2 KRONIEKE 14
1Abia is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg en in dié se tyd het die land tien jaar lank vrede gehad.
Die godsdienstige en militêre maatreëls van Asa
2Asa het gedoen wat goed en reg is in die oë van die Here sy God. 3Hy het die altare van vreemde gode en die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. 4Hy het bevel gegee dat Juda aan die Here, die God van hulle voorvaders, gehoorsaam moet wees deur sy wil te doen en sy gebooie na te kom. 5Hy het die hoogtes en die wierookaltare in al die stede van Juda laat verwoes. Onder hom het die land vrede gehad.
6Omdat die land vrede gehad het, en Asa nie oorlog moes voer nie, het hy in dié jare vestingstede in Juda gebou. Die Here het hom rus gegee, 7en daarom het hy vir Juda gesê: “Laat ons dié stede versterk met mure en torings, poorte en sluitbalke. Die land is nog ons s'n, want ons is gehoorsaam aan die Here ons God, en Hy het ons na alle kante toe rus gegee.”
Hulle was dan ook voorspoedig met die bouwerk.
Die veldslag teen die Kussiete
8Asa se leër het bestaan uit drie honderd duisend weerbare man uit Juda wat met skild en spies bewapen was, en twee honderd en tagtig duisend uit Benjamin, gewapen met skild en pyl en boog, almal dapper manne.
9Die Kussiet Serag het Juda binnegeval met 'n leër van 'n miljoen man en met drie honderd strydwaens. Hy het deurgedring tot by Maresa, 10en daar het Asa hom tegemoet getrek. Die Kussiete was opgestel in die Sefatalaagte by Maresa.
11Asa het die Here sy God aangeroep en gesê: “Here, net U kan die swakke teen 'n oormag help. Help ons, Here ons God! Ons steun op U, en in u Naam trek ons teen dié menigte op. U is ons God, Here; moenie dat 'n méns teen U seëvier nie.”
12Die Here het die Kussiete die onderspit laat delf teen Asa en Juda. Toe die Kussiete op die vlug slaan, 13het Asa en die manne by hom hulle agtervolg tot by Gerar, en daar het soveel Kussiete gesneuwel dat hulle leër nie kon herstel nie. Hulle is deur die Here en sy leër uitmekaargeslaan. Die Judeërs het 'n groot hoeveelheid buit gekry. 14Hulle het toe al die stede in die omgewing van Gerar ingeneem en geplunder, want die stede was van skrik bevange vir die Here. Daar was ook baie buit. 15Daarna het hulle die kampe van die veewagters aangeval en baie kleinvee en kamele gebuit en na Jerusalem toe saamgevat.
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.