Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 198

ESEGIËL 41–45, PSALM 66

Bybelteks(te)

1Daarna het die man my in die tempel self gebring en die mure weerskante van die ingang van die tempel gemeet. Hulle was drie meter dik aan weerskante. 2Die wydte van die ingang was vyf meter, en dié van die mure aan weerskante was twee en 'n half meter lank. Die tempelvertrek was twintig meter lank en tien meter breed. 3Die man het toe na die binneste vertrek toe gegaan en die mure weerskante van die ingang gemeet. Hulle was een meter dik. Die ingang self was drie meter wyd en die mure aan weerskante drie en 'n half meter lank. 4Hy het die vertrek gemeet. Die lengte was tien meter en die breedte, net soos dié van die tempelvertrek, ook tien meter. Die man het vir my gesê: “Hierdie vertrek is die Allerheiligste.”

5Daarna het hy die muur van die tempelgebou gemeet. Dit was drie meter dik. Buite om die tempelgebou was daar kamers aangebou, twee meter breed. 6Die kamers was in drie verdiepings, elkeen met dertig kamers. Die muur waarop hierdie verdiepinggebou gerus het, was regoor elke verdieping dunner as regoor die vorige, sodat die verdiepings nie in die tempelmuur self nie maar in dié afsonderlike muur ingebou was. 7Die tempelgebou was dus rondom toegebou tot bo toe, en die kamers van elke verdieping was breër as dié van die vorige. Daar het trappe opgegaan van die onderste verdieping af deur die middelste na die boonste toe. 8Ek het gesien die tempelgebou is hoër as die ander gebou rondom. Die fondamente van die verdiepinggebou was 'n volle drie meter hoog. 9Die muur van die verdiepinggebou aan die buitekant was twee en 'n half meter breed. Die terras tussen die verdiepings teen die tempelgebou 10en die vertrekke rondom was tien meter. 11Die ingange na die verdiepinggebou toe was van die terras af. Daar was ingange aan die noorde- en aan die suidekant. Die terras was rondom twee en 'n half meter breed.

12Daar was 'n gebou aan die westekant van die tempelplein. Die gebou was vyf en dertig meter breed en vyf en veertig meter lank, en sy muur rondom was twee en 'n half meter dik.

13Die man het eers die tempelgebou gemeet. Dit was vyftig meter lank. Daarna het hy die tempelplein agter die tempelgebou saam met die westelike gebou en sy mure gemeet, ook vyftig meter. 14Voor die tempelgebou aan die oostekant was die tempelplein vyftig meter wyd. 15Daarna het die man die westelike gebou aan die tempelplein agter die tempelgebou gemeet, saam met die gange weerskante van die groot gebou. Die afstand was vyftig meter.

Die voorste en die binneste tempelvertrekke, die toegangsportaal uit die binneste voorhof uit, 16die drumpels, die hortjievensters en die gange rondom die tempelgebou, en ook die voorkante van die drumpels, was alles met hout oorgetrek. Van die grond af tot teen die vensteropenings was alles met hout oorgetrek, ook die vensteropenings self.

17Bokant die ingang en teen die tempelgebou binne en buite, teen al die mure rondom binne en buite, was daar reëlmatig 18gerubs en palmversierings aangebring, telkens 'n palm tussen twee gerubs. Elke gerub het twee gesigte gehad, 19'n mensgesig na die kant toe van die palm aan die een kant, en 'n leeugesig na die kant toe van die palm aan die ander kant. Die versierings was rondom teen die hele tempelgebou aangebring. 20Van die grond af tot bokant die ingang was daar gerubs en palms aangebring, ook teen die muur van die voorste tempelvertrek. 21Die voorste tempelvertrek se deurkosyn was vierkantig, en dié van die Allerheiligste ook.

22Die altaar in die voorste tempelvertrek was van hout, een en 'n half meter hoog en een meter lank. Sy hoeke en sy kante rondom was van hout. Die man het vir my gesê: “Dit is die tafel wat in die teenwoordigheid van die Here staan.”

23Die voorste tempelvertrek en die Allerheiligste het elkeen 'n deur gehad. 24Elke deur het twee deurvleuels, twee swaaideure, gehad. 25Op die swaaideure, op dié van die voorste tempelvertrek, was gerubs en palms aangebring net soos op die mure. Voor die toegangsportaal aan die buitekant was 'n afdak van hout. 26In die mure weerskante van die ingangsportaal was daar vensteropenings met hortjies, en teen die mure was palmversierings. Dit was ook die geval met die verdiepinggebou rondom die tempel en met die afdakke.

1Die man het my toe uitgebring na die buitenste voorhof toe aan die noordekant en my by 'n kamergebou gebring regoor die tempelplein en noord van die westelike gebou. 2Die lengte van die gebou aan die noordekant was vyftig meter en die breedte vyf en twintig meter. 3Die gebou het gegrens aan die tien meter wye strook teen die binneste voorhof en aan die deel van die tempelplein teen die buitenste voorhof. Die gebou was terrasvormig met drie vlakke, die een bokant die ander. 4Voor elke ry kamers was 'n loopgang van vyf meter breed en vyftig meter lank. Die ingange van die loopgange was aan die noordekant. 5Die kamers bo was kleiner as dié onder, want die terrasvlakke het meer van die boonste kamers se ruimte in beslag geneem as van die kamers onder en in die middel. 6Die kamers was in drie vlakke en het nie pilare gehad soos die voorhowe nie. Daarom was die boonstes kleiner as dié onder en in die middel. 7Daar was 'n muur voor die kamergebou al langs die buitenste voorhof. Die muur was vyf en twintig meter lank. 8Die lengte van die kamergebou was teen die buitenste voorhof vyf en twintig meter, maar aan die tempel se kant was dit vyftig meter. 9Die toegang uit die buitenste voorhof na die onderste kamers toe was aan die oostekant.

10Daar was ook kamers teen die muur van die buitenste voorhof, aan die suidekant teen die tempelplein. Daar was kamers teen die muur 11met 'n gang voor hulle net soos voor die kamers aan die noordekant. Die kamers was net so lank en so breed as dié aan die noordekant, en hulle toegange en afmetings en uitgange 12was net soos dié van die kamers aan die noordekant. Daar was 'n ingang aan die punt van die gang, die gang langs die keermuur, aan die oostekant wanneer 'n mens ingaan. 13Die man het vir my gesê: “Dié kamers noord en suid van die tempelplein is gewyd. Dit is die eetplek van die priesters wat aan die Here die besondere gewyde offers bring. Daar sit hulle die besondere gewyde offergawes neer: die graanoffer, die sondeoffer en die skuldoffer. Dié plek is 'n gewyde plek.

14“Wanneer die priesters hier ingekom het, mag hulle nie uit die gewyde gebied na die buitenste voorhof toe gaan voordat hulle die klere waarin hulle diens gedoen het, uitgetrek het nie, want die klere is ook gewyd. Hulle moet eers ander klere aantrek, dan kan hulle na die gebied toe gaan wat vir die ander mense bedoel is.”

Die mure om die tempelgebied

15Nadat die man die tempelgebied klaar afgemeet het aan die binnekant, het hy my by die poort uitgeneem wat oos gekyk het en die mure buite-om gemeet. 16Eers het hy die oostekant gemeet met sy meetstok. Die muur hier was twee honderd en vyftig meter lank. 17Toe meet hy die noordekant, ook twee honderd en vyftig meter lank, 18en die suidekant, ook twee honderd en vyftig meter lank. 19Daarna het hy omgegaan na die westekant toe en daar gemeet, ook twee honderd en vyftig meter. 20Hy het die muur rondom gemeet aan al vier kante. Die lengte was twee honderd en vyftig meter en die breedte twee honderd en vyftig meter. Die muur was die grens tussen die gewyde gebied en die wêreld daarbuite.

Die gesig oor die verskyning van die Here

1Daarna het die man my na die poort toe gebring wat oos gekyk het. 2Daar sien ek toe die magtige verskyning van die God van Israel uit die ooste uit. Die stem van die Here was soos die gedruis van baie waters, en sy magtige verskyning het die hele aarde verlig. 3Die gesig wat ek gesien het, het ooreengekom met die gesig wat ek gesien het toe ek die verwoesting van die stad moes aankondig, en ook met die gesig wat ek aan die Kebarrivier gesien het. Ek het platgeval. 4Die magtige teenwoordigheid van die Here het deur die oospoort na die tempel toe beweeg. 5Toe het die Gees my opgetel en my na die binneste voorhof toe gebring. Die tempel was vol van die magtige teenwoordigheid van die Here. 6Terwyl die man met die meetstok daar langs my staan, hoor ek Iemand met my uit die tempel uit praat. 7Hy het vir my gesê: “Mens, dit is die plek waar Ek my troon het, waar Ek vir altyd teenwoordig is tussen die Israeliete. Hulle en hulle konings sal nie weer my heilige Naam oneer aandoen deur afgodery te pleeg en die lyke van hulle konings hier te begrawe nie. 8Die konings het hulle paleis se drumpel en deurkosyn teenaan my huis s'n gesit, sodat daar net 'n muur tussen ons was en hulle het my heilige Naam oneer aangedoen met hulle afskuwelike optrede. Daarom het Ek hulle in my toorn vernietig. 9As die volk nou hulle afgodery laat staan en die lyke van hulle konings uit my teenwoordigheid wegvat, sal Ek altyd tussen hulle woon.

10“Mens, jy moet die tempel vir Israel beskrywe, sodat hulle kan skaam kry oor hulle oortredings. Laat hulle die plan van die tempel nagaan, 11en wanneer hulle skaam word oor alles wat hulle gedoen het, moet jy hulle op die hoogte bring van die uitleg van die tempel: sy ontwerp, sy uitgange, sy ingange, sy hele uitleg en al die voorskrifte en reëlings wat vir hom geld. Jy moet dit voor hulle oë neerskryf, sodat hulle die hele uitleg van die tempel en al die voorskrifte wat vir hom geld, in ag kan neem en daarvolgens kan optree. 12Die reëling in verband met die tempel is dat die top van die berg en die hele gebied rondom uitsluitend aan My gewy is. Dit, en niks minder nie, is die reëling in verband met die tempel.”

Die altaar in die binneste voorhof

13Die afmetings van die altaar, gemeet met die maat wat vir die heiligdom geld, was soos volg: die afleivoor was 'n half meter diep en 'n half meter breed, en sy rand was rondom 'n kwart meter breed. Die hoogte van die altaar was soos volg: 14van die afleivoor af na die onderste vlak toe was die hoogte een meter. Die vlak was 'n half meter wyer as die volgende; van die onderste na die boonste vlak toe was die hoogte twee meter. Die boonste vlak was 'n half meter wyer as die vuurmaakplek. 15Die vuurmaakplek was twee meter hoog en het vier horings gehad wat boontoe gewys het. 16Die vuurmaakplek was vierkantig, ses meter lank en net so breed. 17Die boonste vlak was ook vierkantig, sewe meter lank en net so breed. Die afleivoor onder het 'n rand van 'n kwart meter breed gehad en was rondom 'n half meter diep. Die trappe teen die altaar op was aan die oostekant.

18Die man met die meetstok het vir my gesê: “Mens, so sê die Here my God: Die voorskrifte oor die bring van offers op die altaar en die sprinkel van bloed teen hom sal soos volg wees: die dag wanneer hy klaar gebou is, 19moet jy vir die Levitiese priesters uit die nageslag van Sadok 'n bul gee as 'n sondeoffer; hulle is die priesters wat by die altaar mag kom om die diens aan My te verrig, sê die Here my God; 20dan moet jy van die bul se bloed vat en dit aan die vier horings en aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar smeer, en ook teen die sykante rondom. So moet jy die altaar reinig en dit geskik maak vir diens aan My; 21daarna moet jy die sondeofferbul verbrand op die plek wat naby die tempel maar buitekant die heiligdom daarvoor aangewys is; 22die dag daarna moet jy 'n bokram sonder liggaamsgebrek as sondeoffer aanbied en moet jy die altaar reinig net soos in die geval van die bul gedoen is; 23as jy klaar is met die reiniging, moet jy 'n bul en 'n skaapram, albei sonder liggaamsgebrek, as offers aanbied; 24jy moet hulle aanbied in die teenwoordigheid van die Here, en die priesters moet sout op die offervleis gooi en dit as 'n brandoffer vir die Here offer; 25jy moet sewe dae lank elke dag 'n sondeofferbok voorsien, en ook 'n bul en 'n skaapram, almal sonder liggaamsgebrek; 26die altaar moet sewe dae lank voorberei word vir die diens aan My en so gereinig en aan My gewy word; 27eers as dié tyd verby is, van die agste dag af en daarna, mag die priesters julle brandoffers en julle maaltydoffers op die altaar bring en sal julle vir My aanneemlik wees,” sê die Here my God.

Die oospoort moet toe bly

1Toe vat die man my terug na die buitenste oospoort van die heiligdom toe, maar die poort was toe, 2en die Here het vir my gesê: “Hierdie poort moet toe bly, dit moet nie oopgemaak word nie en niemand mag daardeur gaan nie, want Ek, die Here, die God van Israel, het daardeur gekom; die poort moet toe bly. 3Net die regeerder mag in die poortgebou gaan sit om in die teenwoordigheid van die Here te eet, maar die regeerder moet by die toegangsportaal agter die poort inkom en weer daar uitgaan.”

Die reëlings wat geld vir die heiligdom

4Die man vat my toe deur die noordpoort tot voor die tempel. Ek het gesien die huis van die Here is vol van sy magtige teenwoordigheid en ek het platgeval. 5Die Here het vir my gesê: “Mens, let op, kyk goed en luister goed na alles wat Ek vir jou sê oor al die voorskrifte en al die reëlings wat vir my huis geld. Let op na hoe iemand by die tempel mag inkom en hoe hy die heiligdom moet verlaat.

6“Jy moet vir dié weerbarstige volk, vir Israel, sê: So sê die Here my God: Was al julle afskuwelike dade nie genoeg nie, Israel, 7dat julle ook nog eerlose en onbesnede uitlanders in my heiligdom ingebring het om my huis te ontwy? Julle het vir My vet en bloed as voedseloffer aangebied en terselfdertyd die verbond met My verbreek deur al julle afskuwelike dade. 8Julle het nie die dienswerk in my heiligdom gedoen nie, julle het die uitlanders dit laat doen in julle plek.”

9So sê die Here my God: “Geen eerlose, onbesnede uitlander mag in my heiligdom kom nie, nie een van al die uitlanders wat tussen die Israeliete woon nie.

10“Net die Leviete kon dit doen. Maar die Leviete het van My vervreem geraak toe Israel My verlaat het en hulle hulle afgode gedien het. Die Leviete moet die straf vir hulle sonde dra. 11Hulle mag diens doen in my heiligdom as wagte by die tempelpoorte en as tempelbediendes, hulle mag die diere vir die brandoffer en die ander offers slag vir die volk, en die nodige vir die volk doen, 12maar hulle het ook die nodige vir die volk gedoen in die diens van afgode, hulle het Israel in sonde laat verval, en daarom steek Ek my hand teen hulle uit en laat Ek hulle die straf vir hulle sonde dra,” sê die Here my God.

13“Hulle mag nie in my teenwoordigheid kom om priesters te wees in my diens nie, hulle mag nie raak aan die dinge wat aan My gewy is of aan die gewyde offergawes nie. Hulle moet die straf dra vir hulle skandelike afskuwelike optrede. 14Ek maak hulle die tempelbediendes wat moet sorg vir al die werk aan die tempel, alles wat daar aan die tempel gedoen moet word.

15“Net die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok het die dienswerk in my heiligdom onderhou toe die Israeliete My verlaat het. Hierdie priesters mag in my teenwoordigheid kom en die dienswerk vir My verrig, hulle mag in my diens staan en vir My vet en bloed as offer aanbied,” sê die Here my God. 16“Hulle mag in my heiligdom kom, hulle mag na my altaar toe kom en My daar dien, die diens tot my eer daar verrig.

17“Maar wanneer hulle by enige van die poorte van die binneste voorhof kom, moet hulle linneklere aantrek. Hulle mag nie die binneste voorhof en die tempel binnegaan met iets van wol aan hulle nie. 18Hulle moet linnemusse op die kop hê en hulle moet linnebroeke aanhê. Hulle moet niks aanhê wat hulle laat sweet nie. 19Wanneer hulle uitgaan na die buitenste voorhof toe, na die volk toe, moet hulle die klere waarin hulle diens gedoen het, uittrek en dit neersit in die gewyde vertrekke en ander klere aantrek. Dit moet hulle doen sodat hulle nie die volk in gevaar stel met die gewyde klere nie.

20“Priesters mag nie hulle kop kaalskeer nie, maar hulle mag ook nie lang hare hê nie; hulle moet hulle hare netjies sny.

21“Geen priester mag wyn drink wanneer hy in die binneste voorhof moet ingaan nie.

22“Hulle mag ook nie trou met weduwees of geskeide vrouens nie, hulle mag net trou met Israelitiese jongmeisies of met jong weduwees van priesters.

23“Die priesters moet my volk onderrig oor die onderskeid tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie en hulle leer om te onderskei tussen wat rein en wat onrein is.

24“Waar daar geskille is, moet die priesters as regters optree en uitspraak lewer ooreenkomstig my bepalings.

“Hulle moet toesien dat my wil en my voorskrifte op al die feesdae in ag geneem word en dat my sabbatte heilig gehou word.

25“Hulle mag nie onrein word deur naby 'n lyk te kom nie. Net in die geval van ouers of kinders of broers of ongetroude susters mag 'n priester onrein word, 26en dan moet hy ná sy reiniging sewe dae laat verloop 27en op die dag wanneer hy weer in die heiligdom, in die binneste voorhof ingaan om die dienswerk in die heiligdom te doen, moet hy 'n sondeoffer bring,” sê die Here my God.

28“As eiendom ontvang die priesters van wat My toekom. Hulle kry nie 'n besitting tussen die Israeliete nie, want hulle besitting is wat Ek vir hulle gee uit wat Myne is. 29Hulle mag die graanoffer, die sondeoffer en die skuldoffer eet, en hulle kry alles wat in Israel aan My gewy word; 30verder kom aan die priesters toe die beste van al die eerstelingoffers, al die offergawes wat deur die volk gebring word; die Israeliete moet ook die beste van alles wat hulle bak, vir die priesters gee, dan sal die Here die huis waaruit dit kom, seën.

31“Priesters mag nie voëls of diere wat gevrek het of deur roofdiere gevang is, eet nie.”

Die verdeling van die land

1“Wanneer julle die land deur loting verdeel om aan elke stam sy besitting toe te ken, moet julle 'n stuk grond van twaalf en 'n half kilometer lank en tien kilometer breed as 'n offergawe aan die Here gee. Die hele stuk grond sal aan die Here gewy wees. 2Hiervan moet 'n stuk van twee honderd en vyftig meter in die vierkant aan die heiligdom behoort, met 'n oop strook van vyf en twintig meter rondom. 3Van die hele gebied wat afgemeet is, moet julle 'n stuk afmeet van twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed; daarop moet die heiligdom met die Allerheiligste staan. 4Hierdie gebied is die gewyde gebied in die land. Dit is tot beskikking van die priesters wat in die heiligdom diens doen en wat by die altaar mag kom om die diens aan die Here te verrig. Daar kan hulle huise kom, en die grond wat aan die heiligdom behoort, val in dié gedeelte. 5Die oorblywende gedeelte van twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed is vir die Leviete wat in die tempel diens doen; dit is hulle eiendom, daar kan hulle woon.

6“Vir die stadsgrond moet julle 'n stuk afstaan van twee en 'n half kilometer breed en twaalf en 'n half kilometer lank, net so groot as die gewyde gebied. Hierdie grond moet tot beskikking wees van die hele Israel.

7“Die regeerder moet grond kry weerskante van die gewyde gebied en die stadsgrond, wes en oos daarvan; dit moet net so groot wees as een van die stamgebiede en moet strek van die wesgrens van Israel af tot aan die oosgrens. 8Dit moet sy deel van die land wees tussen die Israeliete. Die regeerders wat Ek aanwys, sal my volk nie weer te kort doen nie; hulle sal die land verdeel tussen die stamme van Israel.”

Vermaning aan die regeerders

9So sê die Here my God: “Julle het nou ver genoeg gegaan, regeerders van Israel. Laat staan die geweld en verdrukking, laat reg geskied en doen reg, hou op om my volk se eiendom vir julle te vat,” sê die Here my God.

10“Julle moet skale gebruik wat reg weeg en julle moet die regte inhoudsmate vir droë stowwe en vir vloeistowwe gebruik. 11Inhoudsmate moet deurgaans dieselfde bly, volgens 'n vaste maatstaf. 12Gewig moet volgens 'n vaste maatstaf bepaal word.”

Offergawes

13“Die offergawes wat julle moet bring, is een sestigste van die koring en die gars, 14en een honderdste van die olie. 15Uit die waterryke dele van Israel moet julle een uit elke twee honderd van die kleinvee gee. Hierdie offers is graanoffers, brandoffers en maaltydoffers om vir julle versoening mee te doen,” sê die Here my God. 16“Al die mense in die land moet hierdie offergawes aan die regeerder van Israel lewer. 17Op die regeerder rus dan die verpligting om die brandoffers, die graanoffers en die drankoffers aan te bied tydens die groot feestye en die nuwemaansfeeste en op die sabbatte, op al die feestye van Israel. Hy moet die sondeoffer, die graanoffer, die brandoffer en die maaltydoffers aanbied om vir Israel versoening mee te doen.”

Feeste en offers

18So sê die Here my God: “Op die eerste dag van die eerste maand moet jy 'n bul sonder liggaamsgebrek vat en die heiligdom laat reinig: 19die priester moet van die sondeofferdier se bloed vat en dit aan die kosyne in die tempel smeer en aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar en aan die kosyne van die poorte na die binneste voorhof toe; 20dit moet hy ook doen op die sewende van die maand ter wille van mense wat onwetend of uit onkunde gesondig het; so moet julle die tempel reinig.

21“Op die veertiende van die eerste maand moet julle die paasfees vier, wanneer julle moet begin om sewe dae lank net ongesuurde brood te eet. 22Op die paasfees moet die regeerder 'n bul as sondeoffer aanbied vir homself en vir die hele volk. 23Tydens die sewe dae wat die fees duur, moet hy elke dag as brandoffer vir die Here sewe bulle en sewe skaapramme aanbied, almal sonder liggaamsgebrek, en ook nog elke dag 'n bokram as sondeoffer. 24Verder moet hy as graanoffer by elke bul en elke ram sestien kilogram meel aanbied, en vier liter olie by elke sestien kilogram meel.

25“Tydens die fees wat op die vyftiende van die sewende maand begin, moet die regeerder sewe dae lank net soos met die paasfees ook die sondeoffer, die brandoffer, die graanoffer en die olie aanbied.”

Hoe ontsagwekkend is u werk!

1Vir die koorleier. 'n Lied. 'n Psalm.

Juig tot eer van God, almal op aarde!

2Sing tot roem van sy Naam,

gee Hom die eer wat Hom toekom!

3Bely voor God: Hoe ontsagwekkend is u werk!

U mag is groot, u vyande kruip voor U.

4Alle mense moet voor U buig,

hulle moet sing tot u eer,

hulle moet sing tot eer van u Naam. Sela

5Kom hoor wat God gedoen het,

kom hoor van sy magtige dade onder die mense:

6Hy het die see in droë land verander;

sy volk het droogvoets deur die rivier getrek.

Toe het ons gejubel oor Hom

7wat ewig heers deur sy mag

en die nasies in die oog hou.

Die vyande moet hulle nie teen God verset nie! Sela

8Prys ons God, alle volke,

laat sy lof weerklink!

9Dit is Hy wat ons die lewe gee

en nie toelaat dat ons struikel nie!

10U het ons beproef, o God,

ons gelouter soos silwer;

11U het ons in 'n net gevang,

'n swaar las op ons gelê;

12U het ons deur mense laat vertrap,

ons het deur vuur en water gegaan;

maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe.

13Ek sal u huis betree met brandoffers

en aan U die geloftes betaal

14wat ek gedoen het, wat ek afgelê het

toe ek in nood was.

15Ek bring vir U vet skape as brandoffers,

ramme as wierookoffers,

ek offer beeste en bokke. Sela

16Kom luister, alle dienaars van God,

ek wil vertel wat Hy vir my gedoen het:

17Skaars het ek na Hom geroep,

of daar was reeds 'n loflied op my lippe.

18As daar sonde in my hart was,

sou die Here nie geluister het nie.

19Maar God hét geluister,

Hy hét my gebed verhoor!

20Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys

en sy trou nie van my weerhou het nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS