Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 199

ESEGIËL 46–48, PSALMS 67–70

Bybelteks(te)

1So sê die Here my God: “Die oospoort na die voorhof toe moet op die ses werksdae gesluit bly, maar dit moet oopgemaak word op sabbatdae en op nuwemaansfeeste. 2Dan moet die regeerder van buite af by die toegangsportaal van die poortgebou ingaan en by die poortdeur gaan staan. Die priesters moet dan die regeerder se brandoffer en maaltydoffer offer, en daarna moet hy in aanbidding by die poortdrumpel buig en uitgaan. Die poort moet tot die aand toe oop bly. 3Ook die gewone burgers moet op sabbatte en op nuwemaansfeeste by hierdie poort in aanbidding voor die Here kom buig.

4“Die brandoffer wat die regeerder op die sabbat vir die Here moet aanbied, moet bestaan uit ses lammers en 'n skaapram, almal sonder liggaamsgebrek. 5Die graanoffer saam met die ram moet sestien kilogram meel wees en dié saam met die lammers soveel as wat hy wil gee. Daar moet vier liter olie by elke sestien kilogram meel wees. 6Op die nuwemaansfees moet die offer bestaan uit 'n bul, ses lammers en 'n skaapram, almal sonder liggaamsgebrek, 7met graanoffers van sestien kilogram saam met die bul en die ram, en dié saam met die lammers soveel as wat die regeerder kan bekostig. Vir elke sestien kilogram meel moet hy ook vier liter olie offer.

8“Wanneer die regeerder ingaan, moet hy dit doen deur die toegangsportaal van die poort, en hy moet weer daar uitgaan. 9Maar wanneer die gewone burgers op feesdae in die teenwoordigheid van die Here wil kom, moet dié wat deur die noordpoort inkom om in aanbidding te buig, by die suidpoort uitgaan, en dié wat deur die suidpoort inkom, moet by die noordpoort uitgaan. Niemand mag teruggaan deur die poort waar hy ingekom het nie; almal moet by die ander kant uitgaan. 10Die regeerder moet by hulle wees; wanneer hulle inkom, moet hy inkom en wanneer hulle uitgaan, moet hy uitgaan.

11“Op die feesdae en tydens die feestye moet die graanoffer sestien kilogram saam met 'n bul en 'n ram wees en dié saam met die lammers soveel as wat die persoon wil gee. Vir elke sestien kilogram moet daar ook vier liter olie gebring word.

12“Wanneer die regeerder 'n vrywillige offer wil aanbied, 'n brandoffer of maaltydoffers as vrywillige offer aan die Here, moet die oospoort vir hom oopgemaak word, en dan moet hy die brandoffer of die maaltydoffers aanbied soos hy dit op die sabbatdag moet doen. Daarna moet hy uitgaan en moet die poort weer gesluit word.

13“Daar moet elke dag 'n jaaroud ramlam sonder liggaamsgebrek vir die Here as brandoffer gebring word. Dit moet elke môre gedoen word. 14Elke môre moet daar ook 'n graanoffer van drie kilogram meel gebring word met een en 'n derde liter olie om die meel mee klam te maak. Dit moet 'n vaste instelling wees. 15Die lam en die graanoffer en die olie moet elke môre gebring word as 'n daaglikse brandoffer.”

Grondbesit

16So sê die Here my God: “Wanneer die regeerder 'n stuk van sy grond aan een van sy seuns gee, moet dit die seun s'n bly en word dit die familiebesit van die seun se nageslag. 17Maar wanneer die regeerder 'n stuk van sy grond vir enigiemand in sy diens gee, kan dié persoon dit besit tot in die hersteljaar; dan moet dit terugval na die regeerder toe en weer uitsluitend die familiebesit van sy nageslag word.

18“Die regeerder mag nie grond van die volk afvat en hulle so uit hulle familiebesit verdring nie. 'n Man se grond moet sy seuns toeval, sodat my volk nie hulle familiebesit ontneem word en verstrooi raak nie.”

Kookplekke

19Die man met die meetstok bring my toe by die ingang langs die noordpoort, die ingang na die gewyde vertrekke van die priesters toe. Daar was 'n plek agter die gebou, aan die westekant, 20en die man het vir my gesê: “Dit is die plek waar die priesters die vleis moet gaarmaak van die skuldoffer en die sondeoffer en waar hulle die graanoffergeregte moet bak, sodat hulle nie die volk in gevaar stel deur dié gewyde dinge deur die buitenste voorhof te bring nie.”

21Daarna bring die man my na die buitenste voorhof toe en vat my by die vier hoeke van die voorhof verby. In elke hoek van die voorhof was daar 'n kleiner voorhof. 22Dié kleiner voorhowe was elkeen twintig meter lank en vyftien meter breed, en daar het rook by hulle uitgekom. 23Daar was 'n muur om elkeen en binne teen die muur rondom was daar kookplekke aangebring. 24Die man het vir my gesê: “Dit is die kookplekke waar die tempelbediendes die offervleis van die volk gaarmaak.”

Die stroom uit die heiligdom

1Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. Die tempel het oos gekyk. Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby. 2Die man vat my toe by die noordpoort uit en om na die buitenste oospoort toe. Daar syfer die water toe regs langs die poort uit. 3Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het vyf honderd meter afgemeet van die oospoort af. Toe laat hy my deur die water loop. Dit was enkeldiep. 4Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit was kniediep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit het tot by my heupe gekom. 5Toe meet hy nog vyf honderd meter, maar toe was die water 'n stroom waar ek nie kon deur nie. Die water was diep, sodat 'n mens sou moes swem; dit was 'n stroom waar 'n mens nie deur kon loop nie.

6Die man sê toe vir my: “Sien jy dit, mens?”

Hy laat my toe al langs die stroom terugstap. 7Terwyl ek so terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome weerskante op die stroom se wal.

8Die man het vir my gesê: “Hierdie water loop weg na die streek oos toe en af na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See sal inloop. Wanneer dit in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word. 9Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe. 10Daar sal vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Dit sal 'n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Groot See, en net so baie. 11Net die water in die moerasse en kuile langs die Dooie See sal nie vars word nie. Hulle moet sout bly. 12Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.”

Grense van die land

13So sê die Here my God: “Die volgende is die grense van die gebied wat julle as besitting moet toeken aan die twaalf stamme. Aan Josef moet twee dele gegee word, 14maar aan die ander moet julle een deel elk toeken. Ek het met 'n eed beloof dat Ek die land aan julle voorvaders sal gee, daarom kom dit julle toe as besitting.

15“Die grense van die land is soos volg: Aan die noordekant van die Groot See af oor Getlon tot by Sedad, 16verder Hamat, Berota, Sibrajim tussen die gebiede van Damaskus en Hamat, en Middel-Gaser op die grens van Gauran. 17Die grens loop dus van die see af tot by Gasar-Enan, met die gebiede van Damaskus en Hamat noord daarvan. Dit is die noordgrens.

18“Aan die oostekant is die grens van tussen Gauran en Damaskus af, tussen Gilead en Israel met die Jordaan langs, en dan moet julle die grens aan die oostekant van die Dooie See trek. Dit is die oosgrens.

19“Aan die suidekant loop die grens eers suid van Tamar af tot by die waters van Meriba-Kades, dan met die spruit langs tot teen die Groot See. Dit is die suidgrens.

20“Aan die westekant is die grens die Groot See, van die suidgrens af tot regoor Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens.

21“Dit is die land wat julle tussen julle moet verdeel volgens al die stamme van Israel. 22Julle moet die land verdeel deur loting vir julleself en vir die vreemdelinge wat al 'n geslag lank tussen julle woon. Julle moet sulke vreemdelinge as medeburgers tussen julle beskou. Hulle moet saam met julle besittings ontvang onder die stamme van Israel. 23Julle moet die vreemdelinge hulle besittings gee by die stamme waar hulle woon,” sê die Here my God.

Verdeling van die land

1“Van die noordekant af, langs die lyn Getlon, Lebo-Hamat, Gasar-Enan tot waar die noordgrens van Damaskus teen Hamat raak, kry die volgende stamme hulle dele; elkeen kry 'n strook van die oosgrens af tot teen die Groot See: Dan, 2Aser, 3Naftali, 4Manasse, 5Efraim, 6Ruben en 7Juda.

8“Teen die gebied van Juda, van oos na wes, moet die gebied lê wat julle as offergawe afstaan, twaalf en 'n half kilometer breed en net so lank as een van die ander stroke, van die oostelike tot by die westelike grens. Die heiligdom moet in hierdie gebied wees. 9Die een gebied wat julle as offergawe aan die Here afstaan, moet twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed wees. 10Dié gebied moet 'n gewyde offergawe wees wat tot die beskikking van die priesters is, en moet 'n strook wees van twaalf en 'n half kilometer lank van oos na wes en vyf kilometer breed van noord na suid. Die heiligdom van die Here moet in dié gebied wees. 11Die gebied is tot die beskikking van die gewyde priesters, die nageslag van Sadok. Hulle het my dienswerk getrou gedoen en nie afgedwaal soos die Israeliete nie, soos die Leviete gedoen het. 12Die gebied moet 'n offergawe wees, wat tot beskikking van die priesters is, 'n deel van die gebied wat as offergawe afgestaan word, 'n gewyde gebied langs dié van die Leviete.

13“Die Leviete moet 'n gebied kry langs dié van die priesters, twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed. 14Hulle mag nie daarvan verkoop nie. Hierdie deel van die land, die beste deel, mag nie verkoop of verruil word en in ander hande oorgaan nie, want dit is aan die Here gewy.

15“Die strook van twaalf en 'n half by twee en 'n half kilometer wat oorbly, is bedoel as gewone stadsgebied, as woon- en weigebied. Die stad moet in dié gebied wees. 16Die stad moet twee en 'n kwart kilometer in die vierkant wees. 17Aan al vier kante moet daar 'n onbeboude strook van honderd vyf en twintig meter wees. 18Die vyf kilometer wat oos en die vyf wat wes van die stad oor is langs die gebied wat as 'n gewyde offergawe afgestaan is, moet bewerk word vir die onderhoud van die mense wat in die stad werk. 19Enigiemand wat in die stad werk, mag die grond bewerk, ongeag die stam van Israel waaruit hy kom.

20“Die hele gebied wat afgesonder moet word, sal dus twaalf en 'n half kilometer in die vierkant wees. Julle moet dit as 'n gewyde offergawe afstaan. Die stadsgebied is daarby ingesluit.

21-22“Die grond wat oorbly aan die oostekant en aan die westekant van die gewyde gebied waar die tempel en die stadsgebied en die gebied van die Leviete moet wees, is tot beskikking van die regeerder. Dit loop tot by die oosgrens van die land en weswaarts tot by die see en lê tussen die gebied van Juda en dié van Benjamin.

23“Die stamme wat oorbly en wat elkeen ook 'n strook van die oosgrens af tot teen die wesgrens moet kry, is Benjamin, 24Simeon, 25Issaskar, 26Sebulon en 27Gad. 28Suid van Gad se gebied loop die grens van Tamar af oor die waters van Meriba-Kades met die spruit langs tot aan die Groot See.

29“Dit is die land wat julle deur loting as besitting moet verdeel tussen die Israelitiese stamme en dit is die dele wat elkeen moet kry,” sê die Here my God.

Die poorte van die stad

30“Die uitgange uit die stad uit moet soos volg wees: die noordelike stadsgrens moet twee en 'n kwart kilometer lank wees 31met drie poorte, genoem na stamme van Israel: Ruben, Juda en Levi. 32Die ander stadsgrense moet elkeen ook twee en 'n kwart kilometer lank wees, elk met drie poorte, aan die oostekant Josef, Benjamin en Dan, 33aan die suidekant Simeon, Issaskar en Sebulon, 34en aan die westekant Gad, Aser en Naftali.

35“Die omtrek van die stad moet nege kilometer wees, en sy naam moet van vandag af wees: Die Here is daar.”

Mag die volke U loof, o God!

1Vir die koorleier: met snarespel. 'n Psalm. 'n Lied.

2Mag God ons genadig wees en ons seën,

mag Hy tot ons redding verskyn, Sela

3sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word,

sy reddende krag onder alle nasies.

4Mag die volke U loof, o God,

mag al die volke U loof!

5Mag die nasies bly wees en jubel

omdat U hulle regverdig regeer

en hulle op die aarde lei. Sela

6Mag die volke U loof, o God,

mag al die volke U loof!

7Die land het sy oes gelewer.

God, ons God, het ons geseën.

8God het ons geseën.

Die mense op die hele aarde moet Hom eer.

Geloof sy God

1Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied.

2As God verskyn, spat sy vyande uitmekaar,

en dié wat Hom haat, vlug vir Hom.

3Soos rook wegwaai, so dryf U hulle weg;

soos was in vuur smelt,

so gaan die goddeloses tot niet as God verskyn.

4Maar vir die regverdiges sal daar blydskap wees,

hulle sal juig voor God,

hulle sal vrolik en bly wees.

5Sing 'n lied tot eer van God,

sing tot eer van sy Naam,

maak 'n pad vir Hom wat op die wolke ry,

en jubel voor Hom wie se Naam Here is.

6'n Vader vir weeskinders

en 'n beskermer van die reg van weduwees

is God in sy heilige woning.

7God laat eensames in 'n huisgesin woon

en lei gevangenes uit na vryheid,

maar wie teen God in opstand is,

woon in 'n kaal woestyn.

8Toe U u volk uitgelei het, o God,

toe U deur die woestyn gestap het, Sela

9het die aarde gebewe

en het die hemel dit laat reën voor U uit,

daar by Sinai, voor God, die God van Israel.

10U het oorvloedige reëns laat uitsak, o God,

U het u verdorde land weer lewe gegee.

11U eie volk het daar gaan woon.

In u goedheid, o God, het U dit vir u hulpelose volk bestem.

12Die Here het bekend gemaak:

“Daar is goeie nuus:

'n groot leër, 13-14magtige konings, het gevlug,

hulle het gevlug.”

Terwyl die manskappe nog tussen die saalsakke gelê en rus het,

was die vroue tuis al besig om die buit te verdeel:

beeldjies van duiwe waarvan die vlerke oorgetrek is met silwer

en die vlerkpunte met glinsterende goud.

15Dit het gesneeu op Salmonsberg

toe die Almagtige die konings daar uitmekaargejaag het.

16Basansberg, ontsaglike berg,

Basansberg, berg met hoë kruine,

17waarom, berg met jou hoë kruine,

kyk jy met afguns

na die berg wat God as sy woning verkies het,

waar die Here vir ewig woon?

18Die skitterende strydwaens van God was duisende,

duisende der duisende,

toe die Here van Sinai af die heiligdom betree het.

19U het krygsgevangenes weggevoer,

mense het vir U geskenke gebring,

selfs dié wat teen U in opstand was.

Toe het U opgegaan na die hoogte

om daar te woon, Here God!

20Geloof sy die Here!

Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp! Sela

21God is vir ons die God wat ons red,

die Here ons God deur wie ons bewaar word in doodsgevaar.

22God verpletter die kop van sy vyande,

die kop van dié wat in hulle sonde volhard.

23Die Here het gesê:

“Uit Basan bring Ek my vyande,

Ek bring hulle uit die dieptes van die see.

24Julle sal hulle bloed van julle voete afwas,

die honde sal die bloed van julle vyande oplek.”

25Die mense sien u feesoptog, o God,

die feesoptog van my God,

my Koning, na sy heiligdom:

26vooraan die sangers,

agteraan dié

wat snaarinstrumente speel,

en tussenin, meisies wat tamboeryne slaan.

27Hulle loof God in kore,

die nasate van Israel loof die Here.

28Dáár is Benjamin, die jongste, hulle aanvoerder,

dáár is die baie leiers van Juda,

dié van Sebulon, dié van Naftali!

29Toon die mag, o God, waarmee U ons gered het,

toon u mag, o God,

30hier uit u tempel in Jerusalem

waar konings aan U geskenke bring.

31Tree op teen Egipte, daardie ondier tussen die riete,

die magtige volk, die sterkste onder die volke,

wat ander vertrap vir geld,

wat volke uitmekaarjaag en hou van oorlog maak.

32Uit daardie selfde Egipte sal geskenke kom,

en die Kussiete sal hulle hande smekend na God toe uitsteek.

33Koninkryke van die aarde,

hef 'n lied aan tot eer van God,

sing tot eer van die Here, Sela

34tot eer van Hom wat ry deur die hemele,

die hemele wat van die begin af daar is!

Hy laat sy stem, sy magtige stem, weerklink!

35Erken dat God magtig is!

Hy heers oor Israel,

Hy het mag oor die wolke!

36God wek ontsag wanneer Hy uit sy heiligdom kom.

Hy is die God van Israel,

Hy gee krag en sterkte aan sy volk.

Aan God kom die lof toe.

U hulp staan vas

1Vir die koorleier: op die wysie van “Lelies”. Van Dawid.

2Red my, o God, want die water het

tot by my keel gekom.

3Ek het weggesak in diep modder

waarin ek nie kan staan nie.

Ek het in diep waters beland

waarin die stroom my meegesleur het.

4Ek het my moeg geroep om hulp,

my keel is hees geroep,

selfs my oë het ingegee soos ek vir my God gewag het.

5Dié wat my sonder rede haat,

is meer as die hare op my kop.

Dié wat my vir altyd wil stilmaak, is sterk.

My vyande dwing my met vals beskuldigings

om af te gee wat ek nie geroof het nie.

6U weet hoe sondig ek is, o God,

my verkeerde dade kan ek tog nie vir U wegsteek nie.

7Here, almagtige God, moenie dat dié wat op U vertrou,

deur my toedoen teleurgestel word nie.

God van Israel, moenie dat dié wat by U hulp soek,

deur my toedoen beskaam word nie.

8Omdat ek op U vertrou,

word ek beledig en verkleineer.

9Ek het vreemd geword vir my broers,

my familie wil my nie meer ken nie.

10Omdat ek u huis liefhet,

moet ek ly;

die beledigings teen U het ook vir my getref.

11Ek het gevas en gehuil

en daarvoor net beledigings gekry.

12Ek het rouklere aangetrek,

maar hulle het met my gespot.

13Die leeglêers in die stadspoort maak praatjies oor my,

en dronklappe maak liedjies oor my.

14My gebed is tot U gerig, Here,

antwoord my tog gou, Here,

antwoord my in u groot liefde, o God;

u hulp staan vas.

15Red my uit die modder, dat ek nie wegsak nie,

laat my wegkom van my vyande af,

weg uit die diep waters.

16Moenie dat die stroom my meesleur

en die diep water my insluk nie,

en moenie dat hierdie put toegaan bokant my nie.

17Antwoord my, Here, in u wonderlike liefde,

verhoor my in u groot barmhartigheid!

18Moet tog nie u dienaar alleen laat nie!

Ek is in groot gevaar, antwoord my tog gou!

19Kom red my lewe,

bevry my van my vyande.

20U weet hoe ek beledig en verkleineer is,

hoe sleg ek daarvan afgekom het voor al my vyande.

21Beledigings het my gebreek,

ek is gedaan.

Ek het gehoop op meegevoel, maar tevergeefs,

op mense om my te troos,

maar daar was nie een nie.

22Toe ek honger was, het hulle my gif aangebied,

toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.

23Laat hulle feeste hulle tot 'n val bring

en hulle offermaaltye hulle ondergang wees.

24Laat hulle stokblind word,

laat hulle gebreklik word.

25Laat u straf hulle tref

en die vlam van u toorn hulle oorval.

26Laat hulle blyplekke verwoes word

sodat daar niemand oor is in hulle wonings nie,

27want hulle vervolg hom wat swaar deur U getref is

en verlustig hulle in die pyn van hom wat deur U deurboor is.

28Reken ook dít by hulle skuld

sodat hulle nie vrygespreek word nie!

29Skrap hulle name uit die boek van die lewe

dat dit nie saam met dié van die regverdiges opgeskryf staan nie!

30Ek is 'n hulpelose mens, vol pyn,

maar U, o God, sal my red en my beskerm.

31Dan sal ek die Naam van God besing,

Hom met 'n danklied prys.

32So 'n offer is vir die Here verkiesliker

as selfs 'n volmaakte offerdier.

33Die verdruktes sal my lied hoor en bly wees,

dié wat by God hulp soek, sal moed skep,

34want die Here slaan ag op die armes,

Hy vergeet nie sy mense wat gevangenes is nie.

35Laat hemel en aarde Hom prys,

die see met alles wat daarin wemel.

36God sal Sion red

en die stede van Juda herbou.

Sy volk sal daarin woon en die land besit.

37Die nasate van God se dienaars sal dit erf

en dié wat sy Naam liefhet, sal daarin woon.

U is my hulp en my redder

1Vir die koorleier. Van Dawid. Ter herinnering.

2Red my tog, o God,

Here, kom my tog gou te hulp!

3Laat dié wat my lewe wil neem,

self in die ellende beland, teleurgestel in hulle verwagting.

Laat dié wat graag my ondergang wil sien,

op die vlug slaan en beskaamd staan.

4Laat dié wat my spot,

padgee omdat hulle self in die ellende beland het.

5Laat almal wat by U hulp soek,

jubel en bly wees oor U,

laat dié wat op u hulp staatmaak,

altyddeur sê: God is groot!

6Ek is hulpeloos en arm;

kom tog gou na my toe, o God.

U is my hulp en my redder,

Here, moet tog nie talm nie!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS