Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 220

Psalms 99–104

Bybelteks(te)

Die Here ons God is heilig

1Die Here regeer: die volke erken bewend sy gesag.

Hy troon oor die gerubs: die aarde sidder van ontsag.

2Groot is die Here, Hy wat in Sion is,

hoog verhewe bo al die volke.

3Hulle moet u groot en gevreesde Naam prys:

“U is heilig!”

4U is die magtige Koning,

U het die reg lief;

wat reg is, het U tot stand gebring.

U het reg en geregtigheid in Jakob gevestig.

5Prys die Here ons God.

Kom buig in aanbidding voor Hom:

Hy is heilig!

6Moses en Aäron was onder sy priesters,

Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het.

Hulle het die Here aangeroep en Hy het hulle gebed verhoor.

7In 'n wolkkolom het God met hulle gepraat,

en hulle het sy voorskrifte gehoorsaam,

die opdragte wat Hy hulle gegee het.

8Here ons God, U het hulle gebede verhoor.

U was vir hulle 'n vergewende God,

maar Een wat ook hulle sondes gestraf het.

9Prys die Here ons God,

buig voor Hom op sy heilige berg,

want die Here ons God is heilig.

Dien die Here met blydskap

1'n Dankpsalm.

Juig tot eer van die Here, almal op aarde!

2Dien die Here met blydskap!

Kom voor Hom met gejubel!

3Erken dat die Here God is:

Hy het ons gemaak en ons is Syne,

ons is sy volk, sy eie kudde.

4Gaan sy poorte binne met dankliedere,

sy tempel met lofsange,

dank Hom, prys sy Naam,

5want die Here is goed,

aan sy liefde is daar geen einde nie,

sy trou duur van geslag tot geslag.

Ek wil my daaraan wy om opreg te lewe

1Van Dawid. 'n Psalm.

Ek wil sing van u troue liefde en u geregtigheid,

ek wil 'n lied sing tot u eer, Here.

2Ek wil my daaraan wy om opreg te lewe.

Wanneer kom U na my toe?

In my huis wil ek lewe in opregtheid,

3niks wat sleg is, wil ek nastreef nie.

Ek haat wat verkeerd is.

Dit mag geen houvas op my hê nie.

4Valsheid wil ek van my af weg hou,

van kwaad wil ek niks weet nie.

5Wie sy naaste beskinder, wil ek uitwis.

Hoogmoed en vermetelheid verdra ek nie.

6Ek kies as my amptenare

dié in die land wat op God vertrou;

die man wat opreg lewe,

hy kan in my diens wees.

7Geen bedrieër sal in my paleis diens doen nie,

geen leuenaar kan my dien nie.

8In my daaglikse regspraak sal ek al die goddeloses in die land uitwis,

almal wat onreg doen uit die stad van die Here uitroei.

U is daar van geslag tot geslag

1Gebed van 'n hulpelose wanneer dit met hom sleg gaan en hy sy klagte uitstort voor die Here.

2Here, luister tog na my gebed,

hoor tog my geroep om hulp!

3Moet U tog nie van my afsydig hou

nou dat ek in die nood is nie.

Luister tog na my wanneer ek U aanroep,

verhoor tog gou my gebed,

4want vir my verdwyn die dae soos rook.

My liggaam brand soos vuur,

5ek is verskroei en uitgedroog soos gras,

ek het alle eetlus verloor.

6Ek het net vel en been geword

van al die pyn.

7Ek voel so verlate soos 'n pelikaan in 'n woestyn,

soos 'n uil tussen murasies.

8As ek wakker word,

voel ek soos 'n eensame voël op 'n huis se dak.

9Die dae deur verneder my vyande my.

Dié wat my so verkleineer, gebruik my naam as 'n vloekwoord.

10As is my daaglikse brood;

wat ek drink, is met my trane gemeng,

11want u toorn en u gramskap het my getref,

U het my verwerp en weggegooi.

12Soos 'n skaduwee wat lank word, is my lewe naby sy einde,

ek is soos verdroogde gras.

13U, Here, U heers vir altyd,

U is daar van geslag tot geslag.

14U sal ingryp en U oor Sion ontferm,

want die bestemde tyd het aangebreek,

die tyd om hom genadig te wees.

15Ons, u dienaars, het elke klip van Sion lief,

ons is bewoë oor sy puin.

16Die nasies sal die Here vrees

en al die konings van die aarde sy mag,

17want die Here gaan Sion weer opbou

wanneer Hy in sy mag verskyn.

18Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het,

Hy sal hulle gebed nie verag nie.

19Laat dit opgeteken word vir die geslag wat kom,

sodat die nuut geskape volk die Here kan loof.

20Hy het uit sy heilige woning na onder gekyk

en uit die hemel gesien wat op die aarde gebeur,

21die gekerm van die gevangenes gehoor

en dié wat naby die dood was, bevry.

22Hulle sal die Naam van die Here in Sion besing

en sy lof in Jerusalem

23wanneer die volke en die koninkryke bymekaarkom

om die Here te dien.

24Hy het my krag gebreek toe ek nog jonk was,

Hy het my lewe verkort.

25Ek sê: “My God, moet my nie in die fleur van my lewe wegneem nie!

U is daar deur die geslagte heen.

26In die voortyd al het U die aarde gevestig

en die hemele met u eie hande gemaak.

27Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly.

Soos 'n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan,

soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn.

28Maar U bly dieselfde,

u jare het geen einde nie.”

29Ons nageslag sal die land bly bewoon,

ons nakomelinge sal veilig voor U woon.

Onverganklik is die liefde van die Here

1Van Dawid.

Ek wil die Here loof,

met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.

2Ek wil die Here loof

en nie een van sy weldade vergeet nie.

3Dit is Hy wat al my sonde vergewe,

wat al my siekte genees,

4wat my red van die graf

en my met liefde en ontferming kroon,

5wat my die goeie in oorvloed laat geniet,

my die jeugdige krag van die arend skenk.

6Die Here laat geregtigheid en reg geskied

aan almal wat verdruk word.

7Aan Moses het Hy sy wil bekend gemaak,

aan Israel wat Hy van plan was om te doen.

8Barmhartig en genadig is die Here,

lankmoedig en vol liefde.

9Hy sal ons ons sonde nie bly toereken

en nie vir ewig toornig bly nie.

10Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie,

vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,

11want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is,

so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.

12So ver as die ooste van die weste af is,

so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

13Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders,

so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

14Hy weet waarvan ons gemaak is,

Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.

15Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras,

soos dié van 'n veldblom wat oopgaan:

16as die woestynwind daaroor waai, is dit weg

en sy plek vir altyd leeg.

17Maar onverganklik is die liefde van die Here

vir dié wat Hom dien,

sy trou vir opeenvolgende geslagte,

18vir dié wat getrou bly aan sy verbond

en sy voorskrifte nakom.

19Die Here het sy troon in die hemel gevestig,

sy heerskappy strek oor alles en almal.

20Loof die Here, magtige engele

wat sy opdragte uitvoer,

sy bevele gehoorsaam.

21Loof die Here, alle hemelwesens

wat Hom dien en sy wil doen!

22Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here

op al die plekke waar Hy heers!

Ek wil die Here loof!

Ek wil my in die Here verbly

1Ek wil die Here loof!

Here my God, U is baie groot,

U is beklee met koninklike luister,

2U is met 'n kleed van lig omhul.

Dit is U wat die hemelkoepel soos 'n tentdoek gespan

3en vir U 'n woonplek ingerig het oor die waters daarbo,

U wat op die wolke ry,

op die vleuels van die wind,

4U wat die winde u boodskappers maak,

die weerligte u dienaars,

5U wat die aarde stewig gevestig het,

sodat dit nooit sal wankel nie.

6Die groot waters het die aarde soos 'n kleed oordek,

die waters het bo-oor die berge gestaan.

7Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug,

voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem.

8Hulle het oor die berge gespoel

en in die laagtes weggevloei

na die plek toe wat U vir hulle bestem het.

9U het 'n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie:

hulle mag die aarde nie weer oordek nie.

10U laat fonteine in die valleie ontspring

en tussen die berge deur stroom.

11Daar kom al die wilde diere drink

en die wildedonkies hulle dors les.

12Die voëls maak hulle neste langs die water

en kwetter tussen die takke.

13Uit die hemel laat U dit op die berge reën,

die aarde word versadig deur die reën wat U gee.

14U laat gras uitspruit vir die diere,

en groen plante vir die mens

sodat hy sy kos uit die aarde kan kry:

15wyn om mense se harte bly te maak,

olie om die gesig te versorg,

kos om die mens nuwe krag te gee.

16Die bome van die Here kry volop reën,

die seders op die Libanon, dié wat Hy geplant het,

17waar die voëls hulle neste maak,

en die reier sy huis in die boomtoppe bou.

18Die hoë berge is 'n tuiste vir die klipbokke,

die rotse is 'n skuilplek vir die dassies.

19U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee,

die son weet wanneer om onder te gaan.

20As U die donker bring en dit nag word,

roer al die diere in die bos.

21Die leeus brul op soek na prooi:

hulle vra hulle kos van God.

22As die son opkom, sluip hulle weg

en gaan lê in hulle skuilplekke.

23Dan gaan die mens na sy werk toe,

en hy werk tot die aand.

24U het baie dinge geskep, Here,

die aarde is vol van wat U gemaak het,

en tog, U het alles in wysheid geskep.

25Daar is die see, groot en wyd,

wat wemel van diere, klein en groot.

26Daar vaar die skepe,

en daar is die Leviatan.

U het hom gemaak om mee te speel.

27Hulle is almal van U afhanklik,

U gee hulle kos op hulle tyd.

28U gee, en hulle eet,

U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg.

29Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle,

as U hulle asem wegneem, is hulle dood

en word hulle weer stof.

30U gee die lewensasem en daar is lewe;

ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.

31Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie!

Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf,

32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,

wat die berge aanraak, en hulle brand.

33Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe,

ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.

34Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees!

Ek wil my in die Here verbly.

35Mag die sondaars van die aarde af verdwyn,

mag die goddeloses ophou om te bestaan!

Ek wil die Here loof.

Prys die Here!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS