Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 151

Opvang Dag (Psalms 25–28)

Bybelteks(te)

Maak my u weë bekend

1Van Dawid.

Tot U, Here, rig ek my,

2my God, op U vertrou ek.

Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie,

laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie.

3Niemand wat sy verwagting in U stel,

sal beskaam word nie.

Dié wat nie op U vertrou nie,

hulle kom in die skande.

4Maak my u wil bekend, Here,

leer my u paaie.

5Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin,

want U is God, my redder.

In U stel ek elke dag my verwagting.

6Dink aan die liefde en trou, Here,

wat U van altyd af betoon het.

7Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie.

Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is.

8Die Here is goed en regverdig:

Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,

9Hy laat aan hulpeloses reg geskied

en Hy leer hulle sy pad.

10Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel

met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar.

11Ter wille van u Naam, Here,

vergewe my my sonde,

want dit is groot.

12As iemand die Here dien,

leer Hy hom watter pad hy moet kies,

13sodat hy voorspoed sal geniet

en sy nageslag die land sal bly bewoon.

14Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue

en maak sy verbond aan hulle bekend.

15My oë is altyd op die Here gerig,

want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou.

16Sien my in genade aan, Here,

want ek is eensaam en verstote.

17Ek verkeer in die allergrootste nood;

bevry my tog uit my ellende.

18Kyk hoe sleg gaan dit met my

en hoe swaar kry ek.

Vergewe tog al my sondes.

19Kyk hoe baie vyande het ek

en hoe fel haat hulle my.

20Beskerm my en red my,

laat my nie beskaamd staan nie,

want by U skuil ek.

21Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou,

want op U vertrou ek.

22O God, red Israel uit al sy nood.

Ek is onskuldig

1Van Dawid.

Laat reg aan my geskied, Here,

want ek is onskuldig.

Ek het op die Here vertrou

en nie getwyfel nie.

2Toets my, Here, keur my,

ondersoek my deur en deur.

3Ek laat my deur u liefde lei

en ek lewe deur u trou.

4Ek hou my nie op met bedrieërs nie

en met agterbakse mense gaan ek nie om nie.

5Ek vermy die geselskap van misdadigers

en hou my nie op met goddeloses nie.

6As 'n onskuldige, Here, was ek my hande

en draai ek na u altaar toe

7om my loflied te sing

en van al u wonders te vertel.

8Here, u woonplek,

die tuiste van u heerlikheid, het ek lief.

9Moet my tog nie saam met die sondaars,

met die moordenaars laat omkom nie.

10Daar is bedrog in hulle hande,

hulle regterhande is vol omkoopgeld.

11Maar ek is onskuldig.

Red my en wees my genadig;

12dan is my pad vorentoe gelyk

en sal ek die Here prys in die samekoms van die gemeente.

Die Here is my lig en my redder

1Van Dawid.

Die Here is my lig en my redder,

vir wie sou ek bang wees?

Die Here is my toevlug,

vir wie sou ek vrees?

2As misdadigers op my afstorm om my dood te maak,

my teëstanders en my vyande,

dan is dit juis húlle wat struikel en val.

3Al sou 'n leër teen my stelling inneem,

sal ek nie bang word nie.

Selfs al sou die aanval op my begin,

sal ek nog steeds vertroue hê.

4Net een ding het ek van die Here gevra

en dit sal ek najaag:

dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon

om sy goedheid te belewe

en daaroor na te dink in sy tempel.

5Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis,

my veilig laat skuil in sy woonplek,

my hoog op 'n rots laat staan;

6ek sal in sy woonplek onder trompetgeklank my offers bring,

ek sal 'n lied sing,

ek sal sing tot die eer van die Here

terwyl ek neerkyk op die vyande rondom my.

7Luister tog na my, Here, as ek roep;

wees my genadig en verhoor my gebed.

8Ek onthou wat U gesê het:

“Julle moet My kom dien!”

Ek is hier om U te dien, Here.

9Moet U tog nie vir my verberg nie,

moet my tog nie wegstuur terwyl U toornig is nie,

want U was nog altyd my hulp.

Moet my tog nie verstoot en verlaat nie,

want U alleen is die God wat my red.

10Al sou my vader en my moeder my verlaat,

die Here sal my onder sy sorg neem.

11Leer my u wil, Here,

en lei my op 'n gelyk pad

sodat my vyande nie hulle sin kry nie.

12Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie,

want daar staan vals getuies teenoor my

en hulle blaas geweld teen my aan.

13As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie ...!

14Vertrou op die Here!

Wees sterk en hou goeie moed!

Ja, vertrou op die Here!

Aan die Here kom die lof toe

1Van Dawid.

Ek roep na U, Here, my Rots,

moet tog nie doof wees vir my nie.

As U bly swyg, sal ek wees soos 'n sterwende.

2Hoor my smeekstem

as ek na U roep om hulp,

as ek my hande in gebed uitsteek na die allerheiligste deel van u tempel.

3Moet my tog nie uitroei saam met die goddeloses,

die mense wat onreg doen nie.

Hulle praat vriendelik met hulle bure,

maar daar is kwaadwilligheid in hulle harte.

4Vergeld hulle volgens hulle dade

en volgens hulle skandelike gedrag.

Vergeld hulle volgens die werk van hulle hande

en laat hulle kry wat hulle verdien,

5want hulle let nie op die dade van die Here

en op die werk van sy hande nie.

Daarom sal Hy hulle afbreek

en nooit weer opbou nie.

6Aan die Here kom die lof toe,

want Hy het my smeekstem gehoor.

7Die Here is my sterkte en my beskermer,

op Hom het ek vertrou.

Hy het my gehelp.

Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied.

8Die Here is 'n sterkte vir sy volk,

'n veilige beskutting vir sy gesalfde.

9Red u volk en seën dié wat aan U behoort;

wees vir hulle 'n herder

en sorg altyd vir hulle.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS