Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 219

Psalms 93–98

Bybelteks(te)

U is van altyd af daar

1Die Here is Koning,

Hy beklee Hom met majesteit.

Die Here beklee Hom, Hy omgord Hom met krag.

Die wêreld staan vas, dit wankel nie,

2en vas staan u troon van ouds af:

U is van altyd af daar.

3Riviere het gedruis, Here,

riviere het gedruis,

riviere het gedreun,

4maar hoog bo die geraas van baie waters,

hoog bo die golwe van die see,

troon die Here in sy koninklike mag.

5U verordeninge staan baie vas.

Heiligheid versier u huis, Here,

tot in lengte van dae.

Kom, Regter van die aarde!

1Here, God wat onreg straf,

U wat onreg straf, verskyn tog!

2Kom, Regter van die aarde,

reken af met die mense wat hulle teen U verhef.

3Hoe lank, Here,

hoe lank sal die goddeloses hulle nog verlustig

in die leed van ander mense?

4Hulle kook oor van vermetelheid;

almal wat onreg doen, spog daarmee.

5Hulle vertrap u volk, Here,

hulle verdruk die volk wat aan U behoort;

6hulle vermoor weduwees en vreemdelinge,

hulle maak weeskinders dood

7en dink die Here sien dit nie,

die God van Jakob merk dit nie.

8Gebruik tog julle verstand, julle wat so dom optree onder die volk.

Julle dwase, wanneer wil julle dan verstandig word?

9Sou Hy wat vir ons ore gemaak het, self nie kan hoor nie?

Sou Hy wat vir ons oë gemaak het, nie kan sien nie?

10Sou Hy wat die nasies opvoed, nie ook straf nie?

Sou Hy wat die mensdom onderrig, self niks weet nie?

11Die Here ken die gedagtes van die mens,

Hy weet dit beteken niks.

12Dit gaan goed met die mens

wat deur U opgevoed word, Here,

vir wie U onderrig in u woord

13en vir wie U rus gee na tye van teëspoed.

Maar vir die goddelose word die graf reeds gegrawe.

14Die Here verstoot nie sy volk nie,

die volk wat aan Hom behoort, laat Hy nie in die steek nie.

15Die regspraak sal weer regverdig wees,

alle opregtes sal hulle daaraan kan hou.

16Wie staan by my teen dié wat my leed aandoen?

Wie help my teen mense wat my veronreg?

17As die Here my nie gehelp het nie,

was die stilte van die graf seker al my tuiste!

18Toe ek gedink het my voete gly,

het u troue liefde my regop gehou, Here.

19Toe ek met baie onrus in my binneste sit,

het u vertroosting my tot rus gebring.

20U duld geen korrupsie in die regspraak nie,

geen mens wat, teen u gebod in, ellende veroorsaak nie.

21Hulle span saam teen die regverdige,

hulle veroordeel onskuldige mense tot die dood.

22Maar vir my is die Here 'n veilige vesting,

my God is die rots waar ek kan skuil.

23Hy sal hulle laat boet vir hulle dade,

Hy sal hulle verdelg oor hulle boosheid.

Die Here ons God sal hulle verdelg.

Hy is ons God en ons is sy volk

1Kom, laat ons jubel tot eer van die Here,

laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind,

2laat ons na Hom toe gaan met lof,

laat ons Hom toejuig met lofsange,

3want die Here is die magtige God,

die groot koning oor al die gode.

4Die dieptes van die aarde behoort aan Hom,

die kruine van die berge is Syne.

5Die see is Syne, Hy het dit gemaak;

sy hande het die land gevorm.

6Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer,

kom ons buig,

kom ons kniel voor die Here ons Skepper!

7Hy is ons God en ons is sy volk,

sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg.

As julle vandag maar na Hom wou luister:

8“Moenie hardkoppig wees soos destyds by Meriba,

soos die dag by Massa in die woestyn nie,

9waar julle voorvaders My uitgetart

en my geduld beproef het,

hoewel hulle gesien het wat Ek gedoen het.

10Veertig jaar lank het Ek 'n weersin in daardie geslag gehad,

Ek het gesê: ‘Hulle is 'n moedswillige volk,

hulle wil my paaie nie ken nie.’

11Daarom het Ek in my toorn 'n eed afgelê

dat hulle nooit sou uitkom

by die rusplek wat Ek hulle wou gee nie.”

Die Here kom om oor die aarde te heers

1Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here,

sing tot eer van die Here, almal op aarde!

2Sing tot eer van die Here, prys sy Naam,

verkondig elke dag sy reddingsdade!

3Vertel die nasies van sy mag,

al die volke van sy magtige dade.

4Die Here is groot, al die lof kom Hom toe,

ontsagwekkend is Hy bo alle gode.

5Al die gode van die volke is niks:

dit is die Here wat die hemele gemaak het.

6Majesteit en luister straal van Hom uit,

krag en glans vul sy heiligdom.

7Prys die Here, alle volke,

prys die Here om sy eer en mag!

8Prys die Here om die eer van sy Naam!

Kom na sy voorhowe toe, bring vir Hom offers!

9Buig voor die Here by sy heilige verskyning;

betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.

10Verkondig onder die nasies: “Die Here regeer;

die wêreld staan vas, dit wankel nie;

die Here sal die volke regverdig oordeel.”

11Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig,

die see en alles daarin moet druis,

12die veld en alles daarop moet jubel,

al die bome in die bos moet hulle verheug

13voor die Here, want Hy kom,

Hy kom om oor die aarde te heers.

Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid,

oor die volke met billikheid.

Vir die regverdiges het daar lig gekom

1Die Here regeer, die aarde moet juig,

al die baie eilande moet bly wees!

2Die Here is omgewe van donker wolke;

sy troon is gebou op reg en geregtigheid.

3'n Vuur trek voor Hom uit

en verteer sy vyande aan alle kante.

4Sy weerligstrale verlig die wêreld;

die aarde sien dit en bewe.

5Berge smelt soos was voor die Here,

voor die Here van die aarde.

6Die hemel getuig dat Hy regverdig is

en al die volke sien sy magtige verskyning.

7Almal wat beelde dien,

wat nikswerd afgode vereer, word ontnugter,

want al hulle gode moet voor die Here buig.

8Sion is bly, die stede van Juda juig

wanneer hulle hoor wat U as regter gedoen het, Here.

9U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde,

hoog verhewe bo alle gode.

10Julle het die Here lief; haat dan wat sleg is!

Hy bewaar die lewe van sy troue dienaars,

Hy red hulle uit die greep van die goddelose.

11Vir die regverdiges het daar lig gekom,

blydskap vir die opregtes.

12Wees bly in die Here, regverdiges,

prys sy heilige Naam.

Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here

1'n Psalm.

Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here,

want Hy het magtige dade gedoen,

deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin.

2Die Here het sy oorwinning bekend gemaak,

aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar.

3Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou herbevestig;

die hele wêreld het gesien dat ons God die oorwinning behaal het.

4Juig tot eer van die Here, almal op aarde,

wees vrolik, juig en sing!

5Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier,

speel op die lier en sing.

6Blaas die trompet en die ramshoring,

jubel tot eer van die Here, die Koning.

7Die see en alles daarin moet druis,

die aarde en alles daarop moet juig,

8die riviere moet hande klap,

die berge moet saam juig

9voor die Here,

want Hy kom om oor die aarde te heers;

Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid,

oor die volke met billikheid.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS