Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 150

2 KRONIEKE 31–36

Bybelteks(te)

2 KRONIEKE 31

1Toe alles verby was, is al die Israeliete uit na die stede van Juda toe, almal wat by die fees was. Hulle het in die hele Juda en Benjamin en ook in Efraim en Manasse die klippilare afgebreek, die gewyde pale afgekap en die hoogtes en altare verwoes. Eers nadat alles vernietig is, is die Israeliete terug na hulle stede toe, elkeen na sy eie stukkie grond toe.

Hiskia reël die insameling van die offergawes en die versorging van die tempelpersoneel

2Hiskia het ook die pligte van die afdelings priesters en Leviete bepaal. Die priesters sowel as die Leviete moes afdelingsgewys, elkeen volgens die aard van sy dienswerk, sorg dra vir die brandoffers, die maaltydoffers, die algemene diens, die belydenis en die lofprysing in die poorte van die woning van die Here. 3Soos dit in die voorskrifte van die Here vasgelê is, het die koning uit sy persoonlike besit sy deel gedoen vir die brandoffer, die môre- en aandoffers, die offers op die sabbat, die nuwemaansfees en die vasgestelde feestye. 4Die volk, die inwoners van Jerusalem, moes op bevel van die koning sorg vir die onderhoud van die priesters en die Leviete, sodat dié hulle aandag kon gee aan die uitleg van die wet van die Here. 5Namate die bevel bekend geword het, het die Israeliete die eerste opbrengste aan koring, wyn, olie, heuning en alles wat die land opgelewer het, ingebring, en ook die tiendes van alles, in groot hoeveelhede. 6Ook die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het, en die mense van Juda self, het hulle tiendes uit die groot- en kleinvee ingebring en hulle het die gawes wat aan die Here hulle God gewy was, kom neersit, hope en hope. 7Hulle het in die derde maand daarmee begin, en die goed het bly ophoop tot die sewende maand toe. 8Toe Hiskia en die amptenare kom en die hope sien, het hulle die Here en sy volk Israel geprys.

9Hiskia het by die priesters en die Leviete navraag gedoen oor die hope goed, 10en Asarja die hoëpriester uit die huis van Sadok het vir hom gesê: “Vandat die offergawes by die huis van die Here begin inkom het, is hier meer as genoeg om te eet en daar bly baie oor. Die Here het sy volk geseën, daarom is daar so 'n massa goed oor.”

11Hiskia het toe opdrag gegee dat daar kamers aan die tempel aangebou word, en dit is gedoen. 12Die offergawes, die tiendes en die gewyde gawes het getrou ingekom. Die Leviet Kenanja moes daaroor toesig hou, en sy ampsgenoot Simi was tweede in bevel. 13Die amptenare tot beskikking van Kenanja en sy ampsgenoot Simi was Jegiël, Asasja, Nagat, Asael, Jerimot, Josabad, Eliël, Jismakja, Magat en Benaja. So het koning Hiskia en die hoof van die tempel, Asarja, dit gereël. 14Die toesig oor die vrywillige gawes aan God en oor die uitdeling van die offergawes van die Here en van die besondere gewyde gawes was in die hande van die Leviet Kore seun van Jimna, die wag by die Oospoort.

15Hy is bygestaan deur Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Sekanja, en hulle moes in die priesterkwartiere op 'n billike wyse die toewysings aan hulle ampsgenote in die afdelings doen, aan groot en klein. 16Daarnaas het hulle ook toewysings gedoen aan die seuntjies van drie jaar en ouer wat in die register opgeneem is, almal wat een of ander tyd in die tempel sou kom vir die tempeldiens en die wagbeurte binne hulle afdelings, soos dit van dag tot dag nodig sou wees. 17Die priesters is familiegewys in die register opgeneem, en van die Leviete dié van twintig jaar en ouer volgens diensbeurt en afdeling. 18Al hulle afhanklikes is ook in die register opgeneem: die vrouens, die seuns en die dogters van die hele tempelgemeenskap. Die priesters en die Leviete het hulle getrou gereinig met die oog op die diens in die heiligdom.

19Ook die Aäronitiese priesters in die weigebiede van die stede is versorg. In elke stad is mense by die naam aangewys om al die manlike lede van die priesterfamilies en al die Leviete wat in die register opgeneem was, hulle deel te laat kry.

20So het Hiskia dwarsdeur Juda gedoen. Hy het gedoen wat goed en reg en eerbaar is in die oë van die Here sy God. 21In alles wat hy onderneem het ter bevordering van die tempeldiens en die gehoorsaamheid aan wet en gebod, het hy met sy hele hart gevra na die wil van sy God, en daarom was hy voorspoedig.

2 KRONIEKE 31AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 32

Die bedreiging van Jerusalem deur Sanherib

(Vgl. 2 Kon. 18 – 19)

1Na dié gebeure, waarin Hiskia sy trou betoon het, het koning Sanherib van Assirië op die toneel gekom. Hy het Juda ingeval en die vestingstede beleër met die bedoeling om deur hulle verdediging te breek. 2Toe Hiskia hoor van die koms van Sanherib en dat hy op oorlog teen Jerusalem uit is, 3het hy in oorleg met sy amptenare en offisiere besluit om die water van die fonteine wat buite die stad was, af te sny. Hulle het met hom saamgestem, 4en 'n groot klomp mense het bymekaargekom en al die fonteine en ook die watervoor wat deur die omgewing geloop het, toegegooi. Hulle het gesê: “Hoekom moet die konings van Assirië baie water kry as hulle hier kom?”

5Hiskia het al die mure wat afgebreek was, herbou, die forte hoër gebou, nog 'n muur buite-om opgetrek en die terras by die Dawidstad laat versterk. Hy het ook 'n groot klomp spiese en skilde laat maak.

6Nadat hy bevelhebbers oor die volksleër aangewys het, het hy hulle by hom laat bymekaarkom op die plein by die stadspoort en hulle moed ingepraat: 7“Wees sterk, wees dapper, moenie bang wees nie, moenie skrik vir die koning van Assirië en die menigte by hom nie. By ons is meer as by hom. 8By hom is menslike mag, by ons is die Here ons God wat ons sal help en ons oorlog sal veg.”

Die manskappe was bemoedig deur dié woorde van koning Hiskia van Juda.

9'n Tyd daarna het koning Sanherib van Assirië, wat toe met sy hele krygsmag by Lakis was, van sy ondergeskiktes na Jerusalem toe gestuur met 'n boodskap vir koning Hiskia van Juda, en vir al die mense van Juda in Jerusalem. Die boodskap het gelui:

10“So sê koning Sanherib van Assirië: Op wie steun julle dat julle in Jerusalem in die vesting bly? 11Hiskia sê: ‘Ons God sal ons red van die koning van Assirië,’ maar mislei hy julle nie, sodat julle van honger en dors sal sterwe? 12Dit is mos dié Hiskia wat die hoogtes en die altare van julle God verwyder het en vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet by net een altaar aanbid en offers bring.’ 13Julle weet mos wat ek en my voorvaders aan al die volke in ander lande gedoen het. Kon die gode van die nasies in daardie lande hulle lande red uit my mag? 14Wie van al die gode van daardie nasies wat al deur my voorvaders uitgeroei is, kon sy volk red uit my mag? Kan júlle God julle dan red uit my mag? 15Moet dan nou nie dat Hiskia julle so bedrieg en julle mislei nie. Moet hom nie glo nie. Geen god van enige nasie of koninkryk kon sy volk red uit my mag of uit dié van my voorvaders nie. Júlle God sal julle ook nie red uit my mag nie.”

16Die boodskappers het nóg dinge gesê teen God die Here en teen sy dienaar Hiskia. 17Sanherib het ook briewe geskryf waarin hy die Here die God van Israel gehoon het en dinge teen Hom gesê het. Hy het geskryf:

“Soos die gode van die nasies van ander lande hulle volke nie kon red uit my mag nie, so sal die God van Hiskia sy volk nie red uit my mag nie.”

18Om die mense van Jerusalem wat op die mure was, bang te maak en hulle die skrik op die lyf te ja sodat die Assiriërs die stad kon inneem, het die boodskappers hard in die Judese taal geroep 19en oor die God van Jerusalem gepraat soos oor die gode van die volke van ander lande, gode wat die werk van mensehande is.

20Koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos het daarom gebid en na die hemel geroep. 21Toe stuur die Here 'n engel, en dié het elke soldaat en leier en offisier in die kamp van die koning van Assirië doodgemaak. Hy moes beskaamd die aftog blaas terug na sy land toe. Toe hy daar in die tempel van sy god ingaan, het van sy eie seuns hom vermoor.

22So het die Here vir Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered uit die mag van koning Sanherib van Assirië en uit die mag van almal by hom. Die Here het sy volk aan alle kante beskerm.

23Baie mense het vir die Here in Jerusalem offers gebring en kosbare geskenke vir koning Hiskia van Juda, wie se aansien onder die nasies hoog gestyg het ná dié gebeure.

Ander mededelings oor Hiskia

(Vgl. 2 Kon. 20)

24Dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid, en die Here het met hom gepraat en met hom 'n wonder laat gebeur. 25Hiskia het egter nie dankbaarheid betoon vir dié weldaad nie. Hy het ingenome geword met homself, en dit het die toorn van die Here oor hom en oor Juda en Jerusalem gebring. 26Hy en die inwoners van Jerusalem het egter berou gekry oor die selfingenomenheid, en die toorn van die Here het toe nie in die tyd van Hiskia oor hulle gekom nie.

27Hiskia was ryk en het groot aansien geniet. Hy het vir hom skatkamers laat bou vir silwer, goud, edelstene, kosbare kruie, skilde en allerlei waardevolle goed. 28Hy het opslagplekke laat bou vir die koring, wyn en olie wat aan hom gelewer is, en krale en stalle vir sy beeste en kleinveekuddes. 29Hy het vir hom stede laat bou en het groot troppe kleinvee en grootvee gehad. God het hom 'n baie groot persoonlike besit laat opbou.

30Dit was Hiskia wat die boonste uitloop van die Gihonfontein afgesny en die water reguit na die westekant van die Dawidstad toe gelei het. Hy was voorspoedig met alles wat hy gedoen het.

31Maar toe die regeerders van Babel woordvoerders na hom toe gestuur het om navraag te doen oor die wonder wat in sy land gebeur het, het God hom verlaat. Dit was om hom te toets en hom sy eie hart te laat ken.

32Die ander verhale oor Hiskia en sy troue optrede is opgeteken in Die Gesig van die Profeet Jesaja seun van Amos en in Die Boek van die Konings van Juda en Israel. 33Hiskia is oorlede, en hy is begrawe teen die skuinste waar die grafte van die nakomelinge van Dawid is. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het aan hom eer bewys met sy dood. Sy seun Manasse het hom as koning opgevolg.

2 KRONIEKE 32AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 33

Die sonde van Manasse, en sy berou

(Vgl. 2 Kon. 21:1-16)

1Manasse was twaalf toe hy koning geword het en het vyf en vyftig jaar in Jerusalem geregeer. 2Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het die afskuwelike optrede van die heidennasies nagevolg wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. 3Hy het die hoogtes wat deur Hiskia, sy pa, verwoes is, weer opgebou, altare vir die Baäls opgerig, gewyde pale gemaak, voor al die hemelliggame gebuig en hulle gedien. 4Hy het selfs afgodsaltare gebou in die huis van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “My Naam sal altyd in Jerusalem wees.”

5In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare vir al die hemelliggame gebou. 6Hy het sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal as offers verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery, en meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste.

Hy het gruwelik verkeerd gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart. 7Die afgodsbeeld wat hy laat maak het, het hy opgestel binne-in die tempel, die plek waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek onder al die Israelitiese stamme uitgekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. 8As Israel alles doen wat Ek hulle beveel het, in ooreenstemming met die hele wet en die voorskrifte en bepalings wat deur bemiddeling van Moses gegee is, sal Ek hulle voete stewig geplant hou op die grond wat Ek aan hulle voorvaders toegeken het.”

9Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem die verkeerde pad laat loop, sodat hulle erger aangegaan het as die nasies wat deur die Here uitgeroei is om vir Israel plek te maak.

10Die Here het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het daar geen ag op geslaan nie. 11Toe het die Here die leëraanvoerders van die koning van Assirië laat kom, en hulle het Manasse gevange geneem, hake deur sy neus gesteek, hom geboei met bronskettings en hom na Babel toe gevat. 12Toe dit met hom so sleg gaan, het hy die Here sy God om genade gesmeek, groot berou getoon voor die God van sy voorvaders, 13en gebid. Die Here was hom genadig en het sy smeekbede verhoor en hom laat terugkom na Jerusalem, na sy koningskap toe. Toe het Manasse geweet dat die Here God is.

Manasse se bouwerk en hervormings

14Manasse het later die buitemuur van die Dawidstad wes van die Gihon, in die dal, by die ingang van die Vispoort en rondom die Ofel herbou. Hy het die muur baie hoër gemaak as wat dit was. In al die vestingstede van Juda het hy bevelvoerders geplaas.

15Verder het hy die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van die Here verwyder en buitekant die stad weggegooi, en so ook al die altare wat hy op die tempelberg en in Jerusalem gebou het.

16Hy het die altaar van die Here herstel en daarop maaltyd- en dankoffers gebring. Hy het opdrag gegee dat Juda die Here die God van Israel moet dien. 17Die volk het wel nog op die hoogtes offerandes gebring, maar nou vir die Here hulle God.

Manasse se dood

(Vgl. 2 Kon. 21:17-18)

18Die ander verhale oor Manasse, sy gebed tot sy God en die verhale oor die sieners wat hom aangespreek het in die Naam van die Here die God van Israel, staan in Die Verhale van die Konings van Israel. 19Sy gebed en die verhoring daarvan, al sy sonde en sy selfverheffing, en die plekke waar hy hoogtes gebou het en gewyde pale en afgodsbeelde opgerig het voordat hy berou gekry het, staan opgeteken in Die Verhale van die Sieners. 20Manasse is oorlede, en hy is begrawe in sy huis. Sy seun Amon het hom as koning opgevolg.

Amon

(Vgl. 2 Kon. 21:19-26)

21Amon was twee en twintig toe hy koning geword het en het twee jaar in Jerusalem geregeer. 22Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos Manasse, sy pa, gedoen het. Vir al die beelde wat Manasse, sy pa, gemaak het, het Amon offerandes gebring. Hy het hulle gedien 23en nie voor die Here berou getoon soos sy pa nie. Hy het nog meer misdade teen God begaan. 24Sy amptenare het 'n sameswering teen hom gesmee en hom in sy paleis doodgemaak. 25Daarna het die burgers van die land die samesweerders almal doodgemaak en Amon se seun Josia in sy plek koning gemaak.

2 KRONIEKE 33AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 34

Josia bestry die afgodery

(Vgl. 2 Kon. 23:4-20)

1Josia was ag toe hy koning geword het en het een en dertig jaar in Jerusalem geregeer. 2Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het die pad van sy voorvader Dawid geloop en daar nie links of regs van afgewyk nie.

3In die agste jaar van sy regering, toe hy nog 'n jong man was, het hy begin om die God van sy voorvader Dawid te dien, en in die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te suiwer van hoogtes, gewyde pale, gesnede en gegote beelde. 4Hy het persoonlik toegesien dat die altare van die Baäls verwoes word en het die wierookaltare wat bokant die Baälsaltare gestaan het, laat stukkend slaan. Die gewyde pale en die gesnede en gegote beelde het hy stukkend gebreek, fyngemaal en oor die grafte van dié wat vir hulle offerandes gebring het, gestrooi. 5Die bene van die afgodspriesters het hy op hulle eie altare laat verbrand. So het hy Juda en Jerusalem skoongemaak, 6en ook die stede van Manasse, Efraim en Simeon, tot by Naftali, en ook die ruïnes van die omgewing. 7Hy het dwarsoor die gebied van Israel altare afgebreek, gewyde pale en beelde in stukkies gekap en al die wierookaltare stukkend gebreek. Daarna is hy terug Jerusalem toe.

Die tempel word herstel

(Vgl. 2 Kon. 22:3-7)

8In die agtiende jaar van sy regering, toe hy nog besig was om die land en die tempel skoon te maak, het Josia vir Safan seun van Asalja, die stadsbevelvoerder Maäseja en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Joahas gestuur om die huis van die Here sy God te herstel. 9Hulle het die geld wat deur die Levitiese drumpelwagte vir die tempel ingesamel is in Manasse en Efraim en oral in Israel, Juda en Benjamin en by die inwoners van Jerusalem, aan die hoëpriester Gilkija gaan oorhandig. 10Die geld is toe gegee aan die mense wat vir die werk aan die tempel moes sorg en dié het dit gebruik vir die heropbou en herstel van die gebou. 11Hulle het die geld vir die vakmanne en bouwerkers gegee om gekapte klip en balke te koop en die vertrekke wat onder die konings van Juda in verval geraak het, weer op te bou. 12Die manne het die werk met groot sorg uitgevoer. Die opsigters oor hulle was die Leviete Jagat en Obadja uit die Merarigroep, en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep. Die Leviete was mense wat almal bedrewe was in die speel van musiekinstrumente, 13maar hulle het ook toesig gehou oor die draers en het leiding gegee aan elkeen wat 'n taak moes uitvoer, in watter soort werk ook al. Ook die administratiewe amptenare, die regsbeamptes en die poortwagte was Leviete.

Die wetboek en die verbondsluiting

(Vgl. 2 Kon. 22:8 – 23:3)

14Terwyl hulle die geld wat vir die huis van die Here ingebring is, uitgehaal het, het die priester Gilkija die boek gekry met die wet van die Here wat deur bemiddeling van Moses aan Israel gegee is. 15Gilkija het toe vir die staatsekretaris Safan gesê: “Ek het die wetboek in die tempel gekry.”

Hy het die wetboek aan Safan oorhandig, 16en Safan het dit na die koning toe geneem en ook aan die koning verslag gedoen: “Alles wat aan u amptenare opgedra is, is gedoen; 17die geld wat in die tempel beskikbaar was, is uitgetel en oorhandig aan die opsigters en aan die mense wat die werk moet uitvoer.”

18Die staatsekretaris Safan het ook aan die koning die mededeling gedoen: “Die priester Gilkija het my 'n boek gegee,” en Safan het vir die koning gelees wat daarin staan.

19Toe die koning hoor wat die wet sê, het hy sy klere geskeur 20en opdrag gegee aan Gilkija, aan Agikam seun van Safan, aan Akbor seun van Miga, aan die staatsekretaris Safan en aan Asaja, die hoofamptenaar van die koning: 21“Gaan raadpleeg die Here namens my en namens almal wat nog oor is van Israel en Juda. Raadpleeg Hom oor die inhoud van die boek wat gekry is. Ons voorvaders was ongehoorsaam aan die woord van die Here en het nie gehandel in ooreenstemming met alles wat in hierdie boek staan nie. Daarom is die toorn van die Here wat op ons uitgestort gaan word, groot.”

22Gilkija en die manne van die koning is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon. Hulle het haar vertel waarom hulle gekom het, 23en sy het geantwoord: “Ek het 'n boodskap van die Here die God van Israel. Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het: 24So sê die Here: Ek bring onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, die volle straf soos dit opgeteken staan in die boek wat aan die koning van Juda voorgelees is, 25want hulle het My verlaat. Hulle het offerandes gebring vir ander gode en My uitgetart met allerhande maaksels van hulle eie hande. My toorn word op hierdie plek uitgestort, die vlam van my toorn sal nie geblus word nie. 26-27Maar sê vir die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg: So sê die Here die God van Israel: Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy berou getoon het voor God toe jy hoor wat Hy sê oor hierdie plek en sy inwoners, en dat jy jou klere geskeur het en gehuil het en voor My berou getoon het, sê die Here. 28Ek sal jou in vrede laat sterwe en in jou graf laat ingaan; jy sal niks van al die onheil wat Ek oor hierdie plek en sy inwoners bring, self beleef nie.”

Die afvaardiging het so aan die koning gerapporteer, 29en hy het al die leiers van Juda en Jerusalem bymekaar laat kom. 30Daarna is die koning na die huis van die Here toe met al die mense van Juda by hom en ook die inwoners van Jerusalem, die priesters en die Leviete, al die mense, groot en klein. Daar het hy alles aan hulle voorgelees wat in die boek van die verbond gestaan het wat in die huis van die Here gevind is. 31Toe het die koning op sy plek gaan staan en 'n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos dit in hierdie boek vasgelê is, na te kom. 32Hy het almal wat in Jerusalem en Benjamin was, in die verbond ingesluit. Die inwoners van Jerusalem het gedoen wat die verbond van God, die God van hulle voorvaders, vereis. 33Josia het alles wat vir God afskuwelik is, verwyder uit die hele Israelitiese gebied en almal in Israel verplig om die Here hulle God te dien. So lank hy geleef het, het hulle nie weggedraai van die Here, die God van hulle voorvaders, af nie.

2 KRONIEKE 34AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 35

Die groot paasfees

(Vgl. 2 Kon. 23:21-22)

1Josia het die paasfees van die Here in Jerusalem gevier. Hulle het die paaslam geslag op die veertiende van die eerste maand.

2Die koning het aan die priesters hulle diensbeurte toegewys en hulle moed ingepraat vir die tempeldiens. 3Daarna het hy die Leviete wat vir die onderrig van die hele Israel verantwoordelik was en aan die Here gewy was, beveel: “Sit die heilige ark in die tempel wat koning Salomo van Israel, seun van Dawid, gebou het. Julle hoef dit nie meer op die skouers te dra nie. Doen nou julle werk vir die Here julle God en vir sy volk Israel. 4Orden julleself familiegewys volgens afdelings soos dit bepaal is in die handleidings van koning Dawid van Israel en sy seun Salomo. 5Neem dan julle plek in die heiligdom in: vir elke familiegroep van julle volksgenote moet daar 'n familieafdeling Leviete wees. 6Slag die paaslam, reinig julle, en berei julle volksgenote voor om uitvoering te gee aan die opdrag van die Here wat deur bemiddeling van Moses aan Israel gegee is.”

7Josia het self die kleinvee, die skaaplammers en boklammers, dertig duisend stuks, vir die lede van die volk voorsien, die paasoffers vir almal wat daar was, en ook nog drie duisend beeste. Dit het gekom uit die persoonlike besit van die koning. 8Sy amptenare het vrywillig voorsiening help maak vir die volk, die priesters en die Leviete. Gilkija, Sagaria en Jegiël, die hoofde van die tempel, het as paasoffers vir die priesters twee duisend ses honderd lammers en drie honderd beeste geskenk. 9Kenanja en sy ampsgenote Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, die leiers van die Leviete, het as paasoffers vir die Leviete vyf duisend lammers en vyf honderd beeste geskenk.

10Toe die diens gereël is, die priesters op hulle plekke staan en die Leviete in hulle afdelings soos die koning beveel het, 11is die paaslam geslag. Die priesters het die bloed gesprinkel wat vir hulle gegee is, en die Leviete het geslag.

12Die brandoffers is eenkant gehou om aan die familiegroepe uit die volk te gee sodat hulle dit kon offer aan die Here soos die boek van Moses dit voorskryf. Dit is ook met die beeste gedoen. 13Die paaslammers is volgens voorskrif oor die vuur gebraai, maar die gewyde offergawes is in potte, kastrolle en skottels gekook en vinnig vir die lede van die volk geneem. 14Daarna het die Leviete vir hulleself en die priesters vleis gaargemaak, want die priesters uit die nageslag van Aäron was tot die nag toe besig om die brandoffers en die vetgedeeltes as offers te verbrand. Die Leviete moes dus vir hulleself en vir die Aäronitiese priesters vleis gaarmaak.

15Die sangers van die Asafgroep was op hulle pos volgens die voorskrif van Dawid, en ook Asaf self, Heman en Jedutun, die siener van die koning. Die poortwagte was elkeen by die poort waar hy moes wees. Hulle het nie nodig gehad om hulle poste te verlaat nie, want hulle ampsgenote, die Leviete, het vir hulle gesorg.

16So het die diens van die Here daardie dag verloop. Die paasfees is gevier en die brandoffers op die altaar van die Here gebring soos koning Josia beveel het.

17Die Israeliete wat daar was, het destyds die paasfees gevier en die sewedaagse fees van die ongesuurde brood. 18Van die tyd van die profeet Samuel af is daar nie so 'n groot paasfees in Israel gevier nie. Nie een van die konings van Israel het so paasfees gevier soos Josia, die priesters en die Leviete, die hele Juda, die Israeliete wat daar was, en die inwoners van Jerusalem dit gevier het nie. 19Dié paasfees is gevier in die agtiende regeringsjaar van koning Josia.

Die dood van Josia

(Vgl. 2 Kon. 23:28-30)

20Alles wat Josia aan die tempel laat doen het, was afgehandel. Toe het koning Neko van Egipte opgetrek om in Karkemis, aan die Eufraat, te gaan oorlog maak. Josia het teen hom opgetrek, 21en Neko het met boodskappers vir hom laat weet: “Ons het niks teen mekaar nie, koning van Juda! My veldtog is dié keer nie teen jou nie, maar teen 'n vyand. God het gesê ek moet gou maak. Moenie in God se pad kom nie. Hy is by my en Hy sal jou vernietig.”

22Josia het Neko egter nie met rus gelaat nie. Hy het hom vermom met die oog op die geveg en nie geluister na wat Neko op bevel van God self gesê het nie. Hy het vir Neko in die Megiddovlakte gaan aanval. 23Die boogskutters het koning Josia raakgeskiet, en hy het vir sy lyfwagte gesê: “Bring my uit, ek is swaar gewond.” 24Hulle het hom van die strydwa afgehaal, hom op 'n ander wa gesit en hom na Jerusalem toe gebring.

Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf. Die hele Juda en Jerusalem het oor Josia getreur. 25Jeremia het 'n treurlied oor Josia gedig, en al die sangers en sangeresse het oor Josia gesing in hulle treurliedere. Dit word nou nog gedoen, dit het 'n gebruik in Israel geword. Die liedere is opgeteken in Die Treurliedere.

26Die ander verhale oor Josia, sy dade van trou in ooreenstemming met wat in die wet van die Here geskryf staan, 27die verhale van vroeër en dié van later, is opgeteken in Die Boek van die Konings van Israel en Juda.

2 KRONIEKE 35AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 36

Joahas

(Vgl. 2 Kon. 23:31-34)

1Die burgers van die land het Josia se seun Joahas geneem en hom koning in Jerusalem gemaak in sy pa se plek. 2Joahas was drie en twintig toe hy koning geword het en het drie maande in Jerusalem geregeer.

3Die koning van Egipte het vir Joahas afgesit as koning in Jerusalem en die land beboet met drie en 'n halwe ton silwer en vier en dertig kilogram goud. 4Daarna het die Egiptiese koning vir Eljakim, Joahas se broer, koning gemaak oor Juda en Jerusalem, en sy naam verander na Jojakim. Neko het vir Joahas, Jojakim se broer, saamgevat Egipte toe.

Jojakim

(Vgl. 2 Kon. 23:36 – 24:6)

5Jojakim was vyf en twintig toe hy koning geword het en het elf jaar in Jerusalem geregeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here sy God.

6Koning Nebukadnesar van Babel het vir Jojakim aangeval en hom geboei met bronskettings om hom na Babel toe te vat. 7Nebukadnesar het van die goed in die huis van die Here ook na Babel toe gevat en dit in sy tempel in Babel gesit.

8Die ander verhale oor Jojakim, die afskuwelike dinge wat hy gedoen het en wat met hom gebeur het, is opgeteken in Die Boek van die Konings van Israel en Juda. Sy seun Jojagin het hom as koning opgevolg.

Jojagin

(Vgl. 2 Kon. 24:8-19)

9Jojagin was agtien jaar toe hy koning geword het en het drie maande en tien dae in Jerusalem geregeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. 10Met die wisseling van die jaar het koning Nebukadnesar hom na Babel toe laat haal saam met die kosbare goed in die huis van die Here, en sy broer Sedekia koning oor Juda in Jerusalem gemaak.

Sedekia. Die val van Jerusalem

(Vgl. 2 Kon. 24:18 – 25:21; Jer. 52:1-11)

11Sedekia was een en twintig toe hy koning geword het en het elf jaar in Jerusalem geregeer. 12Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here sy God. Hy het nie berou getoon toe die profeet Jeremia hom op bevel van die Here aangespreek het nie. 13Ook teen koning Nebukadnesar, aan wie hy voor God trou gesweer het, het hy hom verset. Hy was koppig en onversetlik in sy weiering om hom tot die Here die God van Israel te bekeer.

14Al die leiers van die priesters en die volk het ook weer in groot troueloosheid verval na die voorbeeld van die afskuwelike optrede van die heidennasies, en hulle het die huis van die Here wat Hy in Jerusalem geheilig het, ontwy.

15Die Here die God van hulle voorvaders het voortdurend aan hulle sy wil bekend gemaak deur middel van sy boodskappers, want Hy was begaan oor sy volk en sy woning, 16maar hulle het die boodskappers van God uitgelag, sy woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here oor sy volk losgebreek het. Die straf was onherroeplik.

17Die Here het die koning van die Galdeërs teen hulle laat optrek, en dié het die jongmanne van Juda doodgemaak binne in die heiligdom en nie jongman of meisie, grysaard of invalide ontsien nie. Die Here het almal in die mag van die koning van Babel gegee. 18Alles wat in die tempel was, of dit groot was of klein, die skatte van die huis van die Here, van die koning en sy amptenare, alles het hy na Babel toe gevat.

19Daarna het hulle die tempel afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles wat van waarde was, verwoes.

20Almal wat nie doodgemaak is nie, is na Babel toe weggevoer, waar hulle die koning van Babel en sy seuns se onderdane was totdat die Perse die bewind oorgeneem het.

21So is die woord van die Here vervul wat deur middel van Jeremia gekom het. Die ballingskap het aangehou totdat die land vir sy sabbatsjare vergoed is. Die hele tyd dat die land woes gelê het, het dit 'n sabbatsrus geniet, 'n volle sewentig jaar.

Die proklamasie van Kores

(Esra 1:1-4)

22In die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië is die belofte vervul wat die Here by monde van Jeremia gegee het: die Here het dit bewerk dat koning Kores van Persië besluit het om dwarsoor sy ryk 'n proklamasie te laat afkondig. Die proklamasie, wat ook skriftelik was, het soos volg gelui: 23“Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here, die God van die hemel, het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom 'n tempel in Jerusalem in Juda te bou. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort, kan teruggaan, en mag die Here sy God by hom wees.”

2 KRONIEKE 36AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS