Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 197

ESEGIËL 36–40, PSALM 65

Bybelteks(te)

Ek laat mense op die berge van Israel woon soos vroeër

1“Mens, nou moet jy as profeet optree vir die berge van Israel. Jy moet sê: Berge van Israel, hoor die woord van die Here! 2So sê die Here my God: Julle vyand het van julle gesê: ‘A, daardie oeroue hoogtes het nou ons s'n geword!’

3“Tree op as profeet en sê: So sê die Here my God: Julle is van alle kante af verwoes en aangeval en julle het die eiendom geword van wat oor is van die ander nasies. Julle is bespot en verneder.”

4Daarom, berge van Israel, hoor die woord van die Here my God! So sê die Here my God vir die berge, die heuwels, die klowe, die valleie, vir die verlate puinhope, die onbewoonde stede wat geplunder en verneder is deur die mense wat van die nasies rondom oor is, 5so sê die Here my God: “Ek praat in gloeiende woede oor wat oor is van die ander nasies en oor die hele Edom wat met soveel genot en minagting my land vir hulleself gevat het om sy weivelde buit te maak.

6“Tree op as profeet vir die land Israel en sê vir die berge, die heuwels, die klowe, die valleie: So sê die Here my God: Ek praat in woede, in toorn oor die vernedering wat julle deur die nasies aangedoen is!”

7So sê die Here my God: “Ek lê 'n eed af dat die nasies rondom julle self verneder sal word! 8Maar julle, berge van Israel, moet sorg dat daar bome met takke en vrugte is vir my volk Israel, hulle terugkoms is naby. 9Ek sal na julle omsien en vir julle sorg: julle sal bewerk en beplant word. 10Ek sal sorg dat daar baie mense op julle woon, die hele Israel. Die stede sal weer bewoon word, die puinhope herbou word. 11Ek sal sorg dat daar baie mense en diere op julle is, en hulle sal vrugbaar wees en vermeerder. Ek laat mense op julle woon soos vroeër, dit sal met julle beter gaan as vroeër en julle sal besef dat Ek die Here is. 12Ek sal weer mense op julle laat loop: my volk Israel. Hulle sal julle in besit neem as hulle eiendom en julle sal hulle nie weer kinderloos laat word nie.”

13So sê die Here my God: “Die mense sê van julle, berge van Israel, dat julle mense opvreet en dat julle julle bewoners afskud. 14Maar julle sal nie weer mense opvreet nie en nie weer julle bewoners afskud nie,” sê die Here my God.

15“Ek sal nie toelaat dat julle weer die vernederende aanmerkings van ander nasies moet aanhoor en deur hulle verkleineer word nie. Julle sal nie weer julle bewoners afskud nie,” sê die Here my God.

Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie

16Die woord van die Here het tot my gekom: 17“Mens, toe Israel nog in hulle land gewoon het, het hulle die land verontreinig met hulle optrede en hulle gedrag. Hulle optrede was in my oë net so onrein as 'n vrou wat menstrueer. 18Ek het my toorn oor hulle laat losbreek oor die bloed wat hulle vergiet het en oor die afgode waarmee hulle die land verontreinig het. 19Ek het hulle verstrooi onder die ander nasies en hulle na ander lande toe uitmekaargejaag. Ek het hulle gestraf oor hulle optrede en hulle gedrag. 20En toe hulle daar by die ander nasies kom, het hulle my heilige Naam oneer aangedoen toe die mense van hulle sê: ‘Maar dit is mos die volk van die Here hierdie, hulle kom uit sy land.’ 21Ek is begaan oor my heilige Naam wat oneer aangedoen word deur Israel onder die nasies waar hulle gekom het. 22Daarom, sê vir Israel: So sê die Here my God: Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar julle gekom het. 23Ek sal die heiligheid van my groot Naam laat blyk wat onder die nasies in oneer gekom het. Julle het my Naam oneer aangedoen onder die nasies. Wanneer Ek my heiligheid laat blyk in wat Ek met julle doen voor die oë van die nasies, sal hulle besef dat Ek die Here is,” sê die Here my God.

24“Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring. 25Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. 26Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee. 27Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom. 28Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees. 29Ek sal julle bevry van alles waarmee julle julle verontreinig het, Ek sal die graan aanspreek en sorg dat dit baie is; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie. 30Ek sal sorg dat daar baie vrugte aan die bome is en groot oeste op die lande sodat julle nie weer die vernedering onder die nasies beleef dat julle hongersnood het nie. 31Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal 'n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade. 32Julle moet weet, sê die Here my God, dat Ek dié dinge nie ter wille van julle doen nie. Al wat julle pas, Israel, is skaamte en skande oor julle optrede.”

33So sê die Here my God: “Die dag as Ek julle van julle sonde reinig, sal Ek sorg dat julle stede weer bewoon word en sal julle puinhope herbou word. 34Die kaalgestroopte land sal bewerk word in plaas daarvan dat dit kaal lê voor die oë van almal wat daar verbygaan. 35Hulle sal sê: ‘Dié land was verlate en nou is hy soos die tuin van Eden; die stede het in puin gelê, hulle was verlate en verwoes, en nou is hulle vestingstede met inwoners.’ 36Die nasies wat nog rondom julle oor is, sal besef dat dit Ek, die Here, is wat die verwoeste stede herbou het en die kaalgestroopte land weer beplant het. Ek, die Here, sê dit en Ek sal dit doen.”

37So sê die Here my God: “Ek sal ook nog dít vir Israel doen in antwoord op hulle gebede: Ek sal hulle soos kleinvee laat vermeerder. 38Die stede wat nou in puin lê, sal net so vol mense wees as wat Jerusalem vol kleinvee is in die feestye, kleinvee vir die offers. Dan sal Israel besef dat Ek die Here is.”

Ek sal julle terugbring

1Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in 'n laagte. Die laagte was vol bene. 2Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.

3Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”

Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

4Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! 5So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: 6Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

7Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek 'n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. 8Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. 9Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

10Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was 'n baie groot menigte. 11Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’ 12Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe. 13Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. 14Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here.

Hulle sal nooit weer twee volke wees nie

15Die woord van die Here het tot my gekom: 16“Mens, vat 'n stuk hout en skryf daarop: Juda en die Israeliete wat sy bondgenote is.

“Vat dan nog 'n stuk hout en skryf daarop: Josef. Dit is die stuk hout vir Efraim en die hele Israel wat sy bondgenote is. 17Druk dan die twee stukke hout teenmekaar sodat hulle soos een stuk in jou hand voel. 18Wanneer die mense van jou volk vir jou vra: ‘Wil jy nie vir ons vertel wat dit beteken nie?’ 19moet jy vir hulle sê: So sê die Here my God: Ek vat die Josefhout wat staan vir Efraim en die Israelitiese stamme wat sy bondgenote is, en Ek sit dit teen die Judahout en Ek maak van die twee een stuk hout, sodat hulle in my hand een stuk is.

20“Die stukke hout waarop jy geskryf het, moet in jou hand wees en die mense moet dit sien. 21Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here my God: Ek sal die Israeliete tussen die nasies uit vat waarheen hulle moes gaan, en hulle van alle kante af bymekaarmaak en na hulle land toe bring. 22Ek sal van hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel, en hulle sal een koning hê. Hulle sal nooit weer twee volke wees nie, nooit weer in twee ryke verdeel word nie.

23“Hulle sal hulle nooit weer verontreinig met afgode en afskuwelike dade en sondes nie. Ek sal hulle bevry uit al hulle woonplekke waar hulle gesondig het en hulle reinig. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees. 24My dienaar Dawid sal koning oor hulle wees; hulle almal sal net een herder hê, en hulle sal volgens my bepalings leef en my voorskrifte gehoorsaam en nakom. 25Hulle sal in die land woon wat Ek aan my dienaar Jakob gegee het, waar hulle voorvaders gewoon het. Hulle sal altyd daar woon, hulle en hulle kinders en hulle kinders se kinders, en my dienaar Dawid sal hulle regeerder wees vir altyd. 26Ek sal met hulle 'n verbond sluit wat vir hulle vrede sal bring, 'n verbond wat altyd sal bestaan. Ek sal hulle baie laat word en my heiligdom tussen hulle oprig om altyd daar te wees. 27My woonplek sal by hulle wees; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. 28Wanneer my heiligdom vir altyd tussen hulle is, sal die ander nasies besef dat Ek, die Here, Israel vir My afgesonder het.”

Die dag wanneer Gog die land Israel aanval

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, draai jou gesig na Magog se land toe, na Gog toe, die hoofregeerder van Mesek en Tubal, tree op as profeet teen hom 3en sê: So sê die Here my God: Ek gaan teen jou optree, Gog, hoofregeerder van Mesek en Tubal. 4Ek gaan jou in 'n ander rigting draai, Ek gaan hake in jou kakebene steek en jou uit jou land bring, jou en jou hele leërmag, die groot menigte perde en ruiters, almal pragtig aangetrek, almal toegerus met skilde en met swaarde in die hand. 5Persië, Kus en Put, almal met skild en helm, is saam met jou soldate, 6Gomer met al sy hordes, Bet-Togarma met syne, ver uit die noorde. Daar is 'n menigte volke tot jou beskikking. 7Maak klaar, hou jou gereed, jy en die hele leërmag wat jy bymekaar laat kom het, staan gereed saam met hulle. 8Jy sal na 'n lang tyd, in die verre toekoms, bevel kry en na 'n land toe gaan wat herstel is ná oorlog en waar baie mense weer tussen ander volke uit bymekaargebring is, daar op die berge van Israel wat so lank verwoes gelê het. Die mense is tussen die volke uit teruggebring en hulle woon almal veilig. 9Jy sal soos 'n stormwind op hulle toeslaan en soos 'n wolk die land bedek, jy en al jou hordes en die baie volke wat tot jou beskikking is.”

10So sê die Here my God: “Daardie dag sal daar gedagtes by jou opkom en sal jy 'n bose plan bedink. 11Jy sal dink: ek gaan dié land wat so oop lê, aanval. Die mense woon so onbesorg en rustig, hulle woon in stede sonder mure en sonder poorte met sluitbalke; 12ek gaan hulle plunder en hulle besittings buit. Jy sal besluit om 'n aanval te maak op die puinhope wat weer bewoon word, die mense wat tussen die nasies uit versamel is en weer vee en besittings het en op die middelpunt van die aarde woon. 13Skeba, Dedan en die handelaars van Tarsis en sy buitedorpe sal vir jou vra: ‘Het jy gekom om te plunder? Het jy jou leërmag bymekaargemaak om oorlogsbuit te kry, om silwer en goud weg te dra, om vee en besittings te vat? Is jy op 'n groot plundertog uit?’

14“Tree op as profeet, mens, en sê vir Gog: So sê die Here my God: Jy sal weet wanneer my volk sonder kommer oor hulle veiligheid in die land woon, 15en dan sal jy uit jou land ver in die noorde kom met die baie manskappe wat tot jou beskikking is, almal ruiters te perd, 'n groot mag, 'n magtige leër. 16Jy sal op my volk Israel toesak soos 'n wolk wat die land bedek. Dit sal in die verre toekoms wees dat Ek jou my land sal laat aanval en wanneer Ek jou, Gog, laat ervaar dat Ek die heilige God is, sal die nasies My erken.”

17So sê die Here my God: “Dit is jy oor wie Ek lank gelede gepraat het deur my dienaars die profete van Israel. Hulle het daardie tyd aangekondig dat Ek jou my volk sal laat aanval.

18“Maar,” sê die Here my God, “die dag wanneer Gog die land Israel aanval, sal my toorn teen hom losbreek. 19Ek sê dit met drif, in gloeiende gramskap: daardie dag sal daar 'n groot aardbewing kom in die land Israel. 20Die visse in die see, die voëls in die lug, die diere in die veld, al die diertjies wat op die grond rondkruip en al die mense in die land, sal voor My bewe. Die berge sal omgekeer word, die kranse sal inmekaarstort, die mure in die land sal omval. 21Ek sal op al my berge oorlog teen Gog uitroep, sê die Here my God; Gog se manskappe sal mekaar met die swaard aanval. 22Ek sal hom tref met pes en dood, Ek sal wolkbreuke, hael en brandende swael op hom laat reën en op sy hordes en op die baie manskappe wat tot sy beskikking is. 23Ek sal My voor die oë van al die nasies laat ken as die groot en die heilige God, en hulle sal besef dat Ek die Here is.”

Gog en al sy hordes sal begrawe word

1“Mens, tree op as profeet teen Gog en sê: So sê die Here my God: Ek gaan teen jou optree, Gog, hoofregeerder van Mesek en Tubal. 2Ek sal jou in 'n ander rigting laat draai en jou aan die hand lei en jou uit die verre noorde laat uitkom en jou die berge van Israel laat inval. 3Maar Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val. 4Jy en al jou hordes en die ander volke wat tot jou beskikking is, sal op die berge van Israel sneuwel. Ek sal jou vir al die roofvoëls en die roofdiere gee om op te vreet. 5Jy sal in die oop veld sneuwel, want Ek het gepraat,” sê die Here my God. 6“Ek sal vuur instuur in Magog se land en onder die sorgelose kuslandbewoners, en hulle sal besef dat Ek die Here is.

7“Ek sal my heilige Naam laat ken onder my volk Israel; hulle sal my heilige Naam nooit weer oneer aandoen nie, en die ander nasies sal besef dat Ek die Here is, die Heilige van Israel. 8Dit kom, dit sal gebeur,” sê die Here my God. “Dit is die tyd waarvan Ek gepraat het. 9Die inwoners van die stede van Israel sal uitkom en met jou hordes se wapens vuurmaak. Hulle sal vuurmaak met groot skilde, klein skilde, boë, pyle, steekspiese en werpspiese, hulle sal sewe jaar lank met hulle vuurmaak. 10Hulle sal nie hout uit die veld hoef aan te dra of in die bos hoef te gaan kap nie, want hulle sal vuurmaak met jou wapens. Hulle sal dié plunder wat hulle geplunder het en die besittings buit van dié wat hulle s'n gebuit het,” sê die Here my God.

11“Daardie dag sal Ek vir Gog 'n plek gee om begrawe te word in Israel, in Reisigersvallei, oos van die Dooie See. Die graf sal die reisigers se pad versper. Gog en al sy hordes sal daar begrawe word, en die plek sal die naam kry Vallei van die Gog-hordes. 12Dit sal Israel sewe maande neem om Gog en sy hordes te begrawe en so die land te reinig. 13Hulle sal begrawe word deur al die mense in die land en dit sal vir hulle roem bring die dag wanneer Ek My laat ken as die magtige God,” sê die Here my God. 14“Daar sal mense afgedeel word om die land deur te gaan en skoon te maak deur al die lyke wat in die land oorbly, te begrawe. Na sewe maande sal hulle die land deursoek: 15hulle sal deur die land gaan en wanneer iemand 'n been sien, sal hy dit met 'n stapel klippe merk sodat dié wat die begraafwerk doen, dit in die Vallei van die Gog-hordes kan gaan begrawe. 16So sal die land gereinig word. Daar sal ook 'n stad wees wat na die hordes vernoem is.”

Ek gaan My ontferm oor die hele Israel

17“Mens, so sê die Here jou God, sê vir al die voëls en vir al die roofdiere: Kom bymekaar, kom, versamel van alle kante af rondom die offermaaltyd wat Ek vir julle aanbied, die groot slagting op die berge van Israel; kom eet vleis en drink bloed. 18Julle sal vooraanstaande mense se vleis eet en die bloed drink van regeerders van die aarde, almal in so 'n goeie kondisie soos die vet ramme en bulle van Basan. 19Julle sal vet vleis eet tot versadigens toe en bloed drink tot julle dronk is, dié van my offermaaltyd wat Ek vir julle aanbied. 20Julle kan julle aan my tafel versadig eet aan perde en strydwabemannings, aan dapper vegters en allerlei soldate,” sê die Here my God. 21“Ek openbaar my mag aan die nasies: al die nasies sal die oordeel sien wat Ek bring, die mag waarmee Ek teen hulle optree. 22Van daardie dag af en verder sal Israel besef dat Ek die Here hulle God is.

23“Die ander nasies sal besef dat die Israeliete in ballingskap weggevoer is oor hulle sonde, hulle ontrou teenoor My, en dat Ek hulle verwerp het en hulle oorgegee het in die mag van hulle vyande om almal deur die swaard afgemaai te word. 24Ek het dit aan Israel gedoen, Ek het hulle verwerp oor hulle onreinheid en hulle opstandigheid.”

25So sê die Here my God: “Ek gaan nou die lot van Jakob verander, Ek gaan My ontferm oor die hele Israel, Ek gaan die eer van my heilige Naam handhaaf. 26-27Wanneer hulle weer veilig in hulle land woon en vir niemand bang hoef te wees nie, wanneer Ek hulle terugbring onder die nasies uit en hulle bymekaarmaak uit die lande van hulle vyande, sal hulle die vernedering vergeet wat hulle moes ondergaan oor hulle ontrou aan My. Ek sal My voor die oë van al die nasies deur Israel laat erken as die heilige God. 28Hulle sal besef dat Ek die Here hulle God is. Nadat Ek hulle in ballingskap laat wegvoer het na ander nasies toe, sal Ek hulle weer in hulle land bymekaarbring; niemand sal in ballingskap agterbly nie. 29Ek sal hulle nooit weer verwerp nie; Ek het my Gees uitgestort op Israel,” sê die Here my God.

Esegiël word in 'n gesig na Jerusalem toe gebring

1Dit was die tiende dag van die nuwe jaar, die vyf en twintigste jaar van ons ballingskap en die veertiende jaar nadat Jerusalem verwoes is. Presies op dié dag het die mag van die Here my in besit geneem en my 2in 'n gesig wat van God gekom het, na Jerusalem toe gebring. Hy het my na die land Israel toe gebring en my op 'n baie hoë berg neergesit. Aan die suidekant op die berg was daar geboue wat gelyk het na dié van 'n stad. 3Hy het my daarnatoe gebring en daar sien ek toe 'n man wat gelyk het of hy van brons is. Daar was 'n linnetou en 'n meetstok in sy hand, en hy het by 'n poort gestaan.

4Die man het vir my gesê: “Mens, jy moet goed kyk en luister, jy moet oplet na alles wat ek vir jou wys, want jy is hiernatoe gebring om alles vir jou te wys. Wat jy gesien het, moet jy dan vir Israel gaan sê.”

Die muur om die tempelgeboue

5Daar was 'n muur buite-om die tempelgeboue. Die meetstok wat die man in sy hand gehad het, was drie meter lank, langer dus as 'n gewone meetstok. Die man het die muur gemeet, en dit was drie meter breed en net so hoog.

Die buitenste oospoort

6Daarna het die man na die poort toe gegaan wat oos gekyk het, die trappe opgeklim en die poort se drumpel gemeet. Dit was drie meter breed. Daar was net een drumpel en hy was drie meter breed. 7Die sykamers binne-in die poortgebou was elkeen drie meter in die vierkant, en die mure tussen die sykamers was elkeen twee en 'n half meter dik. Aan die binnekant, agter teen die poortgebou, was daar 'n toegangsportaal. Die drumpel na die portaal toe was drie meter breed. 8Die man het die drumpel na die toegangsportaal toe gemeet. Dit was drie meter breed. 9Daarna het hy die toegangsportaal self gemeet. Dit was vier meter, en die mure weerskante van die agterste uitgang van die toegangsportaal was een meter dik. 10Aan weerskante binne-in die poortgebou was drie sykamers, almal ewe groot, en die mure tussenin was ewe dik. 11Die man het ook die poort gemeet. As dit oop is, was dit vyf meter wyd, maar die volle wydte van die poort was ses en 'n half meter. 12Daar was afskortings voor die sykamers weerskante in die poortgebou. Die afskortings was 'n half meter dik en die sykamers was drie meter in die vierkant. 13Die man het verder die wydte van die poortgebou gemeet van waar die dak en die muur van een sykamer aan mekaar raak tot by dieselfde plek aan die teenoorgestelde kant. Die wydte was twaalf en 'n half meter. Die sykamers se ingange was die een reg teenoor die ander. 14Die man het dieselfde gedoen met die toegangsportaal. Die afstand na die kant van die voorhof toe agter rondom die poortgebou was dertig meter, 15en regoor die buitenste poortgebou voor die toegangsportaal van die binneste poort was dit vyf en twintig meter. 16Agter in die sykamers weerskante in die poortgebou en in die mure tussen die sykamers was daar vensteropenings met hortjies. Dit was ook die geval met die toegangsportaal. Daar was vensteropenings rondom in die poortgebou. Teen die mure tussen die vertrekke was daar palmversierings.

Die buitenste voorhof

17Daarna het die man my na die buitenste voorhof toe gevat. Rondom die voorhof was daar vertrekke en 'n plaveisel. Daar was dertig vertrekke teenaan die plaveisel. 18Die plaveisel was weerskante van die poorte en was so breed as wat die poorte lank was. Dit was die onderste plaveisel. 19Die man het die afstand gemeet tussen die voorkant van die buitenste poort en die buitekant van die binneste voorhof. Dit was vyftig meter aan die ooste- en aan die noordekant.

Die buitenste noordpoort

20Daarna het hy die lengte en die breedte gemeet van die poortgebou teen die buitenste voorhof, die poort wat noord gekyk het. 21Die poortgebou het ook weerskante drie sykamers gehad, en die afmetings van sy tussenmure en sy toegangsportaal was dieselfde as dié van die poortgebou wat reeds beskryf is. Dié poortgebou was ook vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd. 22Sy vensteropenings, sy toegangsportaal en sy palmversierings was net so groot as dié van die poort wat oos gekyk het, en die poort is bereik deur middel van sewe trappe. Agteraan was ook 'n toegangsportaal. 23Daar was 'n poortgebou teen die binneste voorhof regoor die noordpoort net soos in die geval van die oospoort. Die man het die afstand tussen die buitenste en die binneste poorte gemeet. Dit was vyftig meter.

Die buitenste suidpoort

24Daarna neem die man my na die suidekant toe, waar die suidpoort was. Hy het die tussenmure en die toegangsportaal van die poortgebou gemeet, en dit was dieselfde as dié in die ander poortgeboue. 25Net soos die ander, het dié poortgebou se toegangsportaal ook vensteropenings rondom gehad, en was hy vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd. 26Daar was sewe trappe op na die poort toe en agteraan was 'n toegangsportaal. Op elkeen van die tussenmure weerskante was daar 'n palmversiering. 27Hier aan die suidekant was daar ook 'n poortgebou teen die binneste voorhof. Die man het die afstand tussen die binneste en die buitenste poortgeboue aan die suidekant gemeet. Dit was vyftig meter.

Die binneste suidpoort

28Daarna het die man my deur die suidpoort na die binneste voorhof toe gebring, en die suidpoort daar gemeet. Die afmetings was dieselfde as dié van die ander. 29Die sykamers, die tussenmure en die toegangsportaal in dié gebou het dieselfde afmetings gehad as dié in die ander. Die gebou self en die toegangsportaal het rondom vensteropenings gehad en was vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd. 30Elke poortgebou het 'n toegangsportaal gehad van twaalf en 'n half meter lank en twee en 'n half meter wyd. 31Die poortgebou het 'n toegangsportaal na die buitenste voorhof toe gehad, palmversierings aan sy tussenmure, en ag trappe op na die poort toe.

Die binneste oospoort

32Daarna het die man my na die oostekant van die binneste voorhof toe gebring en die poort daar gemeet. Die afmetings was dieselfde as dié van die ander. 33Die sykamers, die tussenmure en die toegangsportaal in dié gebou het dieselfde afmetings gehad as dié in die ander. Die gebou self en die toegangsportaal het rondom vensteropenings gehad en was vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd. 34Die gebou het 'n toegangsportaal na die buitenste voorhof toe gehad, daar was palmversierings aan die tussenmure weerskante, en ag trappe op na die poort toe.

Die binneste noordpoort

35Daarna het die man my na die noordpoort toe gebring en dit gemeet. Die afmetings was dieselfde as dié van die ander. 36Daar was sykamers, tussenmure en 'n toegangsportaal, en daar was vensteropenings rondom. Die poortgebou was vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd. 37Sy toegangsportaal was na die buitenste voorhof toe, daar was palmversierings aan die tussenmure weerskante en ag trappe op na die poort toe.

Die tafels vir die voorbereiding van die offers

38Daar was 'n vertrek met sy deuropening in die toegangsportaal van die noordelike binnepoort. Dit is waar die brandoffers afgespoel is. 39In die toegangsportaal was daar aan weerskante twee tafels waarop die diere vir die brandoffer, die sondeoffer en die skuldoffer afgeslag is. 40Buite langs die toegangsportaal, by die noordelike poortingang, was daar twee tafels, en aan die ander kant van die toegangsportaal was daar ook twee tafels. 41Daar was dus aan weerskante van die poortingang vier tafels, altesaam ag, en die slagwerk is op hulle gedoen. 42Daar was vir die brandoffer vier tafels van gekapte klip, elkeen 'n driekwart meter in die vierkant en 'n half meter hoog. Die gereedskap waarmee die offerdiere geslag is, is gebêre op 43lyste van 'n kwart meter breed wat rondom teen die gebou aangebring is, en die vleis vir die offers is op die tafels neergesit.

Die kwartiere van die tempelpersoneel

44Buitekant die binneste poort, in die binneste voorhof, was die vertrekke van die sangers. Die vertrekke was teen die noordpoort en het suid gekyk. Daar was ook teen die oospoort 'n vertrek, wat noord gekyk het. 45Die man het vir my gesê: “Een vertrek wat suid kyk, is bedoel vir die priesters wat in die tempel diens doen. 46Die vertrek wat noord kyk, is bedoel vir die priesters wat by die altaar diens doen. Net die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok kan na die altaar toe kom om die diens aan die Here te verrig.”

Die binneste voorhof en die tempelgebou

47Die man het die voorhof gemeet. Dit was vyftig meter in die vierkant. Die altaar was voor die tempel.

48Daarna het hy my na die voorportaal van die tempel toe gebring en die mure weerskante van die portaal se ingang gemeet. Hulle was twee en 'n half meter lank aan weerskante. Die ingang was een en 'n half meter breed aan weerskante. 49Die portaal was tien meter lank en ses meter breed, en die ingang is bereik deur middel van tien trappe. Daar was pilare teen die mure weerskante van die ingang, een aan elke kant.

U laat die mense juig

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. 'n Lied.

2Aan U, o God, kom 'n lofsang toe in Sion:

geloftes moet betaal word 3aan U wat die gebed verhoor.

Na U toe sal alle mense kom 4om hulle skuld te bely.

Ons sondes het ons ingehaal, maar U maak ons daarvan vry.

5Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies

en laat naderkom om in u tempel te bly.

Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet,

die goeie dinge in u heilige woning.

6In u trou antwoord U ons met kragtige dade,

o God, ons Verlosser,

op wie ook die mense in afgeleë lande

en op verre seë vertrou.

7U is met mag omgewe,

U laat deur u krag die berge vas bly staan;

8U laat die gedruis van die see,

die geraas van die golwe,

die rumoer van die nasies bedaar,

9sodat ook die mense in afgeleë lande

ontsag kry vir die tekens van u mag;

in die ooste en in die weste

laat U die mense juig.

10U sorg vir die land en gee oorvloed,

U maak dit baie vrugbaar.

Die groot riviere is vol water,

U laat die koring welig staan.

Alles is u werk!

11U maak die ploegvore vol water en die kluite nat,

U laat hulle sag word van die reëns,

U laat alles welig groei.

12U kroon die jaar met u goeie gawes.

Waar U ook gaan, is daar oorvloed!

13Daar is volop weiding in die woestyn;

die bulte juig,

14die velde wemel van die kleinvee,

die vlaktes staan vol koring;

hulle juig en hulle sing.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS