Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 196

ESEGIËL 31–35, PSALM 64

Bybelteks(te)

Ek het die seder verwerp

1Op die eerste van die derde maand, in die elfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom: 2“Mens, sê vir die farao, koning van Egipte, en vir sy leër:

“Wie het soveel mag gehad as jy?

3Daar was Assirië, die seder op die Libanon.

Sy pragtige takke het hulle skaduwee oor die bos gegooi.

Die seder het hoog gegroei,

sy top was tussen die wolke.

4Die water het hom groot laat word,

die onderaardse waters het hom 'n hoë boom gemaak.

Groot strome water het om hom geloop,

en van hom af stroompies na al die ander bome toe.

5Hy het hoër as al die ander bome geword,

sy takke meer en langer

van al die water in die leivore.

6Al die voëls het kom nes maak in sy takke,

onder hom het al die wilde diere

hulle kleintjies in die wêreld gebring

en in sy skaduwee het al die baie nasies kom woon.

7Hy was 'n mooi en 'n groot boom

met wydgespreide takke,

want sy wortels het tot by baie water gekom.

8“Die seders in die godetuin kon met hom nie meeding nie,

die sipresse se takke was nie soos syne nie,

nog minder dié van die platane.

Daar was nie 'n boom in die godetuin

wat so mooi as die seder was nie.

9Ek het hom 'n mooi boom gemaak met sy baie takke,

en al die bome in die godetuin Eden

was jaloers op die seder.”

10So sê die Here my God: “Die seder het hoog gegroei, sy top was tussen die wolke, maar sy hoogte het hom hooghartig gemaak. 11Daarom het Ek hom oorgegee in die mag van die gesagvoerder oor die volke. Dié het met hom gedoen wat sy boosheid verdien. Ek het die seder verwerp. 12Vreemdes het hom afgekap, wrede nasies, en hom omgegooi. Sy takke het geval op die berge en in al die valleie, stukkend geval in al die klowe van die aarde. Al die volke van die aarde moes sy skaduwee verlaat en hom daar laat lê.

13“Al die voëls het kom sit op sy omgevalle stam, al die wilde diere het tussen sy takke rondgeloop. 14Geen boom by die water sal weer so hoog groei nie, nie een se top sal tot tussen die wolke kom nie, geen boom sal weer soveel water hê dat hy so hoog sal staan nie. Hulle word almal oorgegee in die mag van die dood. Hulle plek is onder die grond tussen die mense wat in die graf is.”

15So sê die Here my God: “Die dag toe die seder na die doderyk toe af is, het Ek die onderaardse waters oor hom laat treur en die strome teruggehou, sodat die baie water opgeraak het. Ek het die Libanon ook laat treur oor die seder; al die bome het verdroog. 16Ek het die nasies laat sidder van die gedreun van die seder se val toe Ek hom die doderyk ingestuur het na dié toe wat in die graf is. Al die bome van Eden, die uitsoekbome, die bestes op die Libanon, almal wat aan die water gestaan het, was bly daar onder die aarde. 17Hulle is ook saam na die doderyk toe, na dié toe wat gesneuwel het. Maar die mense wat in die seder se skaduwee gewoon het, is onder die nasies verstrooi.

18“Wie onder die bome van Eden het soveel mag gehad, was so groot as jy, koning van Egipte? Tog sal jy saam met die bome van Eden afgaan graf toe en daar tussen die eerloses lê saam met dié wat gesneuwel het, jy, farao, en jou hele leër.”

Die Here my God sê dit.

'n Treurlied oor die farao

1Op die eerste van die twaalfde maand, in die twaalfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom: 2“Mens, sing 'n treurlied oor die farao, koning van Egipte. Jy moet oor hom sê:

“Jy was soos 'n leeu onder die nasies,

maar jy is tot swye gebring.

Jy was soos die groot monster in die see,

jy het jou rivierwaters laat kook,

die waters troebel gemaak met jou voete,

die riviere modderig laat word.”

3So sê die Here my God:

“Tussen die baie nasies wat saamgekom het,

gooi Ek my vangnet oor jou,

en hulle trek jou op in my net.

4Ek gooi jou op die grond,

Ek slinger jou die veld in,

Ek laat al die voëls op jou kom sit,

Ek laat die roofdiere hulle vol vreet aan jou.

5Ek sit jou vleis op die berge neer,

Ek maak die valleie daarmee vol.

6Met jou bloed wat op die berge uitgeloop het,

deurweek Ek die grond;

selfs die spruite word vol van jou bloed.

7Wanneer Ek jou tot niet maak, maak Ek die hemel toe

en laat Ek die sterre se lig nie deurkom nie,

Ek maak die son toe met 'n wolk,

en die maan sal nie skyn nie.

8Ek laat al die hemelliggame treur oor jou

en maak dit donker op die aarde,

sê die Here my God.

9“Wanneer Ek jou ondergang bekend laat word onder nasies

in lande waarvan jy nie eens geweet het nie,

sal Ek al die volke ontsteld laat raak.

10Ek laat al die volke verskrik staan

oor wat met jou gebeur;

hulle konings se hare sal rys oor wat met jou gebeur

wanneer Ek voor hulle oë my swaard swaai.

Hulle sal sidder van angs oor hulle eie lewens

dié dag wanneer jy tot 'n val kom.”

11So sê die Here my God:

“Die koning van Babel se swaard is in aantog teen jou:

12Ek laat jou hordes val voor die aanslag van sy soldate,

almal wrede mense;

hulle sal die trots van Egipte vernietig,

sy hele leër sal uitgeroei word.

13Ek roei al sy vee uit

daar langs die baie water.

Die water sal nie meer geroer word deur die voet van 'n mens

of modderig gemaak word deur vee se pote nie.

14Dan sal Ek die water weer helder laat word

en Egipte se strome so rustig laat vloei soos strome olie,”

sê die Here my God.

15“Wanneer Ek Egipte 'n verlate land maak,

hom stroop van wat in hom is,

wanneer Ek al sy inwoners laat omkom,

sal hulle besef dat Ek die Here is.

16Dit is die treurlied wat gesing sal word;

die vroue van ander nasies sal dit sing,

hulle sal dit sing oor Egipte en al sy hordes,”

sê die Here my God.

Jy kom saam met die eerloses tot 'n einde, Egipte

17Op die vyftiende van die maand, in die twaalfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom: 18“Mens, sing vir die hordes van Egipte die lied wat vir dooies gesing word.

“Stuur hulle en ook die ander magtige nasies af

in die graf in na dié toe wat reeds dood is.

19Moet dit met julle beter gaan as met ander?

Gaan af, gaan lê by die eerloses!

20Hulle val tussen dié wat gesneuwel het.

Die swaard het sy werk gedoen:

Egipte en al sy hordes word weggesleep.

21Uit die graf sê die magtige krygsmanne

oor Egipte en sy helpers:

‘Hulle is af graf toe, hulle lê by die eerloses,

by dié wat gesneuwel het!’

22Assirië en sy hele leërmag is daar.

Rondom hom lê die grafte van sy mense,

almal dood, afgemaai deur die swaard.

23Sy grafte lê diep in die doderyk;

rondom hom lê sy leërmag begrawe,

almal dood, afgemaai deur die swaard,

dié mense wat verskrikking gesaai het

in die land van die lewendes.

24“Elam en al sy hordes is daar;

hulle lê rondom hom begrawe,

almal dood, afgemaai deur die swaard.

Dié mense wat eerloos af is na die doderyk toe,

is die mense wat verskrikking gesaai het

in die land van die lewendes.

Nou dra hulle hulle vernedering

saam met dié wat reeds dood is.

25Elam het sy plek gekry tussen die dooies,

met die grafte van al sy hordes rondom hom,

almal eerloos afgemaai deur die swaard.

Hulle het verskrikking gesaai in die land van die lewendes,

maar nou dra hulle hulle vernedering

saam met dié wat reeds dood is;

hulle het tussen die dooies beland.

26“Mesek-Tubal en al sy hordes is daar;

hulle grafte lê rondom syne;

almal is eerloos deurboor met die swaard.

Hulle het verskrikking gesaai in die land van die lewendes,

27maar hulle lê nie by die krygsmanne

wat eervol gesneuwel het nie,

dié wat af is doderyk toe met hulle wapens,

wie se swaarde onder hulle koppe gesit is

en wie se skilde oor hulle bene lê.

Mesek-Tubal en sy hordes het verskrikking gesaai

in die land van die lewendes.

28“Jy kom saam met die eerloses tot 'n einde, Egipte,

jy moet by dié wat deur die swaard afgemaai is, gaan lê.

29“Edom, sy konings, al sy regeerders is daar;

ten spyte van hulle mag het hulle beland

by dié wat afgemaai is deur die swaard;

hulle lê by die eerloses, by dié wat reeds dood is.

30“Die vorste van die noorde is daar,

hulle almal en al die Sidoniërs.

Dié mense wat met hulle mag verskrikking gesaai het,

het die neerlaag gely

en lê eerloos by dié wat afgemaai is deur die swaard;

hulle dra hulle vernedering saam met dié wat reeds dood is.

31“Wanneer die farao hulle sien,

sal dit vir hom 'n troos wees

as hy dink aan al sy hordes wat gesneuwel het,

die farao met sy hele leër,”

sê die Here my God.

32“Ek het hom toegelaat om verskrikking te saai

in die land van die lewendes,

maar nou moet hy tussen die eerloses gaan lê,

by dié wat gesneuwel het,

hy, die farao, en al sy hordes,”

sê die Here my God.

Ek sal elke mens oordeel volgens sy doen en late

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, praat met die mense van jou volk en sê vir hulle: Wanneer Ek oorlog oor 'n land bring, en die mense van die land vat een van hulle en stel hom as 'n wag aan, 3en hy sien die vyand aankom en blaas die ramshoring en waarsku sy mense, 4en hulle hoor die ramshoring maar slaan nie ag op die waarskuwing nie, dan is hulle verantwoordelik vir hulle eie dood. 5Hulle het die ramshoring gehoor maar nie op die waarskuwing ag geslaan nie, hulle is self verantwoordelik vir hulle dood. Dit is net dié wat op die waarskuwing ag slaan, wat hulle lewens red. 6Maar wanneer die wag die vyand sien aankom en nie die ramshoring blaas sodat die mense gewaarsku word nie, en die vyand kom en maak party van die land se mense dood, dan sterf dié mense wel deur hulle eie sonde, maar Ek sal van die wag rekenskap eis vir hulle dood.

7“Mens, Ek het jou die wag vir Israel gemaak. Wanneer jy by My die opdrag ontvang, moet jy hulle namens My waarsku. 8Wanneer Ek van die goddelose sê dat hy sal sterwe, en jy praat nie en waarsku hom nie oor sy doen en late nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir sy dood. 9Wanneer jy die goddelose waarsku oor sy optrede om hom daarvan te laat afsien, en hy sien nie daarvan af nie, dan sterf hy deur sy sonde en het jy jou eie lewe behou.

10“Mens, jy moet vir Israel sê: Julle sê: ‘Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?’

11“Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel?

12“Mens, jy moet vir die mense van jou volk sê: Die goeie dade van 'n goeie mens sal hom nie red die dag as hy teen My in opstand kom nie, en die slegte dade van 'n goddelose sal nie teen hom tel die dag as hy hom van sy slegte dade bekeer nie. Die goeie mens sal nie deur sy goeie dade bly lewe die dag as hy sondig nie. 13Wanneer Ek vir 'n goeie mens sê hy sal die lewe behou, en hy vertrou op sy goeie dade en hy pleeg onreg, sal al sy goeie dade nie in sy guns tel nie; hy sal sterf omdat hy onreg gepleeg het. 14En wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy sal sekerlik sterwe, en hy bekeer hom van sy sonde en hy laat reg geskied en doen reg, 15hy gee die goed terug wat hy as waarborg vir skuld gevat het, hy betaal terug wat hy geroof het, hy lewe volgens die voorskrifte wat lewe gee en hy pleeg nie onreg nie, sal hy lewe, hy sal nie sterwe nie. 16Al die sonde wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy laat nou reg geskied en hy doen reg, en daarom sal hy in die lewe bly.

17“Die mense van jou volk sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ maar dit is hulle wat nie reg optree nie. 18Wanneer 'n goeie mens sy goeie dade laat vaar en onreg pleeg, sterf hy oor die onreg. 19Wanneer 'n goddelose afsien van sy slegte dade en reg laat geskied en reg doen, bly hy daaroor in die lewe. 20Julle sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ Israel? Ek sal elke mens onder julle oordeel volgens sy doen en late.”

Jerusalem is ingeneem

21Op die vyfde van die tiende maand, in die twaalfde jaar van ons ballingskap, het daar iemand by my aangekom wat uit Jerusalem ontsnap het en vir my gesê: “Die stad is ingeneem!” 22Die mag van die Here het my in besit geneem die aand voor die ontsnapte gekom het. Die Here het my in staat gestel om weer te praat voordat die man die oggend by my gekom het. Die Here het my in staat gestel om weer te praat, ek was nie meer stom nie.

Ek maak Israel 'n verlate, verwoeste plek

23Die woord van die Here het tot my gekom: 24“Mens, dié wat daar tussen die puinhope in Israel woon, sê: ‘Abraham was net een mens, en hy het die land as besitting ontvang. Ons is baie; dié land is aan ons gegee as 'n besitting!’ 25Sê vir hulle: So sê die Here my God: Julle het aan heidense offermaaltye deelgeneem, julle het by julle afgode hulp gesoek, julle het bloed vergiet, en julle wil die land as besitting hê? 26Julle staan met die swaard in die hand, julle doen afskuwelike dinge, julle onteer mekaar se vrouens, en julle wil die land as besitting hê?

27“Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God: So seker as Ek leef, wie daar tussen die puinhope is, sal afgemaai word met die swaard; wie in die veld is, sal kos word vir die roofdiere; wie in die berge en grotte skuil, sal aan pes doodgaan. 28Ek maak die land 'n verlate, verwoeste plek; Ek maak 'n einde aan die mag waarop hulle hulle beroem. Die berge van Israel sal verlate wees; niemand sal daar kom nie. 29Wanneer Ek die land 'n verlate, verwoeste plek maak oor al die afskuwelike dinge wat hulle gedoen het, sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Hulle sal besef dat daar 'n profeet tussen hulle was

30“Mens, die mense van jou volk praat oor jou oral langs die mure en by die ingange van die huise. Hulle sê vir mekaar: ‘Kom hoor watter boodskap daar van die Here af gekom het’, 31hulle kom na jou toe asof dit 'n volksoptog is, hulle gaan sit voor jou, hierdie volk van My, en hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen nie wat jy sê nie. Al wat hulle doen, is om aan die begeertes toe te gee waaroor hulle gedurig praat; hulle is net uit op wins vir hulleself. 32Jy is vir hulle maar net soos iemand wat met 'n mooi stem liedjies vol begeerte sing en die lier goed speel; hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen niks van wat jy sê nie. 33Maar wanneer wat jy sê, uitkom, en uitkom sál dit, sal hulle besef dat daar 'n profeet tussen hulle was.”

Ek gaan optree teen die herders

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, tree op as profeet teen die herders van Israel, tree op as profeet en sê vir hulle, vir die herders: So sê die Here my God: Ellende wag vir die herders van Israel wat net vir hulleself sorg! Moet herders dan nie vir die kleinvee sorg nie? 3Julle drink die melk, julle maak vir julle klere van die wol, julle slag die vetste kleinvee, maar julle sorg nie vir die kleinvee nie. 4Julle het nie die swakkes gehelp nie, julle het nie die siekes gedokter nie, julle het nie die wonde van dié wat seergekry het, versorg nie, julle het nie dié wat weggedwaal het, teruggebring nie, julle het nie dié wat weggeraak het, gesoek nie. Julle was harde en wrede regeerders. 5Die kleinvee was sonder herder en het verstrooi geraak, en toe hulle verstrooi raak, word hulle 'n prooi vir roofdiere. 6My kleinvee het rondgedwaal oor al die berge en oor al die hoë heuwels, hulle het verstrooi geraak oor die hele aarde en niemand het hulle gesoek of na hulle gevra nie.”

7Daarom, herders, hoor die woord van die Here: 8“My kleinvee is uitgelewer en het die prooi van enige wilde dier geword; hulle is sonder herder, sonder iemand wat na hulle soek; die herders het vir hulleself gesorg en nie vir my kleinvee nie. So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal die herders straf.” 9Hoor die woord van die Here, herders! 10So sê die Here my God: “Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug, Ek maak 'n end daaraan dat hulle die kleinvee se herders is, hulle sal nie herders bly net om vir hulleself te sorg nie. Ek sal my kleinvee red en hulle nie deur die herders laat opeet nie.”

Ek sal self my kleinvee se herder wees

11So sê die Here my God: “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien. 12Soos 'n herder omsien na die kleinvee wat uit sy trop verstrooi raak, so sal Ek omsien na my kleinvee en hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker oordeelsdag. 13Ek sal hulle tussen die ander volke uitbring, hulle bymekaarmaak uit die ander lande en hulle bring na hulle land toe. Ek sal hulle versorg op die berge van Israel, in die klowe, in al die woonplekke in die land. 14Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding. Hulle sal wei op die hoë berge van Israel en rustig daar in die goeie weiveld lê en herkou. Hulle sal op geil veld wei daar in die berge van Israel. 15Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou,” sê die Here my God. 16“Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help. Maar Ek sal dié wat vet en sterk geword het, uitroei. Ek sal 'n herder wees wat reg laat geskied.

17“En wat julle betref, my kleinvee,” sê die Here my God, “Ek gaan regverdig oordeel tussen skaap en skaap en tussen skape en bokke. 18Party van julle het die beste gras afgewei en boonop wat oorgebly het, vertrap. Julle het skoon water gedrink en wat oorgebly het, vuil gemaak. 19My ander skape moes die gras vreet wat deur julle vertrap is en die water drink wat deur julle vuil gemaak is.

20“Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek nou regverdig oordeel tussen die vet skape en die maeres. 21Julle het die swakkes met julle lywe en skouers weggestoot en hulle met julle horings gestamp totdat julle hulle weggedryf het. 22Maar Ek gaan my kleinvee red. Hulle sal nie meer uitgelewer wees as buit nie. Ek gaan regverdig oordeel tussen skaap en skaap. 23Ek gaan vir hulle net een herder aanstel, en hy sal vir hulle sorg: my dienaar Dawid. Hy sal vir hulle sorg, hy sal vir hulle 'n herder wees. 24Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienaar Dawid sal oor hulle regeer. Ek, die Here, het dit gesê. 25Ek sal met hulle 'n verbond sluit wat vir hulle vrede sal bring. Ek sal die roofdiere uitroei uit die land sodat my kleinvee veilig kan wees in die weiveld en in die bosse kan slaap. 26Ek maak hulle en alles rondom my heuwel voorspoedig; Ek laat die reëns val op die regte tyd, reëns wat voorspoed sal bring. 27Die bome sal hulle vrugte lewer en die grond sy opbrengs, en my volk sal veilig wees in hulle land. Wanneer Ek die juk wat op hulle gedruk het, stukkend breek en hulle red uit die mag van dié wat slawe wou maak van hulle, sal hulle besef dat Ek die Here is. 28Hulle sal nie weer die buit van ander nasies word nie en nie meer deur roofdiere opgevreet word nie. Hulle sal veilig woon en vir niemand hoef bang te wees nie. 29Ek gee hulle 'n land wat beroemd sal word vir sy vrugbaarheid; hulle sal nie weer deur hongersnood geteister word nie en hulle sal nie weer deur ander nasies verneder word nie. 30Hulle sal besef dat Ek, die Here hulle God, by hulle is en dat hulle my volk Israel is,” sê die Here my God.

31“Julle is my kleinvee, julle is die volk vir wie Ek sorg, en Ek is julle God,” sê die Here my God.

Teen Edom

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, draai jou gesig na die bergland van Seïr toe en tree op as profeet teen hom. 3Jy moet vir hom sê: So sê die Here my God:

“Ek gaan teen jou optree, bergland van Seïr,

Ek gaan my hand teen jou uitsteek

en jou 'n verlate, verwoeste land maak.

4Jou stede gaan Ek puinhope maak

en vir jou 'n verlate land,

en jy sal besef dat Ek die Here is.

5“Jy was van ouds af 'n vyand van die Israeliete en jy het hulle aan die swaard uitgelewer die tyd toe die ramp hulle getref het en hulle vir hulle sonde gestraf is. 6So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek laat jou bloed vloei; jou moorde sal jou inhaal. Omdat jy self nie geskroom het om bloed te laat vloei nie, sal die moorde jou inhaal. 7Ek maak die bergland van Seïr 'n verwoeste, verlate land, Ek roei al wat beweeg, uit hom uit. 8Ek laat die lyke van sy mense sy berge vol lê; dié wat deur die swaard afgemaai is, sal val op jou heuwels, in jou valleie, in al jou klowe. 9Ek maak jou vir altyd 'n verlate land, jou stede sal nie weer bewoon word nie. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.

10“Jy het gesê: ‘Altwee volke en altwee lande is nou myne, ons gaan daardie land vat. Die Here is daar!’

11“So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek gaan met jou maak wat jy met Israel gemaak het in jou haat teen hulle, in jou woede en jou afguns. Ek sal hulle laat besef wie Ek is wanneer Ek jou straf, 12en jy sal besef dat Ek die Here is. Ek het gehoor hoe smalend jy oor die berge van Israel gepraat het toe jy gesê het: ‘Hulle lê verlate, hulle is vir ons gegee om verder te ruïneer.’ 13Julle het groot monde gehad teen My, julle het My vermetel aangespreek. Ek het dit gehoor.”

14So sê die Here my God: “Die hele wêreld sal juig as Ek jou 'n onbewoonde land maak. 15So het jy gejuig toe die besitting van Israel 'n onbewoonde land gemaak is. Ek gaan jou ook onbewoon maak. Die bergland van Seïr, die hele Edom, gaan 'n land sonder inwoners word. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Die regverdige verbly hom in die Here

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.

2Hoor my as ek kla, o God,

beskerm my lewe teen die bedreiging van die vyand!

3Bewaar my van die komplotte van kwaadwilliges,

van die kwaadstokery van mense wat onreg doen,

4wat met skerp tonge vir swaarde

en giftige woorde vir pyle

5uit hinderlae lostrek op 'n onskuldige mens.

Uit die bloute trek hulle selfversekerd op hom los.

6Hulle smee bose planne

en kom ooreen om strikke te stel.

Hulle dink niemand sien hulle nie.

7Hulle beplan skelmstukke en sê:

“Ons het 'n volmaakte komplot gesmee,

want wat binne in 'n mens is,

wat hy uitgedink het, is 'n geheim.”

8Dan tref God hulle met 'n pyl,

en meteens is hulle daarmee heen:

9hulle eie tonge het hulle tot 'n val gebring!

Elkeen wat dit sien, knik met voldoening die kop.

10Met groot ontsag getuig almal dan van die dade van God

omdat hulle insig gekry het in wat Hy doen.

11Laat die regverdige hom in die Here verbly

en sy toevlug by Hom soek,

laat al die opregtes Hom prys.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS