeling in 'n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.

11Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om 'n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12Die gevolg was dat daar van een man, 'n man wat nie meer 'n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.

13Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. 14Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. 15As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. 16Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak.

17-18Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

20Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.

21Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.

22Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.

23Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy 'n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie.

24Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. 25Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. 26Die smaad ter wille van die Christus het hy 'n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.

27Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.

28Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.

29Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.

30Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het.

31Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.

32En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete. 33Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, 34gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag. 35Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot 'n beter lewe deelagtig word. 36Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. 37Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. 38Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.

39En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, 40omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.

HEBREËRS 11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die oog moet op Jesus gevestig wees

1Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Die Here tug dié wat Hy liefhet

4Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle 'n stryd om lewe of dood geword het nie. 5Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word:

“My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie,

6want die Here tug hom wat Hy liefhet,

Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.”

7Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien 'n kind wat nie deur sy vader getug word nie? 8As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. 9Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie? 10Ons vaders het ons wel 'n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel.

11Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.

12Versterk daarom die slap hande en die lam knieë 13en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.

Moenie die genade van God verwerp nie

14Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos 'n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. 17Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.

18Julle het immers nie gekom by 'n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind, 19trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie. 20Die bevel dat selfs 'n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, was vir hulle ondraaglik. 21So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!”

22Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, 23die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, 24by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.

25Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie? 26Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” 27Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.

28Laat ons wat 'n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, 29want ons God is 'n verterende vuur.

HEBREËRS 12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Christelike lewenswandel

1As broers moet julle mekaar altyd liefhê. 2Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. 3Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

4Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê:

“Die Here is my helper,

ek ken geen vrees nie:

wat kan 'n mens aan my doen?”

Loof God deur Jesus Christus

7Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.

8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

9Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie.

10Ons het 'n altaar waarvan dié wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om te eet nie. 11Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand. 12Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. 13Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, 14want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige. 15Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. 16Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.

17Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie.

18Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is. 19Veral dring ek by julle daarop aan om te bid dat God my gou na julle toe sal laat terugkom.

Gebed vir die lesers

20God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. 21Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Laaste versoek en groete

22Broers, dit is my dringende versoek: Julle moet geduldig na hierdie woorde luister waarmee ek julle bemoedig het, al het ek dit net kortliks aan julle geskrywe.

23Julle weet seker al dat ons broer Timoteus vrygelaat is. As hy gou genoeg kom, bring ek hom saam wanneer ek julle besoek.

24Groete aan al julle voorgangers en aan al die gelowiges. Dié wat van Italië afkomstig is, stuur ook vir julle groete.

25Die genade van God sal by julle almal wees!

HEBREËRS 13AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS