Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 200

Opvang Dag (Psalm 119:1–40)

Bybelteks(te)

U woord vergeet ek nie

1Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe,

dié wat wandel volgens die woord van die Here.

2Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam,

dié wat met hulle hele hart sy wil doen,

3geen onreg pleeg nie

en in sy weë wandel.

4U het u bevele gegee

dat dit ten volle uitgevoer moet word.

5As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly

en my aan u voorskrifte kan hou!

6As ek al u gebooie in ag neem,

sal ek nooit raad-op wees nie.

7U bepalings is regverdig;

as ek hulle ter harte neem,

sal ek U loof met 'n opregte hart.

8Ek sal my aan u voorskrifte hou:

moet my tog nooit verlaat nie.

9Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou?

Deur hom te hou aan u woord!

10Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart,

laat my nie afwyk van u gebooie nie.

11Aan u beloftes hou ek vas,

dit weerhou my van sonde teen U.

12Aan U kom die lof toe, Here,

leer my u voorskrifte.

13Al u bepalings wil ek een vir een opnoem.

14Om volgens u verordeninge te lewe,

gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld.

15U bevele bly my altyd by.

Ek gee ag op die pad wat U aanwys.

16Ek verlustig my in u voorskrifte,

u woord vergeet ek nie.

17Doen goed aan u dienaar, dan sal ek lewe

en u woord gehoorsaam.

18Maak my oë oop

dat ek die kragtige werking van u wet ervaar.

19Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese:

laat my tog nie sonder u gebooie wees nie.

20Ek kwyn weg van verlange na u bepalings.

21U straf die hovaardiges,

die vervloektes wat van u gebooie afwyk.

22Keer tog dat ek nie beledig of gesmaad word nie,

want ek kom u verordeninge na.

23Selfs al smee mense wat mag het, komplotte teen my,

ek sal my hou aan wat U neergelê het.

24U verordeninge is my vreugde,

hulle is my raadgewers.

25Ek verkeer in doodsgevaar,

gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het.

26Ek het my lewensloop aan U bekend gemaak

en U het my gebed verhoor;

leer my u voorskrifte.

27Leer my hoe om u bevele uit te voer.

Ek wil van u magtige dade vertel.

28Ek kwyn weg van kommer,

skenk my krag soos U in u woord beloof het.

29Hou valsheid ver van my af,

wees my genadig, leer my u wet.

30Ek kies die betroubare pad,

ek lewe volgens u bepalings.

31Ek hou vas aan u verordeninge, Here,

moet tog nie dat my lewe 'n teleurstelling word nie.

32Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam,

want U verryk my lewe.

33Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer,

sodat ek my tot die einde toe daaraan kan hou.

34Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam

en dit met my hele hart kan onderhou.

35Laat my wandel volgens u gebooie,

want daarin vind ek vreugde.

36U verordeninge, laat dié my na aan die hart lê,

nie die begeerte om myself te verryk nie.

37Weerhou my van 'n nuttelose lewe,

laat my leef op die weg wat U aanwys.

38Vervul ook aan my die belofte

wat U gegee het aan dié wat U dien.

39Die venyn van mense, daarvoor is ek bang,

moenie dat dit my tref nie.

Maar u bepalings, dié is goed.

40Ek wil u bevele nakom.

Hou my in die lewe, want U is getrou.

PSALMS 119:1-40AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS