Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 147

2 KRONIEKE 17–21, SPREUKE 14

Bybelteks(te)

2 KRONIEKE 17

1Sy seun Josafat het hom as koning opgevolg.

Die regering van Josafat

Josafat het die land teen Israel beveilig 2deur soldate te stasioneer in al die vestingstede van Juda en deur wagposte te plaas in Juda sowel as in die stede wat Asa, sy pa, in Efraim verower het. 3Die Here was by Josafat, want hy het sy voorvader Dawid se vroeëre lewe nagevolg. Hy het nie die Baäls gedien nie, 4maar die God van sy vader. Hy het die gebooie van God gehoorsaam en nie gemaak soos Israel nie. 5Daarom het die Here Josafat se koningskap bevestig. Die hele Juda het vir Josafat geskenke gebring, en hy het ryk geword en groot aansien geniet. 6Hy het sy eer daarin gestel om te leef soos die Here dit wil en het die vernietiging van die hoogtes en gewyde pale in Juda voortgesit.

7In die derde jaar van sy regering het hy van sy beste amptenare uitgestuur om oral in die stede van Juda onderrig te gee: Obadja, Sagaria, Netanel en Miga. 8Daar was Leviete saam met hulle: Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Hulle was die Leviete; en verder was die priesters Elisama en Joram by hulle. 9Hulle het onderrig gegee in Juda. Hulle het die wetboek van die Here saamgeneem, die rondte gedoen in al die stede van Juda, en die volk in die wet onderrig.

10Al die lande rondom Juda was van skrik bevange vir die Here; hulle het Josafat nie aangeval nie. 11Selfs van die Filistyne af is daar vir Josafat geskenke en 'n groot hoeveelheid silwer gebring, en die Arabiere het vir hom kleinvee gebring, sewe duisend sewe honderd skaapramme en sewe duisend sewe honderd bokramme.

12So het Josafat steeds magtiger geword. Hy het forte en voorraadstede in Juda gebou 13en in elke stad van Juda groot bedrywigheid aan die gang gesit. In Jerusalem het hy sy beste soldate gehad. 14Hulle is familiegewys georganiseer. Uit Juda was daar die volgende bevelvoerders oor duisend: die bevelvoerder Adna met drie honderd duisend weerbare man by hom, 15naas hom die bevelvoerder Joganan met twee honderd en tagtig duisend, 16naas hom Amasja seun van Sikri, wat hom met 'n vrywillige eed aan die Here gewy het, met twee honderd duisend weerbare man. 17Uit Benjamin was daar die krygsman Eljada met twee honderd duisend man by hom, gewapen met pyl en boog en skild, 18en naas hom Josabad met honderd en tagtig duisend by hom, ten volle toegerus vir oorlog. 19Dit is die manne wat tot die koning se beskikking was, afgesien van dié wat hy in die vestingstede oral in Juda geplaas het.

2 KRONIEKE 17AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 18

Josafat veg saam met Agab teen die Arameërs

(Vgl. 1 Kon. 22:2-35)

1Toe Josafat ryk geword het en groot aansien geniet het, het hy 'n huwelik tussen 'n lid van sy familie en een uit die familie van Agab gereël. 2Na 'n paar jaar het hy vir Agab in Samaria gaan besoek. Agab het ter ere van Josafat en sy gevolg 'n groot aantal skape en beeste geslag en hom ook probeer omhaal om 'n veldtog teen Ramot in Gilead te begin. 3Koning Agab van Israel het vir koning Josafat van Juda gesê: “Sal jy met my saamgaan na Ramot in Gilead toe?”

Josafat het geantwoord: “Ek en jy is een, en ons leërs is een. Ons is saam met jou in dié oorlog, 4maar,” het Josafat verder vir die koning van Israel gesê, “vind nou eers uit wat sê die Here.”

5Die koning van Israel het toe vier honderd profete bymekaargeroep en vir hulle gevra: “Moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?”

Hulle antwoord was: “Gaan gerus. God gee die stad aan die koning oor.”

6Toe sê Josafat: “Is hier nie nóg 'n profeet van die Here dat ons hom ook kan raadpleeg nie?”

7“Hier is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg,” het die koning van Israel vir Josafat gesê, “maar ek haat hom, want hy voorspel vir my nooit iets goeds nie, net altyd die slegste. Dit is Miga seun van Jimla.”

Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie!”

8Die koning van Israel roep toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga seun van Jimla.”

9Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het elkeen in sy koninklike gewaad op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Voor hulle was al die profete besig met hulle voorspellings. 10Sedekia seun van Kenaäna het vir hom 'n paar horings van yster gemaak en gesê: “So sê die Here: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot dit klaar is met hulle.” 11So het al die profete voorspel. Hulle uitspraak was: “Trek op teen Ramot in Gilead. U sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.”

12Die boodskapper wat vir Miga gaan roep het, het vir hom gesê: “Kyk, die uitspraak van die profete was eenstemmig gunstig vir die koning. Laat joune nou tog dieselfde wees. Sê iets goeds!”

13Maar Miga sê: “So seker as die Here leef, wat my God vir my sê, dit sal ek sê!”

14Toe hy by die koning kom, sê dié vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?”

“Gaan gerus,” antwoord Miga, “en mag dit goed gaan, mag die stad aan u oorgegee word.”

15Maar die koning sê vir hom: “Hoeveel keer moet ek nog by jou daarop aandring dat jy vir my niks anders as die waarheid in die Naam van die Here moet sê nie!”

16Toe sê Miga:

“Ek het die hele Israel verstrooi op die berge gesien

soos skape wat nie 'n wagter het nie.

Die Here het gesê: Hulle het nie 'n koning nie,

laat hulle maar in vrede teruggaan, elkeen na sy huis toe.”

17Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy voorspel vir my nie iets wat goed is nie, net die slegste.”

18En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan. 19En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab koning van Israel so ver kry dat hy na Ramot in Gilead gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat, 20totdat die gees vorentoe gekom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom so ver kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’ 21sê die gees: ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.’ 22So het die Here 'n leuengees in die mond van hierdie profete van u laat kom, maar Hy het in werklikheid vir u 'n ramp aangekondig.”

23Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op die kakebeen en sê: “Met watter pad is die Gees van die Here van my af weg om met jou te praat?”

24En Miga antwoord: “Dit sal jy sien die dag as jy in een donker kamer na die ander probeer wegkruip.”

25Die koning van Israel het toe beveel: “Vat vir Miga en bring hom na Amon, die stadsbevelvoerder, en na prins Joas toe. 26Sê vir hulle die koning sê hulle moet hierdie man in die tronk sit en hom 'n skraal rantsoen kos en water gee tot ek behoue terugkom.”

27Maar Miga het gesê: “As u behoue terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder het hy gesê: “Hoor dit, alle manskappe!”

28Die koning van Israel en koning Josafat van Juda is toe na Ramot in Gilead toe. 29Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan my vermom voor ek in die geveg betrokke raak. Hou jy jou koninklike gewaad aan.” Die koning van Israel het hom toe vermom en so die geveg ingegaan.

30Die Aramese koning het die aanvoerders van sy strydwaens opdrag gegee: “Spits die geveg toe op die koning van Israel, moenie aan die ander aandag gee nie, klein of groot.”

31Toe die aanvoerders van sy strydwaens vir Josafat sien, sê hulle: “Daar is die koning van Israel!” en hulle het op hom toegesak. Josafat het om hulp geroep, en die Here het hom gehelp. God het die aanval van Josafat af weggekeer. 32Die aanvoerders van die strydwaens het gesien dit is nie die koning van Israel nie en het die agtervolging gestaak. 33Iemand het egter losweg 'n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat.

Hy sê toe vir sy drywer: “Ruk die perde om en bring my uit die geveg uit. Ek is gewond.”

34Die geveg was dié dag egter so hewig dat die koning van Israel tot die aand toe op sy strydwa moes bly staan in die geveg teen die Arameërs. Teen laatmiddag is hy dood.

2 KRONIEKE 18AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 19

1Koning Josafat van Juda het behoue tuis gekom in Jerusalem. 2Daar het die siener Jehu seun van Ganani hom voorgestaan en vir koning Josafat gesê: “Wou u 'n goddelose help en aan 'n hater van die Here liefde betoon? Met hierdie optrede van u het u die toorn van die Here op u laat kom.

3“Tog, daar is ook goeie dinge by u te vinde: u het die gewyde pale in die land verbrand en u daarop ingestel om na die wil van God te vra.”

Josafat reël die regspraak

4Nadat Josafat 'n tyd in Jerusalem gebly het, het hy weer 'n keer sy mense besoek, van Berseba af tot in die Efraimsberge, en die volk laat terugkom na die Here, die God van hulle voorvaders. 5Van stad tot stad, in al die vestingstede van Juda, het hy regters in die land aangestel 6en hulle opdrag gegee: “Let goed op wat julle doen, want julle oefen die regspraak uit nie vir mense nie, maar vir die Here. Die verantwoordelikheid vir die reg rus op julle. 7Mag die vrees vir die Here julle bybly! Wees versigtig en doen julle plig. By die Here ons God is daar nie onreg en bevoordeling en korrupsie nie.”

8Ook in Jerusalem het Josafat persone aangestel vir die regspraak van die Here en vir die beslegting van gedinge tussen inwoners van die stad. Die regters is aangestel uit die Leviete en die priesters en die familiehoofde van Israel.

9Hy het hulle beveel: “Julle moet julle opdrag uitvoer in eerbied vir die Here, in trou en in volkome onpartydigheid. 10In elke saak wat aan julle voorgelê word deur julle volksgenote wat oral in julle stede woon, of dit nou gaan om doodslag of om 'n oortreding van die wet, die gebod, die voorskrifte en die bepalings, moet julle julle volksgenote behoorlik waarsku dat hulle hulle nie skuldig maak aan 'n misdaad teen die Here en daardeur die toorn van die Here oor julle en oor hulle laat kom nie. As julle dit so doen, sal julle julle nie skuldig maak aan 'n misdaad teen die Here nie. 11Die hoëpriester Amarja is die hoogste gesag oor julle vir alle sake van die Here, en Sebadja seun van Ismael en hoof van die stam Juda vir alle sake van die koning. Die Levitiese regsbeamptes is tot julle beskikking. Staan sterk en doen julle plig. Die Here is aan die kant van die goeie.”

2 KRONIEKE 19AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 20

Die Here slaan die aanval uit die ooste af

1Later het die Moabiete en die Ammoniete, en saam met hulle 'n groep Meüniete, 'n veldtog teen Josafat begin.

2Josafat het berig gekry: “'n Groot menigte van oorkant die Dooie See, van Edom af, het teen u opgetrek. Hulle is al by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.”

3Josafat was bang en het by die Here hulp gesoek. Hy het 'n vasdag in die hele Juda uitgeroep, 4en die Judeërs het bymekaargekom om die hulp van die Here te vra. Uit al die stede van Juda het hulle gekom om die Here se hulp te vra.

5Josafat het opgestaan in die gemeente van Juda en Jerusalem, in die tempel reg voor die nuwe voorhof, 6en gebid: “Here, God van ons voorvaders, U is God. U heers uit die hemel oor al die koninkryke van die nasies. Uit u hand kom die mag en die krag. Niemand kan teen U stand hou nie. 7Dit is U, ons God, wat die vroeëre inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdryf het en die land aan die nageslag van u vriend Abraham as 'n blywende besitting gegee het. 8Hulle het hulle hier gevestig en hier vir u Naam 'n heiligdom gebou en gesê: 9‘As U 'n ramp oor ons bring, of 'n oorlog om ons te straf, of pes, of hongersnood, sal ons voor hierdie tempel kom staan, voor U, want u Naam is in hierdie tempel, en ons sal na U om hulp roep uit ons nood. Hoor dan en help ons!’

10“Nou het die mense van Ammon en Moab en die Seïrberge gekom. U het Israel met sy trek uit Egipte nie toegelaat om in hulle gebied te kom nie. Die Israeliete het daardie mense vermy en hulle nie uitgeroei nie. 11Maar nou vergoed hulle ons deur te kom en ons uit u besitting te wil verdryf wat U aan ons gegee het. 12Ons God, sal U hulle nie straf nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie. Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig.”

13Die hele Juda en hulle afhanklikes, vrouens en kinders, het daar voor die Here gestaan. 14Toe kom die Gees van die Here daar in die gemeente oor die Leviet Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, uit die nageslag van Asaf, 15en sê: “Luister, mense van Juda, inwoners van Jerusalem en koning Josafat! So sê die Here vir julle: Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie 'n saak vir julle nie, maar vir God. 16Trek hulle môre tegemoet wanneer hulle in die Bloeiselpas opkom. Julle sal hulle aantref by die punt van die vallei wat in die Jeruelwoestyn uitloop. 17Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie. Trek hulle môre tegemoet. Die Here sal by julle wees.”

18Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon. 19Daarna het die Leviete van die Kehat- en die Koraggroepe opgestaan en die Here die God van Israel uit volle bors geprys.

20Josafat-hulle is die volgende môre vroeg uit na die Tekoawoestyn toe. Terwyl die manne vertrek, het Josafat daar gestaan en hulle toegespreek: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Stel julle vertroue in die Here julle God, en julle sal vas staan. Stel julle vertroue in sy profete, en dit sal goed gaan met julle.”

21Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

22Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely. 23Toe val die Ammoniete en die Moabiete die inwoners van die Seïrberge aan en spaar niemand nie en roei hulle uit. En toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar begin uitdelg.

24Toe die Judeërs by die uitkykpos teenaan die woestyn kom en na die magtige vyand soek, lê daar net lyke op die grond. Daar was nie een oorlewende nie. 25Josafat en sy manskappe het die buit bymekaar kom maak en 'n groot hoeveelheid gekry: persoonlike besittings aan die lyke en allerlei kosbare goed. Hulle het soveel gekry dat hulle dit nie kon dra nie. Drie dae lank was hulle besig om die buit bymekaar te maak, soveel was dit. 26Op die vierde dag het hulle 'n samekoms gehou in die Lofdal. Hulle het die Here daar geloof, daarom noem hulle dié plek tot vandag toe die Lofdal.

27Al die manne van Juda en Jerusalem, met Josafat aan die hoof, is toe met groot blydskap terug Jerusalem toe. Die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande. 28Hulle is terug na Jerusalem, na die huis van die Here toe, met harpe, liere en trompette. 29Al die koninkryke was van skrik bevange vir God toe hulle hoor dat die Here oorlog gevoer het teen die vyande van Israel. 30Die heerskappy van Josafat het rustig voortgegaan, en sy God het hom na alle kante toe rus gegee.

Die dood van Josafat

31Josafat het oor Juda geregeer. Hy was vyf en dertig toe hy koning geword het en het vyf en twintig jaar lank in Jerusalem geregeer. Sy ma was Asuba 'n dogter van Silgi. 32Hy het die pad van Asa, sy pa, geloop en daar nie van afgewyk nie. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. 33Die hoogtes het egter nie verdwyn nie, en die volk het hulle hart nog nie voluit op die God van hulle voorvaders gerig nie. 34Die ander verhale oor Josafat, dié van vroeër en dié van later, is opgeteken in Die Verhale van Jehu Seun van Ganani, wat opgeneem is in die annale van die konings van Israel.

35Later het koning Josafat van Juda 'n vennootskap aangegaan met koning Ahasia van Israel, 'n goddelose man. 36Josafat het die vennootskap met hom aangegaan om skepe te bou wat na Tarsis toe kon vaar. Hulle het die skepe gebou in Esjon-Geber. 37Eliëser seun van Dodawa, uit Maresa, het 'n profesie teen Josafat uitgespreek en gesê: “Omdat jy 'n vennootskap met Ahasia aangegaan het, sal die Here hierdie onderneming van jou laat misluk.”

Die skepe het vergaan en het Tarsis nie bereik nie.

2 KRONIEKE 20AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 21

1Josafat is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Joram het hom as koning opgevolg.

Joram

2Joram het 'n hele paar broers gehad: Asarja, Jegiël, Sagaria, Asarja, Migael en Sefatja. Hulle was almal seuns van koning Josafat van Juda. 3Hulle pa het vir hulle groot geskenke gegee, silwer, goud en ander kosbaarhede en ook vestingstede in Juda, maar die koningskap het hy aan Joram gegee, want dié was die oudste. 4Nadat Joram die koningskap van sy pa oorgeneem het en seker van sy saak was, het hy al sy broers en ook van die Israelitiese leiers laat vermoor.

5Hy was twee en dertig toe hy koning geword het en het ag jaar lank in Jerusalem geregeer. 6Hy het die pad van die konings van Israel geloop soos die koningshuis van Agab gedoen het, want hy was getroud met 'n dogter van Agab. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. 7Die Here wou egter nie die koningshuis van Dawid uitroei nie, want Hy het met Dawid 'n verbond gesluit en het belowe om vir Dawid en sy nageslag die troon vir altyd te verseker.

8In die tyd van Joram het die Edomiete teen Juda gerebelleer en 'n eie koning oor hulle aangestel. 9Joram het met sy offisiere en sy hele strydwamag uitgetrek en het in die nag 'n aanval gemaak op die Edomiete wat hom en sy strydwaoffisiere omsingel het. 10Die Edomiete het egter tog onafhanklik geword, en is dit vandag nog. In dié tyd het ook Libna teen die gesag van Joram in opstand gekom. Dit was omdat Joram nie die Here die God van sy voorvaders gedien het nie. 11Bowendien het Joram hoogtes ingerig in die berge van Juda, die inwoners van Jerusalem tot ontrou verlei en Juda 'n verkeerde pad laat loop.

12Daar het vir hom 'n brief van die profeet Elia af gekom wat soos volg gelui het:

“So sê die Here die God van jou voorvader Dawid: Omdat jy nie die pad van jou vader Josafat en van koning Asa van Juda loop nie, 13maar dié van die konings van Israel, en jy Juda en die inwoners van Jerusalem net so ontrou laat word het as die familie van Agab, en jy jou familie, jou eie broers, beter mense as jy, laat vermoor het, 14daarom sal die Here 'n groot ramp bring oor jou volk, jou kinders, jou vrouens en al wat jy besit. 15Jy self sal 'n ernstige siekte opdoen, 'n slepende siekte aan jou ingewande, so erg dat jou ingewande sal uitkom.”

16Die Here het toe die Filistyne en die Arabiere wat bure van die Kussiete was, vyande van Joram laat word. 17Hulle het 'n inval in Juda gemaak en al die koninklike besittings in die paleis geroof, en ook sy seuns en sy vrouens. Al seun wat hulle vir hom laat oorbly het, was Joahas, sy jongste. 18Daarna het die Here vir Joram getref met 'n ongeneeslike siekte in sy ingewande. 19Mettertyd, na omtrent twee jaar, het sy ingewande uitgekom as gevolg van die siekte, en hy het 'n pynlike dood gesterf. Sy volk het nie met sy dood vure aangesteek soos hulle dit vir sy voorvaders gedoen het nie.

20Joram was twee en dertig toe hy koning geword het en hy het ag jaar lank in Jerusalem geregeer. Sy heengaan is nie betreur nie. Hy is in die Dawidstad begrawe, maar nie in 'n koningsgraf nie.

2 KRONIEKE 21AFR83Maak oop in die Bybelleser

SPREUKE 14

1'n Wyse vrou sorg vir haar huis;

'n vrou sonder wysheid breek alles af.

2Wie opreg lewe, dien die Here;

wie krom paaie loop, het nie eerbied vir die Here nie.

3Die verwaande woorde van die dwaas bring vir hom straf;

die woorde van wyse mense beskerm hulle.

4As daar nie osse is nie, is die voerkrip leeg;

met net een goeie os bring jy 'n groot oes in.

5'n Betroubare getuie lieg nie;

'n vals getuie vertel een leuen na die ander.

6Al soek 'n ligsinnige mens wysheid, hy kry dit nie;

'n verstandige mens doen maklik kennis op.

7Vermy 'n dwase mens;

jy sal nie by hom leer om verstandig te praat nie.

8Die wysheid van 'n verstandige mens wys vir hom 'n duidelike koers aan;

die dwaasheid van 'n dwase mens maak alles vals.

9Die skuldoffer wat deur dwase gebring word, maak hulle bespotlik;

mense wat opreg lewe, geniet die guns van God.

10Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed,

en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie.

11Die goddelose en sy nageslag sterf uit;

die opregtes het 'n groot nageslag.

12Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk,

maar die uiteinde daarvan is die dood.

13'n Mens kan lag terwyl hy treur,

die uiteinde van vreugde kan kommer wees.

14'n Onbetroubare mens kry sy verdiende loon;

'n goeie mens ontvang meer as sy beloning.

15Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word;

'n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.

16Wie wysheid het, is versigtig en vermy die kwaad;

wie wysheid kortkom, is roekeloos en selfversekerd.

17Wie kort van draad is, begaan dwaashede;

'n agterbakse mens maak hom gehaat.

18Mense wat ervaring kortkom, sit met hulle eie dwaasheid;

verstandige mense word met kennis bekroon.

19Slegte mense moet voor goeies buig,

goddeloses moet buig wanneer 'n regverdige by sy huis uitkom.

20'n Arm mens word selfs deur sy buurman verstoot;

'n ryk man het baie vriende.

21Wie sy naaste verag, doen sonde;

wie medelye het met die mens in nood, met hom gaan dit goed.

22Wie altyd op kwaad uit is, is op die verkeerde pad;

wie goed doen, geniet liefde en trou.

23Harde werk bring beloning;

om net te praat, bring gebrek.

24Wyse mense word bekroon met rykdom;

die dwaasheid van dwase mense lei na meer dwaasheid.

25'n Betroubare getuie red lewens;

die een wat leuens kwytraak, maak alles vals.

26Wie die Here dien, het daarin 'n veilige toevlug,

en ook sy kinders vind daar skuiling.

27Wie die Here dien, vind daarin 'n bron van lewe;

dit laat jou die strikke van die dood ontkom.

28'n Koning met baie onderdane is hoog in aansien;

een met min onderdane gaan te gronde.

29'n Geduldige mens is baie verstandig;

een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon.

30'n Kalm gemoed hou die liggaam gesond;

hartstog vreet 'n mens op.

31Wie 'n arm mens verdruk, beledig sy Maker;

wie hom oor 'n arm mens ontferm, eer God.

32Die goddelose kom tot 'n val deur sy boosheid;

die regverdige het 'n toevlug, ook in sy dood.

33In 'n verstandige gemoed pas die wysheid goed in;

by dwaasheid is dit nie tuis nie.

34Gehoorsaamheid aan die Here laat 'n volk sterk staan;

sonde bring skande oor 'n volk.

35'n Verstandige amptenaar geniet die guns van die koning;

een wat skande maak, maak hom kwaad.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS