Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 207

SAGARIA 1–5, PSALM 81

Bybelteks(te)

Moenie soos julle voorvaders wees nie

1In die agste maand van die tweede regeringsjaar van Darius het die woord van die Here gekom tot die profeet Sagaria seun van Berekja, seun van Iddo:

2Die toorn van die Here het oor julle voorvaders losgebreek. 3En nou moet jy vir jou volk sê: So sê die Here die Almagtige: Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige, dan sal Ek weer by julle wees, sê die Here die Almagtige.

4Moenie soos julle voorvaders wees nie. Die profete van vroeër het hulle aangespreek en gesê: “So sê die Here die Almagtige: Bekeer julle van julle slegte lewe en julle slegte dade!”

Maar hulle was ongehoorsaam, hulle het hulle nie aan My gesteur nie, sê die Here.

5Waar is julle voorvaders nou? En die profete? Leef húlle vir altyd? 6Het die uitsprake, die voorskrifte wat Ek my dienaars die profete laat maak het, dan nie julle voorvaders ingehaal nie? Hulle moes erken: Die Here die Almagtige het met ons gedoen wat Hy Hom voorgeneem het om met ons te doen, presies volgens ons lewe en ons dade.

Die eerste gesig: die ruiters

7Op die vier en twintigste dag van die elfde maand, die maand Sebat, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die Here gekom tot die profeet Sagaria seun van Berekja, seun van Iddo.

8Ek het in die nag 'n gesig gesien. Daar het 'n man op 'n bruin perd gesit. Hy was tussen die mirtestruike in 'n diep kloof, en agter hom was ruiters op bruin en vos en wit perde. 9Ek het gevra: “Wat beteken dit, Meneer?”

'n Engel wat vir my die gesig moes uitlê, het vir my gesê: “Ek sal jou laat sien wat dit beteken.”

10Toe praat die man wat tussen die mirte was. Hy het gesê: “Dit is die ruiters wat deur die Here uitgestuur is om die wêreld te deurkruis.”

11Die ruiters sê toe vir die engel van die Here, vir die engel wat tussen die mirte was: “Ons hét die wêreld deurkruis, en die hele wêreld is rustig en stil.”

12Toe sê die engel wat vir my die gesig moes uitlê, die engel van die Here: “Here, Almagtige, hoe lank gaan dit nog duur voordat U U weer oor Jerusalem en die stede van Juda ontferm? U toorn rus nou al sewentig jaar op hulle!” 13Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom bemoedig. 14Daarna sê die engel vir my: “Roep en sê: So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion. 15My toorn gaan losbreek teen die nasies wat nou so sorgvry woon, want my toorn teen Jerusalem was nie so groot nie; dit is die heidennasies wat dit so 'n groot ramp laat word het. 16Daarom, so sê die Here, gaan Ek My weer oor Jerusalem ontferm: my tempel daar gaan herbou word, sê die Here die Almagtige, Jerusalem sal opnuut as stad uitgelê word.

17“Roep weer en sê: So sê die Here die Almagtige: My stede sal weer oorstroom word deur voorspoed. Ek, die Here, gaan weer genade betoon aan Sion, Ek gaan Jerusalem weer my woonplek maak.”

Die tweede gesig: die horings

18Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was vier horings, 19en ek het vir die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gevra: “Wat beteken dit?”

Hy het vir my gesê: “Dit is die horings wat vir Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.”

20Toe laat die Here my vier ambagsmanne sien, 21en ek vra: “Wat het hulle kom doen?”

Hy het geantwoord: “Daardie horings het die mense van Juda verstrooi en verneder. Die ambagsmanne het gekom om die regeerders van die nasies, die horings wat vir Juda met soveel geweld verstrooi het, die skrik op die lyf te ja en hulle tot 'n val te bring.”

Die derde gesig: die man met die maatlyn

1Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was 'n man met 'n maatlyn in die hand, 2en ek het gevra: “Waar gaan u heen?”

Hy het vir my gesê: “Ek gaan Jerusalem uitmeet om te sien hoe breed en hoe lank hy moet wees.”

3Die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gaan toe vorentoe en kry 'n ander engel wat na hom toe kom. 4Hy het vir dié engel gesê: “Hardloop en sê vir daardie jongman: Jerusalem gaan 'n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees. 5Die Here sê: Ek sal 'n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”

6Kom, kom, vlug uit die noordland! sê die Here. Ek het julle na die vier windstreke toe verstrooi, sê die Here. 7Kom, Sion, jy wat in Babel woon, kom weg daar! 8So sê die Here die Almagtige wat my met volmag gestuur het na die nasies toe wat oorlogsbuit van julle gemaak het: Wie aan julle vat, vat aan my oogappel. 9Met een waai van my hand teen hulle gaan Ek hulle die gevangenes van hulle eie slawe maak.

Wanneer dit gebeur, sal julle weet dat die Here die Almagtige my gestuur het.

10Juig, Sion, wees bly! Ek kom, Ek gaan binne-in jou woon, sê die Here.

11Daardie dag sal baie nasies hulle aan die Here verbind: hulle sal my volk wees, en Ek sal in jou woon, Sion.

Wanneer dit gebeur, sal jy weet dat die Here die Almagtige my na jou toe gestuur het. 12Daar, op die heilige grond, sal die Here weer vir Juda in besit neem as die volk wat Hom toekom, sal Hy Jerusalem weer sy woonplek maak. 13Wees stil voor die Here, al wat leef! Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn!

Die vierde gesig: die hoëpriester Jesua

1Die Here het my 'n gesig laat sien. Ek het die hoëpriester Jesua voor die engel van die Here sien staan, en regs van hom het die Satan gestaan, besig om Jesua aan te kla. 2Die Here het vir die Satan gesê: Ek sal jou straf, Satan, Ek wat Jerusalem my woonplek gemaak het, sal jou straf. Hierdie man is soos 'n stuk hout wat uit die vuur gered is.

3Jesua het klere aangehad wat liederlik bevuil was. Hy het daar voor die engel gestaan, 4en die engel het vir sy helpers gesê: “Trek uit dié liederlike vuil klere van hom.”

Vir Jesua het hy gesê: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek.”

5Toe sê ek: “Hulle moet 'n skoon tulband op sy kop sit!”

Hulle het die skoon tulband op sy kop gesit en hom aangetrek terwyl die engel van die Here daar by staan.

6Daarna het die engel van die Here vir Jesua belowe: 7“So sê die Here die Almagtige: As jy lewe soos Ek dit wil, as jy die voorskrifte vir my diens onderhou, sal jy die gesag hê oor my huis, die verantwoordelikheid dra vir my heiligdom. Jy sal toegang tot My hê, net soos hierdie engele. 8Luister, Jesua, hoëpriester, jy en jou vriende wat voor jou sit: jou vriende is 'n teken van iets wat kom. Ek gaan my dienaar Loot nou bring. 9Ek sit voor Jesua 'n klip neer, en op hierdie een enkele klip is daar sewe oë. Ek gaan nou 'n graveersel daarop aanbring, sê die Here die Almagtige, en Ek gaan die sonde van hierdie land op een enkele dag wegneem. 10Daardie dag, sê die Here die Almagtige, sal die mense weer rustig oor en weer na mekaar roep onder die wingerdstokke en die vyebome.”

Die vyfde gesig: die kandelaar

1Die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, het teruggekom en my wakker gemaak, net soos 'n mens uit sy slaap wakker gemaak word. 2Hy het vir my gevra: “Wat sien jy?” maar hy het self voortgegaan: “Ek het gesien daar is 'n kandelaar, heeltemal van goud; bo-op is 'n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen. 3By die kandelaar is twee olyfbome, een regs van die oliebak en een links.”

4Ek vra toe vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: “Wat beteken dit, Meneer?”

5Hy het geantwoord: “Weet jy nie wat dit beteken nie?”

Ek het gesê: “Nee, Meneer.”

6Toe sê hy vir my: “Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”

7Selfs die grootste berg sal voor Serubbabel 'n gelykte word. As Serubbabel die laaste klip van die tempel op sy plek sit, sal die mense roep: “Mooi, mooi!”

8Daarna kom die woord van die Here tot my: 9Serubbabel se hande het hierdie tempel se fondamente gelê, sý hande sal dit klaar bou.

Dan sal julle weet dat die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het. 10Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien Serubbabel gaan aan met die bouwerk.

Daardie sewe oë op die klip voor Jesua is die oë van die Here wat oor die hele wêreld kyk.

11Toe vra ek vir die engel: “Wat beteken daardie twee olyfbome weerskante van die kandelaar?” 12En verder het ek ook vir hom gevra: “Wat beteken die twee bondels olyftakkies langs die twee goue pype waaruit die goudkleurige olie stroom?”

13Hy het vir my gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” en ek het gesê: “Nee, Meneer.”

14Toe sê hy: “Dit is die twee gesalfdes wat in diens staan van Hom aan wie die hele aarde behoort.”

Die sesde gesig: die boekrol

1Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was 'n boekrol wat in die lug sweef. 2Die engel het vir my gevra: “Wat sien jy?” en ek het gesê: “Ek sien 'n boekrol wat in die lug sweef. Dit is nege meter lank en vier en 'n half meter breed.”

3Toe sê die engel vir my: “Dit is die vervloeking wat oor die hele aarde strek, want elke dief het tot nou toe ongestraf gebly, en elkeen wat 'n vals eed aflê, het tot nou toe ongestraf gebly.”

4Ek stuur die vervloeking, sê die Here die Almagtige. Dit sal in die dief se huis ingaan, en in die huis van dié wat in my Naam 'n vals eed aflê. Dit sal daar bly en die huis verwoes, hout en klip, alles.

Die sewende gesig: die mandjie

5Die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, het vorentoe gekom en vir my gesê: “Kyk daar! Kyk wat kom daar aan.”

6Ek het gevra: “Wat is dit?” en hy het gesê: “Dit is 'n graanmandjie wat aankom.” Hy het bygevoeg: “Dit bevat die sonde van almal op aarde.”

7Toe word die ronde looddeksel van die mandjie opgelig, en daar sit 'n vrou binne-in die mandjie! 8Die engel het gesê: “Dit is die goddeloosheid!”

Hy het haar teruggestamp in die mandjie en die looddeksel oor die bek toegeklap. 9Toe sien ek twee vroue aankom wat met vlerke op die wind sweef, vlerke soos dié van 'n grootsprinkaanvoël. Hulle het die mandjie opgetel en is daarmee die lug in. 10Ek vra toe die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: “Waarheen gaan hulle met die mandjie?”

11Hy het geantwoord: “Hulle gaan vir die mandjie 'n huis bou in Sinar. As dit klaar is, sal die mandjie daar op die plek gesit word waar hy hoort.”

As my volk maar na My wou luister

1Vir die koorleier: met musiek. Van Asaf.

2Jubel tot eer van God ons sterkte,

juig tot eer van die God van Jakob!

3Sing, en slaan die tamboeryn,

laat hoor die lieflike klanke van die lier en die harp.

4Blaas die ramshoring op nuwemaan,

met volmaan, op ons feesdag, 5want dit is 'n instelling vir Israel,

'n verordening van die God van Jakob.

6Hy het dit vir die nageslag van Josef as 'n dure plig opgelê

toe hulle uit Egipte weggetrek het.

Wat hulle toe nog nie geweet het nie, het hulle gehoor:

7“Ek het die swaar drag van julle skouers afgehaal,

julle kon die mandjies neersit.

8In julle nood het julle geroep en Ek het julle gered;

Ek het julle uit 'n donderwolk geantwoord,

julle by die waters van Meriba op die proef gestel. Sela

9Luister, my volk, Ek gee julle 'n opdrag.

Israel, luister na My:

10‘Daar mag vir julle geen ander god wees nie,

julle mag voor geen vreemde god neerbuig nie.

11Ek is die Here julle God

wat julle uit Egipte laat wegtrek het.

Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee.’

12“Maar my volk het nie na My geluister nie,

Israel wou niks met My te doen hê nie.

13Daarom het Ek hulle laat begaan in hulle koppigheid

en hulle het hulle eie sin en wil gevolg.

14Ag, as my volk maar na My wou luister,

as Israel maar my wil wou doen,

15hoe gou sou Ek hulle vyande nie op die knieë bring

en hulle teëstanders met my eie hand verslaan nie.”

16Dié wat voorgee dat hulle die Here dien, maar Hom haat,

hulle straf sal vir altyd duur.

17Maar vir julle sal Hy voed met die beste koring,

julle versadig met heuning uit 'n rots.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS