Die sonde van Manasse, en sy berou
1Manasse was twaalf toe hy koning geword het en het vyf en vyftig jaar in Jerusalem geregeer. 2Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het die afskuwelike optrede van die heidennasies nagevolg wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. 3Hy het die hoogtes wat deur Hiskia, sy pa, verwoes is, weer opgebou, altare vir die Baäls opgerig, gewyde pale gemaak, voor al die hemelliggame gebuig en hulle gedien. 4Hy het selfs afgodsaltare gebou in die huis van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “My Naam sal altyd in Jerusalem wees.”
5In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare vir al die hemelliggame gebou. 6Hy het sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal as offers verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery, en meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste.
Hy het gruwelik verkeerd gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart. 7Die afgodsbeeld wat hy laat maak het, het hy opgestel binne-in die tempel, die plek waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek onder al die Israelitiese stamme uitgekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. 8As Israel alles doen wat Ek hulle beveel het, in ooreenstemming met die hele wet en die voorskrifte en bepalings wat deur bemiddeling van Moses gegee is, sal Ek hulle voete stewig geplant hou op die grond wat Ek aan hulle voorvaders toegeken het.”
9Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem die verkeerde pad laat loop, sodat hulle erger aangegaan het as die nasies wat deur die Here uitgeroei is om vir Israel plek te maak.
10Die Here het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het daar geen ag op geslaan nie. 11Toe het die Here die leëraanvoerders van die koning van Assirië laat kom, en hulle het Manasse gevange geneem, hake deur sy neus gesteek, hom geboei met bronskettings en hom na Babel toe gevat. 12Toe dit met hom so sleg gaan, het hy die Here sy God om genade gesmeek, groot berou getoon voor die God van sy voorvaders, 13en gebid. Die Here was hom genadig en het sy smeekbede verhoor en hom laat terugkom na Jerusalem, na sy koningskap toe. Toe het Manasse geweet dat die Here God is.
Manasse se bouwerk en hervormings
14Manasse het later die buitemuur van die Dawidstad wes van die Gihon, in die dal, by die ingang van die Vispoort en rondom die Ofel herbou. Hy het die muur baie hoër gemaak as wat dit was. In al die vestingstede van Juda het hy bevelvoerders geplaas.
15Verder het hy die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van die Here verwyder en buitekant die stad weggegooi, en so ook al die altare wat hy op die tempelberg en in Jerusalem gebou het.
16Hy het die altaar van die Here herstel en daarop maaltyd- en dankoffers gebring. Hy het opdrag gegee dat Juda die Here die God van Israel moet dien. 17Die volk het wel nog op die hoogtes offerandes gebring, maar nou vir die Here hulle God.
Manasse se dood
18Die ander verhale oor Manasse, sy gebed tot sy God en die verhale oor die sieners wat hom aangespreek het in die Naam van die Here die God van Israel, staan in Die Verhale van die Konings van Israel. 19Sy gebed en die verhoring daarvan, al sy sonde en sy selfverheffing, en die plekke waar hy hoogtes gebou het en gewyde pale en afgodsbeelde opgerig het voordat hy berou gekry het, staan opgeteken in Die Verhale van die Sieners. 20Manasse is oorlede, en hy is begrawe in sy huis. Sy seun Amon het hom as koning opgevolg.
Amon
21Amon was twee en twintig toe hy koning geword het en het twee jaar in Jerusalem geregeer. 22Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos Manasse, sy pa, gedoen het. Vir al die beelde wat Manasse, sy pa, gemaak het, het Amon offerandes gebring. Hy het hulle gedien 23en nie voor die Here berou getoon soos sy pa nie. Hy het nog meer misdade teen God begaan. 24Sy amptenare het 'n sameswering teen hom gesmee en hom in sy paleis doodgemaak. 25Daarna het die burgers van die land die samesweerders almal doodgemaak en Amon se seun Josia in sy plek koning gemaak.