Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 209

SAGARIA 11–14, PSALMS 83–84

Bybelteks(te)

1Maak oop jou poorte, Libanon, dat 'n vuur jou seders kan verteer! 2Huil, sipres, want 'n seder het geval, die grootste bome is verwoes! Huil, groot bome in Basan, want die ondeurdringbare bos het geval! 3Luister hoe huil die herders omdat hulle beste weiveld verwoes is! Luister hoe brul die leeus omdat die pragtige bos langs die Jordaan verwoes is!

Die herders

4So het die Here my God gesê: Gaan wees 'n herder vir die slagskape. 5Hulle eienaars self slag hulle sonder skuldgevoel, of verkoop hulle en sê: “Prys die Here, ek word ryk!” Ook die skape se herders gee vir hulle niks om nie.

6Ek gee ook nie meer om vir die inwoners van die land nie, sê die Here, Ek gee hulle oor in mekaar se mag en in die mag van hulle koning. Die land sal uitmekaar geslaan word, maar Ek sal niemand red nie.

7Ek het toe 'n herder geword in diens van dié wat met die slagskape handel dryf. Ek het twee kieries gevat, die een Vriendelikheid genoem en die ander Vereniging, en ek het vir die skape 'n herder geword.

8Binne een maand het ek van drie herders ontslae geraak. Maar ek het ongeduldig geraak met die skape, en hulle het ook vir my moeg geraak. 9Ek het gesê: “Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat wil doodgaan, doodgaan. Laat dié wat wil wegraak, wegraak. En laat dié wat oorbly, mekaar opvreet.”

10Ek het my kierie Vriendelikheid gevat en dit stukkend geslaan om so die ooreenkoms wat ek met al die volke gehad het, te verbreek. 11Die ooreenkoms het dieselfde dag opgehou om te bestaan en die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het geweet dat die Here dit so beveel het. 12Ek het vir hulle gesê: “As julle wil, gee my my loon; as julle nie wil nie, laat staan dit.” Hulle het toe my loon afgeweeg, dertig stukke silwer.

13Die Here het vir my gesê: Gooi dit vir die pottebakker!

En dit was nogal die kosbare loon wat hulle gemeen het ek werd is! Maar ek het die dertig stukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi. 14Ek slaan toe ook my ander kierie, Vereniging, stukkend om so die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek.

15Toe sê die Here vir my: Vat weer vir jou herdersgereedskap, maar nou dié van een wat alles verkeerd doen. 16Ek gaan nou 'n herder in die land aanstel wat niks omgee vir dié wat wegraak nie, nie die lammers soek nie, nie dié wat seergekry het, dokter nie en die gesondes nie kos gee nie, maar wat die vleis van die vetstes eet en die ander se kloue afruk.

17Ellende wag vir die herder wat alles verkeerd doen en die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm en sy regteroog tref! Mag sy arm heeltemal verdor, mag sy regteroog heeltemal blind word!

Die Here sal Juda en Jerusalem red

1'n Uitspraak, 'n woord van die Here teen Israel. Die Here het dit gesê, Hy wat die hemelkoepel oopgespan en die aarde op sy fondamente gesit het, Hy wat die gees van die mens gevorm het:

2Ek gaan Jerusalem 'n bak wyn maak wat al die volke rondom laat slinger. Wanneer Jerusalem beleër word, sal die stede van Juda ook beleër word.

3Daardie dag gaan Ek Jerusalem 'n rotsblok maak vir al die volke. Elkeen wat hom probeer optel, gaan homself seer maak. Al die nasies op aarde sal saamstaan teen Jerusalem.

4Daardie dag, sê die Here, laat Ek die perde skrik en die ruiters paniekbevange raak. Ek sal my oog hou op Juda, maar die ander volke se perde sal Ek almal blind laat word. 5Dan sal die leiers van Juda vir hulleself sê: “Die krag van die inwoners van Jerusalem lê in hulle God, die Here die Almagtige.”

6Daardie dag maak Ek die leiers van Juda soos 'n bak vuur onder die hout, soos 'n vlam onder die afgesnyde koringare. Hulle sal al die volke rondom verteer, na alle kante toe. Maar Jerusalem sal nog staan waar hy was. 7Die Here sal die woonplekke van Juda eerste red, sodat die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem nie méér eer ontvang as Juda nie.

8Daardie dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Selfs die swakste van hulle sal daardie dag soos Dawid word, en die koningshuis van Dawid sal soos 'n hemelwese word, soos die engel van die Here wat voor hulle uit gaan.

9Daardie dag begin Ek al die nasies uitroei wat vir Jerusalem kom aanval.

Berou in Jerusalem

10Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek 'n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos 'n mens treur oor 'n enigste kind, hulle sal oor hom huil soos 'n mens oor 'n oudste seun huil.

11Daardie dag sal daar in Jerusalem meer getreur word as wat daar oor Hadad-Rimmon getreur is in die Megiddovlakte. 12Die land sal treur, die mans in elke familie afsonderlik, en hulle vrouens afsonderlik: die familie van Dawid en hulle vrouens, die familie van Natan en hulle vrouens, 13die familie van Levi en hulle vrouens, die familie van Simi en hulle vrouens, 14en al die ander families, die mans afsonderlik en hulle vrouens afsonderlik.

Die reiniging van Jerusalem

1Daardie dag sal daar 'n fontein oopgemaak word om die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem te reinig van hulle sonde en hulle vuilheid.

2Daardie dag, sê die Here die Almagtige, laat Ek die gedagtenis aan die afgode verdwyn uit die land. Daar sal nie meer aan hulle gedink word nie. Ek gaan ook die profete en die gees van onreinheid uit die land verwyder. 3Wanneer iemand nog profeet probeer wees, sal sy eie pa en ma sê: “Jy mag nie lewe nie, want jy praat leuens in die Naam van die Here.”

So 'n man se eie pa en ma sal hom doodsteek omdat hy profeet probeer wees.

4Daardie dag sal elke profeet in die verleentheid wees met die gesigte wat hy as profeet sien, en hy sal nie meer harige profeteklere aantrek om met sy bedrog aan te gaan nie. 5Hy sal sê: “Ek is nie 'n profeet nie, ek werk op die lande, iemand het my verkoop toe ek nog jonk was.”

6En as iemand vir die profeet sê: “Wat se wonde het jy dan op jou bors?” sal hy antwoord: “Iemand het my so geslaan in die huis van my vriende.”

Dié wat oorbly, word gesuiwer

7Kom, swaard, tref die herder in my diens, sê die Here die Almagtige, tref die man wat so na aan My is. Maak dood die herder, dat die skape uitmekaargejaag kan word. Ek sal self optree, ook teen die kleinstes onder hulle. 8Dwarsoor die land, sê die Here, sal twee derdes van hulle uitgeroei word en omkom. Daar sal net 'n derde van hulle oorbly in die land, 9en dié derde sal Ek met vuur louter soos silwer gelouter word. Ek sal hulle suiwer soos goud gesuiwer word. Hulle sal My aanroep, en Ek sal hulle gebede verhoor.

Ek sal sê: “Hulle is my volk.”

En hulle sal sê: “Die Here is ons God.”

Die dag van die Here kom

1Die dag van die Here kom. Wat in jou buitgemaak is, Jerusalem, sal binne-in jou verdeel word.

2Ek sal al die nasies bymekaarmaak vir 'n oorlog teen Jerusalem. Die stad sal ingeneem word, die huise sal geplunder word en die vrouens verkrag word. Die een helfte van die stad se inwoners sal in ballingskap gaan, maar die ander helfte sal nie uit die stad verwyder word nie.

3Daarna sal die Here teen daardie nasies gaan oorlog maak net soos op die dag toe Hy destyds die oorlog gevoer het. 4Daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en daar sal 'n groot kloof van oos na wes ontstaan. Een helfte van die berg sal na die noorde toe padgee en die ander helfte suide toe. 5Julle sal deur die kloof in my berg vlug, want die kloof sal strek tot by Asal. Julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda.

Dan sal die Here my God kom, en al die hemelwesens sal by jou wees.

6Daardie dag sal daar nie lig wees of koue of ryp nie.

7Dit sal 'n besondere dag wees. Wanneer dit sal wees, weet net die Here. Daar sal nie dag of nag wees nie: as dit aand word, sal daar steeds lig wees.

8Daardie dag sal daar 'n vars stroom water uit Jerusalem vloei, een helfte na die see in die ooste toe en een helfte na die see in die weste toe, somer en winter. 9Die Here sal koning wees oor die hele land. Daardie dag sal die Here die enigste God wees, en sy Naam die enigste Naam. 10Die hele land, van Geba af tot by Rimmon suid van Jerusalem, sal soos die Jordaanvallei word. Jerusalem sal gelig word daar waar hy nou is, hy sal hoog lê, van die Benjaminpoort af tot waar die poort vroeër was, tot by die Hoekpoort en die Gananeltoring, tot by die koning se wynkuipe. 11Daar sal mense woon, en die stad sal nie weer verwoes word nie. Jerusalem sal 'n veilige woonplek wees.

12Die Here gaan al die volke wat teen Jerusalem oorlog maak, met 'n groot ramp tref: hulle vleis sal wegvrot terwyl hulle nog lewe, hulle oë sal wegvrot in hulle oogkaste, hulle tonge sal wegvrot in hulle monde.

13Daardie dag sal die Here die mense paniekbevange laat raak: die een sal die ander aan die hand gryp en hom aanval. 14Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdomme van al die nasies rondom sal bymekaargemaak word: goud, silwer en klere in groot hoeveelhede.

15Dieselfde ramp wat die mense tref, sal ook die perde tref, die muile, die kamele, die donkies, al die diere wat in die kampe van die vyande is.

16Al die mense wat oor is uit die volke wat teen Jerusalem opgetrek het, sal jaar na jaar kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid en om die huttefees te vier. 17Geen volk op aarde wat nie na Jerusalem toe kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid nie, sal reën kry nie. 18En as die Egiptenaars nie kom nie, sal die Here hulle met dieselfde ramp tref as die ander nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie. 19Dit sal die straf wees vir Egipte en vir al die nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie.

20Daardie dag sal daar op die klokkies aan die perde se tuie staan: “Gewy aan die Here”, en die potte in die huis van die Here sal net soos die offerkomme by die altaar wees. 21Elke pot in Jerusalem en Juda sal aan die Here die Almagtige gewy wees. Die mense wat kom offer, sal van die potte vat en vleis in hulle kook. Daardie dag sal daar in die huis van die Here die Almagtige geen handelaar meer wees nie.

Kyk hoe gaan u vyande teen U te kere

1'n Lied. 'n Psalm van Asaf.

2Moet tog nie afsydig staan nie, o God,

moet tog nie stilbly en niks doen nie!

3Kyk hoe gaan u vyande teen U te kere,

hoe verset u teëstanders hulle teen U.

4Teen u volk smee hulle komplotte in die geheim,

hulle sweer saam teen dié wat onder u beskerming staan.

5Hulle sê: “Kom ons roei hulle uit

dat hulle nie meer 'n volk is nie,

dat niemand meer die naam Israel sal onthou nie.”

6Hulle het eensgesind saamgespan

en 'n verbond teen U gesluit:

7Edom en die Ismaeliete,

Moab en die Hagareërs,

8Gebal, Ammon en Amalek,

Filistea en die inwoners van Tirus.

9Selfs Assirië het by hulle aangesluit;

hulle help almal die kinders van Lot. Sela

10Maak met hulle soos met die Midianiete,

soos met Sisera,

soos met Jabin by Kisonspruit.

11Hulle is by En-Dor vernietig

en hulle lyke het daar op die grond gelê en vergaan.

12Maak met hulle leiers soos met Oreb en Seëb,

met elkeen van hulle aanvoerders soos met Seba en Salmunna,

13wat gesê het:

“Kom ons vat die weivelde van God vir ons.”

14My God, maak tolbosse van hulle,

stoppels in die wind,

15'n bos wat in vuur verteer word,

berge wat in vlamme afbrand;

16jaag hulle met u stormwind,

slaan hulle uitmekaar met u orkaan.

17Laat hulle met skande daarvan afkom!

Dan sal hulle weet wie U is, Here!

18Bring hulle tot skande,

maak die lewe vir hulle een lang verskrikking,

verneder hulle en wis hulle uit;

19laat hulle besef dat alleen U die Naam “Here” het,

U, die Allerhoogste oor die hele aarde.

Hoe lief het ek u woning, Here

1Vir die koorleier: met musiek. Van die Koragiete. 'n Psalm.

2Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige!

3Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;

met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.

4Selfs 'n mossie het 'n nes

en 'n swaeltjie 'n plek vir haar kleintjies

daar by u altare, Here, Almagtige,

my Koning en my God!

5Dit gaan goed met mense vir wie u huis 'n tuiste is:

hulle hou nie op om U te prys nie. Sela

6Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind

en graag na u tempel toe gaan.

7Vir hulle gaan daar fonteine oop

wanneer hulle deur 'n dorre laagte trek

en die vroeë reëns sy seëninge bring.

8Keer op keer ontvang hulle nuwe krag

totdat hulle voor God in Sion verskyn.

9Here, almagtige God, hoor my gebed,

luister tog, God van Jakob! Sela

10Sien tog om na die koning, ons beskermer, o God;

hou u gesalfde onder u sorg.

11Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite.

Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God

as om te woon in huise sonder God.

12Die Here God is ons krag en ons beskerming,

die Here gee genade en eer,

Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.

13Here, Almagtige,

dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS