Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 195

ESEGIËL 26–30, PSALM 63

Bybelteks(te)

Ek maak Tirus 'n kaal klipplaat

1Op die eerste dag van die maand, in die elfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom: 2“Mens, Tirus verlekker hom oor Jerusalem en sê: Die Poort van die Volke is stukkend gebreek, ek geniet die voordeel daarvan, ek word ryk nou dat daardie stad 'n puinhoop is.

3“Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek nou teen jou optree, Tirus. Soos die golwe van die see, so laat Ek baie nasies oor jou spoel. 4Hulle sal die mure van Tirus verwoes, sy torings afbreek. Ek sal sy grondlaag van hom afvee en hom 'n kaal klipplaat maak. 5Hy sal nog net 'n plek in die see wees waar visnette droog gemaak word. Ek het gepraat, sê die Here my God. Tirus sal 'n stuk buit vir die nasies word. 6Die inwoners van sy buitedorpe in die veld sal doodgemaak word. Tirus sal besef dat Ek die Here is.”

7So sê die Here my God: “Ek gaan vir koning Nebukadnesar van Babel, koning oor konings, uit die noorde teen Tirus bring. Hy sal kom met perde, met strydwaens, met ruiters, met 'n baie groot leër. 8Hy sal die inwoners van jou buitedorpe in die veld doodmaak, hy sal beleëringswerke teen jou bou, 'n beleëringswal teen jou opgooi en beskermingsdakke teen jou mure aanbring. 9Dan sal hy met sy stormramme jou mure omstamp en jou torings afbreek met sy koevoete. 10Sy perde sal so baie wees dat die stof wat hulle opskop, jou sal bedek. Die gedreun van sy ruiters en sy strydwawiele sal jou mure laat bewe wanneer hy deur jou poorte kom soos in 'n stad in waarvan die mure klaar afgebreek is. 11Met die hoewe van sy perde sal hy al jou strate stof trap. Hy sal jou inwoners doodmaak en jou sterk pilare omgooi. 12Hulle sal jou besittings plunder, jou handelsware buitmaak, jou mure afbreek, jou mooi huise verwoes en jou klippe, jou hout, selfs jou grond, in die see gooi.

13“So gaan Ek 'n einde maak aan jou luidrugtige liedere; die klank van jou liere sal nie meer gehoor word nie. 14Ek maak jou 'n kaal klipplaat. Jy sal nog net 'n plek wees waar visnette droog gemaak word. Jy sal nie herbou word nie. Ek, die Here, het gepraat,” sê die Here my God.

15So sê die Here my God vir Tirus: “Gaan die eilande nie bewe wanneer hulle die gedreun van jou val hoor nie, die gekreun van jou gewondes, wanneer hulle verneem van die slagting wat in jou gaan plaasvind? 16Al die regeerders aan die see sal van hulle trone afklim, hulle mantels afgooi, hulle spogklere uittrek en skrikbevange op die grond gaan sit. Hulle sal aanhou bewe van ontsetting oor jou. 17Hulle sal 'n treurlied oor jou sing en vir jou sê:

“Hoe het jy dan aan jou end gekom, beroemde stad,

jy wat bevolk is van oor die see,

jy wat magtig op die see was,

jy en jou inwoners,

jy wat almal op see met skrik vervul het!

18Nou bewe die eilande op die dag van jou val,

nou staan die eilande in die see verskrik

omdat jy daarmee heen is!”

19So sê die Here my God: “Wanneer Ek jou 'n stad maak wat in puin lê, soos die stede wat nie meer bewoon word nie, wanneer Ek die groot waters oor jou laat spoel, jou onder baie waters toemaak, 20sal Ek jou ondertoe laat gaan saam met dié wat in die graf in afdaal, na die mense van ouds toe. Ek sal jou soos ander stede wat lankal in puin lê, in die onderaardse diepte laat woon saam met dié wat reeds gesterf het. Jy sal nie terugkom nie, Ek sal jou nie in ere herstel in die land van die lewendes nie. 21Ek maak jou 'n voorbeeld wat ander moet afskrik. Dit is klaar met jou. Wie na jou soek, sal jou nie kry nie, nooit weer nie, sê die Here my God.”

'n Treurlied oor Tirus

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, jy moet 'n treurlied oor Tirus sing. 3Tirus lê aan die kus en dryf handel met die ander volke, met baie eilande. Jy moet vir Tirus sê: So sê die Here my God:

“Tirus, jy dink jou skoonheid is volmaak.

4Jou magsgebied strek tot oor die diepsee,

en dié wat jou gebou het, het jou 'n mooi skip gemaak.

5Hulle het jou twee kante gebou van sipresse uit Senir

en sederhout uit Libanon gebruik vir jou mas.

6Hulle het jou roeispane gemaak

van groot bome uit Basan,

jou dek van sipreshout uit die Kittiëreilande,

en dit ingelê met ivoor.

7Jou seile was van veelkleurige materiaal uit Egipte;

daaraan is jy uitgeken.

Pers en rooi wolstof uit die Elisa-eilande

het jou bedek.

8Inwoners van Sidon en Arwad was jou roeiers,

en jou bevare seemanne het jy self gelewer, Tirus.

9Leiers, vakmanne uit Gebal was aan boord

om jou lekplekke toe te stop.

Al die skepe op see met hulle bemannings

het na jou toe gekom om met jou handel te dryf.

10“Mense uit Paras, Lud en Put was soldate in jou leër.

Met die skilde en helms wat hulle in jou opgehang het,

het hulle jou aansien gegee.

11In jou leër op jou mure rondom was manne uit Arwad,

op jou torings mense uit Gammad.

Hulle het hulle skilde rondom teen jou mure opgehang

en jou skoonheid volmaak gemaak.

12“Tarsis het vir jou handel gedryf,

want jy het baie te verruil gehad;

hulle het jou handelsware verruil vir silwer,

yster, tin en lood.

13Griekeland, Tubal en Mesek was agente vir jou;

hulle het jou goedere verruil vir slawe en koperware.

14Uit Bet-Togarma het trekperde, ryperde en muile gekom

in ruil vir jou handelsware.

15Mense uit Dedan was agente vir jou,

baie eilande het in jou diens gestaan as handelaars;

hulle het vir jou olifantstande en ebbehout gebring as betaling.

16Aram het vir jou handel gedryf,

want jy het baie produkte gelewer;

hulle het jou handelsware verruil vir turkoois, pers wolstof,

veelkleurige materiaal, linne, koraal en robyne.

17“Juda en Israel was agente vir jou;

hulle het jou goedere verruil vir koring uit Minnit,

vir vye, heuning, olyfolie en balsemgom.

18Damaskus het vir jou handel gedryf,

want jy het baie produkte gelewer,

jy het baie te verruil gehad

vir wyn uit Gelbon en wol uit Sagar.

19Sowel Dan as Griekeland het goedere

uit Usal gelewer vir jou handelsware;

jy het bewerkte yster,

kaneel en kalmoes gekry vir jou goedere.

20“Dedan was jou agent vir saalkleedjies.

21Arabië en al die regeerders van Kedar

het in jou diens gestaan as handelaars;

hulle het vir jou handel gedryf

met lammers, skaapramme en bokramme.

22Die handelaars van Skeba en Rama was jou agente;

hulle het jou handelsware verruil vir die beste balsem,

vir allerhande edelstene en goud.

23Haran, Kanne, Eden, die handelaars van Skeba,

Assirië en Kilmad het vir jou as agente opgetree;

24hulle was jou agente,

hulle het mooi klere,

tjalies van blou wolstof,

veelkleurige materiaal,

tweekleurige materiaal,

gevlegte en gedraaide tou aan jou verhandel.

25Tarsisskepe het jou goedere op handelstogte vervoer.

“Jy het ryk geword en baie mag gekry op die diepsee;

26jou roeiers het jou op die groot waters gebring,

maar toe het die oostewind jou verpletter op die diepsee.

27Jou rykdom, jou handelsware, jou goedere,

jou seemanne, jou matrose,

die manne wat jou lekplekke moes toestop,

dié wat met jou goedere handel moes dryf

en al jou soldate, die hele menigte in jou,

het in die diepsee afgestort die dag toe jy vergaan het.

28Die geskreeu van jou matrose het die kuslande laat sidder;

29al die roeiers het hulle skepe verlaat;

die seemanne, al die matrose, het op land gaan staan.

30Hulle het geskreeu oor wat met jou gebeur het,

hulle het bitterlik gekerm;

hulle het stof op hulle koppe gegooi

en op die grond rondgerol;

31hulle het hulle koppe kaalgeskeer in rou oor jou en rouklere aangetrek;

hulle het bitterlik gehuil oor jou,

bitterlik getreur.

32Tussen hulle smartkrete deur

het hulle 'n treurlied begin sing,

'n treurlied oor jou:

‘Wie kon op see met Tirus vergelyk word?’

33“Wanneer jou handelsware aangekom het oor die see,

kon baie volke in oorvloed leef;

met jou groot rykdom, jou goedere,

het jy die konings van die aarde ryk gemaak.

34Maar nou is jou mag op see gebreek,

jou mag op die diep waters.

Jou handelsware en al jou mense

is daarmee heen saam met jou.

35Al die bewoners van die eilande

is skrikbevange oor wat met jou gebeur het;

hulle konings se hare rys,

hulle gesigte is wit van die skrik.

36Die handelaars onder die volke fluit van verbasing

oor wat met jou gebeur het.

Jy het 'n afskrikmiddel vir ander geword,

dit is vir altyd klaar met jou.”

Teen die regeerder van Tirus

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, sê vir die regeerder van Tirus: So sê die Here my God: In jou hooghartigheid het jy gesê: ‘Ek is 'n god, ek woon op die woonplek van die gode, omring deur die see.’

“Maar jy is 'n mens, nie 'n god nie. Jy het jou verbeel jy is 'n god. 3Jou wysheid het selfs dié van Daniël oortref. Watter geheimenis daar ook al was, niemand kon vir jou kers vashou nie. 4Jy het met jou wysheid en insig vir jou rykdom verwerf, jou skatkamers gevul met goud en silwer. 5Jy het met jou groot wysheid en met handel jou rykdom nog meer gemaak, maar dit was juis jou rykdom wat jou hooghartig gemaak het.

6“Daarom,” sê die Here my God, “omdat jy jou verbeel het jy is 'n god, 7daarom gaan Ek ander nasies, wrede volke, teen jou laat optrek. Hulle sal die prag wat jou wysheid vir jou gebring het, met die swaard aanval en jou prag skend. 8Hulle sal jou in die graf in laat stort, jy sal die dood van 'n gesneuwelde sterf daar op jou eiland in die see. 9Sal jy vir dié wat aan jou 'n einde gaan maak, nog kan sê jy is 'n god? Vir dié wat vir jou dood gaan sorg, sal jy 'n mens wees, nie 'n god nie. 10Ander volke gaan jou 'n eerlose dood laat sterf. Ek het gepraat,” sê die Here my God.

'n Treurlied oor die koning van Tirus

11Die woord van die Here het tot my gekom: 12“Mens, sing 'n treurlied oor die koning van Tirus. Sê vir hom: So sê die Here my God:

“Jy was 'n seël wat met sorg vervaardig is,

'n pragtige produk van volmaakte vakmanskap:

13jy is uitgebeeld in die godetuin Eden,

omring deur kosbare edelstene:

karneool, topaas, jaspis,

chrisoliet, oniks, opaal,

saffier, turkoois, smarag,

en die reliëfwerk aan jou was van goud.

So is jy gemaak die dag toe jy geskep is.

14Jy is uitgebeeld as die gerub

wat met uitgestrekte vlerke moes waghou,

Ek het jou die opdrag gegee.

Jy was op die heilige godeberg,

daar het jy rondgestap tussen glinsterende edelstene.

15Jou optrede was onbesproke vandat jy geskep is

totdat jy begin onreg doen het.

16Jou uitgebreide handelsbedrywigheid

het geweld deel van jou lewe gemaak

en jou laat sondig.

“Daarom het Ek jou verstoot van die godeberg af,

Ek het jou, gerub wat moes waghou,

tussen die glinsterende edelstene uit verwyder.

17Jou prag het jou hooghartig laat word,

jou stralende glans het jou jou wysheid laat verloor.

Ek het jou op die grond gegooi,

jou daar voor ander konings laat lê

dat hulle jou kon bekyk.

18“Met jou baie oortredings, met die onreg in jou handel,

het jy jou heiligdomme ontwy.

Daarom het Ek 'n vuur uit jou laat kom

wat jou verteer het.

Ek het jou 'n hopie as op die grond laat word

voor die oë van almal wat toegekyk het.

19Almal onder die volke wat jou geken het,

is skrikbevange oor wat met jou gebeur het.

Jy het 'n afskrikmiddel vir ander geword,

dit is vir altyd klaar met jou.”

Teen Sidon

20Die woord van die Here het tot my gekom: 21“Mens, draai jou gesig na Sidon toe en tree op as profeet teen hom. 22Jy moet sê: So sê die Here my God: Ek gaan teen jou optree, Sidon, Ek gaan in jou my mag laat blyk. Dié stad se inwoners sal besef dat Ek die Here is. Ek sal hulle straf en hulle laat besef dat Ek die heilige God is. 23Ek stuur pes in die stad in en bloedvergieting op sy strate. Sy vyande sal hom van alle kante af aanval, en sy inwoners sal binne-in hom doodgemaak word. Hulle sal besef dat Ek die Here is. 24Dan sal daar nie meer onder die buurvolke van wie Israel soveel minagting verduur, 'n doring wees wat hom bly steek, 'n pendoring wat hom bly pynig nie. Israel sal besef dat Ek die Here God is.”

Israel sal weer in die land kom

25So sê die Here my God: “Wanneer Ek Israel bymekaarmaak onder die volke uit waar hulle verstrooi is en Ek hulle voor die oë van die nasies laat besef dat Ek die heilige God is, sal Israel weer kom woon in die land wat Ek aan my dienaar Jakob gegee het. 26Hulle sal veilig in die land woon, huise bou en wingerde plant. Hulle sal veilig woon wanneer Ek al die buurvolke gestraf het wat vir Israel met soveel minagting behandel het. Israel sal besef dat Ek die Here hulle God is.”

Teen Egipte

1Op die twaalfde van die tiende maand, in die tiende jaar, het die woord van die Here tot my gekom: 2“Mens, draai jou gesig na die farao, die koning van Egipte toe en tree op as profeet teen hom en teen die hele Egipte. 3Jy moet praat, jy moet sê: So sê die Here my God:

“Ek gaan teen jou optree, farao, koning van Egipte,

groot krokodil wat rustig in jou rivier lê

en sê: ‘Dis my rivier, ek het hom gemaak!’

4Ek gaan hake in jou kakebene slaan

en jou rivier se visse aan jou skubbe laat vassit,

Ek gaan jou optrek uit jou rivier uit

saam met al jou rivier se visse wat aan jou skubbe vassit.

5Ek gaan jou weggooi in die woestyn,

jou en jou rivier se visse.

Jy sal in die oop veld val

en jou stukke sal nie versamel word nie,

nie bymekaargesoek word nie.

Ek laat die roofdiere en die voëls jou opvreet.

6Al die inwoners van Egipte sal besef dat Ek die Here is.

Jy was 'n stuk riet waarop Israel wou leun,

7maar toe hy jou in die hand vat, breek jy

en kloof sy skouer oop;

toe hy op jou wou leun, knak jy

en laat jy hom steier.

8“Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek oorlog oor jou bring en mens en dier uit jou uitroei. 9Egipte gaan verlate en in puin lê. Hy het gesê: ‘Dis my rivier, ek het hom gemaak’, maar hy sal besef dat Ek die Here is.

10“Ek gaan optree teen jou en jou rivier: Ek gaan Egipte 'n verlate puinhoop maak, van Migdol af tot by Sewene en tot aan die grens van Kus. 11Geen mens of dier sal 'n voet daar sit nie, en daar sal veertig jaar lank niemand woon nie. 12Ek gaan Egipte 'n verlate land tussen verlate lande maak, en sy stede sal veertig jaar lank verlate lê tussen stede wat in puin lê. Ek gaan die Egiptenaars uitmekaarjaag onder ander nasies in, hulle oor ander lande verstrooi.

13“Maar,” so sê die Here my God, “na veertig jaar sal Ek die Egiptenaars bymekaarmaak onder die volke uit waarheen Ek hulle verjaag het. 14Ek sal die lot van Egipte verander en hulle terugbring na Patros toe, die land van hulle herkoms. Daar sal hulle 'n klein koninkrykie wees. 15Egipte sal kleiner as ander koninkryke wees en hom nooit weer bo ander nasies verhef nie. Ek sal hom so swak maak dat hy nie weer oor ander nasies sal heers nie. 16Hy sal nie meer die mag wees waarop Israel vertrou nie, hy sal aanhou herinner aan die sonde wat Israel gedoen het deur hom na Egipte te wend om hulp. Dan sal hulle besef dat Ek die Here God is.”

Nebukadnesar sal Egipte plunder

17Op die eerste van die eerste maand, in die sewe en twintigste jaar, het die woord van die Here tot my gekom: 18“Mens, koning Nebukadnesar van Babel het sy leër harde werk laat doen in sy aanval op Tirus. Almal se koppe was kaal geskaaf en almal se skouers deurgeskuur. Maar hy en sy leër se moeite is nie uit Tirus beloon nie.

19“Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek Egipte vir koning Nebukadnesar van Babel gee. Hy sal Egipte se rykdomme wegdra; hy sal die land plunder en die buit vat wat hy daar kry. Dit sal sy leër se beloning wees. 20Ek gaan Egipte vir hom gee as betaling vir sy werk daar, want hy het dit vir My gedoen,” sê die Here my God.

21“Daardie dag laat Ek Israel se mag weer groei en laat Ek jou, Esegiël, weer vry-uit praat tussen hulle. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Egipte sal 'n verlate land wees

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, tree op as profeet, sê: So sê die Here my God:

“Huil en roep: Ag, die dag!

3Die dag is naby, die dag van die Here is naby!

Dié dag is donker, die tyd is daar vir die nasies!

4Daar kom oorlog teen Egipte! Selfs in Kus sal die mense bewe

wanneer dié in Egipte doodgemaak word.

Sy rykdomme sal weggevat word, sy fondamente sal afgebreek word.

5Die soldate uit Kus, Put en Lud,

al die huursoldate en dié uit Kub,

en ook dié uit die land met wie Ek 'n verbond gemaak het,

sal met die swaard afgemaai word.”

6So sê die Here:

“Dié wat Egipte ondersteun, sal sneuwel,

die mag waarop hy hom beroem, sal ondergaan.

“Van Migdol af tot by Sewene sal hulle afgemaai word deur die swaard,” sê die Here my God.

7“Egipte sal 'n verlate land wees soos ander verlate lande, sy stede sal soos ander stede in puin lê. 8Wanneer Ek vuur in Egipte in stuur en al sy helpers ondergaan, sal die Egiptenaars besef dat Ek die Here is. 9Daardie dag sal daar van My af boodskappers in skepe gaan om Kus sy gevoel van veiligheid te laat wegskrik; hulle sal bewe die dag as Egipte ondergaan, en die dag kom beslis.”

10So sê die Here my God: “Ek maak deur koning Nebukadnesar van Babel 'n einde aan die mag van Egipte. 11Nebukadnesar en sy mense, 'n wrede nasie, word gebring om Egipte te verwoes. Hulle gaan die land aanval en hom vol dooies maak. 12Ek laat die riviere opdroog en gee die land oor in die mag van slegte mense. Ek laat die land en alles in hom verwoes deur vreemdes. Ek, die Here, het gepraat.”

13So sê die Here my God: “Ek roei die afgode uit, Ek maak 'n end aan die afgode in Memfis. Daar sal nie meer 'n regeerder in Egipte wees nie. Ek laat angs heers in Egipte. 14Ek verwoes Patros, Ek laat Soan verbrand, Ek straf No. 15Ek laat my toorn losbreek teen Sin, die vestingstad van Egipte, Ek roei die leërmag in No uit. 16Ek laat Egipte verbrand. Sin sal krul van pyn, No sal platgeloop word, Memfis sal helder oordag beleër word. 17Die jongmanne van Awen en Pi-Beset sal doodgemaak word en die ander inwoners sal in ballingskap weggevoer word. 18In Tagpanges sal dit oordag donker word wanneer Ek die heerskappy van Egipte breek, wanneer die mag waarop hy hom beroem het, tot 'n end kom. Donker wolke sal hom bedek en sy dorpe se inwoners sal in ballingskap weggevoer word. 19Ek gaan Egipte straf; hulle sal besef dat Ek die Here is.”

Ek breek die farao se arms

20Op die sewende van die eerste maand, in die elfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom: 21“Mens, Ek het die farao, koning van Egipte, se arm gebreek, en die arm is nie verbind en gespalk sodat dit gesond kan word en weer sterk genoeg kan wees om 'n swaard vas te hou nie.”

22So sê die Here my God: “Ek tree op teen die farao, koning van Egipte. Ek breek altwee sy arms, die gesonde en die gebreekte arm, en Ek laat die swaard uit sy hand uit val. 23Ek jaag die Egiptenaars uitmekaar onder die ander nasies in, Ek verstrooi hulle oor ander lande. 24Ek maak die koning van Babel se arms sterk, Ek sit 'n swaard in sy hand, maar Ek breek die farao se arms; hy sal voor die koning van Babel lê en kreun soos iemand wat dodelik gewond is. 25Ek maak die koning van Babel se arms sterk, maar die farao s'n sal slap hang. Wanneer Ek my swaard in die koning van Babel se hand sit en hy die swaard na Egipte toe uitsteek, sal die Egiptenaars besef dat Ek die Here is.

26“Ek jaag hulle uitmekaar onder die ander nasies in, Ek verstrooi hulle oor ander lande. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Ek bly altyd naby U

1'n Psalm van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die Judawoestyn.

2Ek soek U, o God, my God,

ek dors na U;

ek smag na U

soos in 'n dor en droë land,

'n land sonder water.

3Ek wil by U in die heiligdom wees

om daar u mag en grootheid te ondervind.

4U troue liefde is meer werd as die lewe;

daarom sal ek U prys.

5Ek sal U my lewe lank loof,

my hande ophef om u Naam te prys.

6Soos elke keer wanneer ek u goeie gawes geniet,

sal ek U altyd roem met jubelende mond.

7As ek aan U dink op my bed,

oor U peins in die nag, dan weet ek:

8U is vir my 'n hulp,

en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels.

9Ek bly altyd naby U,

u hand ondersteun my.

10Maar hierdie mense wat my ondergang soek,

mag hulle wegsink in die dieptes van die aarde!

11Mag hulle aan die swaard oorgegee word

en aas vir die jakkalse word!

12Laat die koning hom in God verbly,

laat elkeen wat hom op God verlaat, Hom prys.

Die mond van die vals mens word toegestop.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS