Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 208

SAGARIA 6–10, PSALM 82

Bybelteks(te)

Die agste gesig: die strydwaens

1Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was vier strydwaens wat tussen twee berge uitgekom het, berge van koper. 2Voor die eerste strydwa was bruin perde en voor die tweede swartes. 3Voor die derde was wit perde en voor die vierde skimmels. 4Ek het vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, gevra: “Wat beteken dit, Meneer?”

5Hy het vir my gesê: “Die strydwaens het gestaan voor Hom aan wie die hele aarde behoort. Nou gaan hulle in die vier windrigtings. 6Die strydwa met die swart perde gaan noord, dié met die wittes gaan agterna, en dié met die skimmels gaan suid.”

7Toe die skimmel perde wegtrek, wou hulle die aarde deurkruis, maar eers toe die engel sê: “Spring weg, deurkruis die aarde!” het hulle dit gedoen. 8Die engel het vir my geskree: “Kyk, dié wat noord gaan, bring die Gees van die Here daarheen!”

Die bevel om Jesua te kroon

9Die woord van die Here het tot my gekom en gesê: 10Gaan vandag nog na die huis van Josia seun van Sefanja toe waar die ballinge Geldai, Tobija en Jedaja uit Babel aangekom het 11en kry by hulle silwer en goud. Maak dan daarvan 'n kroon en sit dit op die kop van die hoëpriester Jesua, seun van Josadak.

12Dan moet jy vir hom sê: So sê die Here die Almagtige: Daar is 'n man met die naam Loot. Hy maak vinnig opgang en hy sal die tempel van die Here bou. 13Dit is hy wat die tempel van die Here sal bou, dit is hy wat die mag sal besit, wat op die troon sal sit en sal heers. 'n Priester sal saam met hom regeer en daar sal vriendelike oorleg tussen hulle twee wees.

14Die kroon moet in die tempel van die Here bly as 'n gedagtenis aan Geldai, Tobija en Jedaja en aan die goeie gesindheid van die seun van Sefanja.

15Mense sal van ver af kom en aan die tempel van die Here bou, sodat julle sal weet dat die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het. Dit sal gebeur as julle in alles gehoorsaam is aan die Here julle God.

Die navraag oor vasdae, die antwoord

1In die vierde regeringsjaar van koning Darius het die woord van die Here tot Sagaria gekom. Dit was op die vierde Kislef, die negende maand.

2Die mense van Bet-El het vir Sar-Eser en vir Regem-Melek met sy manne gestuur om die Here te raadpleeg. 3Hulle moes vir die priesters by die huis van die Here die Almagtige en vir die profete vra: “Moet ons nog in die vyfde maand huil en vas soos ons nou al jare lank doen?”

4Die woord van die Here die Almagtige het toe tot my gekom: 5Sê vir almal in die land en vir die priesters: Julle vas en treur nou al sewentig jaar lank in die vyfde en in die sewende maand, maar vas julle tot my eer? 6En as julle eet en drink, doen julle dit vir julleself.

7Daar is mos ook nog die woorde wat Ek, die Here, deur die vroeëre profete laat aankondig het in die tyd toe Jerusalem nog bewoon en veilig was en toe die stede rondom Jerusalem en ook die Suidland en die Laeveld bewoon was. 8Dié woord van die Here het ook tot Sagaria gekom: 9So het die Here die Almagtige gesê: Laat reg geskied aan almal, bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar; 10moenie die weduwee en die weeskind, die vreemdeling en die arme verdruk nie; moenie bose planne teen mekaar bedink nie.

11Maar die volk het geweier om daarop ag te slaan, hulle was moedswillig, hulle het hulle doof gehou, 12hulle het hulle soos die hardste klip gehou en wou nie luister na die wet en na die boodskap wat die Here die Almagtige deur sy Gees, deur die vroeëre profete, gestuur het nie. Daarom was die toorn van die Here die Almagtige so groot. 13Hy het geroep, maar hulle het nie geluister nie, en toe het die Here die Almagtige gesê: Ek sal ook nie luister as hulle roep nie, 14Ek sal hulle met 'n stormwind verstrooi onder al die nasies vir wie hulle tot nou toe onbekend was, en agter hulle sal die land so verwoes wees dat niemand meer daar deurtrek nie. Hulle het van 'n pragtige land 'n verwoeste wêreld gemaak.

Die Here gaan na Sion toe terugkom

1Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom.

2So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Sion, Ek het woedend geword vir sy vyande, so begaan is Ek oor hom.

3So sê die Here: Ek gaan na Sion toe terugkom, Ek gaan in Jerusalem woon. Jerusalem sal genoem word Stad van Trou, Berg van die Here die Almagtige, Heilige Berg.

4So sê die Here die Almagtige: Daar sal weer bejaarde mans en vrouens, ryp in jare, op die pleine in Jerusalem sit, elkeen met 'n kierie in die hand. 5Die pleine in die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel.

6So sê die Here die Almagtige: As dit vir die oorblyfsel van hierdie volk vandag onmoontlik lyk, moet dit dan ook vir My onmoontlik lyk? Die Here die Almagtige het dit gesê.

7So sê die Here die Almagtige: Ek gaan my volk red uit die land in die ooste, uit die land waar die son opkom. 8Ek gaan hulle bring, en hulle gaan in Jerusalem woon. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees, in trou en in geregtigheid.

9So sê die Here die Almagtige: Skep moed! Julle het gehoor wat die profete destyds gesê het toe die fondamente van die tempel van die Here die Almagtige gelê is sodat dit herbou kan word. 10Voor daardie tyd was daar nie geld om mense of diere te huur nie, en die toestand was so gevaarlik dat niemand veilig kon beweeg nie. Ek het al die mense mekaar se vyande gemaak. 11Maar nou is my houding teenoor die oorblyfsel van hierdie volk anders as toe, sê die Here die Almagtige. 12Daar sal nou voorspoed wees: die wingerdstok sal sy druiwe dra, die land sal sy oes lewer, die hemel sal sy vog lewer, en Ek sal dit alles aan die oorblyfsel van hierdie volk gee. 13Julle name, Juda en Israel, is onder die nasies gebruik in vervloekings, maar Ek het julle gered, en nou sal julle name gebruik word in seënwense. Moenie bang wees nie, skep moed!

14So sê die Here die Almagtige: Omdat julle voorvaders my toorn laat ontvlam het, het Ek besluit om julle kwaad aan te doen, en Ek het nie die straf herroep nie, sê die Here die Almagtige. 15Maar nou is my bedoeling anders: Ek wil goed doen aan Jerusalem en Juda. Moenie bang wees nie!

16Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. 17Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here.

Vasdae sal feestelike byeenkomste word

18Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom. 19So sê die Here die Almagtige: Elke vasdag, of dit nou val in die vierde of die vyfde, die sewende of die tiende maand, sal vir Juda 'n dag van vrolikheid word, 'n dag van vreugde. Dié dae sal feestelike byeenkomste word, maar dan moet julle bly by die waarheid en sorg dat daar vrede onder julle is.

Ander volke sal na Jerusalem toe kom

20So sê die Here die Almagtige: Volke sal kom, inwoners van baie stede. 21Die inwoners van een stad sal na dié van die volgende toe gaan en elkeen sal sê: “Kom ons gaan raadpleeg die Here, ons gaan vra na die wil van die Here die Almagtige. Ek gaan ook!”

22Baie volke sal kom, groot nasies, om in Jerusalem na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg.

23So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.”

Die Here sal die buurvolke straf

1'n Uitspraak van die Here.

Die woord van die Here is ook in Gadrak, en Hy het ook in Damaskus sy woonplek. Die Here sien alle mense, nie net al die stamme van Israel nie. 2Hy sien ook vir Hamat, wat aan Damaskus grens, en vir Tirus en Sidon, al het hulle hoeveel wysheid.

3Tirus het vir homself 'n vesting gebou en so baie silwer en goud vergader as wat daar stof is en modder in die strate. 4Nou gaan die Here alles vat wat die stad het, Hy gaan die mag breek wat die stad op see het, en die stad self sal afgebrand word.

5Askelon sal dit sien en skrik, Gasa sal dit sien en baie bang word, Ekron ook, want alles waarop hy vertrou het, sal daarmee heen wees. Gasa sal sonder koning wees, Askelon sonder inwoners, 6en in Asdod sal net mense woon wat gebore is uit ontoelaatbare geslagsgemeenskap.

So sal Ek die trots van die Filistyne breek, sê die Here. 7Ek sal die bloederige vleis wat hulle eet, uit hulle mond ruk, Ek sal die afskuwelike afgodsoffers tussen hulle tande uitruk.

Wat van die Filistyne oorbly, sal aan ons God behoort. Hulle sal een van die groepe in die stam Juda word; dit sal met Ekron gaan soos met die Jebusiete.

8Ek sal my huis beskerm teen enige leër wat daar verbykom, sê die Here, geen onderdrukkers sal hulle meer oorval nie. Ek sorg nou self vir hulle.

Die koning sal kom

9Jubel, Sion! Juig, Jerusalem!

Jou koning sal na jou toe kom.

Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar,

hy is nederig en hy ry op 'n donkie,

op die hingsvul van 'n donkie.

10Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei.

Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word.

Die koning sal vrede vir die nasies afkondig

en hy sal regeer van see tot see,

van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.

Die Here sal sy volk red

11Wat jou betref, my verbond met jou is met offerbloed beseël. Daarom sal Ek jou gevangenes laat red uit hulle gevangenskap.

12Kom terug na die vestingstad toe, gevangenes wat nou hoop het! Ek verseker jou vandag: Ek gee jou twee maal soveel as wat jy gehad het.

13Ek gebruik Juda as my boog, Efraim as my pyl, jou inwoners, Sion, as my swaard teen jou inwoners, Griekeland. Ek hanteer my volk soos 'n vegter sy swaard hanteer.

14Die Here sal bokant sy volk verskyn, sy pyl sal soos weerlig uitskiet. Die Here God sal die ramshoring blaas, Hy sal kom in die storms uit die suide. 15Die Here die Almagtige sal sy volk beskerm. Die klippe uit sy slingervel sal dood en verwoesting saai, hulle sal vol bloed word, hulle sal gons soos wyn bruis, hulle sal so vol bloed word soos die kom wat by offers gebruik word, soos die hoeke van die altaar.

16Die Here hulle God sal daardie dag sy volk, sy kudde, red. Hulle sal in sy land vonkel soos die edelstene in 'n kroon.

17Hoe voorspoedig, hoe mooi sal die land nie wees nie! Die koring en die wyn sal maak dat die jongmans en die meisies gesond en sterk sal wees.

Die Here sal sy volk laat terugkom

1Vra vir die Here reën in die tyd wanneer die laat reëns moet kom. Hy maak die reënwolke en laat die stortreëns val, Hy gee vir die mense die groen plante in die veld.

2Wat die afgodsbeelde sê, is bedrog; wat die waarsêers sien, is leuens; die drome wat hulle vertel, het nie plaasgevind nie; hulle probeer troos met wat nie bestaan nie. Daarom moes die volk weg, moes hulle in ellende beland soos skape wat nie 'n wagter het nie.

3Maar nou het my toorn ontvlam teen die herders, Ek gaan rekenskap eis van die voorbokke, sê die Here.

Ja, die Here die Almagtige het Hom die lot van sy kudde Juda aangetrek, Hy gaan hulle sy trotse oorlogsperd maak.

4Uit Juda sal die hoekklip kom, uit hom sal die tentpen, uit hom die pyl en boog vir die oorlog kom, en uit hom sal elke onderdrukker padgee. 5Soos sterk vegsmanne sal die mense van Juda die vyand soos modder in die strate vertrap. Hulle sal veg, want die Here is by hulle; hulle sal die perderuiters op die vlug jaag.

6Ek sal Juda sterk maak, Ek sal Josef red. Ek laat hulle terugkom, want Ek is jammer vir hulle. Dit sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie. Ek is die Here hulle God en Ek het hulle gebede verhoor.

7Die mense van Efraim sal soos sterk vegsmanne wees, hulle sal vrolik wees asof hulle wyn gedrink het. Hulle kinders sal dit sien en bly wees, hulle sal juig oor My, die Here. 8Ek sal vir hulle fluit en hulle bymekaarmaak. Ja, Ek gaan hulle red, en hulle sal net so baie wees as tevore. 9Al verstrooi Ek hulle weer onder die volke, sal hulle My daar in die ver plekke onthou, en hulle en hulle kinders sal bly lewe en terugkom. 10Ek sal hulle laat terugkom uit Egipte, Ek sal hulle uit Assirië uit bymekaarmaak en hulle na Gilead en die Libanon toe bring, en dié sal nie genoeg plek vir hulle hê nie. 11Die volk sal deur die gevaarlike see trek, die golwe in die see sal oorwin word en al die Nyldieptes sal opdroog. Die hoogmoed van Assirië sal tot 'n val kom, die heerskappy van Egipte sal die wyk moet neem. 12Ek, die Here, sal by my volk wees en hulle sterk maak. Hulle sal in my Naam voortgaan. Die Here het dit gesê.

God beskik oor al die nasies

1'n Psalm van Asaf.

In die hemelse vergadering, tussen die hemelwesens,

staan God op om uitspraak te lewer:

2“Hoe lank gaan julle nog onregverdige beslissings vel,

nog partydig wees vir die goddelose? Sela

3Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind,

'n regverdige uitspraak vir die hulpelose en die behoeftige lewer,

4julle moet die mens in nood en die arme bevry,

hulle uit die mag van die goddelose red;

5maar julle weet niks,

julle verstaan niks,

julle gaan eenvoudig in duisternis voort,

en so word die fondamente van die wêreld geskud.

6Ek het wel gesê:

Julle is almal gode, almal met mag beklee.

7Maar nou, julle sal elkeen sterwe soos 'n mens

en aan julle einde kom soos enige maghebber.”

8Kom tog, o God! Lewer uitspraak oor die wêreld,

want al die nasies behoort aan U.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS