Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 146

2 KRONIEKE 11–16

Bybelteks(te)

Rehabeam se poging om die opstand te onderdruk

(Vgl. 1 Kon. 12:20-24)

1Dadelik nadat Rehabeam in Jerusalem terug was, het hy honderd en tagtig duisend uitgesoekte manne uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel te veg en die koningskap vir hom terug te wen.

2Maar die woord van die Here het tot Semaja, die man van God, gekom en gesê: 3“Sê vir Rehabeam seun van Salomo, koning van Juda, en vir al die Israeliete in Juda en Benjamin: 4So sê die Here: Moenie optrek en teen julle broers veg nie. Gaan terug, elkeen na sy huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.”

Hulle het geluister na die woorde van die Here en die veldtog teen Jerobeam laat vaar.

Die vestingstede van Rehabeam

5Rehabeam het in Jerusalem gewoon. Vir die beveiliging van Juda het hy 'n aantal stede herbou. 6Hy het die volgende vestingstede in Juda en Benjamin herbou: Betlehem, Etam, Tekoa, 7Bet-Sur, Soko, Adullam, 8Gat, Maresa, Sif, 9Adorajim, Lakis, Aseka, 10Sora, Ajalon en Hebron. 11Hy het die vestings versterk, bevelhebbers oor hulle aangestel en daar voorrade kos, olie en wyn gehou. 12In elke stad was daar ook skilde en spiese. So het hy die vestings baie goed versterk en beheer gehad oor Juda en Benjamin.

Die priesters en die Leviete vestig hulle in Juda

13Die priesters en die Leviete wat oral in Israel gewoon het, het uit al hulle gebiede gekom en in Rehabeam se gebied kom woon. 14Die Leviete moes hulle weivelde en besittings verlaat en na Juda en Jerusalem toe kom omdat Jerobeam en sy opvolgers hulle nie meer toegelaat het om priesters vir die Here te wees nie. 15Jerobeam het sy eie priesters aangestel vir die hoogtes en die veldgode en die kalwerbeelde wat hy gemaak het.

16In navolging van die Leviete het mense wat die Here die God van Israel wou dien, uit al die Israelitiese stamme na Jerusalem toe gekom om daar offerandes te bring aan die Here die God van hulle voorvaders. 17So het hulle die koninkryk van Juda verder versterk en drie jaar by Rehabeam seun van Salomo gestaan. Hulle het dié drie jaar in die spore van Dawid en Salomo gevolg.

Die vrouens en kinders van Rehabeam

18Rehabeam was getroud met Magalat. Haar pa was Jerimot seun van Dawid en haar ma was Abihajil dogter van Eliab, seun van Isai. 19Magalat het vir hom die seuns Jeüs, Semarja en Saham in die wêreld gebring. 20Later is Rehabeam ook getroud met Maäka dogter van Abisalom en by haar het hy vier seuns gehad: Abia, Attai, Sisa en Selomit.

21Rehabeam het vir Maäka dogter van Abisalom liewer gehad as vir al sy ander vrouens en byvrouens. Hy het altesaam agtien vrouens en sestig byvrouens gehad en was die pa van ag en twintig seuns en sestig dogters. 22Hy het vir Abia seun van Maäka as die eerste in rang aangestel en hom die gesag oor sy broers gegee met die oog op die koninklike opvolging. 23Verder het Rehabeam die slim beleid gevolg om sy seuns oral in die versterkte stede van Juda en Benjamin te laat woon. Hy het gesorg dat hulle van 'n oorvloed lewensmiddele voorsien is en het deur onderhandeling vir hulle 'n menigte vrouens verkry.

2 KRONIEKE 11AFR83Maak oop in die Bybelleser

'n Egiptiese inval in Juda

(Vgl. 1 Kon. 14:25-28)

1Rehabeam was nouliks goed gevestig in sy koningskap en seker van sy mag, of hy en die hele Israel saam met hom het die woord van die Here verontagsaam. 2Hulle was ontrou aan die Here, en daarom het Hy vir koning Sisak van Egipte teen Jerusalem laat optrek. Dit was in die vyfde jaar van Rehabeam se regering. 3Sisak het twaalf honderd strydwaens en 'n berede mag van sestig duisend man gehad, terwyl die ander soldate wat saam met hom uit Egipte gekom het, te veel was om te tel. Daar was Libiërs, Sukkeërs en Kussiete. 4Nadat Sisak die vestingstede in Juda verower het, het hy in die rigting van Jerusalem getrek.

5Die profeet Semaja kom toe na Rehabeam en die leiers van Juda toe wat in Jerusalem saamgetrek het uit vrees vir Sisak, en sê vir hulle: “So sê die Here: Julle het My verlaat, en nou het Ek julle verlaat en is julle in Sisak se mag.”

6Die leiers van Israel en die koning het hulle verootmoedig en het gesê: “Die Here doen reg.”

7Toe die Here hulle berou sien, kom sy woord weer tot Semaja en sê: “Hulle is vol berou. Ek sal hulle nie uitroei nie. Ek sal hulle gou uit die greep van Sisak laat vrykom en my toorn oor Jerusalem nie deur Sisak laat losbreek nie. 8Maar hulle sal aan hom onderhorig word, en hulle sal agterkom wat dit is om My te dien en wat dit is om die konings van ander lande te dien.”

9Koning Sisak van Egipte het teen Jerusalem opgetrek en beslag gelê op die skatte in die huis van die Here en die paleis. Hy het alles gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het.

10Koning Rehabeam het toe bronsskilde in die ander se plek laat maak en dié oorhandig aan die offisiere van die wag wat by die ingang van die paleis diens gedoen het. 11Elke keer wanneer die koning na die huis van die Here toe gegaan het, het die wag die skilde gedra, en daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer toe.

12Omdat die koning berou gehad het, het die toorn van die Here nie op hom bly rus nie en het dit hom nie heeltemal vernietig nie. Daar was trouens nog iets goeds in Juda.

Die dood van Rehabeam

(Vgl. 1 Kon. 14:21-22,31)

13Koning Rehabeam het 'n stewige houvas op die koningskap in Jerusalem gehad en het aangehou regeer. Hy was een en veertig toe hy koning geword het en was sewentien jaar lank koning in Jerusalem, die stad wat deur die Here onder al die Israelitiese stamme gekies is om sy Naam daar te vestig.

Rehabeam se ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou. 14Hy het gedoen wat verkeerd is en hy het hom nie daarop toegelê om na die wil van die Here te vra nie. 15Die verhale oor Rehabeam, dié van vroeër sowel as dié van later, is opgeteken in Die Verhale van die Profeet Semaja en die Siener Iddo, wat oor die geslagsregister handel. Daar was deurentyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam.

16Rehabeam is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.

2 KRONIEKE 12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die oorlog tussen Abia en Jerobeam

(Vgl. 1 Kon. 15:1-6)

1In die agtiende regeringsjaar van koning Jerobeam het Abia koning oor Juda geword, 2en hy het drie jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Miga 'n dogter van Uriël, uit Gibea.

Daar het oorlog tussen Abia en Jerobeam uitgebreek. 3Abia het die oorlog begin met 'n mag van vier honderd duisend uitgesoekte soldate, en Jerobeam het hom teengestaan met ag honderd duisend man, ook uitgesoekte soldate.

4Abia was op Semarajimberg in die Efraimsberge en hy het daarvandaan geroep: “Luister, Jerobeam en al julle Israeliete! 5Julle weet tog dat die Here die God van Israel die koningskap oor Israel vir altyd aan Dawid en sy nageslag gegee het. Dit is 'n onverbreekbare verbond. 6Jerobeam seun van Nebat en amptenaar van Salomo seun van Dawid het teen sy koning in opstand gekom, 7en 'n klomp roekelose boewe het om hom saamgekoek. Hulle was te sterk vir Rehabeam seun van Salomo, want hy was nog jonk en sag en kon hom nie teen hulle handhaaf nie. 8Nou wil julle die koninklike mag van die Here weerstaan wat Hy aan die nageslag van Dawid toevertrou het. Júlle is baie en julle het die goue kalwerbeelde by julle wat Jerobeam vir julle vir gode gemaak het. 9Julle het die priesters van die Here, die nageslag van Aäron, en ook die Leviete verdryf en vir julle priesters aangestel soos die volke in ander lande doen: elkeen wat 'n bul of sewe skape gebring het, het priester geword vir daardie afgode van julle.

10“Óns dien die Here ons God; óns het Hom nie verlaat nie. Die priesters wat die diens van die Here verrig, is uit die geslag van Aäron, en die Leviete staan hulle by. 11Hulle bring elke môre en elke aand vir die Here brandoffers en geurige wierookoffers, hulle sit gereeld die offerbrood op 'n rein tafel en steek elke aand die goue kandelaar se lampe op. Ons onderhou nog die diens van die Here ons God, maar júlle het Hom verlaat. 12Ons het die Here self by ons as leier, en sy priesters staan reg om die trompette te blaas dat die stryd teen julle kan begin. Israeliete, moenie teen die Here, die God van julle voorvaders, veg nie. Julle kan nie wen nie!”

13Jerobeam het van sy manskappe om die linies van Juda gestuur om 'n hinderlaag agter hulle op te stel. Daar was dus 'n hinderlaag agter die Judeërs, en Jerobeam en die ander troepe was voor hulle. 14Toe die Judeërs omkyk en sien hulle word van voor en van agter bedreig, het hulle na die Here om hulp geroep en het die priesters die trompette geblaas. 15Die manskappe van Juda het die oorlogskreet aangehef, en God het Jerobeam en die hele Israel 'n neerlaag laat ly teen Abia en Juda. 16Die Israeliete het vir Juda gevlug, want God het Israel in die mag van Juda oorgegee. 17Abia en sy manne het 'n groot slagting onder hulle aangerig. Vyf honderd duisend van Israel se uitgesoekte manne het gesneuwel. 18So is die Israeliete destyds 'n vernederende neerlaag toegedien, en het Juda die oorhand gekry omdat hulle gesteun het op die Here, die God van hulle voorvaders. 19Abia het sy oorwinning oor Jerobeam opgevolg met die besetting van verskeie van Jerobeam se stede: Bet-El, Jesana en Efron, elkeen met sy voorposte.

20Gedurende die regeringstyd van Abia kon Jerobeam nie sy mag herwin nie. Die Here het hom onverwags laat sterf.

Die dood van Abia

(Vgl. 1 Kon. 15:7-8)

21Abia se mag het toegeneem. Hy het veertien vrouens gehad en was die pa van twee en twintig seuns en sestien dogters. 22Die res van die verhale oor Abia, wat hy gedoen en gesê het, is opgeteken in Die Kommentaar van die Profeet Iddo.

2 KRONIEKE 13AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Abia is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg en in dié se tyd het die land tien jaar lank vrede gehad.

Die godsdienstige en militêre maatreëls van Asa

2Asa het gedoen wat goed en reg is in die oë van die Here sy God. 3Hy het die altare van vreemde gode en die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. 4Hy het bevel gegee dat Juda aan die Here, die God van hulle voorvaders, gehoorsaam moet wees deur sy wil te doen en sy gebooie na te kom. 5Hy het die hoogtes en die wierookaltare in al die stede van Juda laat verwoes. Onder hom het die land vrede gehad.

6Omdat die land vrede gehad het, en Asa nie oorlog moes voer nie, het hy in dié jare vestingstede in Juda gebou. Die Here het hom rus gegee, 7en daarom het hy vir Juda gesê: “Laat ons dié stede versterk met mure en torings, poorte en sluitbalke. Die land is nog ons s'n, want ons is gehoorsaam aan die Here ons God, en Hy het ons na alle kante toe rus gegee.”

Hulle was dan ook voorspoedig met die bouwerk.

Die veldslag teen die Kussiete

8Asa se leër het bestaan uit drie honderd duisend weerbare man uit Juda wat met skild en spies bewapen was, en twee honderd en tagtig duisend uit Benjamin, gewapen met skild en pyl en boog, almal dapper manne.

9Die Kussiet Serag het Juda binnegeval met 'n leër van 'n miljoen man en met drie honderd strydwaens. Hy het deurgedring tot by Maresa, 10en daar het Asa hom tegemoet getrek. Die Kussiete was opgestel in die Sefatalaagte by Maresa.

11Asa het die Here sy God aangeroep en gesê: “Here, net U kan die swakke teen 'n oormag help. Help ons, Here ons God! Ons steun op U, en in u Naam trek ons teen dié menigte op. U is ons God, Here; moenie dat 'n méns teen U seëvier nie.”

12Die Here het die Kussiete die onderspit laat delf teen Asa en Juda. Toe die Kussiete op die vlug slaan, 13het Asa en die manne by hom hulle agtervolg tot by Gerar, en daar het soveel Kussiete gesneuwel dat hulle leër nie kon herstel nie. Hulle is deur die Here en sy leër uitmekaargeslaan. Die Judeërs het 'n groot hoeveelheid buit gekry. 14Hulle het toe al die stede in die omgewing van Gerar ingeneem en geplunder, want die stede was van skrik bevange vir die Here. Daar was ook baie buit. 15Daarna het hulle die kampe van die veewagters aangeval en baie kleinvee en kamele gebuit en na Jerusalem toe saamgevat.

2 KRONIEKE 14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die godsdienstige hervormings van Asa

1Die Gees van God het oor Asarja seun van Oded gekom. 2Hy het Asa tegemoet gegaan en vir hom gesê: “Luister na my, Asa en alle manne van Juda en Benjamin: As julle by die Here is, sal Hy by julle wees; as julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat. 3Israel was lank sonder die ware God, sonder 'n priester wat die wil van God bekend kon maak, en sonder die woord van God. 4Toe Israel hom in sy nood tot die Here sy God bekeer het en na Hom gevra het, het die Here Hom deur hulle laat vind. 5In daardie tyd kon niemand veilig kom of gaan nie, want daar was groot onrus in al die lande. 6Volk het teen volk gebots, stad teen stad, want God het onrus en nood oor hulle gebring. 7Maar julle moet vasstaan en nie moedeloos word nie, want julle sal die beloning vir julle optrede ontvang.”

8Toe Asa hoor wat die profeet, die seun van Oded, aankondig, het hy moed geskep en die afgodsbeelde uit die hele gebied van Juda en Benjamin laat verwyder, en ook uit die stede wat hy in die Efraimsberge verower het. Hy het ook die altaar van die Here wat voor die ingangsportaal van die tempel was, laat regmaak.

9Deur hierdie optrede het hy die hele Juda en Benjamin om hom saamgetrek, en ook talle immigrante uit Efraim en Manasse en uit Simeon, wat uit Israel na hom toe oorgeloop het toe hulle sien die Here sy God is by hom.

10In die derde maand van die vyftiende regeringsjaar van Asa het hulle almal in Jerusalem bymekaargekom 11en op dié bepaalde dag vir die Here offerandes gebring uit die buit wat hulle saamgebring het: sewe honderd beeste en sewe duisend stuks kleinvee. 12Hulle het ook 'n verbond gesluit om aan die Here die God van hulle voorvaders gehoorsaam te wees met hulle hele hart en siel. 13Elkeen wat ongehoorsaam was aan die Here die God van Israel, moes doodgemaak word, klein en groot, man en vrou. 14Hulle het die eed aan die Here hardop afgelê onder begeleiding van jubelroepe, trompetgeskal en die klank van die ramshoring. 15Die hele Juda het hulle verheug oor die eed, want hulle het dit met hulle hele hart afgelê. Dit was vir hulle 'n vreugde om na die Here te vra, en Hy het Hom deur hulle laat vind en hulle rus gegee na alle kante toe.

16Koning Asa het vir Maäka, sy ouma, as koninginmoeder afgesit omdat sy 'n Asjerabeeld, 'n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap, dit fyngemaal en in die Kedrondal in die vuur gegooi. 17Die hoogtes het wel nie heeltemal uit Israel verdwyn nie, maar Asa was sy lewe lank getrou aan die Here. 18Hy het die wydingsgeskenke van sy pa, en ook sy eie, in die tempel van God gebring: silwer, goud en offergereedskap. 19Tot sy vyf en dertigste regeringsjaar was daar nie oorlog nie.

2 KRONIEKE 15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Asa sluit 'n verdrag met die Arameërs

(Vgl. 1 Kon. 15:17-22)

1In die ses en dertigste regeringsjaar van Asa het koning Baesa van Israel met 'n veldtog teen Juda begin. Hy het die stad Rama in 'n vesting omskep om te verhoed dat mense heen en weer beweeg na en van koning Asa van Juda. 2Asa het toe silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die Here en die paleis gevat en dit vir koning Ben-Hadad van die Arameërs in Damaskus gestuur met die boodskap: 3“Daar is 'n verdrag tussen u en my en daar was al een tussen ons vaders. Ek stuur vir u silwer en goud. Breek u verdrag met koning Baesa van Israel dat hy uit my land kan terugtrek.”

4Ben-Hadad het voldoen aan die versoek van koning Asa. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val, en hulle het Ijon, Dan, Abel-Majim en al die voorraadstede in Naftali verower. 5Toe Baesa dit hoor, het hy die bouwerk by Rama gestaak en die hele onderneming laat vaar. 6Koning Asa het die hele Juda saam gevat en hulle die klip en hout wat Baesa vir die bouwerk by Rama gebruik het, laat wegdra. Hulle het dié gebruik vir bouwerk by Geba en Mispa.

Asa word bestraf

7In dié tyd het die siener Ganani na koning Asa van Juda toe gekom en vir hom gesê: “Jy het gesteun op die koning van Aram, jy het nie op die Here jou God gesteun nie. Daarom het die leër van die koning van Aram jou ontglip. 8Die Kussiete en die Libiërs was 'n groot leërmag met 'n magtige getal strydwaens en ruiters, maar jy het gesteun op die Here, en Hy het hulle aan jou oorgegee. 9Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Maar nou het jy dwaas opgetree en daarom sal jy van nou af oorlog hê.”

10Asa was so kwaad vir die siener dat hy hom in die tronk laat sit het. Hy was woedend oor wat die siener gesê het. In dié tyd het Asa ook begin om sommige mense sleg te behandel.

Die dood van Asa

(Vgl. 1 Kon. 15:24)

11Die verhale oor Asa, dié van vroeër sowel as dié van later, is opgeteken in die annale van die konings van Juda en Israel. 12In sy nege en dertigste regeringsjaar het Asa 'n uiters ernstige siekte aan sy voete opgedoen, maar selfs in dié siekte het hy nie die Here geraadpleeg nie, wel die dokters. 13Hy is oorlede in die een en veertigste jaar van sy regering. 14Hulle het hom begrawe in die graf wat hy vir hom in die Dawidstad laat uitkap het, en hulle het sy liggaam neergelê op die plek wat hy met balsem en allerlei speserymengsels laat bedek het. Hulle het ook ter ere van hom 'n groot vuur aangesteek.

2 KRONIEKE 16AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS