Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 149

2 KRONIEKE 27–30, PSALMS 122–123

Bybelteks(te)

Jotam

(Vgl. 2 Kon. 15:32-38)

1Jotam was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jerusa, 'n dogter van Sadok. 2Jotam het gedoen wat reg is in die oë van die Here en in alles die voorbeeld van Ussia, sy pa, gevolg, met dié verskil dat hy nie in die tempel van die Here oortree het nie. Die volk het egter met hulle afgodsdiens voortgegaan.

3Jotam het die boonste poort van die tempel laat bou en baie bouwerk gedoen aan die Ofelmuur. 4In die Judaberge het hy stede laat bou, en in die bosse skanse en forte.

5Hy het in 'n oorlog teen die koning van die Ammoniete die oorwinning behaal, en die Ammoniete moes daardie jaar aan hom byna drie en 'n halwe ton silwer, sestien honderd en vyftig ton koring en dertien honderd en twintig ton gars betaal. Hulle moes dieselfde hoeveelhede die volgende en die daaropvolgende jaar betaal. 6Jotam het magtig geword, want hy het sy pad reg gehou voor die Here sy God.

7Die ander verhale oor Jotam, al sy oorloë en sy lewensloop, is opgeteken in die annale van die konings van Israel en Juda. 8Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. 9Jotam is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Agas het hom as koning opgevolg.

2 KRONIEKE 27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Agas

(Vgl. 2 Kon. 16:1-8,19-20)

1Agas was twintig toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here soos sy voorvader Dawid nie. 2Hy het die pad geloop van die konings van Israel en hy het selfs beelde van die Baäls laat giet. 3Hy het in die Ben-Hinnomdal offerandes gebring en van sy kinders daar verbrand volgens die afskuwelike gebruik van die heidennasies wat deur die Here voor die Israeliete uit verdryf is. 4Hy het diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes en op die rante en onder elke groot boom. 5Daarom het die Here sy God hom oorgegee in die mag van die koning van Aram. Dié het hom verslaan en 'n groot klomp van sy mense krygsgevangenes gemaak en hulle na Damaskus toe weggevoer.

Agas is ook oorgegee in die mag van die koning van Israel wat hom 'n verpletterende neerlaag toegedien het. 6Peka seun van Remalja het in Juda op een dag honderd en twintig duisend man, almal soldate, doodgemaak, omdat hulle die Here die God van hulle voorvaders verlaat het. 7Sikri, 'n krygsman uit Efraim, het die prins Maäseja, die paleisbestuurder Asrikam en die onderkoning Elkana doodgemaak. 8Die Israeliete het van hulle broedervolk twee honderd duisend vrouens, seuns en dogters gevange geneem en boonop 'n groot hoeveelheid buit geneem en na Samaria toe saamgevat.

9Daar was in Samaria 'n profeet van die Here met die naam Oded. Hy het die leër wat in Samaria teruggekom het, voorgestaan en vir hulle gesê: “In sy toorn teen Juda het die Here, die God van julle voorvaders, hulle in julle mag gegee, en julle het onder hulle 'n slagting aangerig met 'n woede wat ten hemel skrei. 10Nou sê julle julle wil van dié mense van Juda en Jerusalem julle slawe en slavinne maak. Maar julle, is alles wat julle doen nie ook misdade teen die Here julle God nie? 11Luister nou en vat die gevangenes wat julle uit julle broedervolk weggevoer het, terug, want die toorn van die Here hang oor julle.”

12'n Paar van die leiers van die Efraimiete, Asarja seun van Joganan, Berekja seun van Mesillemot, Hiskia seun van Sallu, en Amasa seun van Gadlai, het toe kant gekies teen dié wat van die oorlog af teruggekom het 13en vir hulle gesê: “Julle bring nie die gevangenes hier in nie. Wat julle wil doen, is 'n misdaad teen die Here en sal ons sondes en misdade teen Hom groter maak. Dit is alreeds groot, en sy toorn hang oor Israel.”

14Die manskappe het toe afstand gedoen van die gevangenes en die buit, met die leiers en die hele volk as getuies. 15Die manne wie se name genoem is, het toe die gevangenes onder hulle sorg geneem. Hulle het uit die buit klere geneem vir almal wat nie klere gehad het nie, die gevangenes voorsien van klere, skoene, kos en water, salf aan hulle wonde gesmeer, almal wat nie kon loop nie, op donkies gehelp en hulle weggebring na Jerigo die palmstad toe, by hulle volksgenote. Daarna is die manne terug Samaria toe.

16In dié tyd het koning Agas laat hulp vra by die konings van Assirië. 17Die Edomiete het weer gekom en Juda verslaan en gevangenes weggevoer. 18Die Filistyne het deur die Laeveld en die Suidland van Juda 'n strooptog gemaak en selfs stede beset en daar gaan woon: Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko met sy buitedorpe, Timna met sy buitedorpe, Gimso met sy buitedorpe. 19Dit was oor koning Agas van Juda dat die Here Juda dié vernedering aangedoen het, want Agas het die verdorwenheid in Juda vrye teuels gegee en hy was ontrou teenoor die Here. 20Koning Tiglat-Pileser van Assirië het opgetrek, maar téén Agas. Hy het Agas nie kom help nie, maar sake vir hom nog moeiliker gemaak. 21Agas het van die huis van die Here, die paleis en die amptenare goud gevat en dit vir die koning van Assirië gegee, maar dit het hom niks gehelp nie.

22Toe dit so sleg met hom gaan, was hy, dié koning Agas, nog verder ontrou teenoor die Here. 23Hy het offerandes gebring vir die gode van Damaskus wat hom verslaan het, met die redenasie: “Die gode van Aramese konings het hulle gehelp; nou bring ek vir daardie gode offerandes dat hulle my ook kan help.”

Maar dié gode het sy val en dié van die hele Israel verhaas. 24Agas het die goed wat in die tempel gebruik is, weggevat en stukkend geslaan, die deure van die huis van die Here gesluit en op elke hoek in Jerusalem altare gebou. 25In elke stad van Juda het hy hoogtes ingerig om vreemde gode met offerandes te vereer. So het hy die Here, die God van sy voorvaders, uitgetart.

26Die ander verhale oor Agas en sy hele lewensloop, dié van vroeër en dié van later, is opgeteken in die annale van die konings van Juda en Israel. 27Agas is oorlede, en hy is begrawe in die stad, in Jerusalem. Hulle het hom nie in die begraafplaas van die konings van Israel begrawe nie. Sy seun Hiskia het hom as koning opgevolg.

2 KRONIEKE 28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hiskia laat die tempel skoonmaak

1Hiskia het koning geword toe hy vyf en twintig was en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Abi, 'n dogter van Sagaria. 2Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg.

3Hy het in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maand, die deure van die huis van die Here oopgemaak en hulle herstel. 4Daarna het hy die priesters en die Leviete laat kom en hulle op die Oosplein bymekaargebring 5en toegespreek: “Luister na my, Leviete! Reinig julle en reinig die huis van die Here, die God van julle voorvaders. Vat die vuilgoed uit die heiligdom uit. 6Ons voorvaders was ontrou en het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here ons God. Hulle het Hom verlaat, die woning van die Here nie versorg nie en dit die rug toegekeer. 7Hulle het boonop die deure van die ingangsportaal gesluit, die lampe laat doodgaan en geen wierookoffer of brandoffer vir die God van Israel gebring in die heiligdom nie. 8Daarom het die toorn van die Here oor Juda en Jerusalem gekom, en Hy het van hulle iets gemaak waaroor mense net met afgryse vervul kan word en die hande van verbasing inmekaar kan slaan en kan fluit, soos julle met julle eie oë sien. 9Ons vaders het gesneuwel, ons seuns en ons dogters en ons vrouens het gevangenes geword deur dié dinge. 10En nou het ek my voorgeneem om 'n verbond te sluit met die Here die God van Israel, sodat die gloed van sy toorn van ons weggeneem sal word. 11Spring nou aan die werk, my seuns, want die Here het julle gekies om voor Hom diens te doen en sy dienaars te wees wat vir Hom offerandes moet bring.”

12Toe het die volgende Leviete na vore getree: uit die Kehatgroep Magat seun van Amasai, en Joël seun van Asarja; uit die Merarigroep Kis seun van Abdi, en Asarja seun van Jehallelel; uit die Gersongroep Joag seun van Simma, en Eden seun van Joag; 13uit die Elisafangroep Simri en Jeïel; uit die Asafgroep Sagaria en Mattanja; 14uit die Hemangroep Jegiël en Simi; en uit die Jedutungroep Semaja en Ussiël. 15Hulle het hulle ampsgenote bymekaargeroep, almal het hulle gereinig en het toe die huis van die Here gaan skoonmaak soos die koning beveel het in ooreenstemming met die voorskrifte van die Here.

16Die priesters het die huis van die Here binne gaan skoonmaak. Hulle het alles wat nie rein was nie, wat hulle in die tempel van die Here gekry het, na die voorhof toe uitgebring, en die Leviete het dit gevat en dit buite in die Kedrondal gaan weggooi.

17Hulle het met die reiniging begin op die eerste dag van die eerste maand, en op die agste dag van die maand het hulle by die ingangsportaal van die Here uitgekom. Daarna het dit hulle nog ag dae gekos om die huis van die Here te reinig. Op die sestiende dag van die eerste maand was hulle klaar. 18Toe het hulle by koning Hiskia in die paleis verslag gaan doen: “Ons het die hele huis van die Here gereinig, ook die brandofferaltaar met sy toebehore en die tafel vir die offerbrood met sy toebehore, 19en ons het verder al die goed wat koning Agas in sy regeringstyd ontwy laat raak het deur sy troueloosheid, in hulle oorspronklike staat herstel en gewy. Hulle is daar voor die altaar van die Here.”

Die heringebruikneming van die tempel

20Die volgende môre vroeg het koning Hiskia al die stadsamptenare laat bymekaarkom en is hy na die huis van die Here toe. 21Hulle het sewe jong bulle, sewe skaapramme, sewe lammers en sewe bokramme gebring as sondeoffers vir die koningskap, die heiligdom en Juda. Die koning het die priesters uit die geslag van Aäron beveel om die offerandes op die altaar van die Here te sit. 22Die priesters het die beeste geslag, die bloed opgevang en dit oor die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die skape geslag en die bloed oor die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die lammers geslag en die bloed ook oor die altaar gesprinkel. 23Toe het hulle die sondeofferbokke voor die koning en die gemeente gebring en hulle hande op die diere gelê, 24en daarna het die priesters hulle geslag en die bloed as 'n sondeoffer uitgegiet op die altaar om vir die hele Israel versoening te doen. Die koning het bepaal dat die brandoffer en die sondeoffer vir die hele Israel moes wees.

25Die koning het die Leviete plek laat neem met simbale, harpe en liere in die huis van die Here volgens die opdrag van Dawid en van Gad, die siener van koning Dawid, en van die profeet Natan, want dit was 'n opdrag wat van die Here self gekom het deur middel van sy profete. 26Die Leviete het reggestaan met die instrumente van Dawid, en die priesters met trompette. 27Hiskia het opdrag gegee dat die brandoffer op die altaar gesit moet word, en die oomblik toe die offer begin, het die lied van die Here begin, die trompette geblaas en die musiekinstrumente van Dawid koning van Israel gespeel. 28Terwyl die sang weerklink en die trompette skal, het die hele gemeente in aanbidding gebuig. Dit het alles aangehou tot die offer afgehandel was. 29Toe die offer afgehandel was, het die koning en almal wat by hom was, gekniel en gebuig. 30Hy en die amptenare het toe die Leviete beveel om die Here te loof met die liedere van Dawid en die siener Asaf. Die Leviete het die lofliedere vol vreugde gesing en op hulle knieë geval en vooroor gebuig.

31Hiskia het weer die woord geneem en vir die volk gesê: “Julle is nou aan die Here gewy. Bring nou julle diereoffers en julle dankoffers vir die huis van die Here.”

Die gemeente het toe diereoffers en dankoffers gebring en elkeen wat wou, het vrywillig ook nog brandoffers gebring. 32Die getal brandoffers wat die gemeente gebring het, was sewentig beeste, honderd ramme en twee honderd lammers, alles brandoffers vir die Here. 33Die wydingsgeskenke was ses honderd beeste en drie duisend stuks kleinvee. 34Maar daar was te min priesters en hulle kon nie alleen al die offerdiere slag nie. Toe het hulle ampsgenote, die Leviete, hulle gehelp tot die werk klaar was en al die priesters hulleself gewy het, want die Leviete was pligsgetrouer met die wyding as die priesters. 35Daar was boonop nog 'n groot aantal brandoffers en die vetgedeeltes van die maaltydoffers en die drankoffers wat by die brandoffers gebring moes word. So is die tempeldiens weer gevestig. 36Hiskia en al die mense was bly oor wat God vir die volk beskik het, want die hele saak is vinnig afgehandel.

2 KRONIEKE 29AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die paasfees word weer gevier

1Hiskia het boodskappers gestuur oor die hele Israel en Juda en ook briewe geskryf aan Efraim en Manasse met 'n oproep om na die huis van die Here in Jerusalem te kom om die paasfees vir die Here die God van Israel te vier.

2Dit was nadat die koning met sy amptenare en die hele gemeente van Jerusalem daaroor beraadslaag het of hulle die paasfees in die tweede maand kon vier. 3Hulle kon dit nie op die vasgestelde tyd vier nie omdat daar nie genoeg priesters gewy was nie en die volk nie in Jerusalem bymekaar was nie. 4Die koning en die hele gemeente het dit goedgevind om dit so te doen. 5Hulle het besluit om 'n oproep te laat uitgaan in die hele Israel, van Berseba af tot by Dan, om die paasfees vir die Here die God van Israel in Jerusalem te kom vier, want daar was in dié tyd nie 'n groot gesamentlike fees soos dit destyds voorgeskryf is nie.

6Die hardlopers is toe op bevel van die koning die hele Israel en Juda deur met die briewe van die koning en sy amptenare, wat soos volg gelui het:

“Israeliete, kom terug na die Here, na die God van Abraham, Isak en Israel, dan sal Hy ook terugkom na julle wat vrygekom het en oorgebly het van die oorheersing deur die konings van Assirië. 7Moenie soos julle vaders en julle broers maak nie wat ontrou was teenoor die Here, die God van hulle voorvaders, sodat Hy van hulle iets gemaak het waaroor mense net die hande van verbasing inmekaar kan slaan, soos julle kan sien. 8Moenie hardkoppig wees soos julle vaders nie, onderwerp julle aan die Here, en kom na sy heiligdom toe wat Hy vir altyd geheilig het. Dien die Here julle God, dan sal sy toorngloed van julle af weggaan. 9As julle terugkom na die Here toe, sal julle broers en julle seuns medelye vind by dié wat hulle gevange weggevoer het en sal hulle na hierdie land toe terugkom. Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.”

10Die hardlopers het in die gebied van Efraim en Manasse en tot in Sebulon van stad tot stad gegaan, maar die mense het hulle uitgelag en gespot. 11Tog het mense in Aser, Manasse en Sebulon berou gekry en na Jerusalem toe gekom. 12Ook in Juda was die hand van God werksaam. Hy het hulle die koning en die amptenare se bevel wat op sy opdrag berus het, eendragtig laat gehoorsaam. 13Baie mense het in Jerusalem byeengekom, 'n baie groot gemeente, om die fees van die ongesuurde brood in die tweede maand te vier.

14Die mense het die altare wat oral in Jerusalem was, afgebreek, ook al die wierookaltare, en dit in die Kedrondal gegooi. 15Hulle het die paaslam geslag op die veertiende van die tweede maand. Die priesters en die Leviete het skaam gekry en hulle gewy en die brandoffers geoffer in die huis van die Here. 16Hulle het hulle plekke ingeneem volgens die orde wat vir hulle neergelê is in ooreenstemming met die wet van Moses, die man van God. Die priesters het die bloed gesprinkel wat die Leviete vir hulle aangegee het. 17In die gemeente was daar baie mense wat hulle nie gewy het nie, en die Leviete moes toe die paaslammers slag vir almal wat nie rein was nie, sodat ook húlle paaslammers aan die Here gewy kon wees. 18Die meeste van die baie mense uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon het hulle nie gereinig nie en het die paaslam geëet in stryd met wat voorgeskryf is. Maar Hiskia het vir hulle gebid: “Mag die Here in sy goedheid versoening doen vir 19elkeen wat aan God, die Here, die God van sy voorvaders, gehoorsaam wil wees, al is dit nie volgens die reinheidsvoorskrifte van die heiligdom nie.”

20Die Here het Hiskia se gebed verhoor en die volk nie gestraf nie.

21Die Israeliete wat in Jerusalem was, het die fees van die ongesuurde brood met groot vreugde sewe dae lank gevier. Die Leviete en die priesters het elke dag die mag van die Here geloof met begeleiding van musiek, 22en Hiskia het die Leviete geprys oor die bekwaamheid waarmee hulle dié kuns voor die Here beoefen het. Die fees is sewe dae lank gevier. Daar is maaltydoffers gebring en die Israeliete het die Here die God van hulle voorvaders geloof.

23Toe het die hele gemeente besluit om die fees met 'n week te verleng, en hulle het nog sewe dae met vreugde feesgevier. 24Koning Hiskia van Juda het duisend jong bulle en sewe duisend stuks kleinvee tot beskikking van die gemeente gestel, en die amptenare het nog duisend jong bulle en tien duisend stuks kleinvee bygesit. 'n Groot aantal priesters het hulleself gereinig. 25Daar was vreugde in die hele gemeente van Juda, onder die priesters en die Leviete, in die hele gemeente wat uit Israel gekom het, en ook onder die immigrante wat uit die land Israel gekom het en nou in Juda gewoon het. 26In Jerusalem was daar groot vreugde, want so iets was daar nie in Jerusalem van die tyd van koning Salomo van Israel, seun van Dawid, af nie. 27Toe die priesters en die Leviete opstaan en die seën uitspreek oor die volk, het God dit gehoor: hulle gebed het die heilige woning van God in die hemel bereik.

2 KRONIEKE 30AFR83Maak oop in die Bybelleser

Bid dat Jerusalem vrede mag hê

1'n Pelgrimslied. Van Dawid.

Ek was bly toe hulle vir my gesê het:

“Kom ons gaan na die huis van die Here toe.”

2En nou is ons hier binne-in jou, Jerusalem!

3Jerusalem is die stad wat stewig gebou is,

4waarheen die stamme kom,

die stamme van die Here.

Dit is 'n voorskrif vir Israel

om die Naam van die Here hier te loof.

5Hier word reg gespreek,

hier lewer die koning sy uitsprake,

die koning uit die geslag van Dawid.

6Bid dat Jerusalem vrede mag hê,

dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon.

7Mag daar vrede wees binne jou mure,

rus in jou wonings.

8Ter wille van my broers en my vriende

wens ek jou vrede toe.

9Ter wille van die huis van die Here ons God

bid ek dat dit met jou goed sal gaan.

Ek sien na U op

1'n Pelgrimslied.

Ek sien na U op,

U wat uit die hemel heers.

2Soos die oë van 'n slaaf

gerig is op die hand van sy eienaar,

soos die oë van 'n slavin

gerig is op die hand van haar eienares,

so is ons oë gerig op die Here ons God,

totdat Hy Hom oor ons ontferm.

3Ontferm U oor ons, Here, ontferm U oor ons,

want ons het meer as genoeg veragting gehad,

4meer as genoeg spot van oormoedige mense,

veragting van hovaardiges.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS