Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 131

Amos 6–9, Obadja 1, Spreuke 10

Bybelteks(te)

Oor die vernietiging van Josef bekommer julle julle nie

1Ellende wag vir dié wat so rustig

in Sion woon,

dié wat hulle so veilig voel op Samariaberg,

dié vername mense van die voorste nasie

op wie die koningshuis van Israel hom verlaat!

2Gaan kyk in Kalne,

gaan daarvandaan na die groot Hamat toe,

gaan af na die Filistynse stad Gat toe!

Is julle beter as daardie koninkryke?

Is hulle grondgebied groter as julle s'n?

3Julle maak of die dag van rampe ver is,

maar julle bring juis die dag nader dat geweld julle sal regeer.

4Julle lê op julle beddens wat met ivoor ingelê is,

julle strek julle uit op julle rusbanke,

julle eet lammers uit die kleinveetrop

en kalwers uit die stal,

5julle maak liedjies vir die harp,

julle dink hulle vir musiekinstrumente uit soos Dawid,

6julle drink wyn uit offerkomme

en salf julle met uitsoekolie,

maar oor die vernietiging van Josef bekommer julle julle nie.

7Daarom sal julle nou weggevoer word

op die voorpunt van die ballinge.

Die tyd is verby dat julle uitgelate lê en feesvier.

8Die Here my God het 'n eed afgelê by Homself,

die Here die almagtige God sê:

Ek verafsku die hooghartigheid van Jakob,

Ek het 'n weersin in sy mooi huise!

Daarom gee Ek die stad en al wat daarin is, oor

in die mag van 'n vyand.

9As daar tien man in een huis oorgebly het,

sal hulle sterwe.

10As 'n familielid of iemand wat die bene moet verbrand,

hulle uit die huis kom dra,

sal hy vir die een wat dalk nog agter in die huis is, vra:

“Is daar nog iemand by jou?”

en as dié sê: “Nee!” sal die familielid sê:

“Bly stil! Ons moet nie eens die Here se Naam noem nie!”

11Wanneer die Here die bevel gee,

word die huise platgeslaan, in puin gelê,

groot en klein.

12Perde kan tog nie op 'n klipplaat galop nie!

'n Mens ploeg tog nie die see met osse nie!

Hoe maak julle dan van die reg iets wat giftig is,

van regspraak 'n bitter saak?

13Julle verheug julle oor Lo-Dabar,

julle sê: “Dit is tog deur ons eie krag

dat ons Karnajim vir ons teruggevat het!”

14Maar Ek gaan nou 'n nasie teen julle laat optrek, Israel,

sê die Here die almagtige God,

en dié nasie sal hardvogtig oor julle heers

van Lebo-Hamat af tot by die stroombedding in die Jordaanvallei.

Die eerste gesig: Sprinkane

1Die Here God het my 'n gesig laat sien: Hy was besig om 'n sprinkaanswerm te vorm toe die gras weer begin uitspruit het nadat die koning se hooi af was. 2Die sprinkane sou al die groenigheid in die land afvreet, en ek het gesê: “Here my God, vergewe tog vir Jakob! Hoe sal hy staande bly? Hy is klein!”

3Die Here het toe van sy voorneme afgesien, Hy het gesê: Dit sal nie gebeur nie.

Die tweede gesig: Vuur

4Die Here my God het my 'n gesig laat sien: Hy het 'n vuur opgeroep tot straf, en die vuur het die groot watervloed laat opdroog en dit sou ook die bewerkte grond verteer het. 5Maar ek het gesê: “Here my God, hou tog op! Hoe sal Jakob staande bly? Hy is klein!”

6Die Here my God het toe van sy voorneme afgesien, Hy het gesê: Ook dit sal nie gebeur nie.

Die derde gesig: 'n Skietlood

7Hy het my 'n gesig laat sien: Die Here het by 'n loodregte muur gestaan, en daar was 'n skietlood in sy hand. 8Hy het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? en ek het gesê: “'n Skietlood.”

Toe sê die Here vir my:

Ek gaan 'n skietlood aanlê

in my volk Israel,

Ek gaan hom nie meer spaar nie.

9Die hoogtes van Isak sal verwoes word,

die heiligdomme van Israel sal in puin gelê word,

en Ek sal met die swaard optree

teen die koningshuis van Jerobeam.

Amos en Amasia

10Die priester Amasia van Bet-El het vir koning Jerobeam van Israel laat weet: “Amos is besig om hier in Israel 'n komplot teen u te smee. Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie. 11Amos het gesê Jerobeam sal deur die swaard sterf, en Israel sal uit sy land in ballingskap weggevoer word.”

12Amasia het vir Amos gesê: “Maak dat jy wegkom, siener, gaan na Juda toe en verdien jou brood daar, tree daar as profeet op! 13In Bet-El mag jy nie meer as profeet optree nie, want dit is die koninklike heiligdom, die staatstempel.”

14Amos het toe vir Amasia geantwoord: “Ek is nie so 'n profeet nie en ek behoort nie tot die profetekring nie, ek boer met vee en kweek wildevye. 15Maar die Here het my agter die kleinvee weggevat en Hy het vir my gesê: Gaan tree as profeet op teen my volk Israel.

16“Hoor dan nou die woord van die Here! Jy sê ek moenie as profeet optree teen Israel nie, ek mag nie as siener teen die nageslag van Isak praat nie. 17Maar so sê die Here:

“Jou vrou sal 'n prostituut word in die stad,

jou seuns en jou dogters sal met die swaard afgemaai word,

jou grond sal tussen ander verdeel word,

jy sal in 'n onrein land sterf,

en Israel sal in ballingskap weggevoer word

uit sy land uit.”

Die vierde gesig: 'n Mandjie vrugte

1Die Here my God het my 'n gesig laat sien: Daar was 'n mandjie ryp vrugte, 2en die Here het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? Ek het gesê: “'n Mandjie ryp vrugte.”

Toe sê die Here vir my:

Die tyd is ryp vir my volk Israel,

Ek sal hom nie meer spaar nie.

3Daardie dag sal die sang in die paleis

'n gehuil word, sê die Here my God.

Daar sal baie lyke wees, oral neergegooi.

Bly liewer stil!

4Luister hierna, julle wat arm mense vertrap,

julle wat die mense in nood in die land wil uitroei.

5Julle sê: “Wanneer is Nuwemaan verby

dat ons koring kan verkoop,

of Sabbat, dat ons ons graanwinkels weer kan oopmaak

en minder graan vir meer geld kan verkoop?

Ons laat die skaal mos kul soos ons wil!”

6Julle verkoop arm mense vir geld,

behoeftiges oor 'n paar sandale,

julle verkoop selfs die koringkaf.

7Die Here het 'n eed afgelê by Homself,

by Hom wat die trots van Jakob moes gewees het:

Ek sal nooit vergeet wat hulle gedoen het nie!

8Sal die aarde nie hieroor beef nie,

sal sy bewoners nie treur nie!

Sal die hele wêreld nie in beroering kom soos die Nyl,

wegsak soos die rivier van Egipte nie!

9Daardie dag, sê die Here my God,

laat Ek die son helder oordag ondergaan,

maak Ek dit donker op aarde terwyl dit nog ligdag is;

10Ek verander julle feeste in treurgeleenthede,

julle liedere in klaagsange;

Ek trek vir julle rouklere aan

en skeer al julle koppe kaal;

Ek laat dit word soos wanneer 'n mens oor 'n enigste kind treur,

julle uiteinde sal vir julle 'n bitter dag wees.

11Maar daar kom dae, sê die Here my God,

dat Ek 'n honger oor die aarde laat kom:

'n honger nie na kos nie, 'n dors nie na water nie,

maar om die woorde van die Here te hoor.

12Die mense sal ronddwaal van see tot see,

rondslinger van noord tot oos

om die woord van die Here te soek,

maar hulle sal dit nie kry nie.

13Daardie dag sal die mooi meisies

en die jongmanne van dors beswyk,

14dié jongmense wat ede aflê by wat Samaria se sonde is

en sê: “So seker as jou god leef, Dan,

so seker as daar 'n pelgrimspad na Berseba toe is!”

Hulle sal val en nie weer opstaan nie.

Die vyfde gesig: Die Here by die altaar

1Ek het die Here by die altaar sien staan,

en Hy het gesê:

Slaan die pilare se toppe stukkend, sodat die drumpels bewe,

breek hulle af oor almal se koppe!

Ek sal die mense wat oorbly, met die swaard doodmaak,

niemand sal kan vlug nie,

niemand sal vrykom nie.

2Al breek hulle deur na die doderyk toe,

Ek sal hulle daar uithaal;

al klim hulle op na die hemel toe,

Ek sal hulle daarvandaan laat afkom;

3al kruip hulle weg op die top van die Karmel,

Ek sal hulle daar opspoor en vang;

al kruip hulle weg op die bodem van die see,

Ek sal die slang daar beveel om hulle te pik;

4al word hulle in ballingskap weggevoer voor hulle vyande uit,

Ek sal die swaard daar beveel om hulle dood te maak;

my bedoeling met hulle is om hulle kwaad aan te doen,

nie om goed aan hulle te doen nie.

5Die Here my God, die Almagtige,

raak die aarde aan en dit smelt weg,

en almal wat daarop woon, treur;

die hele wêreld kom in beroering soos die Nyl

en sak weer weg soos die rivier van Egipte.

6Die Here bou sy bokamers in die hemel

en lê die hemelkoepel se fondament op die aarde,

Hy roep die waters van die see

en giet hulle oor die aarde uit.

Sy Naam is Here!

7Julle Israeliete is vir My nie anders as die Kussiete nie,

sê die Here.

Ek het vir Israel uit Egipte laat trek,

maar ook die Filistyne uit Kaftor

en die Arameërs uit Kir.

8Ek, die Here God, hou die sondige koninkryk dop,

Ek gaan hom wegvee van die aarde af!

Maar tog, Ek sal nie die nageslag van Jakob heeltemal

uitroei nie, sê die Here.

9Ek gaan die bevel gee en vir Israel skud tussen die nasies

soos graan in 'n sif geskud word,

en nie 'n korrel sal op die grond val nie.

10Al die sondaars onder my volk sal met die swaard doodgemaak word,

hulle wat sê:

“Ter wille van ons sal U die ramp nie laat kom nie,

ons nie daardeur laat tref nie.”

Ek sal die lot van my volk verander

11Daardie dag bou Ek die vervalle hut van Dawid weer op;

Ek stop sy barste toe en bou sy murasies op,

Ek herbou hom soos hy in die ou tyd was,

12sodat my volk die oorwinnaar sal wees oor wat van Edom oor is,

oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, sê die Here.

Hy sal dit doen.

13Daar kom 'n tyd, sê die Here,

dat daar direk na die oes geploeg sal word

en dat daar direk na die saaityd gepars sal word.

Die berge sal van druiwesap drup,

al die heuwels sal deurnat wees.

14Ek sal die lot van my volk Israel verander:

hulle sal die verlate stede herbou en bewoon,

hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink,

hulle sal tuine aanlê en die vrugte daarvan eet.

15Ek sal my volk weer in hulle grond plant,

en hulle sal nie weer uitgeruk word uit die grond

wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God.

Ek sal jou daar afhaal

1Die openbaring wat Obadja ontvang het. So sê die Here my God oor Edom:

Ons het 'n boodskap ontvang, en dit kom van die Here af. Daar is 'n boodskapper onder die nasies rondgestuur om te sê: “Maak klaar, kom ons gaan maak oorlog teen Edom!”

2Die Here het gesê:

Edom, Ek maak jou 'n klein volkie onder die volke,

jy sal glad nie meer gereken word nie.

3Jy is deur jou vermetelheid mislei,

jy wat daar in die klipskeure sit,

wie se woonplek hoog in die berge is,

jy wat dink: wie sal my hier afkry grond toe?

4Al bou jy daar in die hoogte soos 'n aasvoël,

al sit jy jou nes tussen die sterre,

Ek sal jou daar afhaal, sê die Here.

5As diewe of rowers in die nag na jou toe kom,

sou jy nie bly stilsit nie,

al steel hulle net tot hulle genoeg het;

as ander jou wingerd kom afoes,

sou hulle van die druiwetrosse laat agterbly;

6maar jy, land van Esau, sal gefynkam word;

alles wat jy weggesteek het, sal gestroop word.

7Al jou eie bondgenote sal jou oor jou grense jaag

en jou in die steek laat.

Jou eie vriende sal jou oorrompel,

mense vir wie jy kos gegee het,

sal vir jou strikke stel waar jy dit nie verwag nie.

8Dit is wat daardie dag sal gebeur, sê die Here.

Ek sal die wyse mense uitroei uit Edom,

Ek sal die slim mense uitroei uit die bergland van Esau.

9Jou dapper vegters sal bang word, Teman,

al die mense sal uitgeroei word uit die bergland van Esau.

Oor die moorde 10op jou broervolk Jakob,

oor die geweld teen hom, sal jy verslaan word,

uitgeroei word vir altyd.

11Die dag toe vreemdes die bevolking van Jakob gevange weggevoer het,

het jy afsydig daar gestaan.

Toe uitlanders die poorte van Jerusalem binnegegaan

en oor hom begin lootjies trek het, was jy aan hulle kant.

12Jy moes jou nie daarin verlekker het

dat jou broer se dag gekom het nie,

die dag toe die ongeluk hom getref het;

jy moes nie so bly gewees het oor wat gebeur het

met die mense van Juda

die dag toe hulle omgekom het nie;

jy moes nie so uit die hoogte gepraat het

die dag toe die ellende hulle getref het nie;

13jy moes nie die poorte van my volk binnegegaan het

die dag toe die ramp hom getref het nie;

jy moes jou nie ook verlekker het in sy ongeluk

die dag toe die ramp hom getref het nie;

jy moes nie sy besittings geroof het

die dag toe die ramp hom getref het nie;

14jy moes nie by die kruispaaie gaan staan het

om sy vlugtelinge dood te maak nie;

jy moes nie sy oorlewendes uitgelewer het

die dag toe die ellende hom getref het nie.

15Die dag van die Here is naby,

naby vir al die nasies.

Wat jy gedoen het, Edom, sal aan jou gedoen word,

jou dade sal op jou eie kop afkom.

16Soos julle, my volk Jakob, die oordeelsbeker moes drink

op my heilige berg,

so sal die ander nasies dit drink, maar sonder ophou,

hulle sal drink en sluk,

en hulle sal word asof hulle nooit bestaan het nie.

17Maar op Sionsberg sal daar uitkoms kom,

dit sal weer 'n heilige plek wees.

Die volk van Jakob sal weer in besit neem

wat aan hom behoort.

18Die volk van Jakob sal die vuur wees,

die volk van Josef die vlam,

en die volk van Esau die strooi:

Josef sal hom brand en hom verteer,

en van die volk van Esau sal niemand oorbly nie.

Die Here het dit gesê.

19Mense uit die Suidland sal die bergland van Esau in besit neem,

mense uit die Laeveld die gebied van die Filistyne.

Jakob sal die Efraimsvelde in besit neem,

en die veld van Samaria, Benjamin en Gilead.

20Dieselfde Israeliete wat in ballingskap weggevoer is,

sal Kanaän in besit neem tot by Sarfat;

die mense van Jerusalem wat nou ballinge in Sefarad is,

sal die stede in die Suidland in besit neem.

21Die bevrydes op Sionsberg sal optrek

om oor die bergland van Esau te regeer,

en die heerskappy sal aan die Here behoort.

1Spreuke van Salomo.

'n Wyse seun maak sy vader en moeder bly;

'n dwase seun maak hulle hartseer.

2Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie;

om te lewe volgens die wil van God,

red 'n mens van die dood.

3Die Here laat die mens wat reg doen, nie honger ly nie,

die Here laat

die begeerte van dié wat verkeerd doen, nie bevredig word nie.

4'n Mens wat nie sy hande uit sy mou steek nie, word arm;

dit is vlyt wat ryk maak.

5Die verstandige mens samel sy oes in as dit ryp is;

'n mens wat die oestyd deur slaap, verdien veragting.

6Die regverdige word geseën.

Daar steek geweld agter die mooi woorde van die goddeloses.

7Die nagedagtenis van dié wat reg doen, leef voort;

die naam van dié wat verkeerd doen, word gou vergeet.

8Die mens met verstand aanvaar bevele.

Wie aanhou onsin praat, kom tot 'n val.

9Wie opreg leef, leef sonder vrees;

wie krom paaie loop, word uitgevind.

10Wie sy oë sluit vir die waarheid, veroorsaak smart;

en wie aanhou onsin praat, kom self tot 'n val.

11Die woorde van die regverdige bring lewe en geluk;

agter die mooi woorde van die goddeloses steek daar geweld.

12Haat verwek twis;

liefde bedek alles wat aanstoot gee.

13Daar is wysheid in die woorde van een wat insig het;

slae is vir dié wat nie hulle verstand gebruik nie.

14Wyse mense loop nie te koop met hulle kennis nie;

as 'n dwaas sy mond oopmaak, is sy ondergang naby.

15Die rykdom is die ryke se veilige vesting;

die armoede is die arme se ondergang.

16Die regverdige ontvang die lewe as beloning;

die goddelose oes net straf.

17Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe;

wie teregwysing verwerp, dwaal van dié pad af.

18Agter die woorde van 'n huigelaar sit daar haat;

wie skinderstories versprei, is 'n dwaas.

19Met baie praat bly die sonde nie uit nie;

wie sy woorde tel, is verstandig.

20Die woorde van die regverdige is die fynste silwer werd;

die gedagtes van die goddelose is min werd.

21Met wat die regverdige sê, sorg hy vir baie;

'n dwaas gebruik nie sy verstand nie

en bring die dood oor homself.

22Dit is die seën van die Here wat rykdom bring;

jou geswoeg laat dit nie meer word nie.

23Die dwaas geniet dit om hom skandalig te gedra,

maar die mens met insig geniet die wysheid.

24Wat die goddelose vrees, kom hom oor;

wat die regverdige begeer, gee God hom.

25As die stormwind kom, is die goddelose daarmee heen,

maar die regverdige bly altyd staan.

26Soos asyn teen die tande, soos rook in die oë,

so is 'n lui mens vir iemand wat hom 'n opdrag gee.

27Wie die Here dien, lewe lank;

wie sonder Hom lewe, se lewensjare is min.

28Vir die regverdiges lê daar vreugde voor;

die goddeloses het geen toekoms nie.

29Om te leef soos die Here dit wil,

is die krag van die opregte;

vir dié wat onreg doen, wag daar ondergang.

30Die regverdige wankel nooit,

die goddeloses sal nie die land bly bewoon nie.

31Daar kom wysheid uit die mond van die regverdige,

'n tong wat kwaad stig, sal uitgesny word.

32Die regverdige weet om die gepaste ding te sê;

die goddeloses stig kwaad met wat hulle sê.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS