Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 145

2 KRONIEKE 6–10, PSALM 30

Bybelteks(te)

Toespraak van Salomo

(Vgl. 1 Kon. 8:12-21)

1Toe het Salomo gesê:

“Die Here het gesê Hy wil in duisternis woon.

2Daarom het ek vir U 'n waardige huis gebou,

'n verblyf waar U altyd kan woon.”

3Daarna het die koning sy gesig na die hele gemeente van Israel toe gedraai en die hele gemeente van Israel geseën terwyl hulle daar staan. 4Hy het gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat aan my vader Dawid 'n belofte gedoen het en dit deur sy mag vervul het.

“Die woorde van die Here was: 5‘Van die dag af dat Ek my volk uit Egipte gebring het, het Ek uit al die stamgebiede van Israel nie 'n stad gekies waar 'n tempel gebou kan word sodat my Naam daar kan wees nie en het Ek ook nie iemand gekies om heerser oor my volk Israel te wees nie, 6totdat Ek Jerusalem gekies het sodat my Naam daar kan wees, en vir Dawid sodat hy oor my volk Israel kon regeer.’

7“My vader Dawid was van voorneme om 'n tempel te bou vir die Naam van die Here die God van Israel, 8maar die Here het vir my vader Dawid gesê: ‘Dat dit jou voorneme is om 'n tempel vir my Naam te bou – dit is goed dat jy die voorneme het. 9Maar nie jý sal die tempel bou nie; jou seun wat uit jou voortgekom het, hý sal die tempel vir my Naam bou.’

10“Die Here het die belofte wat Hy gemaak het, nagekom. Ek het my vader Dawid se plek geneem en op die troon van Israel gekom soos die Here beloof het. Die tempel vir die Naam van die Here die God van Israel het ek gebou 11en die ark waarin die verbond van die Here is wat Hy met die Israeliete gesluit het, het ek daar gesit.”

Gebed van Salomo

(Vgl. 1 Kon. 8:22-53)

12Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit. 13Hy het op 'n bronsverhoog gestaan wat hy gemaak het en in die voorhof gesit het. Dit was twee en 'n half meter lank, twee en 'n half meter breed, een en 'n half meter hoog. Hy het daarop gaan staan en toe kniel hy voor die hele gemeente van Israel en strek sy hande uit na die hemel toe 14en sê:

“Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe. 15U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so, soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul.

16“Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het.

17“Here, God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar Dawid gedoen het, ook verder vas staan.

18“Sou God werklik by die mens op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!

19“Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar tot U rig. 20Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid. 21Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog!

22“As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel, 23luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade ondergaan en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas.

24“As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U, 25luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle en hulle voorvaders gegee het.

26“Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor, 27luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel.

28“Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref, 29luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag en sy smart te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek; 30luister tog uit die hemel, u woonplek, en vergeef en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken die mens se hart, 31sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees en u weg sal bewandel die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het.

32“Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit 'n ver land kom en na hierdie tempel toe bid. 33Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het.

34“Sou u volk teen sy vyande uittrek in 'n oorlog wat deur U beveel is, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U gekies het en die huis wat ek vir u Naam gebou het, 35luister tog uit die hemel na hulle gebed en hulle smeking en gee hulle die oorwinning.

36“Sou hulle teen U sondig, want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan 'n vyand oorgee sodat hulle as gevangenes weggevoer word na 'n land, ver of naby, 37en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig’, 38en hulle tot U wend met hart en siel in die land van hulle gevangenskap en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat deur U gekies is en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, 39luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg en vergeef u volk wat teen U gesondig het.

40“My God, hou dan nou hierdie plek onder u sorg en verhoor tog elke gebed hiervandaan.

41“Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge. 42Here God, hou u gesalfde onder u sorg. Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar Dawid.”

2 KRONIEKE 6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Inwyding van die tempel

(Vgl. 1 Kon. 8:62-66)

1Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander diereoffers verteer, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul. 2Die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, so het sy magtige teenwoordigheid sy huis gevul. 3Toe al die Israeliete sien dat die vuur en die magtige teenwoordigheid van die Here op die tempel af kom, het hulle op die plaveisel gekniel. Hulle het in eerbetoon gebuig en die Here geloof: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

4Die koning en die hele volk het vir die Here offerandes gebring. 5Koning Salomo het twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee geoffer. So het die koning en die hele volk die tempel van God ingewy. 6Die priesters het op hulle poste gestaan en so ook die Leviete met die instrumente vir die lied tot die eer van die Here. Koning Dawid het die instrumente laat maak om die Here te loof: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” So was die lofsang van Dawid in die Leviete se hande. Regoor hulle het die priesters die trompette geblaas en die hele Israel het daar gestaan.

7Salomo het die middelgedeelte van die voorhof wat reg voor die huis van die Here is, gewy, want dit is waar hy die brandoffers en die vetgedeeltes van die maaltydoffers verbrand het. Op die bronsaltaar wat hy gemaak het, was daar nie plek vir die brandoffers en die graanoffers en die vetgedeeltes nie.

8Salomo, en die hele Israel saam met hom wat gekom het uit die hele land, van Lebo-Hamat af tot by Egiptespruit, 'n baie groot gemeente, het destyds sewe dae lank fees gehou. 9Op die agste dag na die inwyding van die altaar wat sewe dae lank gevier is, het hulle 'n feestelike byeenkoms gehou. Die huttefees daarna het ook sewe dae geduur. 10Eers op die drie en twintigste van die sewende maand het Salomo die volk terug laat gaan huis toe, bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan Dawid, Salomo en sy volk Israel.

11So het Salomo dan die huis van die Here en die koninklike paleis voltooi. Alles wat Salomo onderneem het aan die huis van die Here en aan sy eie paleis, is voorspoedig afgehandel.

Die belofte en dreigement van die Here

(Vgl. 1 Kon. 9:1-9)

12Daarna verskyn die Here een nag aan Salomo en sê vir hom: “Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir My offerandes gebring kan word. 13As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, 14en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. 15Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. 16En nou kies Ek en heilig Ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees, en dit altyd my sorg en my liefde sal geniet.

17“En jy, as jy soos jou vader Dawid leef volgens my wil en alles doen wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom, 18sal Ek jou heerskappy bestendig. So het Ek met jou vader Dawid ooreengekom: Nooit sal dit jou ontbreek aan iemand om oor Israel te regeer nie.

19“Maar as julle wegdraai en my voorskrifte en my gebooie wat Ek julle gegee het, verontagsaam en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle, 20sal Ek julle wegdryf uit my land wat Ek julle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal daarvan 'n spot en 'n skimp maak onder al die volke. 21Ja, hoe verhewe hierdie tempel ook al was vir elke verbyganger, die verbyganger sal dan sy asem intrek en sê: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’ 22En die mense sal sê: Omdat daardie volk vergeet het van die Here die God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het Hy al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.”

2 KRONIEKE 7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Salomo se administratiewe reëlings

(Vgl. 1 Kon. 9:10-28)

1Na afloop van die twintig jaar waarin Salomo die huis van die Here en sy eie paleis gebou het, 2het hy die stede wat Hiram aan hom oorgedra het, weer opgebou en Israeliete daar gevestig. 3Hy het na Hamat-Soba toe gegaan en dié ingeneem. 4Hy het Tadmor in die woestyn versterk, en ook al die voorraadstede wat hy in Hamat gebou het. 5Hy het Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder herbou, vestingstede met mure, poortdeure en sluitbalke; 6net so ook Baälat en al die voorraadstede wat hy besit het, die stede vir die strydwamagte en die berede magte. Verder het hy al die bouwerk waarop hy besluit het, voltooi in Jerusalem, op die Libanon en dwarsdeur die land waaroor hy geregeer het.

7Salomo het al die nie-Israeliete, die mense wat nog oor was van die Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, 8afstammelinge van dié wat nie deur die Israeliete uitgeroei is nie en nog oor was in die land, dwangarbeid laat doen. Dit is vandag nog so. 9Salomo het nie die Israeliete as arbeiders gebruik vir sy projekte nie, want hulle was die soldate en die aanvoerders van sy strydwabemannings, sy strydwamag en sy berede mag. 10Daar was ook nog die volgende getal uitvoerende beamptes oor wie koning Salomo beskik het: twee honderd en vyftig wat gesag oor die volk uitgeoefen het.

11Salomo het die dogter van die farao uit die Dawidstad laat trek na die paleis toe wat hy vir haar gebou het, “want,” het hy gesê, “'n vrou van my kan nie in die paleis van koning Dawid van Israel woon nie; dit is 'n heiligdom, want die ark van die Here het daar gestaan.”

12Salomo het brandoffers vir die Here gebring op die altaar van die Here wat hy reg voor die voorportaal gebou het. 13Die offers is gebring soos dit van dag tot dag moes gebeur volgens die voorskrif van Moses: op die sabbatte, die nuwemaansfeeste en die feestye drie maal per jaar, naamlik die fees van die ongesuurde brood, die fees van die weke en die huttefees. 14Salomo het, volgens die orde wat sy vader Dawid vasgestel het, vir die priesterafdeling hulle dienste bepaal en vir die Leviete hulle diensbeurte met die oog op die lofsang en die bystand aan die priesters soos dit van dag tot dag nodig was; so ook vir die afdelings poortwagte by elke poort. Dit is immers hoe Dawid, die man van God, dit voorgeskryf het. 15Hulle het ook nie afgewyk van die koninklike voorskrif vir die priesters en die Leviete ten opsigte van alles in verband met die voorraadkamers nie.

16So is al Salomo se werk afgehandel, van die dag af dat die fondamente van die huis van die Here gelê is totdat Salomo die tempel voltooi het.

17Daarna is Salomo na Esjon-Geber en na Elat toe, aan die see by Edom. 18Hiram het vir hom skepe gestuur en ervare seemanne onder bevel van hulle eie offisiere. Hulle het met die manne van Salomo saamgegaan na Ofir toe en daar sowat vyftien en 'n half ton goud vir koning Salomo gaan haal.

2 KRONIEKE 8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die besoek van die koningin van Skeba

(Vgl. 1 Kon. 10:1-13)

1Die koningin van Skeba het gehoor wat van Salomo vertel word en sy het toe self na Jerusalem toe gekom om hom met moeilike vrae te toets. Sy het 'n baie groot gevolg saamgebring en ook kamele wat belaai was met kosbare kruie en 'n groot hoeveelheid goud en edelstene. Toe sy by Salomo kom, het sy met hom oor alles gepraat waaraan sy kon dink, 2en Salomo het vir haar 'n antwoord gehad op al haar vrae. Niks was vir Salomo onverklaarbaar nie: hy kon haar op alles antwoord.

3Die koningin van Skeba het onder die indruk gekom van Salomo se wysheid, die tempel wat hy gebou het, 4die geregte op sy tafel, die manier waarop sy amptenare aangesit het, die bediening deur sy tafelbediendes met hulle monderings, sy skinkers met hulle monderings, en van die optog wanneer hy na die huis van die Here toe opgegaan het. Haar asem het daarvan weggeslaan. 5Sy het vir die koning gesê: “Wat ek in my land oor u en u wysheid gehoor het, is waar. 6Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom en myself oortuig het. Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is oor u groot wysheid nie. U het alles wat ek gehoor het, ver oortref. 7Hoe bevoorreg is u mense en hoe bevoorreg is hierdie amptenare van u dat hulle gedurig in u diens staan en u wysheid aanhoor! 8Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys dat Hy u op sy troon gesit het, 'n koning deur u God, die Here, self aangewys! Dit is omdat u God vir Israel liefhet en die volk altyd in stand wil hou dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en die reg te handhaaf.”

9Sy het vir die koning meer as vier ton goud en 'n groot hoeveelheid kosbare kruie en edelstene gegee. Die kruie wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het, was meer as wat ooit die land ingekom het.

10Bowendien het die dienaars van Hiram en Salomo wat die goud uit Ofir gebring het, ook nog jenewerhout en edelstene gebring. 11Die koning het die jenewerhout gebruik vir relings by die huis van die Here en by die koninklike paleis, en vir die liere en harpe van die musikante. Die gelyke daarvan is tevore nie in Juda gesien nie.

12Vir die koningin van Skeba het koning Salomo alles gegee wat sy begeer en gevra het, meer selfs as wat sy vir die koning gebring het. Sy is toe terug na haar land toe, sy en haar gevolg.

Die rykdom, weelde en mag van Salomo

(Vgl. 1 Kon. 10:14-25)

13Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop. 14Behalwe wat die reisigers en handelaars ingebring het, het al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs ook goud en silwer aan Salomo gelewer.

15Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram gebruik. 16Hy het ook nog drie honderd klein skilde van goud gemaak; hier het hy sowat drie en 'n half kilogram vir elke skild gebruik. Die koning het hulle opgestel in die Libanonsbosgebou.

17Verder het die koning 'n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. 18Die troon het ses trappe gehad en 'n voetbank wat met goud aan die troon vasgeheg was. Weerskante van die sitplek was daar armleunings, met 'n leeu langs elkeen. 19Twaalf leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.

20Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer is in Salomo se dae nie as iets besonders beskou nie. 21Die koning het 'n vloot gehad wat saam met die dienaars van Hiram na Tarsis toe gevaar het. Om die drie jaar het die Tarsisvloot teruggekom, vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane.

22Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid. 23Al die konings van die aarde het geprobeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor. 24Elkeen het sy geskenk saamgebring: silwer- en goudware, mantels, wapenrusting, kosbare kruie, perde en muile. So het dit jaar vir jaar gegaan.

25Salomo het vier duisend stalle vir perde en strydwaens gehad en twaalf duisend ruiters. Hy het hulle gestasioneer in die strydwaposte en by die paleis in Jerusalem. 26Hy was opperheerser oor al die konings, van die Eufraat af tot in die land van die Filistyne en tot aan die grens van Egipte. 27Silwer het hy in Jerusalem so alledaags soos klippe gemaak en seders soos die wildevyebome in die Laeveld. 28Perde is vir Salomo uit Egipte en al die lande ingevoer.

Die dood van Salomo

(Vgl. 1 Kon. 11:41-43)

29Die res van die verhale oor Salomo, dié van vroeër sowel as dié van later, is opgeteken in Die Verhale van die Profeet Natan, Die Profesieë van Agija van Silo, en Die Gesigte van die Siener Jedi oor Jerobeam seun van Nebat.

30Salomo was veertig jaar koning in Jerusalem oor die hele Israel. 31Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Rehabeam het hom as koning opgevolg.

2 KRONIEKE 9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die skeuring van die ryk

(Vgl. 1 Kon. 12:1-19)

1Rehabeam het na Sigem toe gegaan omdat die hele Israel daarheen gekom het om hom tot koning te kroon.

2Jerobeam seun van Nebat was nog in Egipte, waarheen hy vir koning Salomo gevlug het, en toe hy die berig kry, het hy uit Egipte teruggekom. 3Dit was nadat hulle boodskappers gestuur en hom laat roep het.

Hy en die hele Israel kom toe na Rehabeam toe en sê vir hom: 4“U vader het ons 'n swaar juk laat dra. As u die verpligtinge wat u vader ons opgelê het, minder maak en so die juk ligter maak wat hy ons laat dra het, sal ons u onderdane bly.”

5Rehabeam het vir hulle gesê: “Kom oor drie dae na my toe terug.”

Nadat die volk vertrek het, 6het Rehabeam toe die raad gevra van die ouer mense wat in diens van Salomo, sy pa, was tydens dié se lewe. “Wat meen julle moet ek hierdie mense antwoord?” het hy gevra.

7Hulle het vir hom gesê: “As u dit goed bedoel met hierdie volk en hulle tevrede stel en hulle 'n gunstige antwoord gee, sal hulle altyd u onderdane bly.”

8Maar hy het die raad wat die ouer mense hom gegee het, in die wind geslaan en die raad gevra van die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en in sy diens was: 9“Wat meen júlle moet ons hierdie mense antwoord? Hulle het gevra ek moet die juk wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.”

10Die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, het vir hom gesê: “U moet die volk soos volg antwoord. Hulle het vir u gesê: ‘U vader het ons 'n swaar juk laat dra, maak u vir ons die juk ligter.’ U moet vir hulle sê:

“My pinkie is dikker as my pa se middellyf.

11My pa het 'n swaar juk op julle laat druk,

ek gaan die juk nog swaarder maak.

My pa het julle met swepe geslaan,

ek sal julle met gesels slaan.”

12Toe Jerobeam en die hele volk die derde dag by koning Rehabeam kom volgens sy opdrag “Kom oor drie dae na my toe terug”, 13het hy hulle dié harde antwoord gegee. Koning Rehabeam het die raad van die ouer mense in die wind geslaan 14en die volk geantwoord volgens die raad van die jonger manne:

“Ek gaan 'n swaar juk op julle lê,

ek gaan dit nog swaarder maak.

My pa het julle met swepe geslaan,

ek sal julle met gesels slaan.”

15Die koning het nie aan die versoek van die volk voldoen nie. Dit was 'n beskikking van die Here God, sodat Hy sy belofte kon hou wat Hy deur Agija van Silo aan Jerobeam seun van Nebat gegee het.

16Toe die Israeliete hoor dat die koning nie aan hulle versoek voldoen het nie, het hulle vir hom gesê:

“Dawid is nie deel van ons nie;

ons het niks aan Isai se seun nie!

Elkeen terug na sy woonplek toe, Israel!

Kyk nou maar na jou eie huis, Dawid!”

Die hele Israel is toe terug na sy eie woongebied toe. 17Rehabeam het net koning geword oor die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het.

18Koning Rehabeam het vir Adoniram, wat in bevel van die dwangarbeid was, na Israel toe gestuur, maar die Israeliete het hom met klippe doodgegooi, en koning Rehabeam self het dit net-net reggekry om op sy strydwa te kom en na Jerusalem toe te vlug. 19So het Israel in opstand gekom teen die koningshuis van Dawid, en dit is vandag nog so.

2 KRONIEKE 10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vir altyd sal ek U loof

1'n Psalm. 'n Lied vir die inwyding van die tempel. Van Dawid.

2Ek wil u lof verkondig, Here, want U het my gered

en my vyande nie laat bly wees oor my nie.

3Here my God, ek het na U geroep om hulp

en U het my gesond gemaak.

4Here, U het my gered van die doderyk,

my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe.

5Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien,

loof sy heilige Naam!

6Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik,

maar sy goedheid lewenslank.

Gisteraand was daar nog trane

en vanmôre lag ek al weer.

7Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê:

“Niks sal my ooit laat wankel nie.”

8Deur u goedheid het U my op 'n veilige berg laat staan, Here.

Maar toe U U aan my onttrek het,

het ek baie bang geword.

9Ek het na U geroep, Here.

Ek het U om genade gesmeek:

10“Watter voordeel is daar in my ondergang

as ek die graf moet ingaan?

Kan stof U loof?

Kan dit u trou verkondig?

11Luister, Here, en wees my genadig!

Help my, Here!”

12Ek was in die rou,

maar U het my van vreugde laat dans.

U het my rouklere uitgetrek

en vir my feesklere aangetrek.

13Daarom sal ek sing tot u eer;

ek sal nie stilbly nie.

Here my God, vir altyd sal ek U loof!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS