Die Here gaan na Sion toe terugkom
1Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom.
2So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Sion, Ek het woedend geword vir sy vyande, so begaan is Ek oor hom.
3So sê die Here: Ek gaan na Sion toe terugkom, Ek gaan in Jerusalem woon. Jerusalem sal genoem word Stad van Trou, Berg van die Here die Almagtige, Heilige Berg.
4So sê die Here die Almagtige: Daar sal weer bejaarde mans en vrouens, ryp in jare, op die pleine in Jerusalem sit, elkeen met 'n kierie in die hand. 5Die pleine in die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel.
6So sê die Here die Almagtige: As dit vir die oorblyfsel van hierdie volk vandag onmoontlik lyk, moet dit dan ook vir My onmoontlik lyk? Die Here die Almagtige het dit gesê.
7So sê die Here die Almagtige: Ek gaan my volk red uit die land in die ooste, uit die land waar die son opkom. 8Ek gaan hulle bring, en hulle gaan in Jerusalem woon. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees, in trou en in geregtigheid.
9So sê die Here die Almagtige: Skep moed! Julle het gehoor wat die profete destyds gesê het toe die fondamente van die tempel van die Here die Almagtige gelê is sodat dit herbou kan word. 10Voor daardie tyd was daar nie geld om mense of diere te huur nie, en die toestand was so gevaarlik dat niemand veilig kon beweeg nie. Ek het al die mense mekaar se vyande gemaak. 11Maar nou is my houding teenoor die oorblyfsel van hierdie volk anders as toe, sê die Here die Almagtige. 12Daar sal nou voorspoed wees: die wingerdstok sal sy druiwe dra, die land sal sy oes lewer, die hemel sal sy vog lewer, en Ek sal dit alles aan die oorblyfsel van hierdie volk gee. 13Julle name, Juda en Israel, is onder die nasies gebruik in vervloekings, maar Ek het julle gered, en nou sal julle name gebruik word in seënwense. Moenie bang wees nie, skep moed!
14So sê die Here die Almagtige: Omdat julle voorvaders my toorn laat ontvlam het, het Ek besluit om julle kwaad aan te doen, en Ek het nie die straf herroep nie, sê die Here die Almagtige. 15Maar nou is my bedoeling anders: Ek wil goed doen aan Jerusalem en Juda. Moenie bang wees nie!
16Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. 17Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here.
Vasdae sal feestelike byeenkomste word
18Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom. 19So sê die Here die Almagtige: Elke vasdag, of dit nou val in die vierde of die vyfde, die sewende of die tiende maand, sal vir Juda 'n dag van vrolikheid word, 'n dag van vreugde. Dié dae sal feestelike byeenkomste word, maar dan moet julle bly by die waarheid en sorg dat daar vrede onder julle is.
Ander volke sal na Jerusalem toe kom
20So sê die Here die Almagtige: Volke sal kom, inwoners van baie stede. 21Die inwoners van een stad sal na dié van die volgende toe gaan en elkeen sal sê: “Kom ons gaan raadpleeg die Here, ons gaan vra na die wil van die Here die Almagtige. Ek gaan ook!”
22Baie volke sal kom, groot nasies, om in Jerusalem na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg.
23So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.”