Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 194

ESEGIËL 21–25, SPREUKE 30

Bybelteks(te)

1Toe kom die woord van die Here tot my: 2“Mens, draai jou gesig na Jerusalem toe, laat jou woorde na die heiligdomme toe vloei, tree op as profeet teen die land Israel. 3Sê vir die land Israel: So sê die Here: Ek is jou vyand, Ek gaan my swaard uit sy skede trek en dié wat reg doen sowel as dié wat verkeerd doen, uit jou uitroei. 4En omdat Ek dié wat reg doen sowel as dié wat verkeerd doen, uit jou wil uitroei, daarom word my swaard getrek teen al wat leef, van die suide af tot in die noorde. 5Al wat leef, sal weet dat Ek, die Here, my swaard getrek het, en dit sal nie teruggaan skede toe nie.

6“En jy, mens, moet kreun. Jy moet voor hulle oë 'n ineenstorting kry en bitterlik kreun. 7En as hulle vir jou vra hoekom jy kreun, moet jy sê: Oor die tyding wat kom; elke hart sal verstyf van angs, al die hande sal slap hang, almal sal moed verloor, water sal teen al die knieë afloop; dit kom, dit sal gebeur,” sê die Here my God.

8Die woord van die Here het tot my gekom: 9“Mens, tree as profeet op, sê: So sê die Here! Roep:

“Swaard, swaard! Hy is skerpgemaak en blinkgevryf,

10hy is skerpgemaak vir die slagting,

hy is blinkgevryf om soos weerlig te blits!

Of moet ons bly wees oor die koninklike septer

wat geen boom ontsien nie, my seun?

11'n Mens laat die swaard blinkvryf

en dit word in die hand vasgevat;

dit is 'n skerpgemaakte swaard,

dit is blinkgevryf

om dit in die hand te sit van hom wat moet doodmaak.

12Skree, mens, huil!

Die swaard is teen my volk gerig

en teen al die leiers van Israel.

Hulle is saam met my volk uitgelewer aan die swaard.

Slaan van ontsteltenis jou hande teen jou heupe!

13“Die vuurproef is daar. En wat sal gebeur as die koninklike septer wat niks ontsien nie, nie meer daar is nie?” sê die Here my God.

14“Maar jy, mens, tree op as profeet,

slaan jou hande inmekaar.

Laat die swaard twee keer, drie keer swaai.

Dit is 'n swaard wat mense doodmaak,

'n groot swaard wat doodmaak,

hy deurboor mense.

15Hy laat moed wegsmelt,

hy vermenigvuldig die gesneuweldes.

Ek laat die swaard 'n slagting aanrig

in al hulle stede.

Hy is gemaak om te blits,

hy is vasgevat vir die slagting.

16Wys hoe skerp jy is, kap regs en links,

waar jou lem ook al heen gedraai word.

17Dan sal Ek ook my hande inmekaar slaan

en my toorn tot bedaring bring.

Ek, die Here, het dit gesê.”

Die koning van Babel kom

18Die woord van die Here het tot my gekom: 19“Mens, jy moet vir die koning van Babel se swaard twee paaie maak om op aan te kom. Die twee paaie moet uit dieselfde land kom en jy moet 'n padwyser uitkap waar die pad na die stad toe begin. Jy moet dit uitkap 20en die rigting aandui waarlangs die swaard kan kom na Rabba, die Ammonietestad toe, en na Juda, na die vestingstad Jerusalem toe. 21Die koning van Babel staan by die kruispad waar die twee paaie begin, en hy soek na 'n teken, hy skud die pyle, hy raadpleeg sy afgodsbeeldjies, hy kyk na 'n dier se lewer. 22Die teken wat hy gesoek het, kom in sy regterhand: Jerusalem! Die koning van Babel gaan stormramme regmaak, die bevel gee om aan te val, oorlogskrete skreeu, die stormramme teen die poorte opstel, 'n beleëringswal opgooi, beleëringswerke bou. 23Die mense in Jerusalem sal dink dis 'n vals teken, want hulle het plegtige ede afgelê aan die koning van Babel. Maar hy sal hulle herinner aan hulle oortreding en hy sal hulle aanval.

24“Daarom,” so sê die Here my God, “het julle self gewys hoe skuldig julle is toe julle opstandigheid aan die lig gekom het en julle sondes duidelik geword het aan alles wat julle doen, julle is aan die kaak gestel en julle sal aangeval word.

25“En jy, regeerder van Israel wat deur jou goddeloosheid gaan sterwe, jy wie se dag gekom het, die tyd van afrekening,” 26so sê die Here my God: “Haal af jou tulband en jou kroon, niks bly soos dit is nie; wat onder is, moet op, en wat bo is, moet af. 27Puin, puin, puin maak Ek dit! Maar ook dit sal nie gebeur voordat hy kom wat die stad moet straf nie, en Ek sal die stad vir hom gee.”

Oor die Ammoniete

28“En jy, mens, tree op as profeet en sê: So sê die Here my God oor die Ammoniete en oor hulle gespot. Sê:

“Swaard, swaard wat getrek is vir die slagting,

blinkgevryf is om te blits,

29al was daar gesigte oor jou wat nie bestaan het nie,

voortekens oor jou wat leuens was,

jy kap reeds aan die nekke

van dié wat deur hulle goddeloosheid gaan sterwe,

dié wie se dag gekom het, die tyd van afrekening.

30Maar sit die swaard terug in sy skede!

Op die plek waar jy geskep is,

in die land van jou herkoms sal Ek jou straf.

31Ek sal my woede oor jou laat losbreek,

Ek blaas die vuur van my gramskap oor jou,

Ek gee jou oor in die mag van wrede mense

wat weet hoe om uit te roei.

32Jy sal deur vuur verteer word,

jou bloed sal vloei in die land,

die gedagtenis aan jou sal verdwyn,

want Ek, die Here, het gepraat.”

Jy het self jou oordeelsdag nader gebring

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, wil jy hom oordeel, wil jy oor die stad van bloedvergieting oordeel? Vertel dan vir hom van sy afskuwelike dade. 3Jy moet sê: So sê die Here my God: Stad wat bloed vergiet het in homself en so die oordeel oor hom gebring het, wat vir hom afgode gemaak het en so homself verontreinig het, 4jy staan skuldig aan die bloed wat jy vergiet het, jy is onrein deur jou afgode wat jy gemaak het. Jy het self jou oordeelsdag nader gebring en by jou einde uitgekom. Ek maak jou 'n spot onder die nasies; al die lande sal vir jou lag. 5Dié wat naby jou is en dié wat ver van jou af is, sal vir jou lag. Jy gaan so erg te kere dat jou naam vuil geword het.

6“Elke regeerder van Israel het sy mag misbruik om bloed te vergiet in jou. 7Vader en moeder is in jou verag, die vreemdeling is verdruk in jou, die weeskind en die weduwee is mishandel in jou. 8Wat aan My gewy is, het jy geminag, my sabbatte het jy ontheilig. 9Daar is mense in jou wat ander belaster om hulle dood te veroorsaak, wat aan die offermaaltye op die berge deelneem en wat afstootlike dinge in jou doen. 10Daar is mense in jou wat by hulle pa's se vrouens slaap en wat vrouens onteer selfs terwyl hulle menstrueer en onrein is. 11Die een begaan afskuwelike dinge met die ander se vrou, die een pleeg afstootlike dade met sy skoondogter en verontreinig haar, die een onteer sy halwe suster, sy pa se dogter. 12Hulle laat hulle in jou omkoop om moord te pleeg, hulle vat rente en woekerwins, hulle pleeg bedrog en doen ander te kort: hulle maak of Ek nie daar is nie,” sê die Here my God.

13“Ek slaan my hande saam oor die oneerlike wins wat jy maak en oor die bloed wat daar in jou vergiet is. 14Sal jy nog selfversekerd wees wanneer jy jou sterk probeer maak vir die tyd wanneer Ek met jou handel? Ek, die Here, het gepraat, en Ek sal dit doen. 15Ek sal jou versprei onder die nasies en jou uitmekaarjaag na ander lande toe, Ek gaan 'n end maak aan die onreinheid in jou. 16Jy het jouself onrein gemaak in die oë van die ander nasies. Jy sal besef dat Ek die Here is.”

Julle word gesmelt in Jerusalem

17Die woord van die Here het tot my gekom: 18“Mens, Israel het vir My soos metaal geword. Hulle almal is die koper, die tin, die yster, die lood binne-in die smeltoond, die metaal, die silwer.”

19So sê die Here my God: “Omdat julle almal metaal geword het, gaan Ek julle in Jerusalem bymekaarbring. 20Soos 'n mens silwer, koper, yster, lood en tin saam in 'n smeltoond gooi en die vuur aanblaas om die metaal te smelt, so gooi Ek julle in my toorn en my gramskap saam in die smeltoond om julle te smelt. 21Ek maak julle bymekaar en blaas die vuur van my toorn aan teen julle om julle in Jerusalem te smelt. 22Soos silwer in 'n oond gesmelt word, so word julle gesmelt in Jerusalem. Wanneer Ek my toorn oor julle laat losbreek, sal julle besef dat Ek die Here is.”

Ek laat hulle kry wat hulle verdien

23Die woord van die Here het tot my gekom: 24“Mens, sê vir die land: Jy is 'n land wat geen reën sal kry die dag as my toorn losbreek nie.

25“Die regeerders in die land sweer saam en is soos brullende leeus op vangste uit. Hulle vreet mense op en vat die rykdom en kosbaarhede vir hulleself, hulle maak baie vrouens in die land weduwees. 26Die priesters in die land doen my wet geweld aan en hulle ontwy wat aan My gewy is. Hulle maak nie onderskeid tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie, en hulle ken nie die onderskeid tussen rein en onrein nie. Vir my sabbatte gee hulle niks om nie. So word Ek tussen hulle oneer aangedoen. 27Die amptenare in die land is soos verskeurende wolwe. Hulle moor, hulle laat mense doodgaan, hulle maak oneerlike wins. 28Die profete in die land pleister alles toe: hulle sien gesigte wat nie daar is nie, verkondig leuens as waarsêery en sê: ‘So sê die Here my God,’ terwyl Ek niks gesê het nie. 29Die burgers van die land verdruk en beroof mense. Hulle buit armes en mense in nood uit en hulle verdruk die vreemdeling asof daar geen reg bestaan nie. 30Ek het iemand tussen hulle gesoek wat 'n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie. 31Daarom laat Ek my toorn oor hulle losbreek en vernietig Ek hulle met die vuur van my gramskap. Ek laat hulle kry wat hulle verdien,” sê die Here my God.

Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, daar was twee vrouens, dogters van dieselfde ma. 3Hulle was al onsedelik in Egipte, toe hulle jonk was. Dáár is hulle borste al betas, dáár, toe hulle nog jongmeisies was, is daar al aan hulle borste gevat. 4Die oudste se naam was Ohola, en haar suster was Oholiba. Hulle het aan My behoort en hulle het seuns en dogters gehad. Ohola se naam was eintlik Samaria en Oholiba s'n was Jerusalem. 5Ohola was ontrou aan My en het gesmag na haar minnaars, die Assiriërs. Hulle was vegters, 6goewerneurs en ampsdraers wat pers klere gedra het, almal uitgesoekte manne, ruiters te perd. 7Sy het gewillig met hulle omgegaan, met al die beste Assiriërs. Sy het haar verontreinig met almal na wie sy gesmag het, met al hulle afgode. 8Sy het haar onsedelikheid waarmee sy in Egipte begin het, nie laat vaar nie. Hulle het toe sy nog jonk was, by haar geslaap, aan haar borste gevat toe sy nog 'n jongmeisie was. Hulle het hulle luste laat botvier met haar. 9Daarom het Ek haar oorgegee in die mag van haar minnaars, in die mag van die Assiriërs na wie sy gesmag het. 10Hulle het haar klere uitgetrek, haar seuns en dogters weggevat en haar toe met die swaard doodgemaak. Die straf wat sy ondergaan het, het van haar 'n voorbeeld gemaak wat vrouens moes afskrik.

11“Haar suster Oholiba het dit alles gesien. Maar haar wellus en haar onsedelikheid was nog erger as dié van haar suster. 12Sy het gesmag na die Assiriërs, goewerneurs, ampsdraers, vegters met pragtige klere aan, ruiters te perd, almal uitgesoekte manne. 13Ek het gesien hoe sy haar verontreinig. Die twee susters het dieselfde pad geloop. 14Maar Oholiba het met haar onsedelikheid nog verder gegaan. Sy het mansfigure teen 'n muur afgeteken gesien, afbeeldings van Galdeërs, met 'n rooi kleurstof geteken; 15hulle het lendedoeke om die heupe gehad en oorhangende tulbande op die koppe; almal het na offisiere gelyk en dit het gelyk of hulle Babiloniërs kon wees, afkomstig uit Galdeërland. 16Toe sy hulle sien, het sy na hulle gesmag; sy het boodskappers na hulle toe in Galdeërland gestuur, 17en die Babiloniërs het na haar toe gekom en by haar geslaap en haar verontreinig met hulle onsedelikheid. Maar nadat sy van hulle onrein geword het, het sy 'n teësin in hulle gekry.

18“Omdat sy so openlik onsedelik was en haar klere vir almal uitgetrek het, het Ek ook 'n teësin in haar gekry, net soos in haar suster. 19Sy het immers aangegaan met haar onsedelikheid en haar rondlopery wat al in haar jeug in Egipte bestaan het, nie laat vaar nie. 20Sy het gesmag na die wellustelinge onder hulle wat so goed bedeeld was soos donkiehingste en perdehingste. 21Ja, jy het bly terugverlang na jou afstootlike gedrag in jou jeug toe die Egiptenaars jou borste betas, jou jeugdige borste gestreel het.

22“Daarom, Oholiba,” so sê die Here my God, “gaan Ek nou jou minnaars in wie jy 'n teësin gekry het, teen jou aanhits, Ek bring hulle van alle kante af na jou toe; 23die Babiloniërs, al die Galdeërs, die mense van Pekod, Soa en Koa, en al die Assiriërs saam met hulle, uitgesoekte manne, almal goewerneurs en ampsdraers, offisiere en vooraanstaande mense, almal te perd. 24Hulle sal jou uit die noorde oorval met strydwaens en groot leërmagte. Toegerus met klein en groot skilde en met helms, sal hulle rondom teen jou stelling inneem. Ek gee jou aan hulle oor om jou te straf, en hulle sal jou straf volgens hulle gebruike. 25Ek gee my woede teen jou vrye teuels: hulle sal hulle op jou wreek en jou neus en jou ore afsny. Wat van jou inwoners oor is, sal met die swaard doodgemaak word. Hulle sal jou seuns en jou dogters vat, en wat van jou oorbly, sal verbrand word. 26Hulle sal jou klere uittrek en jou juwele vat. 27Ek gaan 'n end maak aan jou aanstootlike gedrag, jou onsedelikheid wat jy al in Egipte bedryf het. Jy sal nie meer na minnaars kyk nie en nie meer aan Egipte dink nie.”

28So sê die Here my God: “Ek gee jou oor in die mag van dié wat jy haat, dié in wie jy 'n weersin gekry het. 29Hulle sal hulle haat teen jou laat geld, hulle sal alles vat waarvoor jy gewerk het en jou kaal, sonder klere los. Almal sal jou onsedelike naaktheid sien. Jou afstootlike gedrag, jou onsedelikheid 30doen dit aan jou. Jy het in jou ontrou ander nasies nagevolg en jou met hulle afgode verontreinig. 31Jy het jou suster se voorbeeld gevolg, en daarom het Ek jou die beker laat drink wat sy moes drink.”

32So sê die Here my God:

“Jy sal die beker drink wat jou suster moes drink,

'n diep, wye beker.

Jy sal bespot en uitgelag word,

want daar is baie in die beker.

33Jy sal jou vol drink en dronk word van swaarkry;

die beker wat jou suster Samaria moes drink,

is 'n beker vol angs en skrik.

34Jy sal hom leeg drink, alles opdrink,

jy sal aan sy skerwe knaag,

jy sal jou borste stukkend skeur.

Ek, die Here, het gepraat,”

sê die Here my God.

35So sê die Here my God: “Omdat jy My vergeet het en jou rug vir My gedraai het, sal jy die straf vir jou aanstootlike gedrag en jou onsedelikheid dra.”

36Die Here het vir my gesê: “Mens, oordeel jy oor Ohola en Oholiba. Vertel vir hulle van hulle afskuwelike dade. 37Hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande. Hulle het owerspel gepleeg met hulle afgode en hulle het boonop hulle kinders wat hulle vir My in die wêreld gebring het, as offers laat verbrand. 38Hulle het My ook nog dít aangedoen: hulle het my heiligdom ontwy en op dieselfde dag my sabbatte ontheilig; 39hulle het hulle kinders vir hulle afgode geslag en op dieselfde dag in my heiligdom gekom en dit ontwy. Dit is wat hulle binne-in my huis gedoen het.

40“Ja, jy het mans van ver af laat kom, jy het boodskappers na hulle toe gestuur en hulle het gekom. Jy het gebad, jou oë geverf en jou juwele aangesit. 41Jy het op 'n pragtige bed gesit en voor jou was 'n gedekte tafel waarop jy my wierook en my olie gesit het.

42“Die stemme van 'n sorgelose klomp was rondom haar. By dié manne is van al die baie mense wat daar is, ook nog mense van Seba uit die woestyn bygebring, en dié het vir die twee susters armbande aangesit en op hulle koppe pragtige kranse. 43Ek het gedink: kom hulle owerspel pleeg met 'n vrou wat klaar opgebruik is? Het sy nou 'n gewone hoer geword? 44Hulle het na haar toe gekom soos 'n mens na 'n hoer toe kom. So het hulle na Ohola en Oholiba, die afstootlike vrouens toe gekom. 45Regverdige manne moet oor dié vrouens oordeel volgens die bepaling oor owerspel en die bepaling oor bloedvergieting, want hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande.”

46So sê die Here my God: “Roep 'n volksvergadering teen hulle saam, maak van hulle iets waaroor mense met afgryse vervul word en laat hulle geplunder word. 47Die volksvergadering moet hulle met klippe doodgooi en hulle met byle in stukke kap; hulle seuns en dogters moet doodgemaak en hulle huise verbrand word. 48Ek wil 'n end maak aan die afstootlike gedrag in die land en al die vrouens afskrik dat hulle hulle nie so afstootlik gedra nie.

49“Julle afstootlike gedrag sal op julle eie kop afkom, julle sal die straf dra vir julle sonde met julle afgode. Dan sal julle besef dat Ek die Here God is.”

Ellende wag vir die stad van bloedvergieting

1Die woord van die Here het tot my gekom op die tiende van die tiende maand, in die negende jaar: 2“Mens, jy moet dié datum aanteken, presies dié datum. Die koning van Babel het Jerusalem vandag aangeval. 3Vertel vir dié weerbarstige volk 'n gelykenis. Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God:

“Sit 'n pot op die vuur, sit dit op

en gooi daar water in.

4Sit vleis daarin,

net goeie vleis,

boud en blad,

en sit die beste bene by,

5vat van die beste skape.

Pak die brandhout in 'n ring onder die pot

en laat dit kook;

maak die bene gaar saam met die vleis in die pot.”

6So sê die Here my God: “Ellende wag vir die stad van bloedvergieting, die verroeste pot waarvan die roes nie wil afkom nie. Haal stuk vir stuk vleis uit, moenie uitsoek nie. 7Die bloed wat deur die stad vergiet is, is binne-in hom; hy het dit op 'n kaal klip vergiet, hy het dit nie op die grond uitgegooi sodat die stof dit kon bedek nie. 8My toorn het ontbrand, Ek sal wraak neem: Ek vergiet sy bloed op 'n kaal klip, dit sal nie bedek word nie.”

9So sê die Here my God: “Ellende wag vir die stad van bloedvergieting. Ek gaan 'n groot hoop hout aanpak. 10Sit baie hout op, steek die vuur aan, kook die vleis, roer die sous in, braai die bene! 11Laat die pot dan leeg op die kole staan sodat die brons rooiwarm kan word en die onreinheid wat in die pot is, kan smelt en die roes kan afkom. 12Maar dit bring net moeite, die baie roes brand nie van die pot af nie. Die roes aan die pot 13is jou afstootlike onreinheid. Ek wou jou reinig, maar jy het nie rein geword nie. Jy gaan nou ook nie meer rein word voordat Ek my woede op jou gekoel het nie. 14Ek, die Here, het gepraat. Dit kom, Ek gaan dit doen. Ek gaan nie maak of Ek niks sien nie, Ek gaan nie verskoon en nie jammer kry nie. Jy gaan gestraf word soos jy verdien, soos jou optrede dit eis,” sê die Here my God.

Esegiël sal vir julle die voorbeeld wees

15Die woord van die Here het tot my gekom: 16“Mens, Ek gaan jou vrou wat jou soveel vreugde gee, van jou af wegvat deur 'n skielike dood. Jy mag nie treur en huil nie, nie 'n traan stort nie. 17Jy moet in stilte sug, jy mag nie rou nie. Hou jou tulband op en jou skoene aan. Moenie jou baard bedek nie en moenie eet wat mense gewoonlik by so 'n geleentheid eet nie.”

18Ek het die môre nog met die volk gepraat, en die nag het my vrou gesterf. Ek het die volgende oggend gedoen soos ek beveel is. 19Die mense het vir my gevra: “Wil jy nie vir ons sê wat dit vir ons beteken dat jy so maak nie?”

20Ek het vir hulle gesê: “Die woord van die Here het tot my gekom: 21Sê vir Israel: So sê die Here my God: Ek gaan my heiligdom ontwy, julle vesting waarop julle so trots is, wat julle soveel vreugde gee en waarvoor julle so lief is. Julle sal julle seuns en dogters aan hulleself oorlaat, en hulle sal met die swaard doodgemaak word.

22“Julle sal dan doen soos ek nou doen: julle sal julle baard nie bedek nie en die kos nie eet wat mense by sulke geleenthede eet nie. 23Julle sal tulbande op hê en skoene aan, julle sal nie treur nie en nie huil nie. Van julle sonde sal julle wegteer en by mekaar sit en kla.

24“Ja, Esegiël sal vir julle die voorbeeld wees om in alles na te volg. Wanneer dit gebeur, sal julle besef dat Ek die Here God is.

25“En jy, mens, die dag wanneer Ek hulle vesting wegvat, hulle vreugde en hulle roem wat hulle soveel vreugde gee en alles is wat hulle begeer, en ook hulle seuns en hulle dogters, 26dié dag sal daar 'n vlugteling na jou toe kom om vir jou die berig te bring. 27Dié dag sal jy kan praat met die vlugteling, jy sal praat en nie meer stom wees nie. So sal jy vir hulle 'n voorbeeld wees, en hulle sal besef dat Ek die Here is.”

Teen die Ammoniete

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, draai jou gesig na die Ammoniete toe en tree op as profeet teen hulle. 3Sê vir die land van die Ammoniete: Hoor die woord van die Here my God!”

So sê die Here my God: “Jy verlekker jou daarin dat my heiligdom ontwy is, dat die land van Israel verlate lê, dat Juda in ballingskap moes weggevoer word.

4“Nou gaan Ek jou 'n besitting maak van die mense uit die ooste. Hulle sal hulle kampe in jou kom opslaan, in jou kom woon, jou vrugte opeet en jou melk opdrink. 5Ek maak Rabba 'n weiveld vir kamele, Ek maak jou 'n plek waar kleinvee lê en rus. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”

6So sê die Here my God: “Jy het hande geklap, met jou voete gestamp, jou verheug in jou veragting vir die land van Israel. 7Nou gaan Ek my hand teen jou uitsteek en jou die spot onder die nasies maak. Ek gaan jou uitroei tussen die volke uit, jou laat ophou bestaan as 'n land. Ek gaan 'n end aan jou maak. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”

Teen Moab en Edom

8So sê die Here my God: “Moab en Seïr sê Juda het soos enige ander nasie geword.

9“Nou gaan Ek Moab se berghange stroop van stede, van die mooi stede in die land, Bet-Jesimot, Baäl-Meon en Kirjatajim, en die stede op die grense van die land. 10Daar sal nie meer onder die nasies gedink word aan die Ammoniete nie, en Ek maak Moab saam met die land van die Ammoniete 'n besitting van die mense uit die ooste. 11Ek gaan Moab straf. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

12So sê die Here my God: “Edom het sy wraaksug op Juda uitgestort, hy het hom skuldig gemaak aan 'n misdaad toe hy teen Juda wraak geneem het.

13“Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek my hand teen Edom uitsteek en mens en dier uit hom uitroei en hom 'n puinhoop maak van Teman af tot by Dedan. Hulle sal deur die swaard afgemaai word. 14Ek sal my wraak teen Edom in die hande van my volk Israel laat, en hulle sal met Edom maak soos my toorn, my gramskap dit vereis. Edom sal my wraak leer ken,” sê die Here my God.

Teen die Filistyne

15So sê die Here my God: “Die Filistyne het hulle wraak gekoel, hulle het met veragting hulle wraaksug uitgestort, hulle wou Juda tot niet maak op grond van die ou vyandskap.

16“Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek my hand uitsteek teen die Filistyne, gaan Ek hulle, hierdie Kretense, uitroei, 'n end maak aan dié wat nog langs die kus oor is. 17Ek gaan My voluit op hulle wreek, Ek gaan hulle straf in my gramskap. Wanneer Ek My op hulle wreek, sal hulle besef dat Ek die Here is.”

1Die woorde van Agur seun van Jake. 'n Belangrike uitspraak.

Die man het vir Itiël gesê, vir Itiël en vir Ukal:

2Ek is meer dier as mens,

ek het nie die verstand van 'n mens nie.

3Ek het nie wysheid geleer nie,

ek ken nie die heilige God nie.

4Wie het na die hemel toe opgegaan en weer afgekom?

Wie het die wind in sy twee hande gevat?

Wie het die water in 'n doek toegedraai?

Wie het die grense van die aarde vasgestel?

Wat is sy naam en wat is sy seun se naam, as jy dit weet?

5Elke belofte van God is betroubaar;

Hy beskerm dié wat by Hom skuil.

6Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie;

Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as 'n leuenaar.

7Net twee dinge vra ek van U;

moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf:

8moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie;

moet my nie arm maak of ryk nie,

gee my net die kos wat ek nodig het,

9sodat ek nie te veel het en U verloën

en sê: “Wie is die Here?” nie,

en sodat ek nie arm word en steel

en my God se Naam oneer aandoen nie.

10Moenie 'n slaaf by sy eienaar beskinder nie;

dalk vervloek die slaaf jou en moet jy die gevolge dra.

11Daar is 'n soort mens wat sy vader vervloek

en vir sy moeder nie 'n goeie woord het nie,

12'n soort mens wat homself as rein beskou,

maar van wie die vuilheid nie afgewas is nie,

13'n soort mens wat vol hoogmoed,

vol eiewaan is,

14'n soort mens wat koelbloedig en wreed is in sy hebsug

en wat teer op die hulpeloses en armes in die land.

15Die bloedsuier het twee dogters, hulle is “Gee!” en “Gee!”

Daar is drie, nee, vier wat nooit genoeg kry nie,

wat nooit sê: “Genoeg!” nie:

16die doderyk,

die onvervulde begeerte om moeder te word,

grond wat nie deurnat is nie

en 'n vuur wat nooit sê “Genoeg!” nie.

17Die oë van 'n man wat met sy vader spot

en vir wie dit benede hom is om sy moeder te gehoorsaam,

sal uitgepik word deur die kraaie,

opgevreet word deur die roofvoëls.

18Daar is drie dinge, nee, vier wat bo my begrip is,

wat ek nie verstaan nie:

19hoe 'n aasvoël in die lug bly,

hoe 'n slang teen 'n rots op seil,

hoe 'n skip op die diepsee vaar

en hoe die liefde tussen 'n man en 'n meisie werk.

20Die ontroue vrou het haar eie manier:

sy eet en vee haar mond af en sê:

“Ek het niks verkeerds gedoen nie.”

21Daar is drie, nee, vier wat die lewe ondraaglik maak,

wat onuitstaanbaar is:

22'n slaaf nadat hy koning geword het,

'n ongemanierde sot nadat hy hom vol geëet het,

23'n vrou wat eers nie 'n man kon kry nie en toe tóg getroud is,

en 'n slavin nadat sy haar eienares se plek ingeneem het.

24Daar is vier goed in die wêreld wat klein is

maar buitengewone wysheid het:

25miere is nie sterk nie

en tog sit hulle in die somer vir hulle kos weg;

26dassies het nie veel krag nie

en tog maak hulle hulle tuis teen die kranse;

27sprinkane het nie 'n koning nie

en tog trek die hele swerm in formasie;

28'n geitjie kan jy met die hand vang

en tog kry jy hom in koninklike paleise.

29Daar is drie, nee, vier wat statig stap,

wat 'n statige houding het:

30'n leeu, die magtigste van al die diere,

wat vir niks stuit nie;

31'n spoghaan;

'n bokram;

en 'n koning met sy leër by hom.

32As jy verwaand opgetree en jou aangestel het,

of as jy slegte bedoelings het, hou op daarmee.

33As jy melk karring, kom daar botter;

as jy iemand op die neus slaan, kom daar bloed uit;

as jy mense kwaad maak, kom daar rusie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS