Job: Laat my tog met rus
1“My hele lewe walg my,
daarom wil ek aan my klag vrye teuels gee
en in my bitterheid praat.
2Ek wil vir God sê: Moet my tog nie skuldig verklaar nie,
maak aan my bekend waarom voer U hierdie stryd teen my.
3Vind U dit goed om my te laat swaar kry,
om wat U gemaak het, met veragting te behandel,
maar die planne van die goddeloses met sukses te bekroon?
4Kyk U met die oë van 'n mens?
Sien U dinge soos 'n mens hulle sien?
5Gaan u dae verby soos dié van 'n mens,
u jare soos sý jare,
6dat U rekenskap eis vir my oortredinge,
dat U verantwoording vra vir my sonde?
7“U weet dat ek nie skuldig is nie,
maar niemand kan my uit u hand red nie.
8U hande het my gevorm, my gemaak.
Gaan U my nou heeltemal vernietig?
9Dink daaraan dat U my soos klei gevorm het.
Gaan U my nou weer stof laat word?
10Het U my nie soos botter berei,
soos kaas gevorm nie?
11U het vir my vel en vleis gegee,
U het my bene en senings aanmekaargeweef.
12U het my die lewe gegee en my met liefde versorg,
met sorg het U oor my gewaak.
13Maar wat deur U verberg is,
wat ek weet U in gedagte gehad het, is dit:
14as ek sonde doen, sou U dit raaksien,
van my oortredinge sou U my nie vryspreek nie.
15As ek skuldig is, wag daar ellende vir my,
as ek onskuldig is, is daar vir my geen vreugde nie,
want ek is oorlaai met smaad en ek beleef net ellende.
16Sou ek moed skep, maak U soos 'n leeu jag op my
en staan U my weer voor in u onbegryplike mag.
17U roep nuwe getuies in teen my,
u woede laai op teen my;
aanslag op aanslag tref my.
18“Waarom het U my in die wêreld laat kom?
Ek moes liewer gesterf het voordat 'n oog my kon sien.
19Dan sou ek gewees het asof ek nooit bestaan het nie
en is ek by geboorte al graf toe gedra.
20My lewensdae is min genoeg,
laat my tog met rus dat ek darem 'n bietjie vreugde kan hê
21voordat ek weggaan na die stikdonker land toe
en nooit terugkeer nie,
22na die land van die donker nag met sy diep duisternis
waar niks georden is nie, waar die lig self donker is.”