Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 120

2 KONINGS 16–20, PSALM 139

Bybelteks(te)

Agas koning van Juda

(Vgl. 2 Kron. 28:1-27)

1In die sewentiende regeringsjaar van Peka seun van Remalja het Agas seun van koning Jotam van Juda op die troon gekom. 2Agas was twintig toe hy koning geword het en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here sy God soos sy voorvader Dawid nie. 3Hy het die pad geloop van die konings van Israel. Hy het selfs sy seun verbrand volgens die afskuwelike gebruike van die heidennasies wat deur die Here voor die Israeliete uit verdryf is. 4Hy het diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes en op die rante en onder elke groen boom. 5Destyds het koning Resin van Aram en koning Peka van Israel, seun van Remalja, opgetrek om teen Jerusalem te veg. Hoewel hulle vir Agas beleër het, kon hulle nie 'n geveg afdwing nie. 6In daardie tyd het koning Resin van Aram die stad Elat vir Aram herower en die Judeërs daaruit verdryf. Arameërs het in Elat ingetrek en woon tot vandag toe daar. 7Toe stuur Agas 'n boodskap na koning Tiglat-Pileser van Assirië: “Ek is u onderdaan en seun. Ruk op en bevry my uit die mag van die koning van Aram en van die koning van Israel, hulle val my aan.”

8Agas het die silwer en die goud wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, gevat en as geskenk aan die koning van Assirië gestuur.

9Die koning van Assirië het aan sy versoek voldoen en teen Damaskus opgetrek. Hy het die stad verower en die bevolking na Kir toe weggevoer; vir Resin het hy doodgemaak. 10Koning Agas het hierna Damaskus toe gegaan om vir koning Tiglat-Pileser van Assirië te ontmoet. Nadat Agas 'n altaar gesien het wat daar in Damaskus gestaan het, het hy aan die priester Urija 'n afbeelding en 'n model daarvan gestuur om dit getrou na te maak. 11Die priester Urija het die altaar gebou in ooreenstemming met koning Agas se aanwysings uit Damaskus. Die priester Urija het dit presies so gemaak nog voordat die koning uit Damaskus aangekom het. 12Toe die koning van Damaskus af kom en die altaar sien, het hy nader gegaan en op die altaar geklim. 13Hy het sy brandoffer en sy graanoffer gebring, sy drankoffer uitgegiet en die bloed van die maaltydoffers ten behoewe van homself teen die altaar uitgegooi.

14Die bronsaltaar ter ere van die Here het hy van die voorkant van die tempel af, tussen die altaar en die huis van die Here uit, verskuif na die noordekant van die altaar toe. 15Koning Agas het die priester Urija beveel: “Steek die oggendbrandoffer en die aandgraanoffer aan die brand op die groot altaar en ook die koning se brandoffer en graanoffer, die brandoffer van die landsburgers, hulle graanoffers en hulle drankoffers. Die bloed van elke brandoffer en van elke ander diereoffer moet julle teen die groot altaar uitgiet. Die bronsaltaar sal myne bly om die wil van God te wete te kom.”

16Die priester Urija het alles gedoen wat koning Agas hom beveel het. 17Koning Agas het die sluitplate van die waentjies verwyder en die waskomme van hulle af geneem en die waterbak het hy opgelig van die beeste af wat van brons gemaak is, en op 'n klipvloer gesit. 18Die oordekte gang vir die sabbat wat hulle by die tempel gebou het, en die buitenste ingang vir die koning het hy ter wille van die koning van Assirië van die huis van die Here af verwyder. 19Die ander verhale oor Agas en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 20Agas is oorlede, en hy is begrawe by sy voorvaders in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Hiskia het hom as koning opgevolg.

2 KONINGS 16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hosea koning van Israel

1In die twaalfde regeringsjaar van koning Agas van Juda het Hosea seun van Ela koning geword en hy het nege jaar in Samaria oor Israel geregeer. 2Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar hy was nie so erg soos die konings van Israel voor hom nie. 3Toe koning Salmaneser van Assirië teen hom opgeruk het, het hy hom aan die koning van Assirië onderwerp en aan hom belasting betaal. 4Die koning van Assirië het uitgevind dat Hosea teen hom saamsweer deurdat hy gesante na koning So van Egipte gestuur het en nie die jaarlikse belasting aan die koning van Assirië betaal het nie. Daarom het hy vir Hosea laat vang en hom in die tronk opgesluit, 5die hele land binnegeval en opgeruk na Samaria toe wat hy drie jaar lank beleër het. 6In die negende regeringsjaar van Hosea het die koning van Assirië Samaria ingeneem en het hy die Israeliete na Assirië toe weggevoer. Sommige het hy in die stad Galag gevestig, ander aan die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van Medië.

Die rede vir die ballingskap

7Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen die Here hulle God wat hulle uit Egipte laat wegtrek het, onder die mag uit van die farao, koning van Egipte. Maar hulle het ander gode vereer 8en geleef volgens die gebruike van die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak, gebruike wat deur die konings van Israel nagevolg is. 9Die Israeliete het die Here hulle God dinge toegedig wat nie waar is nie en toe vir hulle hoogtes gebou oral waar hulle gewoon het, van plekke af waar net 'n wagtoring was, tot in die vestingstede. 10Hulle het klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë rant en onder elke groen boom. 11Op elke hoogte het hulle wierookoffers gebring net soos die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. Met die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het hulle die Here uitgetart. 12Hulle het die stinkende afgode gedien wat die Here hulle uitdruklik verbied het.

13Die Here het Israel en Juda deur elke profeet en siener gewaarsku: “Bekeer julle van julle verkeerde paaie. Kom my gebooie en voorskrifte na volgens die hele wet wat Ek julle voorvaders beveel het, wat Ek deur my dienaars die profete aan julle gegee het.”

14Maar hulle wou nie luister nie; hulle was net so hardkoppig soos hulle voorvaders wat ook nie op die Here hulle God vertrou het nie. 15Hulle het sy voorskrifte en sy verbond verwerp wat Hy met hulle voorvaders gemaak het. Sy waarskuwings het hulle in die wind geslaan, hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword. Hulle het geleef net soos die heidennasies om hulle, iets wat die Here hulle beveel het om nie te doen nie. 16Al die gebooie van die Here hulle God het hulle links laat lê: hulle het twee kalwerbeelde laat giet, 'n Asjerabeeld gemaak, voor elke hemelliggaam gebuig en vir Baäl gedien. 17Die volk het hulle seuns en dogters as offers laat verbrand en hulleself besig gehou met waarsêery en toekomsvoorspelling. Met volkome oorgawe het hulle gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart. 18Die Here het so toornig op Israel geword dat Hy hulle verwerp het. Net die stam Juda het oorgebly. 19Maar ook Juda het die gebooie van die Here hulle God nie gehou nie: hulle het die praktyke van Israel nagevolg. 20Daarom het die Here die hele nageslag van die aartsvader Israel verwerp. Die Here het hulle verdruk deur hulle oor te gee in die mag van plunderaars totdat Hy hulle finaal verwerp het. 21Hy het Israel afgeskeur van die koningshuis van Dawid, sodat hulle Jerobeam seun van Nebat koning gemaak het. Jerobeam het Israel van die Here losgemaak en hulle tot vreeslike sondes verlei. 22Die Israeliete het volhard in al die sondes wat Jerobeam gedoen het; hulle het dit nie laat vaar nie. 23Uiteindelik het die Here hulle laat vaar soos Hy hulle deur al sy dienaars, die profete, gewaarsku het. Hy het Israel uit sy land na Assirië toe laat wegvoer, waar hulle vandag nog is.

Immigrante in Israel

24Die koning van Assirië het inwoners van Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim af gebring, en hulle in die stede van Samaria gevestig in die plek van die Israeliete. Hierdie mense het Samaria oorgeneem en in die stede daar gaan woon. 25Aan die begin van hulle verblyf het hulle die Here nie vereer nie, daarom het die Here leeus op hulle losgelaat wat onder hulle gemaai het. 26Toe is die koning van Assirië meegedeel: “Die nasies wat deur u weggevoer en in die stede van Samaria gevestig is, weet nie hoe hulle die God van die land moet vereer nie. Nou het Hy leeus op hulle losgelaat wat hulle doodgemaak het. Dit het gebeur net omdat hulle nie presies weet watter verering hulle aan die God van die land verskuldig is nie.”

27Toe het die koning van Assirië opdrag gegee dat hulle een van die priesters wat uit Israel weggevoer is, soontoe moet bring. Hy het soontoe gegaan en daar gaan woon om hulle die regte verering van die God van die land te leer. 28So het een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is, teruggekom en in Bet-El gaan bly, en hy het hulle geleer hoe hulle die Here moet vereer. 29Tog het elke nasie nog maar sy eie afgodsbeelde gemaak en dit gaan neersit in die tempels op die hoogtes wat deur die mense van Samaria gebou is, elke nasie in die stede waar hy gewoon het. 30Die mense van Babel het vir Sukkot-Benot gemaak, die mense van Kuta vir Nergal, die mense van Hamat vir Asima, 31die Awwiete vir Nibgas en Tartak. Die Sefarwajiete het hulle seuns verbrand ter ere van Adrammelek en Anammelek, die gode van Sefarwajim. 32Terselfdertyd het hulle die Here vereer en uit hulle eie geledere priesters vir die hoogtes aangewys om vir hulle diens te doen in die heiligdomme op die hoogtes. 33Hulle het die Here vereer en ook hulle eie gode gedien volgens die gebruik van die heidennasies waaruit hulle weggevoer is. 34Tot vandag toe handhaaf hulle hulle vroeëre gebruike: hulle handel nie presies volgens die voorskrifte, die bepalings, die wet en die gebod wat die Here opgedra het aan die kinders van Jakob nie, dié Jakob aan wie Hy die naam Israel gegee het. 35Dit was met hulle dat die Here 'n verbond gesluit het, vir wie Hy beveel het: “Moenie ander gode vereer nie, moenie voor hulle buig nie, moet hulle nie dien of offers vir hulle bring nie. 36Nee, net die Here wat julle uit Egipte laat trek het deur sy groot mag en krag, moet julle vereer; voor Hom moet julle buig en vir Hom offers bring. 37Julle moet altyd lewe volgens die voorskrifte, die bepalings, die wet en die gebod wat Hy vir julle neergeskryf het. Moenie ander gode dien nie. 38Die verbond wat Hy met julle gesluit het, moet julle nie verontagsaam nie. Moenie ander gode dien nie. 39Julle moet net die Here julle God dien. Hy sal julle red uit die mag van al julle vyande.”

40Maar hulle was ongehoorsaam: hulle het hulle vroeëre gebruike gehandhaaf. 41Hierdie nasies het nie net die Here vereer nie, maar ook hulle eie afgodsbeelde gedien, en tot vandag toe nog volg ook hulle kinders en kleinkinders hulle voorbeeld.

2 KONINGS 17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hiskia koning van Juda

(Vgl. 2 Kron. 29:1-2; 31:1)

1In die derde regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het Hiskia seun van koning Agas van Juda op die troon gekom. 2Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Abi, 'n dogter van Sagaria. 3Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg.

4Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genoem.

5Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou. Nie een van al die konings van Juda voor of na Hiskia was soos hy nie. 6Hy was getrou aan die Here en het nie van Hom af weggedraai nie. Hiskia was gehoorsaam aan die gebooie wat die Here aan Moses gegee het. 7Die Here was by Hiskia, en Hiskia was voorspoedig in alles wat hy onderneem het.

Hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en was nie meer aan hom onderdanig nie. 8Hy het die Filistyne verslaan en hulle teruggedryf, wagpos vir wagpos, vestingstad vir vestingstad, tot by Gasa en die gebied daar rondom.

Die val van Samaria

9In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia, die sewende regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het koning Salmaneser van Assirië teen Samaria opgetrek en die stad beleër. 10Hy het die stad na drie jaar ingeneem, in die sesde regeringsjaar van Hiskia. In die negende regeringsjaar van koning Hosea van Israel is Samaria verower. 11Die koning van Assirië het die inwoners van Israel as gevangenes na Assirië toe weggevoer en hulle hervestig in Galag en aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië. 12Dit was omdat die inwoners van Israel nie gehoorsaam was aan die Here hulle God nie. Hulle het die verbondsverpligtinge wat die Here op hulle gelê het, alles wat Moses die dienaar van die Here hulle beveel het, oortree. Hulle was ongehoorsaam en het die bevele nie uitgevoer nie.

Die bedreiging van Jerusalem deur Sanherib

(Vgl. 2 Kron. 32:1-19; Jes. 36:1 – 37:38)

13In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië al die vestingstede in Juda aangeval en verower. 14Koning Hiskia van Juda het toe vir die koning van Assirië in Lakis laat weet: “Ek het verkeerd gedoen. Trek u manskappe terug, ek sal betaal wat u vra.”

Die Assiriese koning het koning Hiskia van Juda toe beboet met iets meer as tien ton silwer en een ton goud. 15Hiskia moes al die silwer wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, afgee. 16Terselfdertyd moes hy die goudbeslag wat hy self laat aanbring het, van die deure van die tempel van die Here en van die deurposte afstroop om die koning van Assirië te betaal.

17Daarna het die koning van Assirië die hoof van sy leër en sy hoofamptenaar en sy hoofadjudant met 'n groot leërmag uit Lakis na koning Hiskia toe in Jerusalem gestuur. Hulle het na Jerusalem toe opgetrek en toe hulle daar aankom, het hulle posisie ingeneem langs die kanaal van die boonste dam, langs die pad na die Bleikveld toe. 18Hulle het na die koning geroep, en toe het die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf na hulle toe gegaan.

19Toe sê die hoofadjudant vir hulle: “Sê vir Hiskia: So sê die groot koning van Assirië: Waarop berus hierdie vertroue van jou? 20Jy dink woorde alleen is genoeg vir strategie en militêre mag. Op wie vertrou jy dat jy in opstand is teen my? 21Jy vertrou op Egipte, op 'n versplinterde riet wat jou in die hand steek en jou seermaak as jy op hom leun. Dit is wat die farao, die koning van Egipte, beteken vir almal wat op hom vertrou. 22En as julle vir my wil sê julle vertrou op die Here julle God, dit is mos Hy wie se hoogtes en altare Hiskia laat verwoes het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet net by hierdie altaar in Jerusalem aanbid.’ 23Wil jy 'n ooreenkoms aangaan met my koning, die koning van Assirië? Ek gee jou twee duisend perde: sal jy die ruiters vir hulle kan voorsien? 24Hoe sal jy weerstand kan bied teen één goewerneur, één van my koning se onbelangrikste amptenare? En dan vertrou jy op Egipte vir strydwaens en perde! 25Buitendien, ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes nie; die Here het vir my gesê: Trek op teen daardie land en verwoes dit.”

26Toe sê Eljakim seun van Gilkija, en Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Praat tog asseblief met ons Aramees, ons verstaan dit, maar moenie met ons Judees praat dat die manskappe op die muur dit kan verstaan nie.”

27Maar die hoofadjudant sê vir hulle: “Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie ontlasting moet eet en hulle eie urine moet drink, net soos julle!”

28Toe gaan staan die hoofadjudant en hy skree hard in Judees: “Luister wat die groot koning sê, die koning van Assirië! 29So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie uit my mag red nie. 30En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hy sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’ 31Moenie na Hiskia luister nie, want só sê die koning van Assirië: Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink 32tot ek kom en julle wegvat na 'n land toe net soos julle land. Dit is 'n land met koring en wyn, 'n land met kos en wingerde, 'n land met olyfolie en heuning. Dan sal julle lewe, julle sal nie sterwe nie. Moenie na Hiskia luister nie. Hy bedrieg julle as hy sê die Here sal julle red. 33Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië? 34Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Kon hulle Samaria uit my mag bevry? 35Wie van al die gode van die ander lande kon sy land uit my mag red? Dan sal die Here mos nie Jerusalem uit my mag kan red nie!”

36Die manskappe het stilgebly en nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om nie te antwoord nie.

37Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het hulle klere geskeur en is terug na Hiskia toe om hom te vertel wat die hoofadjudant gesê het.

2 KONINGS 18AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Toe koning Hiskia dit hoor, het hy ook sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en is na die huis van die Here toe. 2Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leiers van die priesters, almal in rouklere, na die profeet Jesaja seun van Amos toe. 3Hulle het vir Jesaja gesê: “So sê Hiskia: Dit is 'n dag van rou. Ons is in die moeilikheid en ons is verneder. Ons is soos vrouens wat in die kraam is, maar nie die krag daarvoor het nie. 4Miskien sal die Here u God let op die woorde van die hoofadjudant wat deur die Assiriese koning gestuur is om die lewende God te smaad, en miskien sal die Here u God hulle straf oor wat Hy moes aanhoor. Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is.”

5Toe koning Hiskia se amptenare by Jesaja kom, 6sê hy vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê: So sê die Here: Moenie bang wees oor wat jy gehoor het, hoe die amptenare van die koning van Assirië My gelaster het nie. 7Ek gaan hom onrustig maak, sodat hy na sy land toe sal teruggaan wanneer hy daarvandaan 'n berig kry. Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.”

8Toe die hoofadjudant hoor dat die koning van Assirië weg is van Lakis af, het hy teruggegaan. Hy het die koning aangetref waar hy met 'n aanval op Libna besig was. 9Daar het die koning van Assirië berig gekry dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. Die koning van Assirië stuur toe weer gesante na Hiskia toe met die boodskap: 10“Sê vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie. 11Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom? 12Kon die gode van die nasies wat deur my voorgangers uitgedelg is, hulle red: Gosan, Haran, Resef, die mense van Eden in Telassar? 13Waar is die konings van Hamat en Arpad, die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa?”

14Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe voor die Here oopgesprei.

15Toe het hy tot die Here gebid:

“Here, God van Israel,

U wat oor die gerubs troon,

U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde,

U het die hemel en die aarde gemaak.

16Hoor tog, Here, luister,

kyk tog, Here, let tog op!

“Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap beledig! 17Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes 18en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig. 19Here, ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is.”

20Jesaja seun van Amos het vir Hiskia 'n boodskap gestuur: “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië verhoor.

21“Dit is wat die Here oor Sanherib sê:

“Sion verag jou en lag jou uit,

Jerusalem kyk jou met minagting agterna.

22Vir wie het jy beledig en belaster?

Vir wie het jy geskreeu en uitgedaag?

Die Heilige van Israel!

23Deur jou gesante het jy die Here geminag toe jy gesê het:

‘Ek het met my wa teen die hoogste berge op gery,

na die toppe van die Libanon toe;

ek het sy hoogste seders afgekap, sy mooiste sipresse.

Ek het sy verste skuilhoeke binnegedring, sy digste bosse.

24Ek het na water gegrawe in ander lande en dit gedrink,

met my voetsole al die opgedamde riviere laat opdroog.’

25“So sê die Here vir jou, Sanherib: Het jy dan nie gehoor nie,

Ék het dit bewerk, lank gelede al,

van die vroegste tye af het Ek dit voorberei

en Ek het dit nóú laat gebeur:

jy moes vestingstede verwoes

en puinhope van hulle maak.

26Hulle inwoners was magteloos,

verskrik en sonder raad,

soos veldplante, soos groen gras,

soos gras op 'n huis se dak:

dit verskroei voor dit behoorlik staan.

27Of jy sit of gaan of kom, Ek weet dit,

Ek weet hoe jy teen My te kere gegaan het.

28Omdat jy dit gedoen het,

omdat Ek jou verwaande woorde moes aanhoor,

sit Ek 'n haak deur jou neus

en 'n stang tussen jou tande

en lei Ek jou terug op die pad

waarmee jy gekom het.

29“Vir jou, Hiskia, gee Ek die volgende teken: vanjaar sal julle die opslag eet en volgende jaar wat dan opslaan, maar in die jaar daarna sal julle saai en oes, wingerde plant en druiwe eet. 30Dié van Juda wat die beleg oorleef het en oorgebly het, sal weer soos plante wortel skiet en vrugte dra. 31Daar sal mense oorbly en uit Jerusalem kom, daar sal mense vry van Sionsberg af uitgaan. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here sorg.

32“Daarom, so sê die Here oor die koning van Assirië: Hy sal nie in dié stad inkom nie, hy sal nie 'n pyl hier afskiet nie, nie 'n skild teen die stad optel nie, nie 'n beleëringswal daarteen opgooi nie. 33Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan en hy sal nie weer by dié stad kom nie. Dit is wat die Here sê. 34Ek sal dié stad beskut en hom red, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”

35Daardie nag het 'n engel van die Here gegaan en honderd vyf en tagtig duisend man in die Assiriese kamp doodgemaak. Toe die Assiriërs die môre vroeg opstaan, lê die lyke almal daar. 36Koning Sanherib van Assirië het toe kamp afgeslaan en hy is terug Nineve toe en het daar gebly. 37Terwyl hy op 'n dag in die tempel van sy god Nisrok aanbid het, het Adrammelek en Sar-Eser hom met swaarde doodgesteek. Hulle het na Ararat toe gevlug, en Sanherib se seun Esarhaddon het hom as koning opgevolg.

2 KONINGS 19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die siekte en herstel van Hiskia

(Vgl. 2 Kron. 32:24-26; Jes. 38:1-8,21-22)

1In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie.”

2Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: 3“Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.”

Hiskia het bitterlik gehuil.

4Jesaja was nog nie die binneplein van die stad oor nie toe die woord van die Here tot hom kom en sê: 5“Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan. 6Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”

7Jesaja het toe opdrag gegee dat hulle 'n vyekoek moet bring en op die sweer moet sit, en die koning het beter geword.

8Toe vra Hiskia vir Jesaja: “Wat is die teken dat die Here my sal gesond maak en dat ek oormôre weer na die huis van die Here toe sal gaan?”

9Jesaja het geantwoord: “Die Here gee jou die volgende teken dat Hy sal doen wat Hy gesê het: moet die skaduwee tien trappe vorentoe gaan of tien terugkom?”

10Hiskia sê toe: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien trappe vorentoe te skuif. Nee, laat dit tien trappe terugkom.”

11Die profeet Jesaja het die Here aangeroep, en Hy het die skaduwee wat reeds teen die trap van Agas afgesak het, tien trappe laat terugskuif.

Die gesante uit Babel

(Vgl. Jes. 39:1-8)

12In dié tyd het koning Merodak-Baladan van Babel, seun van Baladan, briewe en geskenke na Hiskia toe gestuur omdat hy gehoor het van Hiskia se siekte. 13Hiskia het die gesante te woord gestaan en hulle daarna al sy skatkamers gewys met die silwer, die goud, die kruie en die geurige olie, sy wapenkamer en alles wat in sy voorraadkamers was. Daar was niks in sy paleis en in sy koninkryk wat Hiskia die gesante nie laat sien het nie.

14Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en vra vir hom: “Wat het daardie mense gesê en waarvandaan kom hulle?”

Hiskia het geantwoord: “Uit 'n ver land, uit Babel.”

15“Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja.

En Hiskia antwoord: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Daar is niks van my skatte wat hulle nie gesien het nie.”

16Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Luister wat sê die Here: 17Daar kom 'n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy versamel het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here. 18Van jou eie seuns wat uit jou gebore is, sal gevat word, en hulle sal diens doen in die paleis van die koning van Babel.”

19Hiskia het vir Jesaja gesê: “Die woord van die Here wat jy aan my oorgedra het, is goed.” Hiskia het bygevoeg: “As daar maar net in my tyd vrede en veiligheid is!”

Die dood van Hiskia

(Vgl. 2 Kron. 32:32-33)

20Die ander verhale oor Hiskia, oor sy moedige optrede en oor die dam en die kanaal wat hy gebou het om die water in die stad in te bring, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 21Hiskia is oorlede, en sy seun Manasse het hom as koning opgevolg.

2 KONINGS 20AFR83Maak oop in die Bybelleser

U omsluit my van alle kante

1Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm.

Here, U sien dwarsdeur my,

U ken my.

2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,

U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,

U is met al my paaie goed bekend.

4Daar is nog nie 'n woord op my tong nie

of U, Here, weet wat dit gaan wees.

5U omsluit my van alle kante,

U neem my in besit.

6Dié wete oorweldig my,

dit is te hoog vir my begrip.

7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?

Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?

8Klim ek op na die hemel, is U daar,

gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.

9Vlieg ek na die ooste,

of gaan woon ek in die verre weste,

10ook daar lei u hand my,

hou u regterhand my vas.

11Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek,

of die lig rondom my om in nag te verander,

12maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie

en die nag so lig soos die dag,

duisternis so goed soos lig.

13U het my gevorm,

my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.

14Ek wil U loof,

want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.

Wat U gedoen het,

vervul my met verwondering.

Dit weet ek seker:

15geen been van my was vir U verborge

toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie,

toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.

16U het my al gesien toe ek nog ongebore was,

al my lewensdae was in u boek opgeskrywe

nog voordat ek gebore is.

17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,

hoe magtig hulle almal!

18As ek hulle sou wou opnoem –

hulle is meer as wat daar sand is,

en as ek daarmee klaar is,

sou ek nog steeds met U te doen hê.

19As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God!

Gaan weg van my af, julle moordenaars!

20Dit is hulle wat bose planne teen U smee,

wat so vals teen U optree.

21Moet ek u haters dan nie haat nie, Here,

moet ek nie 'n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie?

22Ek haat hulle met 'n uiterste haat,

want hulle is ook my vyande.

23Deurgrond my, o God, deurgrond my hart,

ondersoek my, sien tog my onrus raak.

24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie

en lei my op die beproefde pad!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS